Die Draaikolksterrestelsel (ook bekend as die Vraagtekensterrestelsel, Messier 51 en NGC 5194) is ’n interaktiewe spiraalsterrestelsel in die sterrebeeld Jaghonde. Dit is een van die bekendste sterrestelsels in die ruimte.

Messier 51 en sy metgesel, NGC 5195, kan maklik opgespoor word deur amateur-sterrekykers en die twee stelsels kan maklik met ’n verkyker gesien word. Die afstand is onlangs geraam op 23 ± 4 miljoen ligjare van die Melkweg af, maar verskillende metodes gee verskillende afstande van tussen 15 miljoen en 35 miljoen ligjare.

Ontdekking duimnael|links|Skets van M51 deur William Parsons in 1845. Die voorwerp wat later bekend geword het as die Draaikolksterrestelsel, is op 13 Oktober 1773 deur Charles Messier ontdek en hy het dit in sy katalogus van komeetagtige voorwerpe opgeneem. Die bygaande sterrestelsel, NGC 5195, is in 1781 deur Pierre Méchain ontdek. Die Draaikolk is egter in 1845 eers erken as ’n spiraalstelsel. Soms word die benaming M51 gebruik om na albei stelsels te verwys, in welke geval die individuele stelsels M51A (NGC 5194) en M51B (NGC 5195) genoem word.

In 2005 is die supernova SN 2005cs in die Draaikolksterrestelsel gesien. Sy maksimum helderheid was 14 mag. Op 31 Mei 2011 is die supernova SN 2011dh met ’n helderheid van 13,5 mag in M51 gesien.

Algemeen Die Draaikolk is die helderste sterrestelsel in die M51-groep,’n klein sterrestelselgroep wat ook Messier 63 (die Sonneblomsterrestelsel), NGC 5023 en NGC 5229 insluit. Hierdie klein groep kan dalk die suidoostelike deel wees van ’n groot, langwerpige groep wat die M101-groep en die NGC 5866-groep insluit, hoewel die drie groep in die meeste katalogusse beskou word as afsonderlike entiteite.

Eienskappe en voorkoms duimnael|Die kruis in die middel van M51 is die twee stofringe om die swartkolk in die kern van die sterrestelsel. Tydens die supernova SN 2005cs is ’n afstand van 23 mega-ligjare gemeet en ’n radius van sowat 43 000 ligjare vir die sterrestelsel. Sy massa word geraam op sowat 160 miljard sonmassas. Daar bestaan vermoedelik ’n swartkolk in die middel van die spiraal wat omring word deur ’n ring stof wat feitlik loodreg lê met die vlak van die redelike plat skyf van die sterrestelsel. ’n Tweede ring kruis die hoofring op ’n ander as – ’n onverwagte verskynsel.

M51 is in die sterrebeeld Jaghonde geleë en kan gevind word deur die mees oostelike ster van die Groot Beer se sewe helderste sterre (Eta Ursae Majoris) te volg en 3,5° suidoos te kyk. M51 is sigbaar met ’n verkyker in goeie sigtoestande en kan in detail met ’n moderne amateur-teleskoop gesien word. Die duidelike spiraalstruktuur van die Draaikolksterrestelsel is waarskynlik vanweë die intieme interaksie met NGC 5195.

Sterre word gewoonlik in die middel van ’n sterrestelsel gevorm. Dit lyk of die middelste deel van die Draaikolk ’n tydperk van verhoogde stervorming beleef wat ooreenstem met dié in die Melkweg. Daar word geraam dat die huidige tempo van stervorming nie langer as sowat 100 miljoen gaan voortduur nie.

Metgesel Dekades gelede was dit nie bekend of NGC 5195 ’n ware metgesel-sterrestelsel was en of dit net ’n stelsel was wat op die agtergrond verbybeweeg nie. Die koms van radio-astronomie en daaropvolgende radio-beelde van M51 het onteenseglik bewys dat daar ’n interaksie tussen die twee stelsels is.

Onlangse simulasies het getoon dat M51 se spiraalstruktuur veroorsaak is deur NGC 5195 wat sowat 500 tot 600 miljoen jaar gelede deur die hoofskyf van M51 beweeg het. In dié model het NGC 5195 van agter M51 deur die skyf na die Aarde se kant toe beweeg en het dit so onlangs as 50 tot 100 miljoen jaar weer deur die skyf beweeg tot waar dit nou is, net agter M51.

Verwysings

Eksterne skakels StarDate: M51 SEDS: Messier 51 Nasa se APOD: The Whirlpool Galaxy in Dust and Stars (4/10/01) NightSkyInfo.com M51 by dsi-astronomie

15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia</small>

Kategorie:Arp-voorwerpe Kategorie:Interaktiewe sterrestelsels Kategorie:Jaghonde (sterrebeeld) 50051 Kategorie:NGC-voorwerpe Kategorie:Spiraalsterrestelsels