duimnael|links|250px|Die Hopefieldse NG kerkgebou. Die sentrale deel daarvan is in 1877 opgerig en die toring en vleuels in 1911. Folkert Wilko Hesse was verantwoordelik vir die ontwerp van die toring en vleuels.

Die NG gemeente Hopefield is 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die provinsie Wes-Kaap. Die swaartepunt van die gemeente is die Sandveldse dorp Hopefield. Dit is op 13 Desember 1851 van die NG gemeente Swartland afgestig as die 48ste gemeente in die destyds Kaapse Kerk. In 1902 het Vredenburg van Hopefield afgestig, in 1957 Saldanha/Langebaanweg en in 1988 Langebaan.

Agtergrond duimnael|regs|280px|Die gemeente se kerksaal is in 1926 in die Kaaps-Hollandse herlewingstyl opgerig. Dié styl het in 1900 in Suid-Afrika posgevat en was veral ná 1920 baie gewild. 'n Ondersoek na die bewarenswaardigheid van die Kaaps-Hollandse herlewingstyl-geboue in George . URL besoek op 15 Desember 2014.

Voor die stigting van Hopefield in 1851, het die gemeente Swartland bestaan uit Moorreesburg, die Riebeekvallei, Darling, Hopefield, Vredenburg en Saldanha, 'n gebied waarin teen 2014 altesaam 11 gemeentes geleë was. Dit was 'n byna onbegonne taak vir een leraar om al die gemeentelede in dié uitgestrekte gebied te bedien. Lidmate het ook net die kerk op Malmesbury vir spesiale geleenthede besoek, soos troues, aanneming van lidmate en die bediening van die doop. Iemand wat aan die kus gewoon het, sou minstens twee weke uit en tuis met 'n ossewa moes reis. Met 'n perdekar het dit minstens 'n week geduur.

Op 26 September 1844 dien 'n memorandum van J. van Renen en 87 medeondertekenaars voor die Ring van Tulbagh waarin hulle vra vir die bou van 'n kerk "aan zogenaamde Uitspanplaats genaamd de Orangefontein". Dié voorgestelde ligging vir 'n kerk was in die distrik Groenekloof en 'n gedeelte van "Zwartland en Saldanha Baai", met ander woorde in die omgewing van die huidige Darling. Ds. Moorrees van Swartland het tydens die ringsitting verklaar daar bestaan geen rede om die versoek te weier nie. Die Ring sowel as die kerkraad het kommissies aangestel om die saak te ondersoek.

Toe dit bekend raak dat dié versoekskrif voor die Ring van Tulbagh dien, het ene H. Albertyn op 25 November 1844 namens die ingesetenes van Saldanhabaai by die skriba van die Ring beswaar gemaak teen die bou van 'n kerk op Groenekloof. Hy het beweer dat dit vir hulle 'n twee uur lange tog deur swaar sand na Malmesbury was, maar dat dit vier uur na Groenekloof sou duur. Hy beveel aan dat 'n kerk aan die Soutrivier, wat deur die huidige Hopefield loop, opgerig word. Nadat Van Renen van dié petisie te hore gekom het, het hy sy versoek teruggetrek, veral nadat van sy petisionarisse onttrek het.

Die Swartlandse kerkraad het op 5 Oktober 1850 'n skrywe van enige ingesetenes van Saldanhabaai behandel waarin hulle versoek om afgeskei te word van die gemeente. Ds. Moorrees het self aan die Ring geskryf en gevra hulle moet die petisionarisse inlig oor die prosedure wat hulle vir afstigting moes volg. Die kerkraad het die afstigting heelhartig gesteun omdat dit hul en die predikant se werk aansienlik sou vergemaklik as 'n deel van die uitgestrekte gemeente sou afstig. Darling het twee jaar later, in 1853, aan die beurt gekom, Riebeek-Wes in 1858, Riebeek-Kasteel in 1863 en Moorreesburg in 1879.

Op 22 November 1850 skryf J.J. Kotzé sr. van die plaas Lange Riet Vallei (later genoem Langrietvlei) en medekerkraadslede aan die gemeente Swartland dat hulle, omdat hulle baie daarna verlang het dat 'n kerk in hul nabyheid gebou word en omdat dit so moeilik is om die kerk op Malmesbury by te woon, 'n plaas op 'n openbare veiling gekoop het en wat hulle toe vir die helfte van die plaas "Lange Kuil aan Zout Rivier" van die heer Dirk Visser geruil het omdat dit beter geskik is vir die aanleg van 'n dorp. Kotzé lig die kerkraad in dat hulle van voorneme was om erwe daar te verkoop en die opbrengs daarvan te gebruik om 'n kerk te bou. Hulle was ook bereid om die hele eiendom aan die kerk af te staan sodat die kerk dit in die belang van die gemeente en die dorpelinge sou kon gebruik.

Stigting duimnael|links|250px|J.J. Kotzé sr. van die plaas Lange Riet Vallei (later bekend as Langrietvlei), was een van die eerste twee ouderlinge van die gemeente. Sy nasate woon nog op die plaas.

Vanweë die voordele wat die nuwe gemeente sou geniet, het die Ring van Tulbagh op sy sitting van Oktober 1851 geredelik ingestem tot die stigting van die nuwe gemeente. 'n Kommissie is aangestel om toesig oor die nuwe gemeente te hou tot die goewerneur dr. John W. Louis Scholtz van Piketberg se aanstelling as konsulent kon bekragtig. Dié kommissie moes ok die grense van die gemeente vasstel. Hulle het op Dinsdag 13 Desember 1851 op die plaas van die heer Dirk Visser vergader en die grense bepaal as: aan die noordekant, die Bergrivier, aan die westekant, die seekus, aan die suide- en oostekant, 'n lyn getrek van die seekant tot aan die Bergrivier met insluiting van die volgende plase: Buffelsfontein, Zwartwater, Schilpadfontein (Sonkwasfontein), Roodenpan, Koekjespan, Vogelstruisfontein, Visscherskraal, Zwartberg en Klipheuwel. Met die afstigting van Darling in 1853 het die plase Buffelsfontein, Zwartwater, Schilpadfontein, Roodenpan, Koekjespan en Uilenkraal na die nuwe gemeente gegaan terwyl die bewoners van Vogelstruisfontein em Zwartberg verkies het om onder Malmesbury te bly. Intussen het die volgende plase noord van die Bergrivier versoek om by die Hopefieldse gemeente ingedeel te word omdat Hopefield baie nader aan hulle was as Piketberg: Klipheuwel, Dorreboom, Soutkloof, Kersefontein, Doornfontein en Melkplaas. Die gemeente het oor 'n reuse gebied gestrek, maar dit was yl bevolk en het daarom uit net sowat 1 000 siele en 500 lidmate bestaan. Dié syfers was egter waarskynlik onakkuraat omdat gesinne destyds groot was en die sieletal dus te laag geskat is of die lidmaattal te hoog.

Die koloniale sekretaris het dr. Scholtz op 8 Februarie 1852 in kennis gestel dat die goewerneur, sir Harry Smith, die voorgestelde grense van die nuwe gemeente Zoutrivier goedgekeur en die Piketbergse leraar se aanstelling as konsulent goedgekeur het teen die vergoeding wat gewoonlik met dié amp gepaard gegaan het. Intussen het die trustees van die plaas Lange Kuil by die luitenant-goewerneur aansoek gedoen dat die naam van die te stigte dorp verander word na Hopefield na aanleiding van mnre. Hope, "den vertegenwoordiger collecteur der Douane", en Field, "den fungerenden Secretaris van het Gouvernement". Ná 'n skrywe van die koloniale sekretaris op 4 Mei 1853 aan die aktuarius van die Sinode word die naam van die nuwe gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk aan die Zoute Rivier in die afdeling Malmesbury in die Staatskoerant van 8 Mei 1853 as Hopefield afgekondig. Terselfdertyd verskyn die volgende beriggie in die Kerkbode: "Het nieuwe dorp dat aan de Zouterivier naby Saldanhabaai sal word opgericht, zal de naam dragen van Hope-Field … Voor eenen leraar is van gouvernements wege toegekent £100 tot salaris."

Die ringskommissie het die eerste kerksaadslede op 13 Desember 1851 aangestel, naamlik as ouderlinge J.J. Kotzé sr. van Lange Riet Vallei en Dirk Visser van die plaas Mmatjesfontein (wat die stigters van die dorp by hom geruil het vir Lange Kuil) en as diakens Constant Laubscher, J. Basson, Frederick Bester en W.E. Thuinsma. Blykbaar het Basson en Thuinsma nie die benoeming aanvaar nie, want diakens J. Albertyn en Alex van Breda is in hul plek benoem. Die eerste kerkraadsvergadering is eers in September 1853 gehou weens die bedanking van die benoemde kerkraadslede en die gevolglike gesloer met die voorstelling van die kerkraadslede. Die gebruik om kerkraadslede in September elke jaar te kies het jare lank in die gemeente bly voortbestaan. Hulle is dan gewoonlik in November voorgestel.

Eerste leraar duimnael|links|280px|Die gebou wat waarskynlik 25 gedien jaar lank het as kerkgebou vir die gemeente was op die hoek van Voortrekker- en Kerkstraat geleë, maar is gesloop toe Voortrekkerstraat later jare verbreed is.

duimnael|regs|180px|Ds. J.H. Neethling was van 1854 tot 1904 Hopefield se eerste leraar. Hy was een van drie Neethling-predikante in die NG Kerk wat hul loopbaan lank net een gemeente bedien het. Ds. Hendrik Johannes Neethling was leraar van die gemeente Lydenburg van 1881 tot sy aftrede in 1911 en ds. Hendrik Ludolph Neethling was leraar van die gemeente Utrecht van 1875 tot sy dood op 17 Augustus 1893.

duimnael|regs|170px|Ds. P.A.M. Brink was leraar van Hopefield van 1913 tot 1927.

Weens die gedurige probleme om al die kerkraadslede teenwoordig te kry op 'n vergadering is die eerste beroep vir 'n leraar eers op 3 Augustus 1853 uitgebring word. Dit was 'n byna onmoontlike taak op 'n vergadering te belê. Dr. Scholtz het op Piketberg gewoon en hy en die skriba, Alex van Breda, moes per boodskap of brief kommunikeer. Daar was ook onduidelikheid of al die kerkraadslede wel bewus was daarvan dat 'n vergadering belê is. Nietemin het ses lede en die konsulent die vergadering in Augustus 1853 bygewoon toe die sewe teenwoordiges nege moontlike leraars benoem het. Eindelik is besluit hulle moes kies tussen di. J.H. Neethling, Philip Eduard Faure en J.W.L. Scholtz. Ná die stemmery is ds. Neethling beroep.

Die gemeente is dus amptelik gestig en 'n leraar beroep, maar ten spyte van die stigters se belofte dat hulle 'n kerk sou oprig, het die gemeente nog geen eiendom besit nie. Dienste moes in die waenhuis en graanskuur van die plaasopstal gehou word. Dis onduidelik waar dié gebou gestaan het, maar volgens oorlewering was dit die gebou op die hoek van Voortrekker- en Kerkstraat, teenoor die huidige Pep Stores, wat gesloop is toe Voortrekkerstraat verbreed is. Die kerkraad het besluit om die gebou voorlopig vir godsdiensoefeninge in orde te bring teen die begin van Desember 1853, maar die gemeente het geen geld gehad nie. Die opdrag is wel uitgevoer, maar dis nie meer bekend of daar van die kommissielede verwag is om die koste self te dra nie.

Die eerste predikant, ds. J.H. Neethling, is op 15 Januarie 1854 bevestig. Die regering het nog voortgegaan om die bedrag van £100 aan die konsulent toegeken aan die gemeente te betaal sodat die gemeente sy predikant se salaris kon betaal. Dit was egter byna onmoontlik om die predikant se vergoeding getrou by te bring omdat die gemeente se uitgawes in die beginjare gereeld sy inkomste oortref het. Die probleme met sy geldsake het daartoe gelei dat die gemeente eers 25 jaar ná sy stigting 'n kerkgebou kon oprig waarop skuld van £430 gerus het. Die besluit om 'n kerk op te rig is op 3 Julie 1876 geneem en die hoeksteen daarvan is op 3 Februarie 1877 gelê. Die inwyding het op 3 September 1879 plaasgevind waarna die ou kerk in 'n skoolkoshuis omskep is.

Ds. Neethling sou die gemeente 50 jaar en ses maande bedien tot hy hom genoodsaak voel om die tuig neer te lê weens hoë ouderdom. Hy sterf in Januarie 1917 in die ouderdom van 89 jaar waarna sy weduwee op die dorp aangebly en nog gereeld "de voorhoven des Heren" (die kerk) besoek het.

Vroeë jare duimnael|links|270px|Die gemeente kon dit eers in 1877, 25 jaar ná sy stigting, bekostig om 'n kerkgebou op te rig. In ds. Steytler se tyd is die gebou van twee vleuels en 'n toring voorsien.