Die Wolf (Latyn: Lupus) is ’n sterrebeeld in die suidelike hemelruim. Dit is een van die 48 konstellasies wat deur die 2de-eeuse sterrekundige Ptolemeus genoem is en is steeds een van die 88 moderne sterrebeelde.

Ruimtevoorwerpe Die Wolf bevat geen baie helder sterre nie, maar het sowat 30 met ’n helderheid van 2 of 3 mag en 70 van meer as 6 mag, onder meer ’n paar veelvoudige sterre. Die helderste ster, Alpha Lupi, is ook bekend as Men.

Aan die noordekant van die sterrebeeld is die bolvormige sterreswerms NGC 5824 en NGC 5986, en daarnaby die donker newel B 228. In die suide is twee oop sterreswerms, NGC 5822 en NGC 5749, sowel as die bolvormige swerm NGC 5927 op die oostelike grens met die Winkelhaak. Op die westelike grens is twee spiraalvormige sterrestelsels en die planetêre newel IC 4406, wat van die warmste sterre bevat wat bestaan. IC 4406 is ’n silindriese newel sowat 5 000 ligjare van die Aarde af met stofbane wat deur sy middel loop. Nog ’n planetêre newel, NGC 5882, lê naby die middel van die sterrebeeld.

Geskiedenis In Antieke tye is die Wolf beskou as ’n asterisme wat deel vorm van die sterrebeeld Sentour. Dit is eers in die 200's v.C. deur Hipparchos geskei en Therion ("dier") genoem. Dit is nie na ’n spesifieke dier genoem nie, totdat die Latynse vertaling van Ptolemeus se werk dit met die wolf verbind het.

Verwysings

Ian Ridpath and Wil Tirion (2007). Stars and Planets Guide, Collins, Londen. . Princeton University Press, Princeton. .

Eksterne skakels The clickable Lupus Star Tales – Lupus

15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia