duimnael|Verspreiding van onderafdelings van die Rooikruis:

Die Rooikruis is 'n wêreldwye hulpverleningsorganisasie waarvan die werking op sewe basisbeginsels gegrond is: mensliewendheid, neutraliteit, onpartydigheid, onafhanklikheid, vrywilligheid, eenheid en algemeenheid (ook universaliteit genoem). Hierdie beginsels vorm die grondslag vir alles wat die Rooikruis doen en word weerspieël in alle aksies van die vrywilligers van die Rooikruis.

Die Rooikruis is met ongeveer 97 miljoen vrywilligers in 186 lande die grootste humanitêre organisasie ter wêreld. Die gedagte aan 'n beweging soos die Rooikruis het op 24 Junie 1859 tydens die rumoer van die Slag van Solferino ontstaan. In hierdie slag het 400 000 soldate teenoor mekaar gestaan - Italianers, Sardiniërs en Franse aan die een kant, en Oostenrykers aan die ander kant.

Destyds was die Geneefse sakeman Henri Dunant op reis deur Italië, en hy het 'n verbysterde getuie geword van die lyding van die gewondes aan weerskante. Dunant het spontaan ingegryp. Hy het die lydendes vertroos, die gewondes verbind en ʼn laaste sluk water aan die sterwendes gegee. Bowenal het hy helpers uit die dorp Solferino gehaal, en aan hulle opdrag gegee om die gewonde vyand net soos hul eie gewondes te behandel. Die ongekunstelde Lombardiese vroue het hierdie boodskap van menslikheid begryp en geantwoord: “Siamo tutti fratelli" (Ons is almal broers).

Nadat hy in Genève teruggekeer het, het Dunant Un souvenir de Solférino ('n Herinnering aan Solferino) geskryf en dit aan alle Europese regerings gestuur. Hierdie boek het die beskaafde wêreld geskok en die mensdom tot nadenke aangespoor. Die meeste regerings het die betekenis van hierdie boodskap gesnap, en afgevaardigdes gestuur na 'n konferensie wat op 8 Augustus 1863 in Genève, Switserland, plaasgevind het.

Die konferensie is deur 26 afgevaardigdes uit 16 lande bygewoon. Reeds voor die sameroeping van die eerste Geneefse Konferensie het Dunant geesgenote gevind in vier Geneefse medeburgers: die regsgeleerde dr. Moynier, genl. Dufour en twee geneeshere, drs. Appia en Maunoir. Hulle het die “Komitee van Vyf" gestig, ʼn “komitee vir hulp aan gewondes" – die voorloper van die Internasionale Rooikruiskomitee.

Die beweging bestaan uit drie afsonderlike maar verwante dele: die Internasionale Komitee van die Rooikruis (ICRC), die Internasionale Federasie van Rooikruis- en Rooihalfmaanverenigings (IFRC) en die nasionale verenigings, waarvan daar tans 191 binne die beweging erken word. Volgens meer resente syfers dien altesaam sowat 80 miljoen mense wêreldwyd by dié drie dele, die meeste van hulle by die nasionale verenigings. Die beweging is gestig om menselewens en gesondheid te beskerm, eerbied vir alle mense te verseker en menslike lyding te voorkom en te verlig.

Geskiedenis Die eerste Geneefse Konvensie duimnael|Die "Komitee van Vyf": Gustave Moynier, Guillaume-Henri Dufour, Henri Dunant, Louis Appia en Théodore Maunoir Die internasionale konferensie wat die komitee belê het, het van 26 tot 29 Oktober 1863 in Genève vergader om maniere te vind om die geneeskundige dienste op die slagveld te verbeter. Dit is deur 36 mense bygewoon: agtien amptelike afgevaardigdes van regerings, ses van nieregeringsorganisasies, sewe onamptelike buitelandse afgevaardigdes en die vyf lede van die komitee. Onder die besluite wat op 29 Oktober 1863 aangeneem is, was die stigting van nasionale hulpverenigings vir gewonde soldate, neutraliteit en beskerming vir die gewondes, die gebruik van vrywilligers vir hulpverlening op die slagveld, en die invoering van 'n gemeenskaplike kenteken vir geneeskundige personeel in die veld – 'n wit armband met 'n rooi kruis daarop.

duimnael|Die oorspronklike dokument van die eerste Geneefse Konvensie, 1864 'n Jaar later het die Switserse regering die regerings van al die Europese lande, sowel as die Verenigde State, Brasilië en Mexiko, na 'n amptelike diplomatieke konferensie genooi. Sestien lande het altesaam 26 afgevaardigdes na Genève gestuur, en op 22 Augustus 1864 het die konferensie die eerste Geneefse Konvensie "vir die verbetering van die lot van gewondes in leërs in die veld" aangeneem, wat deur die verteenwoordigers van twaalf state en koninkryke onderteken is. Die konvensie het uit tien artikels bestaan en vir die eerste keer regsbindende reëls neergelê wat neutraliteit en beskerming vir gewonde soldate, geneeskundige personeel in die veld en bepaalde humanitêre instellings in 'n gewapende konflik waarborg.

Kort ná die aanneming van die konvensie is die eerste nasionale verenigings in België, Denemarke, Frankryk, Oldenburg, Italië, Pruise, Spanje en Württemberg gestig. In 1864 het Louis Appia en die Nederlandse kaptein Charles van de Velde ook die eerste onafhanklike en neutrale afgevaardigdes geword wat onder die teken van die rooi kruis in 'n gewapende konflik gewerk het. Die Ottomaanse regering het die verdrag op 5 Julie 1865 bekragtig, en in 1868 is die Turkse Rooihalfmaan in die Ottomaanse Ryk gestig – deels na aanleiding van die ervaring van die Krimoorlog, waarin siekte eerder as gevegte die hoofoorsaak van dood en lyding onder die Turkse soldate was. Dit was die eerste Rooihalfmaanvereniging van sy soort.

In 1867 is die eerste internasionale konferensie van nasionale hulpverenigings gehou. In dieselfde jaar moes Dunant bankrotskap verklaar weens mislukte sakebelange in Algerië, deels omdat hy sy sake vir sy werk vir die komitee afgeskeep het. Die omstredenheid daaroor, saam met 'n voortslepende konflik met Gustave Moynier, het tot sy uitsetting as lid en sekretaris gelei, en hy moes Genève verlaat sonder om ooit terug te keer. In die jare daarna is nasionale verenigings in bykans elke land van Europa gestig, en in 1876 het die komitee die naam Internasionale Komitee van die Rooikruis aangeneem, wat vandag nog sy amptelike benaming is. Vyf jaar later is die Amerikaanse Rooikruis deur die toedoen van Clara Barton gestig.

Toe die eerste Nobelprys vir Vrede in 1901 toegeken is, het die Noorse Nobelkomitee dit gesamentlik aan Dunant en die Franse pasifis Frédéric Passy gegee. Meer nog as die eer van die prys self het dit Dunant se laat rehabilitasie beteken. Hy is nege jaar later in die Switserse kuuroord Heiden oorlede, net twee maande ná sy ou teenstander Moynier, wat as die langsdienende president in die geskiedenis van die komitee onthou word.

In 1906 is die Geneefse Konvensie van 1864 vir die eerste keer hersien, en 'n jaar later het die tiende Haagse Konvensie die bestek daarvan tot die seeoorlog uitgebrei. Kort voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 – vyftig jaar ná die stigting van die komitee – was daar reeds 45 nasionale hulpverenigings wêreldwyd, en die beweging het buite Europa en Noord-Amerika uitgebrei na Suid- en Sentraal-Amerika, Asië en Afrika, waaronder die Unie van Suid-Afrika.

Eerste Wêreldoorlog duimnael|Die Internasionale Krygsgevangene-agentskap in Genève tydens die Eerste Wêreldoorlog Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het die ICRC voor enorme uitdagings te staan gekom wat dit net in noue samewerking met die nasionale verenigings kon hanteer. Rooikruis-verpleegsters van oor die hele wêreld het die geneeskundige dienste van die betrokke lande se weermagte gaan help. Op 15 Augustus 1914, net ná die begin van die oorlog, het die ICRC sy Internasionale Krygsgevangene-agentskap gestig om krygsgevangenes op te spoor en die verbinding met hulle families te herstel. Teen die einde van dieselfde jaar het die agentskap sowat 1 200 vrywilligers in die Rathmuseum in Genève gehad, onder hulle die Franse skrywer Romain Rolland, wat die helfte van sy Nobelprys vir Letterkunde van 1915 aan die agentskap geskenk het. Die meeste personeel was vroue, en party van hulle – soos Marguerite van Berchem, Marguerite Cramer en Suzanne Ferrière – het hoë poste beklee.

Teen die einde van die oorlog het die agentskap sowat 20 miljoen briewe en boodskappe, 1,9 miljoen pakkies en omtrent 18 miljoen Switserse frank se geldskenkings aan krygsgevangenes van al die betrokke lande oorgedra, en danksy sy tussenkoms is sowat 200 000 gevangenes uitgeruil en na hulle tuislande teruggestuur. Gedurende die oorlog het die ICRC die oorlogvoerende partye se nakoming van die Geneefse Konvensies gemonitor en klagtes oor oortredings na die betrokke lande deurgestuur; toe chemiese wapens die eerste keer in die geskiedenis gebruik is, het dit kragtig daarteen geprotesteer. Altesaam is 524 kampe in Europa deur 41 afgevaardigdes van die ICRC besoek.

Ná die oorlog, tussen 1920 en 1922, het die ICRC die terugkeer van sowat 500 000 gevangenes na hulle tuislande gereël, waarna die taak aan die nuutgestigte Volkebond oorgedra is, wat die Noorse diplomaat Fridtjof Nansen as hoë kommissaris daarvoor aangestel het. Die komitee het in 1917 die Nobelprys vir Vrede ontvang – die enigste vredesprys wat tussen 1914 en 1918 toegeken is. As regstreekse gevolg van die oorlog is in 1925 'n verdrag aangeneem wat die gebruik van verstikkende of giftige gasse en biologiese middels as wapens verbied het, en vier jaar later is die konvensie hersien en 'n tweede Geneefse Konvensie oor die behandeling van krygsgevangenes ingestel. Voorbeelde Tydens die Eerste Wêreldoorlog het die grootste adressentrale in die wêreld in Genève ontstaan, met 7 miljoen kaarte waarop die naam, rang en kamp van die krygsgevangenes aangedui was. Slegs op hierdie manier was dit moontlik om hul naasbestaandes te verwittig van hul verblyf, pakkies aan hulle te besorg, en hulle later met die tuiskeer by te staan. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het honderde Rooikruis-treine met swaar gewondes snags oor die grense gestoom om gevangenes uit te ruil. Treine het ook uit die noorde na die suide gestoom om ondervoede kinders uit Duitsland na Switserland te vervoer, en uit Switserland weer noordooswaarts met lewensmiddele vir die hongerlydendes in Wenen.

Die bond van Rooikruisverenigings Stap vir stap is die aantal take van die Rooikruis - wat aanvanklik net gemoeid was met die “verbetering van die lot van gewondes en siekes in oorlog op land" - uitgebrei deur nuwe konvensies. Ander soorte oorlogvoering en die beskerming van die burgerlike bevolking is in die verdrae opgeneem.

Gewondes en siekes moet versorg word, skipbreukelinge gered, krygsgevangenes en geïnterneerdes mensliewend behandel en die burgerlike bevolking beskerm word. 'n Mylpaal was die verbod op gas- en bakteriologiese oorlogvoering. Die Bond van Rooikruisverenigings is op 5 Mei 1919 in Parys gestig deur afgevaardigdes van 26 nasionale Rooi Kruis-Verenigings. Die oprigting van hierdie wêreldbond van Rooikruisverenigings is te danke aan die versterking van die Rooikruis-gedagte tydens die Eerste Wêreldoorlog.

Die gedagte vir dié bond het van Henry Davison, die destydse president van die Amerikaanse Rooikruis, gekom, en die stap het die internasionale werk van die beweging uitgebrei tot hulpverlening in noodtoestande wat nie deur oorlog veroorsaak is nie, soos natuurrampe. Die stigting van 'n tweede internasionale Rooikruisorganisasie naas die ICRC was nie sonder omstredenheid nie: die ICRC het gevrees dat 'n mededinging tussen die twee sou ontstaan en dat sy leidende posisie ondermyn word. Daarby was al die stigterslede nasionale verenigings uit die lande van die Entente, en die oorspronklike statute van Mei 1919 het aan die vyf stigterverenigings 'n bevoorregte posisie gegee en die verenigings van Duitsland, Oostenryk, Hongarye, Bulgarye, Turkye en Rusland permanent uitgesluit – in stryd met die beginsels van universaliteit en gelykheid.