Ds. Louis Hugo (Stellenbosch, 22 November 1846 – Robbeneiland, 21 Augustus 1907) was 'n predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk wat agtereenvolgens in die NG gemeente Ladybrand en NG gemeente Beaufort-Wes leraar was en toe, nadat 'n klagstaat teen hom op Beaufort-Wes ontstaan het, 10 jaar lank as 'n medeleraar van die Groote Kerk onder die melaatses op Robbeneiland gewerk het.
Herkoms en opleiding Ds. Hugo was van regstreekse Hugenote-afkoms. Die stamvader van die familie, wat so 'n betekenisvolle rol op kerklike sowel as maatskaplike gebied in Suid-Afrika gespeel het, was Daniel Hugo, oorspronklik Hugot of Hugod. Hy het voor 1690 voel aan wal in die Kaap gesit. Daar word gesê dat hy 'n smid van ambag was en niks hoër as vier voet vier duim (133 cm) in sy skoene gestaan het nie. Daniel was nietemin 'n begaafde man en hy, sowel as sy seuns, het kort daarna 'n belangrike rol in die kerklike lewe van die pasgestigte gemeente van Drakenstein (die latere NG gemeente Paarl) gespeel en hul in wynbou onderskei. Vryheidsliewend soos die Hugenote dan ook was, is dit geen wonder nie dat verskeie van hul afstammelinge (bv. Piet Retief, Sarel Cilliers en ander) hulle later met die Groot Trek vereenselwig het. Ook Hugo's het aan die trek deelgeneem, want onder die name van die manne wat saam met Piet Retief deur Dingaan laat vermoor is, was dié van Jacques Hugo.
Ds. Hugo het sy voorbereidende sowel as sy teologiese onderwys op Stellenbosch ontvang. Daar is hy in die Kweekskool onderrig deur proff. Nicolaas Hofmeyr en John Murray, en is hy op 10 Maart 1871 tot die evangeliebediening toegelaat in sy 25ste lewensjaar.
Predikant op Ladybrand Kort hierna is prop. Hugo na Ladybrand beroep. Hy aanvaar die beroep en word die eerste predikant van die jong gemeente wat pas die jaar vantevore gestig is op grondgebied wat die wapens van die Vrystaatse Boere kort tevore van die Basoeto's verower het. Hier het die jong predikant baanbrekerswerk gedoen en die grondslag vir die nuwe gemeente gelê. Toe hy daar aangeland het, was daar net 'n noodkerk, maar geen pastorie nie. Hy het later 'n doelmatige predikantshuis laat oprig.
Na Beaufort-Wes Ná die swaar afskeid wat die NG gemeente Beaufort-Wes van ds. W.P. de Villiers in Augustus 1875 moes neem, was die gemeente sowat agt lank maande vakant en is ds. A.A. Louw van Murraysburg as konsulent aangestel in die plek van ds. W.A. Krige, wat die gemeente baie jare lank as konsulent gedurende meer as een lang vakature gedien het. Die derde beroep wat op 29 November dieselfde jaar uitgebring is op ds. Hugo, het geslaag. In die beroepsbrief is daar na die destydse ou pastorie verwys as "een wel ingerigte woning op een wel beplante water Erf gebouwd". Ds. Hugo sou egter eers in April die volgende jaar aankom.
Die kerkraad moes reëlings tref vir sy vervoer uit die Vrystaat na die hart van die Groot-Karoo, 'n afstand van etlike honderde kilometer. Daar was toe nog geen treinspoor nie (die eerste trein sou Beaufort-Wes eers in 1880 bereik) en die kerkraad het 'n ruk lank kop gekrap. Toe daar geen vrywilligers uit die gemeente na vore tree nie, het hulle uiteindelik maar 'n span esels gehuur om die leraar en sy gesin op Ladybrand te gaan haal teen 'n koste van £100. (Toe ds. Hugo en ouderling J.F. Pienaar (oom Kootjie) 'n paar maande later na Kaapstad vervoer moes word vir die Sinodesitting, was die kerkraad verplig om 'n wa teen £50 te koop en ses esels te huur.) Op Saterdagmiddag 8 April 1876 het die gemeente met 'n menigte perdekarre uitgery om die nuwe leraar, wat deur oorvol riviere verhinder is om vroeër te kom, 'n hele ent buitekant die dorp te gaan ontmoet. Om vieruur is ds. Hugo by die pastorie verwelkom, waar oud-ouderling P.J. Weeber hom 'n adres namens die kerkraad en gemeente aangebied en die Sondagskoolkinders hom 'n welkomslied toegesing het. Dieselfde aand is hy bevestig. Behalwe die konsulent, ds. A.A. Louw, was net een ander predikant teenwoordig, ds. George Murray, die jongste van ds. Andrew Murray sr. se vyf seuns wat almal predikant geword het, van die naburige gemeente Willowmore. Die ander ringspredikante is waarskynlik deur die oorvol riviere ná die swaar reëns verhoed om teenwoordig te wees. Die volgende dag het die pasbevestigte leraar sy intreepreek gelewer.
Predikantevergoeding Al het die Kerk deur die Ordonnansie van 1843 vryheid van bestuur gekry, sou die gemeentes nog lank daarna toelaes uit die staatskas kry waaruit onder andere 'n gedeelte van die leraar se salaris betaal moes word. Staatstoelaes vir die salaris van voorlesers, kosters en orreliste is reeds in 1845 beëindig. Beaufort het jaarliks £200 predikantsalaris van die staat ontvang. Die gemeente het self sowat £50 bygedra. Dit het vir die leraar 'n bestaanbare traktement van £350 per jaar verseker. In 1875 het albei Huise van die Kaapse Parlement egter 'n wetsontwerp, die sogenaamde "Voluntary Bill", aangeneem ingevolge waarvan die staatstoelae in die nabye toekoms gestaak sou word. Die wet het groot teenstand in kerklike kringe ontlok en het bepaal dat net die salaristoelaag van diensdoenende predikante nog betaal sou word tot hul aftrede of dood. Daarna moes die verskillende gemeentes self instaan vir die salaris van hul predikante en hul eie huishouding se finansies. So is die laaste band wat die Kerk nog enigsins aan die staat gebind het, ook verbreek.
Toe bogenoemde wetsontwerp aanvaar is, moes elke gemeente 'n fonds vir predikantsalaris stig. Beaufort het dit reeds in 1862 gedoen omdat dit geblyk het dat ds. Fraser se salaris ontoereikend was. So kon hulle sy salaris met £100 verhoog tot £350 per jaar. Met kollektes vir die fonds oral in die gemeente is so goed gevaar, dat met die beroep in April 1863 die salaris met 'n verder £50 verhoog kon word. Vanaf 1876 het die fonds bekendgestaan as die Predikants Sustentatie Fonds, wat toe reeds op byna £3 000 gestaan het. Ds. Hugo het hom uit die staanspoor beywer vir die stywing van die fonds sodat dit in 1880 reeds £4 000 bedra het. Teen 1945 was die fonds oor die £7 000 sterk.
Kollektes en preekstoel Tydens ds. Hugo se dienstyd, in April 1879 en wel op voorstel van die diaken P.J. Weeber (latere ouderling en parlementslid), het die kerkraad besluit om nie meer die swart fluweelsakkies vir kollektes by die erediens te gebruik nie, maar met borde by die deure te kollekteer. In April 1892 besluit die kerkraad dat die gewone eredienskollekye nie meer by die deure ná die erediens sou wees nie, maar voor die sing van die slotgesang in die banke opgeneem sou word. 'n Ander ou gebruik, om Nagmaal op Kersdag uit te deel, is in Desember 1877 afgeskaf. duimnael|regs|420px|Die nuwe kerk se hoeksteenlegging was in Oktober 1892. Op die agtergrond is die ou kerk, wat die gemeente 63 jaar gedien het. Twee galerye van die ou kerk is deel gemaak van die nuwe kerk en is vandag (2012) nog in gebruik, 183 jaar nadat dit opgerig is.
Gebruik van Engels Sedert die dae van lord Charles Somerset is talle Skotse predikante en Engelssprekende onderwysers na Suid-Afrika gestuur. So was die eerste twee predikante van Beaufort Skotte en die meeste van die onderwysers Engelssprekend. In die ou goewermentskole het Hollands so te sê geen plek gehad nie. By gebrek aan 'n plaaslike, Engelse of Skotse gemeente (voor 1850) het die plaaslike Engelssprekendes in baie gevalle oorgekom na die NG Kerk. Veral om hulle en ander ingesetenes tegemoet te kom, het ds. Fraser reeds begin met Engelse dienste een maal per maand (later meer male), meestal in saans wanneer daar nie Hollandse dienste was nie. So vroeg as April 1836 het die Engelse inwoners van die dorp reeds hul eie voorleser en koster aangestel vir hul dienste en vra hul die kerkraad om hul reglemente hiervoor goed te keer. Dié Engelse dienste is blykbaar nie in die kerkgebou gehou nie, want toe ds. Colin Fraser in Mei 1858 sy voorneme te kenne gee om Engels in die kerk te preek en die kerkraad om die gebruik van die kerk versoek, het die kerkraad egter besluit om die leraar die kerk vir dié doel te ontsê. Dis nie vandag duidelik waar die Engelse dienste toe wel gehou is nie. Die Sinode van die Kaapse Kerk het in 1834 al besluit dat, waar nodig, predikante in Engels mog preek, mits dit sonder nadeel van die Hollandse gemeente geskied en na voorafgaande verlof van die kerkraad vir die gebruik van die kerkgebou.
Mettertyd het Engelse dienste posgevat in baie gemeente van die Hollandse kerk. Selfs nadat die Engelse (Anglikaanse kerk, 1848) en die Skotte (Presbiteriaanse kerk, 1862) op Beaufort hul eie kerk en gemeente gekry het, het dié gebruik i die Hollandse gemeente op Beaufort voortgeduur en is gereeld in die kerk in Engels gepreek. Tydens die dienstyd van ds. Hugo, omstreeks 1868, het daar skerp meningsverskil in die gemeente oor die gebruik van Engels in die kerk ontstaan. Die Eerste Vryheidsoorlog (1880-'81), die Afrikaanse Taalbeweging (van 1875 af) en die Afrikanerbond het 'n nasionaliteitsgevoel en taalbewustheid by die Hollandssprekendes begin aanwakker. Vandaar die groeiende meningsverskil in die plaaslike gemeente. In 1886 is daar nie net dienste in Engels gehou nie, maar selfs in die Sondagskool het sekere kinders in Engels onderrig ontvang en party voornemende lidmate is selfs in dié taal gekatkiseer. In 'n lang brief aan die kerkraad het die ouderling M.F. Erasmus, sedert 1877 katkisasiemeester, ernstig beswaar gemaak teen bogenoemde gebruik van Engels, wat syns insiens gedreig het om 'n skeuring in die gemeente te veroorsaak. Hy dreig dan ook om te bedank as die gemeente nie van sy taalbeleid afsien nie. Die gevoelens op die kerkraadsvergadering in Junie 1886 was skerp verdeel en na 'n lang bespreking het die raad met 'n meerderheid van stemme besluit dat daar nes voorheen in Engels aangeneem sal word, maar dat die leraar en twee kerkraadslede vooraf sal ondersoek instel na die redes van diegene wat daarom vra. Katkisasiemeester Erasmus het dan ook by wyse van protes kort daarna bedank en ds. Hugo moet self vir die katkisasieklas instaan. (Hoewel die gemeente se oppervlakte toe reeds aansienlik kleiner was as in die beginjare van ds. Fraser se dienstyd, danksy die afstigting van Prins Albert, Victoria-Wes, Fraserburg en Carnarvon tussen 1842 en 1875, was sy werk nie noodwendig minder nie omdat die dorp en distrik se bevolking toe nog gedurig toegeneem het.)
Mettertyd kon die stroom ten gunste van Hollands nie meer gekeer word nie. Die kerkraadsnotule van Januarie 1889 maak melding van 'n lang bespreking in sake Engelse klasse in die Sondagskool en die besluit dat die gebruik van die Hollandse taal langsamerhand algemeen in die Sondagskool gemaak sou word. 'n Jaar later was daar nog net een Engelse klas in die Sondagskool en dit was vir die klein kinders. Die Engelse eredienste is ook mettertyd heeltemal afgeskaf, iets waarin die kerk op Beaufort-Wes die Bolandse en Kaapse gemeentes ver vooruit was. Die presiese datum is nie bekend nie, maar in die kerkraadsvergadering van Oktober 1900 (tydens die Anglo-Boereoorlog) is daar gedebatteer oor die herinvoer van Engelse dienste in die kerk. Die kerkraad het sonder besluit van die saak afgestap. In die daaropvolgende jare tot 1907 is daar meer as een maal versoekskrifte met tot 150 naamtekeninge ten gunste van Engelse dienste by die kerkraad ingedien, maar "met die oog op die wrywing wat daar bestaan", is dit telkens geweier. Genl. ds. Paul Roux was later jare gewillig om sodanige dienste te hou vir kerkgangers wat nie die Hollandse taal verstaan het nie, maar dan in 'n ander lokaal as die kerk. Hiervan het blykbaar ook niks tereggekom nie en nooit is Engels weer ingevoer nie.
duimnael|regs|520px|Op dié foto van 1884 is die NG Sendingkerk heel links en net langsaan (regs) die stadshuis, ingewy in 1865. Onmiddellik regs daarvan is die NG kerk met sy skilderagtige vleuels en frontgewels, deur ds. Colin Fraser laat bou en ingewy, toe reeds 53 jaar vantevore.
Herstel van kerkgebou