Harman International Industries Inc. is 'n Amerikaanse vervaardiger van oudio- en videotoerusting met sy hoofkwartier in Stamford in die deelstaat Connecticut. Die ingenieur en sakeman Sidney Harman was die naamgewer vir die maatskappy wat in die S&P 500-aandele-indeks gelys word.
As moedermaatskappy verenig Harman International 'n reeks bekende handelsmerke in die hoëtrou- en informaaklikheidsbedryf soos Harman Kardon, JBL en Infinity onder een dak en het sy hoofteikenmarkte in Noord- en Suid-Amerika, Europa en Asië. Op organisatoriese vlak het Harman International sy bedrywighede in drie besigheidsvelde verdeel:
die Consumer Systems Group wat verbruikerselektronika soos luidsprekers, CD-, DVD- en Blu-ray-spelers, versterkers, tuisteaterontvangers, tuisteaterstelsels en oudiotoebehore ontwerp en vervaardig, met Harman Kardon, JBL en Infinity as sy belangrikste handelsmerke; die Automotive Systems Group wat motor-oudiostelsels vir motorvervaardigers soos Mercedes Benz, Toyota/Lexus, BMW en General Motors ontwerp en vervaardig; en die Professional Group wat oudio-toerusting en luidsprekerstelsels vir onder meer klankateljees, rolprentteaters, konsertgeboue en verhoogtonele, radiostasies, sportstadions en lughawens ontwerp en vervaardig.
Op 14 November 2016 het Harman by wyse van 'n ooreenkoms ingestem om deur die Suid-Koreaanse tegnologiereus Samsung Electronics oorgeneem te word. Met hierdie transaksie ter waarde van VS$8 miljard sal Samsung Electronics volgens waarnemers sy belange in die motorbedryf versterk. Op 11 Maart 2017 het die Koreaanse onderneming bekend gemaak dat die oorname van Harman voltooi is.Samsung Newsroom, 11 Maart 2017: Samsung Electronics Completes Acquisition of HARMAN. Besoek op 26 Maart 2017 Die onderneming sal as selfstandige dogtermaatskapy van Samsung Electronics voortbestaan.
Verwysings
Kategorie:Amerikaanse maatskappye