duimnael|regs|180px|Wynand Louw.
Wynand Hendrik Louw (Laborie et Picardi, distrik Paarl, 17 Februarie 1883 – die Paarl, 21 Augustus 1967) was 'n Suid-Afrikaanse argitek en saam met Gerard Moerdijk, met wie hy enkele jare lank in 'n vennootskap was, die eerste groot Afrikaanse argitek. Hy het 'n belangrike rol gespeel in die argitektoniese toneel van die eerste vier dekades van die twintigste eeu en mettertyd is hy deur die Afrikaanssprekende lede van dié professie as 'n patriargale figuur beskou. As eerste Afrikaanssprekende argitek"Paarl se Wynand Louw die eerste Afrikaanse argitek", Die Burger, 25 Augustus 2001. het Louw met sy vroeë werke 'n stewige fondament vir die latere omvangryke bydrae van Afrikaanssprekendes tot dié beroep gelê. Die talryke opdragte wat hy dikwels alleen moes uitvoer, soos die 69 stede en dorpe wat hy in 1925 moes aandoen in die uitvoering van sy beroepspligte, is sekerlik 'n ongeëwenaarde prestasie.
Agtergrond duimnael|210px|links|Die gebou van die NG gemeente Napier, een van Louw se sierlikste kerke.
duimnael|regs|230px|Detail, Waalburg, Kaapstad. Boaan elke kant van die gebou wat aan die straat front, is reliëfs met die woorde "Trust", "Versorging" en "Die vrug" met verwysing na Sanlam, die lewensversekeraar wat sy hoofkantoor hier gehad het.
Louw het op die familieplaas Laborie et Picardie in die Paarl grootgeword as die vierde oudste van 12 seuns (van wie twee by geboorte oorlede is) en twee dogters. Sy ouers was Tobias Johannes Louw en Sophia Maria Bosman. Hy is in 1883 in die historiese kerkgebou van die NG gemeente Paarl gedoop. Louw se liefde vir die Kaaps-Hollandse boustyl het daar in die geskiedkundige milieu van die Paarl ontwikkel. Dit het later weerklank gevind in baie van sy kerk- en ander ontwerpe. Dit is ook aangewakker deur die skilder Hugo Naudé (1886–1941), wat dikwels op sy pa se plaas kom skilder het.
Louw ontvang sy skoolopleiding aan die Hoër Jongenskool Paarl, sy naskoolse opleiding aan die Normaalkollege in Kaapstad en daarna aan die Victoria-kollege op Stellenbosch. Sy belangstelling in tekenkuns en houtwerk lei tot 'n vakleerlingskap by die argitek J.C.E. Seeliger (1863–1938) in die jare 1902 tot 1905. Hy vertrek in 1905 na Engeland om sy beroepsopleiding te ontvang aan die Architectural Association in Londen, waar hy aan die einde van die volgende jaar sy Intermediêre Eksamen aflê. Hy keer in 1907 om gesondheidsredes terug na sy vaderland sonder dat hy die eindeksamen van die Royal Institute of British Architects (R.I.B.A.) voltooi het. Ten einde selfonderhoudend te wees, was sy eerste betrekking as argitek by die departement van openbare werke in Pretoria. Deur bemiddeling van sy oom ds. A.J. Louw (in 1889 bevestig en van 1893 af 39 jaar lank leraar van die NG gemeente Heidelberg, Transvaal) het hy opdrag gekry om verskillende koshuise vir die Onderwyskollege op Heidelberg te ontwerp.
Paarlse argitek duimnael|links|200px|Wynand Louw. Louw verhuis in 1911 terug na die Boland waar hy op sy tuisdorp as argitek begin praktiseer. Vier jaar vantevore (1907) het hy reeds 'n kerksaal vir die NG gemeente Paarl, die sogenaamde Strooidakkerk, ontwerp. Die eerste kerkgebou wat hy ontwerp het, was dié van die NG gemeente Port Elizabeth. Dié gemeente, die eerste van die NG Kerk in die vriendelike stad, is op 17 April 1907 as hulpbehoewende gemeente van die NG gemeente Uitenhage afgestig met net 220 lidmate, maar danksy kollektetoere deur ds.Georg Wilhelm Stegmann Hofmeyr, die eerste leraar en 'n seun van ds. J.H. Hofmeyr (1835–1908) van die NG gemeente Somerset-Oos, kon die gemeente genoeg geld insamel om die hoeksteen van sy kerk in April 1908 reeds te lê en die gebou op 31 Desember 1909 in te wy. (Dit is in 1928 vergroot.)
Louw het meermale oorsee gereis. So het sy reis na Amerika in 1913 sy opvattings oor die binneruimte van kerke sterk beïnvloed. 'n Toer daarheen in 1930 het eweneens 'n invloed gespeel op die "wolkekrabbers" wat hy in die vroeë jare dertig ontwerp het, byvoorbeeld die Ou Mutual-gebou in Kaapstad. Sy medeargitek vir dié gebou, F.M. Glennie, het saam met hom na Amerika gereis. In dieselfde jaar het hy die Wêreldkongres van Argitekte in Boedapest bygewoon.
Die rykdom opdragte was dikwels in teenstelling met sy kliënte se beperkte middele. Gevolglik moes dienlikheid soms onvermydelik voorrang geniet bo vindingrykheid. Nogtans het hy 'n uiters belangrike bydrae gelewer tot die verbreking van die ystergreep waarmee die neo-Gotiek, soos veral vergestalt deur die kerkontwerpe van Carl Otto Hager, so lank die ontplooiing van die Protestantse kerkbou in Suid-Afrika aan bande gelê het.
Opdragte van die Universiteit van Stellenbosch, soos die manskoshuis Dagbreek (1921), en die Universiteit van die Vrystaat en Potchefstroom, dié vir die KWV (Paarl), die Volkshospitaal (Kaapstad), Volkskas, die Nasionale Pers, Voortrekkerpers en 'n groot verskeidenheid kleiner geboue, was ingeboude komponente van sy omvangryke praktyk. Tog word sy sakegeboue vir versekeringsmaatskappye soos Sanlam by Waalstraat, Kaapstad (1932,Art Deco Buildings die bekende Waalburg), en die Ou Mutual in Darlingstraat, Kaapstad, as van sy mees geslaagde projekte beskou. Die intellektuele dissipline wat nodig was om dikwels meer as honderd opdragte gelyktydig te behartig, is meer merkwaardig as in gedagte gehou word dat hy oor 'n tydperk van meer as 'n halwe eeu produktief besig was om te ontwerp.
Gemeenskapsbetrokkenheid Hoewel Louw 'n bedrywige argitek was, het hy 'n wye belangstellingsveld gehad en hom ook besig gehou met ander sake wat hom na aan die hart gelê het. Hy was betrokke by die Helpmekaarfonds en trusteelid (saam met drr. Albert Hertzog en Meiring Naudé) van die Pieter Neethlingfonds wat nou met die Afrikaanse vakbonde gemoeid was, hy het teen kommunistiese indringing in die werkersgroepe geveg en ook 'n aktiewe geldelike ondersteuner van die Nederduitse Gereformeerde Kerk se sending in Suider-Afrika geword, 'n uitvloeisel van sy diepe godsdienssin. Vanweë sy kundigheid was hy 'n gesogte direkteur van verskeie maatskappye. Hy was byvoorbeeld tot en met sy dood 'n direkteur van die Nasionale Pers. Verskeie jong argitekte het hul eerste jare in sy praktyk deurgebring en hy het sommige van hulle asook teologiestudente geldelik tydens hul studiejare bygestaan. Sy aristokratiese ingetoënheid, kunssinnigheid, vriendelike omgang en beskaafde optrede het hom 'n wye vriendekring besorg onder Suid-Afrika se mees bekende persoonlikhede.
duimnael|regs|250px|Nuwekerk, Graaff-Reinet se hoeksteen is op 16 Maart 1929 gelê. duimnael|250px|regs|Die gebou van die NG gemeente Die Strand, wat Louw in 1930 ontwerp het. Hier het hy die kruisvorm aanvaar en sny die binnehoeke daarvan weg om 'n reëlmatiger agthoek te vorm. duimnael|links|250px|Sakegeboue vir versekeringsmaatskappye soos Sanlam by Waalstraat, Kaapstad (1932, die bekende Waalburg), word as van Louw se mees geslaagde projekte beskou.
Kerkargitek duimnael|links|200px|Die Klipkerk, NG gemeente Boksburg, hoeksteen gelê op 27 Januarie 1912. In Kaapstad, Johannesburg, Pretoria, Bloemfontein en op Stellenbosch is verskeie groot geboue volgens sy planne opgerig, maar hy het veral bekendgeraak as kerkargitek. Agtkantige en waaiervormige ontwerpe het onder Louw se hand ontspring en die Woord-gerigte liturgiese inkleding het 'n eiesoortige kenmerk van die Afrikaanse kerk geword. Die sketse wat hy in 1913 in Washington, Philadelphia en Boston gemaak het, is in sy hande omgevorm tot 'n algehele nuwe genre vir die kerklike boukuns. Voor en ná sy dood is hy dikwels die eerste Afrikaanse argitek genoem. Hy was trouens sewe jaar ouer as Gerard Moerdijk en sy eerste geboue is opgerig nog voordat Moerdijk in die buiteland gaan studeer het. Louw het byvoorbeeld reeds tien kerke ontwerp teen die tyd dat Moerdijk sy eerste opdrag vir 'n kerkplan gekry het in 1917. Hulle was weliswaar later van omstreeks 1922 tot 1927 vennote en saam verantwoordelik vir hoogtepunt in die Afrikaanse kerkboukuns, soos die NG kerke van Dundee (ingewy 7 – 10 Desember 1922), Bloemfontein-Noord (ingewy 1923), Luckhoff (ingewy 1924), Marquard (hoeksteen gelê 14 Augustus 1926) en Louis Trichardt (ingewy 1926). Hoewel die argitekte onderskeidelik in die Paarl en Pretoria gewoon het, het hulle die kerkplanne onder hulle verdeel.
Op sy eie en in vennootskap met ander argitekte (van 1921 tot 1925 met Gerard Moerdijk en van 1925 af met sy jonger broer H.J. Louw) was hy betrokke by die oprigting of uitbreiding van minstens 120 kerkgeboue in al vier die destydse provinsies van Suid-Afrika, Suidwes-Afrika, Suid-Rhodesië, Noord-Rhodesië, Njassaland, Angola en Kenia. Sommige kenners beskou sy NG kerkgebou op Reitz in die Vrystaat as sy aangrypendste ontwerpArtefacts.co.za
Louw was, saam met Moerdijk, die leier van 'n beweging wat op soek was na 'n tipies Suid-Afrikaanse kerkboustyl. Schalk W. le Roux skryf in sy verhandeling Die soeke van drie argitekte na 'n planvorm vir Afrikaanse Gereformeerde kerkbou: "Aan die begin van die twintigste eeu, met die oplewing van ’n eiesoortige bewussyn na die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) en pogings tot kerkvereniging voor en na die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika (1910), is ywerig na ’n 'eie' Suid-Afrikaanse of Afrikaanse kerkboustyl gesoek. Die soektog is deur Wynand Louw en Gerard Moerdijk gelei en gerig. Dit het gepaard gegaan met die snelle verstedeliking wat tot in die jare veertig voortgeduur het. Baie nuwe gemeentes is veral in stede gestig op ’n tydstip dat die tydgenootlike funksionalistiese strewe in argitektuur op die voorgrond was. Die eerste argitekte wat ook lidmate van die kerke was, het op die toneel verskyn en besin oor die aard en vorm wat 'hulle' kerke in die Suid-Afrikaanse dorp of stad moes aanneem." Die soeke van drie argitekte na 'n planvorm vir Afrikaanse Gereformeerde kerkbou deur Schalk W. le Roux. URL besoek op 22 November 2014.
Omdat hy van nature baie beskeie was, was formele erkenning van sy besondere bydrae tot die Suid-Afrikaanse boukuns meestal postuum. Hy ontvang wel in 1940 'n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse boukuns. Hy is gehuldig as die man "wat die ouderwetse en onpraktiese kruisvormige kerke in Gotiese styl vervang het deur die nou bekende styl, wat veel meer pas by die aard en soberheid van die Protestantse Calvinisme". Lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Instituut van Argitekte is hom eers drie jaar voor sy dood aangebied.
duimnael|250px|regs|Die kerkgebou van die NG gemeente op Hermanus. duimnael|230px|regs|Die NG kerk Stanford. Dis 'n dogtergemeente van Napier, wie se kerkgebou Louw ook ontwerp het.
Uitdagings van die kruiskerk