Die Eenstreepmuis (Lemniscomys rosalia) kom in die ou Transvaalgebied en KwaZulu-Natal van Suid-Afrika, Zimbabwe, Mosambiek en die noorde van Namibië voor.

Voorkoms Die knaagdier se kleur wissel van 'n bleek, grysbruin in die droë gebiede tot oranjebruin in hoëreënvalgebiede. Die enkele streep op sy rug is kenmerkend. Die diertjie word tot 27 cm lank en weeg ±60 g.

Habitat en gewoontes Hulle verkies om in grasryke dele van die bosveld of droë bossieveld te woon. Die eenstreepmuis is daglewend en 'n alleenloper. Hulle grawe gate onder ou platgevalde gras of by die basis van 'n struik. Hulle gebruik ook uitgetrapte paadjies na hul weigebied. Daar word 2 tot 5 kleintjies gebore van September tot Maart en hulle eet gras en sade.

Sien ook Lys van Suider-Afrikaanse soogdiere Lys van Suider-Afrikaanse soogdiere volgens wetenskaplike name Suider-Afrikaanse soogdiere en hul ordes

Bron Die Soogdiergids van Suider-Afrika. Burger Cillié. 2009.

Kategorie:Knaagdiere