duimnael|links|200px|Die ligging van Athos in Griekeland.

Athos of Atos (Grieks: Όρος Άθως, Oros Athos [ˈoros ˈaθos]) is die naam van ’n berg en skiereiland in die provinsie Masedonië in Griekeland. Die Grieke verwys in die algemeen daarna as die Heilige Berg (Άγιον Όρος, Agion Oros). Dit is ’n wêrelderfenisgebied en die tuiste van ’n outonome monnikestaat onder Griekse soewereiniteit (amptelik die Kloosterstaat van die Heilige Berg). Dit bestaan uit 20 Oosters-Ortodokse kloosters.

Op geestelike gebied val Athos onder die jurisdiksie van die Ekumeniese Patriargaat van Konstantinopel.

Die skiereiland, die mees oostelike uitsteeksel van die groter Chalcidiese Skiereiland, strek 50 km verRobert Draper, 'Mount Athos' , National Geographic, Desember 2009 in die Egeïese See. Dit is tussen 7 km en 12 km breed en het ’n oppervlakte van 335,637 km2. Die berg self het steil, digbegroeide hange wat tot 2 033 m hoog is. Die omringende see, veral aan die punt van die skiereiland, kan gevaarlik wees.

Hoewel Athos aan die land grens, kan dit net per boot bereik word. Twee groot veerbote, Agios Panteleimon en Axion Estin, vaar daagliks (as die weer dit toelaat) tussen Ouranoupolis en Dafni. Dit stop by van die kloosters aan die weskus. ’n Kleiner motorboot, Agia Anna, ry dieselfde roete, maar hou nie by ander kloosters stil nie. Daar is ook veerbote tussen Ierissos en kloosters aan die ooskus.

Die daaglikse getal besoekers aan Athos word beperk en almal moet ’n spesiale permit vir ’n beperkte tyd kry. Slegs mans word toegelaat op die skiereiland, wat deur die monnike die "Tuin van die Maagd" genoem word.Athonite monasticism at the dawn of the third millennium, Pravmir Portal, September 2007 Net mans bo agttien jaar wat lid van die Oosters-Ortodokse Kerk is, mag daar bly – as monnike of werkers.

Geskiedenis

Oudheid duimnael|links|220px|Die piek van Athos. Athos in die Griekse mitologie is die naam van een van die Gigante wat teen die Olimpiese gode geveg het in die Gigantestryd. Athos het Poseidon met ’n enorme rots gegooi. Dit het in die Egeïese See geval en die berg Athos geword. Volgens ’n ander weergawe van die mite het Poseidon die berg gebruik om die verslane reus te begrawe.

Homeros het Athos genoem in die Ilias. Herodotos noem die skiereiland, wat toe Akte genoem is, en sê Pelasgers van die eiland Lemnos het daar gaan woon en noem vyf stede daarop: Sane, Cleonae, Thyssos, Olophyxos en Akrothoön. Strabo noem ook die stad Dion (Dium) en dat Akrothoön naby die kruin is. "Macedonian Heritage – The History of Mount Athos", URL besoek op 2012-01-28 Eretria het ook nedersettings op Akte begin. Minstens een ander stad is in die Klassieke periode gestig: Akanthos.

Die skiereiland was ook op die aanvalsroete van Ahasveros, wat drie jaar lankWarry, J. 1998 Warfare in the Classical World Salamander Books Ltd., Londen p. 35 ’n kanaal oor die landengte gebou het om sy vloot in 483 v.C. deur te laat. Ná die dood van Alexander die Grote het die argitek Deinokrates aangebied om die hele berg uit te beitel in ’n beeld van Alexander.

Kennis oor die geskiedenis van die skiereiland in dié tydperk is beperk weens die gebrek aan historiese rekords. Argeoloë kon nog nie die presiese ligging vind van die plekke wat deur Strabo genoem is nie. Daar word geglo die inwoners het getrek toe Athos se nuwe inwoners, die monnike, die een of ander tyd voor die 9de eeu n.C. begin arriveer het.

Vroeë Christelike tydperk duimnael|220px|Die Simonopetra-klooster. duimnael|220px|Die Hilandar-klooster. Volgens die tradisie van Athos was die Maagd Maria en Johannes na Siprus onderweg om Lasarus van Betanië te besoek. Die boot is van koers af gewaai en moes noodgedwonge op die heidense Athos anker gooi by die hawe van Klement, naby die hedendaagse Klooster van Iviron. Maria het aan land gegaan en was meegevoer deur die skoonheid van die berg. Sy het dit geseën en haar Seun gevra of dit haar tuin mag wees. ’n Stem is gehoor wat sê: "Ἔστω ὁ τόπος οὖτος κλῆρος σὸς καὶ περιβόλαιον σὸν καὶ παράδεισος, ἔτι δὲ καὶ λιμὴν σωτήριος τῶν θελόντων σωθῆναι (Laat hierdie plek jou erfenis en jou tuin wees, ’n paradys en hawe vir diegene wat redding soek"). Van daardie oomblik af was die berg gewyd as die tuin van die Moeder van God en was dit buite perke vir enige ander vrou.Hierdie tradisie is deur st. Gregory Palamas ingesluit in sy boek Life of Petros the Athonite. bl. 150, 1005 n.C.

Ondanks die min historiese rekords word geglo monnike het sedert die 4de, en dalk die 3de, eeu daar gewoon. Tydens die bewind van Konstantyn die Grote (324–337) is dit bewoon deur Christene en heidene. Tydens die bewind van Julianus die Afvallige (361–363) is die kerke van Athos afgebrand en Christene het in die woude en ander ontoeganklike plekke weggekruip. Later, tydens Theodosius I se bewind (383–395), is die heidense tempels verwoes. Die leksigraaf Hesychius van Alexandrië noem dat daar in die 5de eeu nog ’n tempel en standbeeld van "Zeus van Athos" was. Ná die Islamitiese inval van Egipte in die 7de eeu het baie Ortodokse monnike uit die Egiptiese woestyn gevlug op soek na ’n ander vreedsame plek; van hulle het na Athos gekom. Volgens ’n antieke dokument het die monnike "houthutte met strooidakke gebou … en deur vrugte van die wilde bome bymekaar te maak, het hulle etes geïmproviseer".Biografie van St. Athanasius van Athos

Bisantynse tydperk: die eerste kloosters duimnael|links|150px|Nikephorus Phokas. Die kroniekskrywers Theophanes die Belyer (einde 8ste eeu) en Georgios Kedrenos (11de eeu) het geskryf die 726-uitbarsting van die Thera-vulkaan kon vanaf Athos gesien word, en dus was die skiereiland in dié tyd bewoon. Die historikus Genesios het geskryf monnike van Athos het in 787 deelgeneem aan die Tweede Konsilie van Nicea. Aan die begin van die 9de eeu was Athos ’n ruk lank verlate weens invalle deur die Emiraat van Kreta. Omstreeks 860 het die beroemde monnik Efthymios die Jongere na Athos gekom, en ’n aantal monnikehutte ("skiti van St. Basilius") is gebou naby die plek waar hy gebly het. Tydens die bewind van keiser Basilius I van die Bisantynse Ryk het die voormalige aartsbiskop van Kreta Basilius die Belyer ’n klein klooster gebou op die plek van die hedendaagse hawe van die Hilandar-klooster. Kort hierna het ’n sekere Ioannis Kolovos, volgens ’n dokument van 883, ’n klooster by Megali Vigla gebou.

Kragtens ’n dekreet van keiser Basilius I van 885 is die Heilige Berg verklaar tot ’n plek van monnike en mag geen leke, boere of beestelers daar gaan woon het nie. In ’n dekreet van keiser Leo VI die Wyse word gepraat van die "sogenaamde antieke setel van die raad van ouderlinge", en dus was daar reeds ’n soort monnike-administrasie wat toe al "antiek" was. In 887 het ’n paar monnike by keiser Leo gekla dat die klooster van Kolovos al hoe meer groei en dat hul vrede bedreig word.

In 908 is die bestaan genoem van ’n protos ("eerste monnik"), die hoof van die kloostergemeenskap. In 943 is die grense van die kloosterstaat vasgestel en was Karyes reeds die hoofstad en administratiewe setel. In 956 is grond van sowat 940 000 m² in ’n dekreet aan die Xiropotamou-klooster gegee, en dus was die klooster reeds taamlik groot.

duimnael|150px|Athanasios van Athos. Die monnik Athanasios het in 958 by Athos aangekom. Hy het in 962 ’n groot sentrale "Kerk van die Protaton" in Karyes gebou. In die volgende jaar, met die steun van sy vriend keiser Nikephoros II Phokas is die Groot Lawra gestig. Dit is steeds die grootste en belangrikste van die 20 huidige kloosters. Dit was in die volgende eeue onder beskerming van die keisers van die Bisantynse Ryk en sy rykdom en besittings het aansienlik toegeneem.

Ottomaanse tydperk In die 15de eeu is die Bisantynse Ryk deur die Ottomaanse Ryk verower. Die monnike van Athos wou goeie betrekkinge met die Ottomaanse sultan handhaaf en toe Murat II Thessaloniki in 1430 verower, het hulle dadelik trou aan hom gesweer. In ruil daarvoor het Murat die kloosters se grondgebied erken. Mehmet II het dit formeel bekragtig ná die val van Konstantinopel in 1453. Athos se onafhanklikheid is so in ’n mate verseker.

Die 15de en 16de eeu was redelik vreedsaam vir Athos en die kloosters het vooruitgegaan. ’n Voorbeeld is die stigting van die Stavronikita-klooster, die laaste van die kloosters op Athos. Ná die verowering van Serwië deur die Ottomane het baie Serwiese monnike na Athos gekom. ’n Bewys van hoeveel Serwiërs daar was, kan gesien word in die talle Serwiese monnike wat in dié tyd verkies is tot die amp van protos.

duimnael|220px|Die Xenophontos-klooster. duimnael|regs|220px|Die Stavronikita-klooster was die laaste klooster wat gestig is. Sultan Selim I was ’n groot weldoener van die Xiropotamou-klooster. In 1517 het hy ’n edik uitgevaardig dat "die plek waar die Heilige Evangelie verkondig word, wanneer dit ook al afgebrand of selfs beskadig word, weer gebou sal word". Hy het ook voorregte aan die kloostergemeenskap toegeken, en die bou van die eetsaal en restourasie van die muurskilderings gefinansier wat tussen 1533 en 1541 voltooi is.

Hoewel die kloosters meestal in vrede gelaat is, het die Ottomane swaar belastings gehef en soms belangrike grond van hulle afgeneem. Dit het eindelik gelei tot ’n finansiële krisis op Athos in die 17de eeu en tot die sogenaamde "idiorritmiese" (halfhermitiese) lewenstyl, eers by ’n paar van die kloosters en later, in die eerste helfte van die 18de eeu, by almal.

In teenstelling met die "koenobitiese" of kloosterstelsel, het die monnike in idiorritmiese gemeenskappe private eiendom, hulle werk vir hulself en is self verantwoordelik om kos en ander noodsaaklikhede te kry. Hulle eet alleen in hul selle en kom net by die kerk byeen. Terselfdertyd is die ab van die kloosters vervang deur komitees, en by Karyes is die protos vervang deur ’n komitee van vier lede.

duimnael|links|550px|Dafni In 1749, met die stigting van die Athos-akademie naby die Vatopedi-klooster, het die plaaslike kloostergemeenskap ’n leidende rol gespeel in die moderne Griekse Verligting van die 18de eeu. Die instelling het ’n hoë vlak van opvoeding aangebied, onder meer in antieke filosofie en moderne natuurkunde.

Russiese tsaars en prinse van Moldawië, Wallachye en Serwië (tot aan die einde van die 15de eeu) het die kloosters help oorleef met groot skenkings. Oor die volgende eeue het die bevolking en die rykdom van die kloosters afgeneem, maar in die 19de eeu het ’n oplewing plaasgevind, veral danksy die Russiese regering. Die bevolking het in die loop van die eeu stadig gegroei en in 1902 ’n hoogtepunt van meer as 7 000 monnike bereik, hoewel dié getal betwis word.Die getal word betwis. Volgens sommige Griekse rekords was sowat 4 000 of meer van die monnike Russies, maar nie almal was regte monnike nie. Hulle was soldate wat soos monnike aangetrek was in ’n poging om die Heilige Berg in ’n Russiese vlootbasis te omskep. Rusland ontken dit egter.

In 1912, tydens die Eerste Balkanoorlog, is die Ottomane deur die Griekse vloot verdryf. Griekeland het die skiereiland opgeëis as deel van die vredesooreenkoms wat op 30 Mei 1913 in Londen onderteken is.

Weens die tekortkominge van die Vredesverdrag van Londen het die Tweede Balkanoorlog in Junie 1913 uitgebreek. ’n Finale vredesooreenkoms is op 10 Augustus 1913 in Boekarest onderteken.

In Junie 1913 het ’n klein Russiese vloot, bestaande uit die kanonneerboot Donets en die vervoerskepe Tsar en Cherson, die aartsbiskop van Wologda en ’n paar soldate na Athos gebring om ’n teologiese twispunt te besleg oor imjaslawije (’n Russies-Ortodokse beweging).

Die aartsbiskop het samesprekings met die imjaslaftsi gehou en hulle probeer oorreed om vrywillig van hul oortuigings afstand te doen, maar dit het misluk. Op 31 Julie 1913 het die soldate die St. Panteleimon-klooster bestorm. Die Cherson is in ’n tronkskip omskep en verskeie imjaslaftsi-monnike is na Rusland gestuur.