Henley on Klip is 'n nedersetting in Gauteng, Suid-Afrika. Die dorpie is net noordoos van Meyerton langs die Kliprivier geleë. Die "Bass Lake" in Henley on Klip is 'n gewilde bestemming vir skubaduikers.

Geskiedenis Die dorp is in 1904 deur advokaat Horace Kent gestig. Kent is in 1855 in Henley on Thames, Engeland, gebore en het in 1898 na Suid-Afrika gekom. Die gebied waar Henley on Klip geleë is, het Kent aan sy tuisdorp herinner. In samewerking met die Small Farms Company (SFC) het Kent die grond van 410 morg (346 ha) in 1903 van ene mnr. C.J. van der Westhuizen gekoop, vir 'n prys van ₤ 5000.

In 1904 het die Small Farms Company besluit om die Kliprivier op te dam sodat regattas op die rivier gehou kan word. Die konstruksie van 'n keerwal op die rivier het in Januarie 1904 begin, en in Maart 1905 is die wal voltooi.

Die Henley on Klip Hotel is in 1904 gebou en op 24 Mei 1905 vir die publiek geopen. Die Henley-roeiklub en die Henley-gholfbaan is ook in hierdie tyd gebou. Die gholfbaan is aan beide kante van die rivier uitgelê, en spelers moes die rivier per boot oorsteek. Roeibote is beskikbaar gestel, en 'n opsigter is aangestel om die roeibote aan die publiek uit te verhuur.

1970 Busramp Op 28 Januarie 1970 het 'n skoolbus op die spoorlyn gaan staan en is deur 'n postrein in stukke geruk. Van die 42 kinders op die bus is 23 dood en 16 ernstig beseer. Drie het ongedeerd daarvan afgekom. Die busbestuurder, ene mnr. Koekemoer, is nie beseer nie.’n Roudiens en ‘die lewe gaan aan’ , Beeld, 1 Februarie 2010 Johan le Roux, 'n matriekleerling aan Hoërskool Dr Malan, het ten minste twee kinders deur 'n oop busvenster gestoot voordat die trein die staande bus getref het. Hy het self in die ongeluk gesterf. 'n Busprefek, Hansie Fourie, het die deur oop gekry en uitgespring, net voor die insedent.

Fotogalery

Sien ook

Henley-on-Klip, rolprent oor busongeluk wat hier plaasgevind het Lys van dorpe in Suid-Afrika

Bronne Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967. Van Eck, Koos (2010) A River runs through: A history of Henley on Klip. Vanderbijlpark: Corals Publishers,

Verwysings

Kategorie:Nedersettings in Gauteng