Frank Walter Waring (Kaapstad, 7 November 1908 - Kaapstad, 24 Januarie 2000) was eers 'n Volksraadslid van die Verenigde Party en later een van die eerste twee Engelssprekende kabinetsministers van die Nasionale Party.

Agtergrond Hy is in die Kaapstadse voorstad Kenilworth gebore en het sy skoolloopbaan aan die South African College School (SACS) voltooi waarna hy aan die Universiteit van Kaapstad studeer het. Hy het provinsiale rugby vir die Westelike Provinsie en vir die klubs UCT en Maitland gespeel. In Transvaal het hy vir die Pirates gespeel, en later ook vir die Collegians in Durban.

Politieke loopbaan Hy is in die algemene verkiesing van 1943, 1948 en 1953 onbestrede verkies in die kiesafdeling Orange Grove in Johannesburg. Hy verloor egter met 4 945 stemme teen die V.P. se J.M. Connan in 1958 in Kaapstad-Tuine en kom tweede, weer as onafhanklike, in 1961 in Maitland toe die dienende Volksraadslid, dr. Zach de Beer, slegs derde kom nadat hy in 1959 by die Progressiewe Party aangesluit het. A. Hickman van die V.P. het gewen met 4 610 stemme.

Waring sluit hom later by die Nasionale Party aan, word in 1962 in 'n tussenverkiesing onbestrede in Vasco vir die N.P. verkies en word een van die eerste twee Engelssprekende ministers in dr. H.F. Verwoerd se kabinet.

Sportloopbaan duimnael|links|upright|Frank Waring in die dae toe hy Springbokrugby gespeel het. Waring het ook vir die Westelike Provinsie rugby gespeel en van 1931 tot 1933 vir die Springbokke. Hy speel sy eerste toetswedstryd op 19 Desember 1931 teen Ierland en sy laaste toetswedstryd teen Australië op 2 September 1933. Hy neem aan die Springbokke se toer na Groot Brittanje en Ierland van 1931 tot 1932 deel. Hulle klop Wallis met 8-3 in Swansea en vir Ierland met dieselfde telling. Teen Engeland wen die Bokke met 7-0, en die Bokke klop die Skotte 6-3. Waring het in twee van die wedstryde gespeel en 'n drie gedruk. Die Wallabies toer in 1933 die eerste keer in Suid-Afrika vir 'n reeks van vyf toetse. Die Springbokke wen die reeks toe hulle seëvier in drie van die vyf wedstryde. Waring het in al vyf wedstryde gespeel.

Eksterne skakels Foto op Africa Media Online Besonderhede oor sy rugbyloopbaan by Sacsrugby.com

Kategorie:Politici van die Nasionale Party Kategorie:Politici van die Verenigde Party Kategorie:Suid-Afrikaanse ministers van bosbou en visserye Kategorie:Suid-Afrikaanse ministers van inligting Kategorie:Suid-Afrikaanse ministers van sport en ontspanning Kategorie:Suid-Afrikaanse ministers van toerisme en omgewingsake Kategorie:Suid-Afrikaanse rugbyspelers Kategorie:Geboortes in 1908 Kategorie:Sterftes in 2000