Sarmiento is 'n dorp in die Chubut-provinsie van Argentinië. Dit is die hoofdorp van die gelyknamige departement. Volgens die 2001 volkstelling bly daar sowat 8 000 inwoners. Dit is in die sogenaamde Sentrale Straat van Patagonië geleë, binne 'n vrugbare vallei in die middel van 'n andersins dorre gebied, 140 km wes van Comodoro Rivadavia, in die suide van Chubut. Dit lê tussen twee mere, naamlik die Mustersmeer en die Colhue Huapi-meer. Aantreklikhede sluit die versteende woud en grottekeninge in.
Geskiedenis Sarmiento is deur nedersetting van immigrante gevestig, wat hoofsaaklik uit Wallis afkomstig was. In die vroeë 1900's het daar ook 'n immigrasiegolf Litauers aangekom.
In 1903, na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog, het 600 Afrikaner-gesinne in Argentinië aangekom. Hulle het hul in hierdie gebied gevestig omrede dit, anders as die kusstad Comodoro Rivadavia waar hul eers was, voorsiening van water gebied het. Die afstammelinge van hierdie koloniste het 'n groot deel van Sarmiento beslaan, praat steeds Afrikaans en behoort tot vandag toe aan die Nederduitse Gereformeerde Kerk. So onlangs soos die 1960's is Afrikaans nog algemeen gepraat, maar dit het vandag verander namate die Afrikaanse bevolking by die Argentynse kultuur en gemeenskap begin aanpas het.
Kyk ook NG gemeente Chubut
Kategorie:Nedersettings in Argentinië