regs|duimnael|250px|N.C. Havenga en genl. J.B.M. Hertzog. Hertzog het die Kleurlinge belowe hul stemreg sou onder geen omstandighede aangetas word nie. Havenga het hom deur dr. D.F. Malan laat oorreed om van standpunt te verander en afsonderlike verteenwoordiging vir bruin kiesers in Kaapland te aanvaar.
Die Kleurlingstemregvraagstuk was 'n verbete stryd tussen die Nasionale Party onder leiding van dr. D.F. Malan enersyds en andersyds die Verenigde Party onder adv. J.G.N. Strauss, die Torch Commando, Arbeidersparty en bruin organisasies oor die stemreg van sowat 45 000 Kaapse bruin kiesers wat in die Suid-Afrika-wet verskans was, maar wat die NP van 1950 af met mag en mening wou wegneem.
Agtergrond Toe die Kaapkolonie in 1853 die eerste keer 'n verteenwoordigende grondwet kry, was daar geen diskriminasie op grond van kleur by die bepaling van stemreg nie. Alle mans is toegelaat om as kiesers te registreer en hulle vir die Wetgewende Vergadering verkiesbaar te stel mits hulle £50 per jaar verdien het of £25 verdien het en voorsien is van woonplek of as hulle 'n huis bewoon het waarvan die algehele waarde £25 was. In 1892 is die huis- en grondvoorwaardes opgeskuif na £75 en 'n onderwystoets is ingestel ingevolge waarvan die aansoeker sy naam, woonadres en beroep moes kon skryf.
Een van die vernaamste debatte in die Nasionale Konvensie, wat sou aanleiding gee tot die Suid-Afrika-wet wat Uniewording moontlik gemaak het, was oor die vraagstuk van die Kaapse nie-blanke stemreg en uiteindelik, ná baie debatvoering, is daar besluit om die stemreg van die Kaapse kiesers te waarborg, maar dit nie na die ander drie provinsies uit te brei nie, buiten die swart stemreg wat in Natal behoue sou bly. Toe stemreg in 1930 aan blanke vroue toegeken is, is Kleurlingvroue hiervan uitgesluit sodat Kleurlingkiesers se aandeel aan die totale getal kiesers min of meer gehalveer is. In 1936 is die handjie vol swart mans wat stemreg in die Kaapprovinsie en Natal gehad het, deur wetgewing daarvan ontneem. Teen 1950 het bruin kiesers net in nege kiesafdelings in die Wes-Kaap (Kaapstad-Kasteel, Kaapse Vlakte, Paarl, Wynberg, Stellenbosch, Soutrivier, Vasco, Hottentots-Holland en Malmesbury) enigsins 'n beduidende rol gespeel, hoewel hulle nêrens die meeste kiesers in 'n kiesafdeling was nie. Hulle was egter byna deur die bank VP-ondersteuners en hulle aanwesigheid op die algemene kieserslys het nie by die NP se apartheidsdroom ingepas nie.
Kleurlingkiesers is egter nie getel tydens die berekening van die aantal setels waarop Kaapland geregtig was nie. In 1948 het Kaapland se 49 setels byvoorbeeld elkeen 10 089 kiesers verteenwoordig terwyl Transvaal se 60 setels elk net 9 712 kiesers gehad het, ondanks die feit dat Kaapland meer plattelandse setels gehad het en meer setels dus "ontlaai" kon word as wat die geval in Transvaal was.
Die Suid-Afrika-wet van 1909 het bepaal: "Artikel 35 (1) Die Parlement mag met wetgewing die kwalifikasies voorskryf wat nodig is om mense in staat te stel om in verkiesings te stem vir lede van die Unie-Volksraad, maar geen sodanige wet sal enigeen diskwalifiseer in die provinsie van die Kaap die Goeie Hoop wat, ingevolge die wette van die kolonie van die Kaap die Goeie Hoop met Uniewording geregtig was of nog geregtig kan word om te registreer as kieser vanweë sy ras of kleur alleen nie, tensy 'n Wetsontwerp aanvaar word deur albei Huise van die Parlement wat terselfdertyd sit en met die derde lesing ooreenstem met nie minder nie as twee derdes van die totale getal Lede van albei Huise. 'n Wetsontwerp wat aangeneem word tydens so 'n gesamentlike sitting sal aanvaar word as synde behoorlik aangeneem deur albei Huise van die Parlement.
(2) Geen persoon wat, met die aanvaarding van so 'n wet, geregistreer is as 'n kieser in enige provinsie sal verwyder word van die kieserslys slegs op grond van enige diskwalifikasie met betrekking tot sy ras of kleur nie.
Artikel 36. Onderhewig aan die bepalinge van die vorige afdeling sal die kwalifikasies vir parlementêre kiesers, soos dit bestaan in die verskeie kolonies met Uniewording, die kwalifikasies wees wat nodig is om mense in die ooreenstemmende provinsies geregtig te maak om te stem vir die verkiesing van lede van die Unie-Volksraad.
Artikel 44. Die kwalifikasies van 'n lid van die Unie-Volksraad sal as volg wees: hy moet ... (c) 'n Britse onderdaan van Europese afkoms wees.
Artikel 152. Die Parlement mag deur wetgewing enige van die bepalinge van hierdie wet herroep of wysig: mits ... geen herroeping of verandering van die bepalinge vervat in hierdie afdeling, of in die artikels ... vyf en dertig, een honderd en sewe en dertig, geldig sal wees tensy die wetsontwerp wat so 'n herroeping of verandering omvat, aangeneem sal word deur albei Huise van die Parlement wat gesamentlik sit en met die derde lesing ooreenstem met nie minder nie as twee derdes van die totale lede van albei Huise. 'n Wetsontwerp wat aangeneem word tydens so 'n gesamentlike sitting sal geag word as behoorlik aangeneem deur albei Huise van die Parlement."
Reeds dié wetgewing het gekleurde kiesers van die reg ontneem om hul sitplek in te neem as lid van die Unie-Volksraad. Geen nie-blanke het dit in elk geval gedoen in die ou Kaapse Parlement nie, maar die reg was altyd daar. Die nie-blankes was ook ontsteld oor die moontlikheid dat hul stemreg deur die Unie-Parlement weggeneem kon word en hul vernaamste organisasie, die African Peoples' Organisation, het 'n afvaardiging na Londen gestuur om hul beswaar te kenne te gee. Die bruin kiesers was verbitter omdat die Britse Parlement die diskriminasie toegelaat het in die wet, wat eers deur albei huise van die Britse Parlement aangeneem moes word voor Suid-Afrikaners daaroor sou stem.
In die twintigerjare het 'n beweging onder wit kiesers ontstaan om swart kiesers van die algemene kieserslys te laat verwyder en talle wetsontwerpe is in die Unie-Volksraad ingedien, maar in 1930 en 1931 het die verlening van stemreg eers aan wit vroue en toe aan alle wit kiesers sonder enige kwalifikasies die nie-blanke aandeel aan die totale stemgeregtigdes byna onbeduidend gemaak. In 1929 was daar byvoorbeeld 410 729 blanke kiesers in die Unie, vergeleke met 41 744 nie-blanke kiesers. Met die blanke bevolkingstoename, die stemreg vir vroue en die opheffing van kwalifikasies (vir blankes), het die getal blanke kiesers teen 1939 toegeneem tot 1 530 555, vergeleke met net 30 130 bruin kiesers. Teen daardie tyd is die swart kiesers in Kaapland van die algemene kieserslys verwyder en afsonderlike verteenwoordiging deur drie blanke Volksraadslede (die sogenaamde Naturelleverteenwoordigers) gegee.
Die verandering in die aandeel blanke en nie-blanke kiesers, en veral die verwydering van die swart kiesers van die algemene kieserslys, het natuurlik die bruin mense bekommerd gemaak, maar genl. Hertzog het hulle deurentyd verseker dat 'n duidelike onderskeid getref moet word tussen hulle en die swart kiesers en dat hulle beskou moet word as heeltemal gelyk aan hul wit eweknieë. Hy het selfs aan die hand gedoen bruin mans in die ander provinsies moet ook stemreg gegee word en het sover gegaan as om in 1926 'n wetsontwerp in dié verband in te dien. Sy houding jeens dié vraagstuk is ook ondersteun deur 'n regeringskommissie wat in 1937 verslag gedoen het. Toe die Verenigde Party-regering in 1936 besluit het om swart kiesers van die kieserslys te haal, het dit geen moeite ontsien nie om bruin kiesers te verseker dat, as hulle dié maatreël ondersteun het, hulle nooit sou hoef te vrees dat 'n soortgelyke verdrukking op hul stemreg toegepas sou word nie. Die latere eerste minister, dr. D.F. Malan, het deurentyd die regte van die bruin kiesers ondersteun en op minstens een geleentheid selfs voorspraak gemaak dat die stemreg uitgebrei moes word na bruin vroue. Hy het prontuit gesê bruin kiesers moet, ten minste in Kaapland, dieselfde politieke regte as blankes geniet.Hatch, John. 1952. The Dilemma of South Africa. London: Dennis Dobson Ltd.
Nog 'n vraag wat in verband met Kleurlingstemreg ter sprake gekom het, was óf die bepalinge van die Suid-Afrika-wet nog hoegenaamd gegeld het nadat die Statuut van Westminster van 1931 en die Statuswet van 1934 alle Britse beheer oor die Unie se politiek verwyder het. Genl. Hertzog was oortuig daarvan dat dit wel nog gegeld het en dat "die beskerming van afdeling 152 nie weggeneem kan word nie". Die latere minister van gesondheid, dr. A.J. Stals, het hom ondersteun: "Ek dink nie enigeen in dié Huis, of in die Unie, twyfel aan die morele plig van die Parlement en die volk om die grondbeginsel in ons Grondwet te eerbiedig nie." Mnr. C.R. Swart, later minister van Justisie en uiteindelik staatspresident, het genl. Hertzog gelyk gegee: "Ons voel die verskanste klousules is 'n saak van goedertrou en ek kan my nie voorstel dat enige regering hulle met 'n eenvoudige meerderheid sal verander nie." Selfs die speaker, dr. E.G. Jansen, wat minister van naturelleaangeleenthede geword het onder dr. Malan en later goewerneur-generaal, het in 'n goed oorwoë uitspraak gesê: "Nieteenstaande die bepalinge van die Statuut van Westminster is ek van mening dat as ons verlang om die verskanste klousules te verander of te herroep, dan moet ons eers die prosedure volg wat neergelê word in die Suid-Afrika-wet."
Malan verander sy standpunt Geleidelik het dr. Malan sy houding jeens die bruin mense verander en ná die aanneming van die Hertzog-wette van 1936 het hy voorspraak begin maak vir die verwydering van die bruin mense sowel as die swart mense van die algemene kieserslys. Genl. Hertzog het hom deeglik hieroor uitgedaag. Hy het daarop gewys dat, ten einde te keer dat die bruin keisers se simpatie heeltemal van hulle vervreem word, het die Nasionale Party, met die volle ondersteuning van Hertzog sowel as Malan, die bruin mense verseker politieke skeiding sou nie op hulle van toepassing gemaak word nie. Hy het gesê dr. Malan se kleurbeleid sou veroorsaak dat "ontrouheid en onbetroubaarheid die riglyn sal word vir die wit man in Suid-Afrika in die bepaling en vervulling van sy pligte as bewaker van die nie-blanke".
duimnael|links|200px|B.K. Long se uitlatings in In Smuts's Camp is deur die Nasionale Party gebruik om die verwyder van Kleurlingkiesers van die algemene kieserslys te regverdig.
Tog, toe die Nasionale Party in 1948 die bewind oorneem, het hy verklaar hy sou die bruin kiesers van die wit kiesers skei en vir eersgenoemde onafhanklike verteenwoordiging in die Unie-Volksraad gee. Die party het beweer die nie-blanke bevolking oefen 'n wurggreep uit op die blankes, dat die stemreg van die Kaapse Kleurlinge misbruik word en dat die verandering tot die bruin mense se voordeel sou strek. Die eerste voorstel word nouliks gestaaf deur die feit dat destyds in die hele Kaapland net 8,82% van die kiesers bruin was. En dat daar geen tekens van 'n merkbare toename was nie. Die veronderstelling van korrupsie was grotendeels gegrond op 'n stelling in B.K. Long se boek In Smuts' Camp, waarin hy aan die hand doen dat kandidate hulle daaraan skuldig gemaak het dat hulle diegene wat invloed oor bruin kiesers uitgeoefen het, omgekoop het. Long skryf op bl. 129 van die boek: "Ek gaan in warm water beland vir wat ek nou gaan hieroor (Kleurlingkiesers) gaan sê. Die Kleurlingstem in enige Kaapse kiesafdeling is, as geheel, heimlik tydens verkiesingstyd te koop. Ek bedoel nie dat elke individuele Kleurlingkieser deur 'n kandidaat vir sy stem betaal hoef te word nie. Wat ek wel bedoel, is dat die oorgrote meerderheid Kleurlingkiesers onderworpe is aan druk, hetsy van individue of klein groepies in hul geledere, op maniere waarteen blanke kiesers immuun is. Diegene wat sodanige druk op Kleurlingkiesers plaas, is korrup. Verering word deur hulle van kandidate opgeëis.