duimnael|links|Sir George Grey se skenking van £5 000 het die stigting van Grey-kollege voorafgegaan.
Sir George Grey (Lissabon, Portugal, 14 April 1812 - Engeland, 19 September 1898) was goewerneur van die Kaapkolonie.
Hy was die seun van kol. Grey, wat gesneuwel het in die Skiereilandse Oorlog, 'n stryd tussen Frankryk en die geallieerde magte van Spanje, die Verenigde Koninkryk en Portugal om beheer van die Iberiese Skiereiland tydens die Napoleontiese Oorloë. Dit het ontstaan toe Frankryk en Spanje Portugal in 1807 binnegeval het. In 1808 het Frankryk teen sy bondgenoot, Spanje, gedraai. Dit het voortgeduur tot die Sesde Koalisie Napoleon in 1814 verslaan het.
Grey was goewerneur van Suid-Australië van 1841 tot 1845 en van daardie jaar af van Nieu-Seeland, waar hy baie bygedra het tot die kolonie se vooruitgang. Hy kom in 1854 na die Kaap en was gewild by die Engelse en Hollandse koloniste asook die swart bevolking sodat hy die reputasie as "die beste goewerneur van alle tye" gekry het. Hy het deur die Kaapkolonie, die Oranje-Vrystaat en Natal gereis en vrede gesluit met Moshoeshoe en Adam Kok III.
Die goewerneur het die bou van 'n eerste spoorlyn in die Kaap aangemoedig en 'n groot bedrag geld geskenk vir die stigting van die eerste skool noord van die Oranjerivier, die latere bekende Grey-kollege in Bloemfontein waaruit die Universiteit van die Vrystaat ontstaan het. Hy het ook hospitale vir swart mense laat bou om die invloed van toordokters teen te werk en sy private biblioteek aan die inwoners van die Kaapkolonie geskenk.
In 1859 word hy ontslaan omdat hy 'n beweging vir die vereniging van Suid-Afrika voorgestaan het. Nadat hy in ere herstel is, is hy na sy ou amp in Nieu-Seeland gestuur in 1861. Hy word later lid van die Nieu-Seelandse parlement en was eerste minister van 1877 tot 1879.
In 1894 keer hy terug na Engeland waar hy in 1898 sterf en begrawe word in die St. Paulus-katedraal in Londen. Die Wes-Kaapse dorpie Greyton en Greytown in KwaZulu-Natal is na hom genoem asook die Hoërskool Grey in Port Elizabeth en die Grey-hospitaal op King William's Town. Lady Grey in die Oos-Kaap is na sy vrou genoem.
Goewerneur van die Kaapkolonie duimnael|links|Portret van sir George Grey as Goewerneur van die Kaapkolonie
Grey was die Goewerneur van die Kaapkolonie van 5 Desember 1854 tot 15 Augustus 1861. Hy het in 1855 Grey-kollege in Bloemfontein gestig en in 1856 die Hoërskool Grey in Port Elizabeth. In Suid-Afrika het Grey met ’n ferm hand oor die inboorlinge gewerk en was daarop uit om vir hulle afsonderlike land te gee vir hul eksklusiewe gebruik. Hy het meer as een maal opgetree as arbiter tussen die regering van die Oranje-Vrystaat en die inboorlinge en het uiteindelik tot die gevolgtrekking gekom dat ’n gefedereerde Suid-Afrika die beste vir almal sou wees. Die Oranje-Vrystaat sou hierby inval en die Zuid-Afrikaansche Republiek waarskynlik ook. Grey was egter sy tyd 50 jaar vooruit en die koloniale owerhede wou nie sy voorstel aanvaar nie. Hul instruksies ten spyt, het Grey voortgegaan om ’n unie te propageer.
George Grey-standbeeld links|duimnael|Die George Grey-standbeeld voor die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika. 'n Standbeeld van sir George Grey staan in die Kompanjiestuin in Kaapstad voor die deur van die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika. Die inskripsie lui bloot “Sir George Grey K.C.B. Governor 1854-1861”. Grey het sy eie boekery, die Grey-versameling, aan hierdie biblioteek nagelaat. William Calder-Marshall van Londen het die beeld in 1863 voltooi.
Ander George Grey-gedenktekens Greytown Greyton Glen Grey Greyville in KwaZulu-Natal Grey-kollege Grey-universiteitskollege Hoërskool Grey in Port Elizabeth Grey Instituut in Port Elizabeth Greykerk Grey Hospitaal in Kingwilliamstown Grey Hospitaal in Pietermaritzburg Greyspas (vervang met die Piekenierskloofpas) Grey’s Pass (kort straatjie in die middestad van Kaapstad) Grey-versameling George Grey-standbeeld Lady Grey Lady Grey (die vorige naam vir die dorpie McGregor) en waarskynlik Greystoke (die ampswoning van die Britse Hoë Kommissaris in Pretoria)
Sien ook Lys van kommandeurs en goewerneurs van die Kaapkolonie Grey-versameling Kennaway Girls
Bron Green, Eldred: Sir George Grey. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis, Kuns en Kultuur. Jaargang 31, nr. 1, Desember 1981 Rosenthal, Eric. 1978. Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town and Johannesburg: Juta and Company Limited.
Kategorie:Britse goewerneurs van die Kaapkolonie Kategorie:Geboortes in 1812 Kategorie:Sterftes in 1898 Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika