duimnael|Turkse kus, Middellandse See duimnael|'n Strand in Chili duimnael|Golf van Riga duimnael|Die Noordsee duimnael|Die Swartsee
'n See is 'n groot hoeveelheid soutwater, wat in verbinding staan met 'n ander see of met 'n oseaan, wat ook as 'n see aangedui kan word, behalwe dat 'n oseaan 'n selfstandige geheel vorm met 'n eie sirkulasie (seestroom). 'n See daarenteen, het 'n bodem wat by 'n kontinent (of Kontinentale Plaat) behoort.
As die verbinding tussen seë smal is en uit 'n meer of seestrate bestaan, praat mens van 'n binnesee. Seë word gevoed deur riviere en deur reënwater.
Ontstaan Wetenskaplikes vermoed dat die aarde ongeveer 5 miljard jaar gelede sy vorm begin aanneem het, maar dat daar oorspronklik geen see was nie. Water is geleidelik deur chemiese reaksies vrygestel, waardeur 'n hidrosfeer gevorm is. Namate dit afgekoel het, het water in vloeistofvorm die see begin vorm.
Sedimente op die bodem van die see is waarskynlik gevorm deurdat sure met die vulkaniese gesteentes gereageer het. Ook die soutkonsentrasie van die see het waarskynlik deur hierdie reaksies ontstaan. Sedertdien is die soutkonsentrasie van die see waarskynlik in ʼn toestand van dinamiese ewewig. Nuwe soute word voortdurend deur verwering op land gevorm en in riviere na die see vervoer, terwyl ander sout in die see oorgaan in minerale.
Daar is bereken dat indien die see oorspronklik soutloos was, dit ongeveer 12 miljoen jaar sou neem om die huidige soutkonsentrasie te bereik. As sout dus nie voortdurend in die vorm van onaktiewe minerale uit die see verwyder word nie, sou die see steeds souter word. Lewende organismes speel 'n belangrike rol in die verwydering van soute, en gesteentes soos kalksteen en dolomiet het ontstaan uit die skelette van miljoene klein seediertjies.
In 1915 het Alfred Wegener gepostuleer dat die kontinente voortdurend beweeg en die groottes van die see dus nie konstant bly nie. Hierdie teorie word vandag nog algemeen aanvaar, en daar is aangetoon dat dele van die seebodem voortdurend in trôe afbeweeg na die binneste van die aarde toe, terwyl nuwe materiaal steeds aan die seebodem toegevoeg word deur vulkaniese aktiwiteit by die midoseaniese riwwe.
Geografie Die verskillende oseane is almal op een of ander manier met mekaar verbind sodat die see as een groot massa water beskou kan word, wat ongeveer 71 % van die aarde se oppervlakte beslaan. Die Kaspiese See en die Dooie See is egter nie met enige ander oseane verbind nie en word daarom eerder as soutmere beskou.
Daar word vandag slegs 3 groot oseane onderskei, naamlik die Atlantiese Oseaan, die Stille Oseaan en die Indiese Oseaan. Wat vroeër as die Arktiese Oseaan bekend was, word vandag onder die Atlantiese Oseaan ingesluit, en wat vroeër as die Antarktiese Oseaan bekend was, word vandag as deels Atlantiese en deels Indiese Oseaan beskou. Die gemiddelde diepte van al die oseane is ongeveer 3 790 m, terwyl die gemiddelde hoogte van land bo seespieël slegs ongeveer 840 m is.
Die maksimumdiepte van die see (in die Marianatrog in die Stille Oseaan) is 10 850 m, teenoor ʼn hoogte van 8 848 m van Mount Everest, die hoogste berg op land. Rondom die kontinente is daar ʼn relatief vlak deel bekend as die kontinentale plat, waarvan die breedte wissel van byna nul langs dele van die weskus van die VSA en Suid-Amerika, tot meer as 1 000 km langs die kus van Siberië. Die gemiddelde breedte is ongeveer 75 km.
Hierdie kontinentale plat strek tot op 'n diepte van ongeveer 200 m, waarna die see vinnig dieper word tot op 'n diepte van ongeveer 4 000 m. Laasgenoemde deel staan bekend as die kontinentale helling. Vir ongeveer 20 tot 100 km is die helling van die kontinentale helling gemiddeld ongeveer 4° teenoor die 0,1 ° van die kontinentale plat. Daarna neem die helling af.
Watersoorte Groot verskille in soutkonsentrasie, temperatuur, suurstofkonsentrasie, die konsentrasie van elemente, soos silikon (Si), die konsentrasie van swewende deeltjies, ensovoorts, word in die see aangetref. Die soutkonsentrasie van seewater is gemiddeld ongeveer 35 dele per duisend, maar dit wissel van 33,5 dele per duisend en minder tot meer as 38 dele per duisend, en waar groot riviere in die see vloei, kan dit nog baie minder wees.
Waar die Amasonerivier byvoorbeeld in die see vloei, is die water tot enkele kilometer van die kus af nog heeltemal vars. In die poolgebiede veroorsaak die smeltende ys ook dat die soutkonsentrasie laer is as elders. Die soutkonsentrasie van die Middellandse See is ongeveer 38 dele per duisend, terwyl die van die Rooi See gemiddeld 47 dele per duisend is. Die digtheid van seewater wissel na gelang van die soutkonsentrasie daarvan: hoe hoër die soutkonsentrasie, hoe swaarder die water.
Gevolglik gee vertikale verskille in soutkonsentrasie aanleiding tot waterbeweging as gevolg van swaartekrag. Wanneer groot riviere in die see vloei, dryf die varswater bo-op die soutwater en kan so ʼn groot oppervlak bedek. Aan die ander kant veroorsaak die voortdurende verdamping van water ʼn verhoging in die soutkonsentrasie in plekke soos die Middellandse See, en die boonste water sak af en vorm sodoende 'n diepseestroom.
Die watersamestelling en digtheid van die diepsee varieer baie minder as die van die oppervlakwater, omdat dit nie aan die atmosfeer blootgestel is nie. Die meeste oseane toon ʼn gelaagdheid met betrekking tot temperatuur. Die boonste paar honderd meter water is goed gemeng en relatief warm. Daaronder, in 'n laag bekend as die termoklien, neem die temperatuur vinnig af, en die onderste, grootste laag water is permanent koud.
In die omgewing van die pole word die boonste, warm laag nie aangetref nie. Ander plekke waar hierdie gelaagdheid ook onderbreek word, is langs die weskuste van die kontinente waar opwelling plaasvind. Die soutkonsentrasie van seewater is oor die algemeen effens hoër aan die oppervlak as in die diepsee vanweë die verdamping wat daar plaasvind. Die effens souter oppervlaklaag word van die diep minder sout laag geskei deur 'n oorgangslaag, bekend as die haloklien.
Wisselwerking tussen water en lug 'n Voortdurende wisselwerking in die vorm van energie-oordrag tussen die oppervlak van die see en die atmosfeer het 'n groot invloed op sowel die see as die klimaat. Die vernaamste vorme van energie wat oorgedra word, is meganiese energie en warmte-energie. Die ontstaan van seestrome as gevolg van wind is reeds genoem en is die belangrikste oordrag van meganiese energie. Ook die energie wat vir die belangrike verskynsel van opwelling nodig is, is van wind afkomstig.
Golwe is net so kenmerkend vir die see as seestrome en word meestal ook deur die wind veroorsaak. Vloedgolwe of tsoenamis is 'n voorbeeld van golwe wat nie deur die wind veroorsaak word nie, maar wel deur vulkaniese uitbarstings onder die see. Daar is eksperimenteel aangetoon dat die wateroppervlak teen ongeveer 4 % van die snelheid van die wind wat daaroor waai, beweeg, maar dit neem met diepte vinnig af. Deur faktore soos die corioliseffek verander die stroomrigting ook onder die oppervlakte, sodat seestrome baie keer spiraalvormig is (spiraal van Ekman). Die belangrikste vorm van warmte-uitruiling aan die oppervlak van die see is die absorpsie van sonenergie.
Lug absorbeer baie min sonenergie, sodat die absorpsie van sonenergie deur die water aan die oppervlak veroorsaak dat die oppervlaklaag gewoonlik effens warmer is as die lug daarbo. Deur geleiding en konveksiestrome in die lug word die warmte van die water egter geleidelik aan die lug oorgedra. As daar min wind is, gee hierdie warmte-oordrag gewoonlik aanleiding tot mis. Die lagie lug direk bo die oppervlak van die water is meestal versadig met waterdamp, en deur turbulensie van die lug word die versadigde lug met droër lug gemeng.
Sodoende word waterdamp voortdurend na die lug oorgedra. Die warmte-energie wat vir verdamping nodig is, kom oorspronklik van die son. Wanneer die waterdamp weer as reën neerslaan, word die verdampingsenergie vrygestel en word die atmosfeer dus effens verwarm. Koolsuurgas (CO2) uit die lug reageer met water (H2O) sodat koolsuur (H2CO3) gevorm word en andersom. Die koolsuur reageer ook met soute om karbonate te vorm.
Hierdie reaksie speel 'n belangrike rol in die regulering van die suurgehalte (pH) van seewater. Vaste stowwe word ook dikwels tussen die see en die atmosfeer uitgeruil. In woestyngebiede waai sand dikwels in groot hoeveelhede in die see en kan sodoende vertroebeling van die water veroorsaak. Die Geelsee langs die Gobiwoestyn het byvoorbeeld sy naam gekry op grond van die gelerige, troebel water wat deur die sand veroorsaak word.
Vaste deeltjies wat uit die see na die atmosfeer oorgedra word, is soutkristalle wat ontstaan vanweë die verdamping van water uit druppeltjies wat uit branders, ensovoorts, vrygestel word. Hierdie soutkristalle het 'n belangrike invloed op die weer omdat hulle as kondensasiekerne dien sodat reëndruppels uit waterdamp gevorm kan word. Die warmte-uitruiling tussen die atmosfeer en die see veroorsaak oor die algemeen 'n matige klimaat oor die see en op land naby die see·.
Vlak afsettings Die omgewing van die kontinentale plat verskil grotendeels van die van die diepsee, en afsettings daarop (vlak afsettings) toon ook duidelike verskille met die op die bodem van die diepsee. In die litorale sone of getysone is die water baie onstuimig en aan strominge onderhewig, sodat die afsettings wat daar gevorm word, baie heterogeen is. Dikwels word geen afsettings gevorm nie.
Golfaksie kom tot 'n diepte van ongeveer 30 m voor. In die res van die neritiese sone (bo die kontinentale plat) is die water betreklik stil, sodat die afsettings wat in daardie deel van die sone gevorm word, oor die algemeen homogeen is. Soos in die diepsee kan die afsetting van sedimente op verskillende maniere plaasvind. Die vernaamste afsettings is klastiese, organogeniese en chemiese afsettings, terwyl die materiaal wat in vulkaniese uitbarstings vrygestel word, soms ook deur die wind in die see gedryf kan word.
Klastiese sedimente Die meeste materiaal wat tydens erosie op land vrykom, word in riviere na die see vervoer. Waar die riviere in die see uitmond, neem die stroomsnelheid grootliks af, sodat die getransporteerde materiaal begin uitsak. Die growwe materiaal (klippies) sak eerste uit, gevolg deur minder growwe materiaal (sand) en nog fyner materiaal (klei).
Die sortering van die materiaal op die seebodem vind sodoende plaas, met die grofste materiaal naby die riviermondings en die fynste materiaal die verste van die mondings af. Sand word veral deur bodemstrome wat parallel met die kus loop, langs die kus af na die see vervoer. Baie min van die sedimente bereik die diepsee, sodat die groeitempo van die diepseebodem slegs ongeveer 0,05 tot 0,5 mm per duisend jaar is.
Chemiese sedimente Die chemiese sedimente van die kontinentale plat kan in 3 hoofgroepe verdeel word, naamlik die outigene (nuutgevormde) minerale, konkresies en chemiese neerslae. Die belangrikste outigene mineraal is gloukoniet, 'n groen mineraal wat tot op dieptes van 500 m voorkom, maar veral op die kontinentale plat in die omgewing van riviermondings aangetref word. Die kristalle word in sowel sand as klei aangetref.
Konkresies is plaaslike konsentrasies van materiaal met ʼn afwykende chemiese samestelling wat gevorm word deur die migrasie van stowwe (gewoonlik in ioonvorm) na 'n kern waaromheen hulle neerslaan. Chemiese neerslag uit water ontstaan wanneer die water oorversadig is. Daar word onderskei tussen die neerslag van kalk en van evaporiete, aangesien relatief geringe veranderings in temperatuur of waterdiepte tot kalkneerslae kan lei. Evaporiete kan slegs vorm as daar grootskaalse verdamping plaasvind.
Organogene sedimente