Yzerfontein is 'n vakansiedorp aan die Weskus van Suid-Afrika aan die Atlantiese Oseaan en is gewild onder branderplankryers. Die dorp het in 1937 ontstaan toe die Katzfamilie die plaas Yzerfontein gekoop en die grond in woonerwe onderverdeel het. Die naam is ontleen aan 'n fontein wat in 'n ysterklipformasie ontspring.

Die dorp het 'n 25 km lange strand, die langste ononderbroke strand in Suid-Afrika. Daar is 'n restaurant wat inheemse disse bedien. Die strand kan te voet of per grondpad bereik word.

Die dorp is geleë langs die bekende Weskus- Nasionale Park, en volstruise, slange, dassies en selfs bokkies word hier aangetref. Seevoëls en duikers maak hulself tuis in die dorp en broei hul kleintjies uit op Meeurots, 'n klein eiland in die baai, en Dasseneiland. Walvisse kom paar en kalf in die baai. Hulle kan van Junie tot Desember besigtig word.

Infrastruktuur Die R315 provinsiale pad verbind Yzerfontein met die N-7 nasionale pad in Malmesbury via Darling.

Sien ook Weskus- Nasionale Park Lys van dorpe in Suid-Afrika Darling Malmesbury Langebaan

Bron Op Pad in Suid-Afrika. B.P.J. Erasmus. 1995

Kategorie:Nedersettings in die Wes-Kaap