Marion-eiland (Engels: Marion Island) is 'n onbewoonde en onherbergsame sub-antarktiese vulkaaneiland in die suidelike Indiese Oseaan en behoort sedert 1947 aan Suid-Afrika, sedert 1994 tot die provinsie Wes-Kaap en maak administratief deel uit van die Stad Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit.

Die eiland is die grootste en suidwestelike van die twee Prins Eduard-eilande en huisves in teenstelling met die noordoostelike Prins Eduard-eiland 'n gletser. Die eiland is op 13 Januarie 1773 deur die Franse ontdekkingsreisiger Marc-Joseph Marion du Fresne ontdek en na hom genoem.

Ligging, geografie en klimaat duimnael|Ligging van die Prins Eduard-eilande op 'n Globus duimnael|Ligging van die Prins Eduard-eilande suidoos van Afrika duimnael|Kaart van die Marion-eiland Marion-eiland (46˚ 53' S; 37˚ 45' 0) is op die Prins Eduard-Crozetrif in die suidelike deel van die Indiese Oseaan, ongeveer 2 110 km suidoos van Kaapstad, geleë.

Bogenoemde rif is 'n hoogliggende deel van die groter Atlanties-Indiese Oseaanrif. Die eiland, wat 'n oppervlakte van ongeveer 300 km² beslaan, lê net noord van die Antarktiese konvergensie, dit wil sê die gebied waar die koue Antarktiese water onder die warmer Subantarktiese water inbeweeg. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur van 5,5 °C is gevolglik heelwat hoër as die van byvoorbeeld die Bouveteiland, wat net 'n paar grade verder suid aan die ander kant van die konvergensie geleë is.

Die klimaat van die eiland is tipies oseanies: koel, nat en stormagtig. Die gemiddelde reënval is ongeveer 2 500 mm (dit reën ongeveer 300 uit die 365 dae van die jaar) en die dele van die eiland bo 600 m is permanent onder sneeu. Winde van tot 170 km/h is al aangeteken. Die oorheersende winde wissel dwarsdeur die jaar tussen noordwes en wes. Rukwinde (wessuidwes tot suidsuidwes) gaan oor die algemeen gepaard met koue fronte en sterk noordwestewinde met warm fronte.

Die sterk winde veroorsaak onstuimige water, en golwe van tot 18 m hoog is al aangeteken. Donderweer is feitlik onbekend op die eiland. Die ouderdom van Marion-eiland word op ongeveer 276 000 jaar geskat, maar jonger gesteentes, van ongeveer 15 000 jaar, kom ook voor. Die ou basalt het 'n grys voorkoms en vorm die basis van die eiland, terwyl die nuwer basalt 'n swart voorkoms het en bo-op die grys basalt voorkom.

Verskeie klein kraters op die eiland dui daarop dat vulkaniese uitbarstings periodiek voorgekom het en nog kan voorkom. Tussen die ontstaan van die eiland (die grys basalt) en die neerlegging van die swart basalt was daar 'n koue tydperk waartydens gletsers op die eiland gevorm het. Hierdie gletsers het tipiese erosiepatrone veroorsaak wat vandag waarneembaar is. 'n Geringe mate van riviererosie het ook in die grys basalt voorgekom.

Hoofsaaklik as gevolg van die gletsererosie het die grys basalt 'n baie gladder voorkoms as die swart basalt, wat feitlik geen tekens van erosie toon nie. Die topografie van die eiland as geheel is tot dusver baie min deur erosie beïnvloed en is dus byna uitsluitlik die gevolg van vulkaniese aktiwiteit. Die landmassa is basies koepelvormig en die hoogste piek (President Swart-piek) is 1 230 m hoog. Die tweede hoogste piek, maar die hoogste wat van die weerstasie af gesien kan word, is Jan Smuts-piek, wat 1 186 m hoog is.

Die paar laagliggende vlaktes op die eiland is hoofsaaklik moerasagtig. Die kuslyn is baie ru en loodregte kranse van tot 170 m hoog is algemeen. Daar is net twee baaie met sand, maar wanneer sterk noordwestewinde waai, word die sand gewoonlik ook weggespoel. Werklike grond is so skaars dat grond vroeër van Suid-Afrika af gebring is om 'n paar bome in te plant. Die meeste grond waarop plantegroei voorkom, is veen, met ander woorde halfverrotte organiese materiaal, wat vanweë die hoë reënval baie uitgeloog en suur is. Langs die kus veroorsaak die soutneerslag uit die sproeireën asook die voël- en robmis 'n toevoeging van minerale voedingstowwe tot die grond.

Geskiedenis Marion-eiland is, tesame met die nabygeleë Prins Eduard-eiland, op 13 Januarie 1772 deur 'n Fransman met die naam van Marion du Fresne ontdek. Du Fresne is daarvandaan verder op soek na ander landmassas, maar is later in Nieu-Seeland deur Maori's vermoor.

Geen geskrewe verslag van die ontdekking is nagelaat nie. Toe die Britse ontdekkingsreisiger kaptein James Cook op 12 Desember 1776 op die eiland afgekom het, was hy dus onder die indruk dat hy dit ontdek het. Die twee eilande saam het hy die Prins Eduard-eilande genoem, na die Hertog van Kent, die vierde seun van koning George III van Engeland. Toe hy later van een van die mense wat die reis met Du Fresne meegemaak het, hoor dat die eilande reeds ontdek was, het hy die groter eiland tot Marion-eiland herdoop en net die kleiner eiland die Prins Eduard-eiland genoem.

Die twee eilande saam staan egter nog steeds as die Prins Eduard-eilande bekend. Sedert die ontdekking van Marion-eiland is daar weinig boekstawings van besoeke aan die eiland. Dit is egter wel bekend dat heel party jagters die eiland (en ander eilande) aangedoen het om jag te maak op die groot getalle walvisse, robbe en pikkewyne wat daar voorgekom het. Die diere is vir hul vet, olie en pelse gejag. Reeds vroeg in die vorige eeu was die bevolkings van hierdie diere so uitgedun dat van hulle deur uitwissing bedreig is.

Die jagters het net in geld belang gestel en feitlik geen inligting oor die eiland en sy fauna en flora nagelaat nie. Op 26 Desember 1873 is die Prins Eduard-eilande deur 'n Britse oseanografiese navorsingskip, die Challenger, besoek. Tydens hierdie besoek het 'n plantkundige met die naam van Moseley die eerste plantkundige waarnemings gedoen en monsters versamel. terwyl die eerste kaart van die eilande ook opgetrek is. Die seeroete tussen Engeland, Australië en Nieu-Seeland het in die vorige eeu naby die Prins Eduard-eilande verbygegaan en heel party skepe het naby die eilande op die rotse geloop.

Talle oorblyfsels van wrakke is nog op die eiland te sien. Die oorlewendes van hierdie wrakke het dikwels na die eilande geswem en daar aan die lewe gebly totdat hulle deur ander skepe (gewoonlik jagterskepe) opgelaai is. Na die Tweede Wêreldoorlog het Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk ooreengekom dat Suid-Afrika die Prins Eduard-eilande sou annekseer, en in 1947 is die SAS Transvaal deur genl. Jan Christian Smuts na die eilande gestuur. Op 29 Desember 1947 is die Suid-Afrikaanse vlag op Marion-eiland en op 4 Januarie 1948 op Prins Eduard-eiland gehys.

Na die anneksasie is dadelik begin met die oprigting van 'n weerstasie en op 20 Maart 1948 is die eerste sinoptiese waarnemings na Suid-Afrika gestuur. 'n Klein nedersetting is deur 'n groepie mense van die eiland Tristan da Cunha begin, en een van hulle, ene A.B. Crawford, was ook die eerste bevelvoerder van die weerstasie. Die nedersetting en weerstasie is bo 'n inham met die naam Transvaal Cove geleë. Sedert die totstandkoming van die weerstasie is die personeel jaarliks omgeruil en voorrade aangevul deur die navorsingskip RSA.

Die Prins Eduard-eilande is biologies baie belangrik en in 1965 is 'n navorsingsekspedisie na die eilande deur die Suid-Afrikaanse Wetenskaplike Komitee vir Antarktiese Navorsing gereël. Hierdie ekspedisie het as die Suid-Afrikaanse Biologiese en Geologiese Ekspedisie bekend gestaan en het uit ses wetenskaplikes onder leiding van prof, E.M. van Zinderen Bakker gestaan. Die resultate van die navorsing is in 'n lywige boek gepubliseer.

Plantegroei Die meeste plantsoorte van Marion- en Prins Eduard-eiland behoort tot die laer plantgroepe. Tagtig soorte blaarmosse, 36 soorte lewermosse en 22 soorte vaatplante is geïdentifiseer, terwyl talle soorte ligene, wat moeilik identifiseerbaar is, ook daar voorkom. Die vaatplante is almal varings, kruide (veral grasse) en in een geval ’n dwergagtige struik. Ware struike en bome groei nie op die eiland nie. Tot op 'n hoogte van ongeveer 300 m is vaatplante, dominant, terwyl kriptogame (mosse en ligene) op hoër hoogtes die dominante plantsoorte is.

Die grootste deel van die substraat waarop plantegroei voorkom, is 'n sponsagtige massa verrottende organiese materiaal bekend as veen. Vanweë die hoë reënval word enige minerale elemente wat vrykom, feitlik dadelik uitgeloog. Die veen is gevolglik arm aan voedingstowwe (oligotrofies) en suur. Die enigste uitsonderings is langs die kus, waar die seesproei 'n voortdurende toevoeging van soute tot die grond veroorsaak, en die broeiplekke van voëls en robbe, waar die mis van die diere die grond steeds verryk.

Spesifieke plantegroeitipes word met hierdie verrykte gronde geassosieer. Vyf hoofplantegroeitipes kan op die eiland onderskei word. Die sproeireën is beperk tot 'n smal strook langs die kus, waar twee bedeksadige plante, Tillaea moschata en Cotula plumosa, die dominante plantsoorte is. Alhoewel die sproeireënneerslag tot diep in die binneland voorkom, het slegs die baie hoë konsentrasie langs die kus 'n effek op die plantegroei omdat die hoë reënval die sout voortdurend van die plante in die binneland afwas en toksiese konsentrasies dus nie kan opbou nie.

Die laagliggende dele van die eiland is byna oral moerasagtig en verskeie tipes moeras word aangetref. Waar die watertafel hoog is en die water stilstaan, heers anaerobiese (suurstoflose) toestande, wat ongunstig vir die groei van vaatplante is. Die oorheersende plantsoort in hierdie tipe moeras is die lewermos Blepharidophyllum densifolium. Waar daar ’n mate van waterbeweging is, is die toestande meer aërobies en in hierdie vleie is die gras Agrostis magellanica dominant.

Die moerasse van die Prins Eduard-eilande kom baie ooreen met die sogenaamde Sphagnum-moerasse van die Noordelike Halfrond, maar is nie heeltemal so suur nie. Die dominante plantsoorte in die omgewing van fonteine waar die water betreklik vinnig vloei, is die dwergstruik Acaena adscendens, wat tot die roosfamilie behoort, en die sogenaamde Kerguelenkool (Pringlea antiscorbutica). Laasgenoemde plant is vir die eerste keer op Kergueleneilande ontdek en lyk baie soos gewone kool.

Die Latynse naam dui daarop dat die plant deur skeepvaarders geëet is om skeurbuik te voorkom. Net onder die fonteine is die mosse Bryum laevigatum en Breutelia integrifolia die dominante plantsoorte en baie min vaatplante groei daar. Op die broeiplekke van voëls en robbe veroorsaak die geweldige hoeveelhede mis dat die grond ryk aan voedingstowwe is. Plante wat nie van hierdie toestande hou nie, vaar nie goed nie en word vertrap, waarna ander plante hul plek inneem.

Die dominante plantsoort in hierdie gebiede is 'n gras, Poa cookii. Die grootste deel van die eiland bestaan uit hellings. Die plantegroei op die hellings varieer na gelang van dreinering en blootstelling. Op die goed gedreineerde, laagliggende hellings word die plantegroei deur die varing Blechnum penna-marina oorheers. Elders is Acaena adscendens, Azorella selago of Poa montane meestal oorheersend. Die Poa/Azorella-plantgemeenskap neem die vorm van klein kolle aan en kom slegs hoër as 200 m tussen kriptogaamgemeenskappe voor.

Azorella vorm groot massas takke wat met fyn, harde blaartjies bedek is en soos groen kussings vertoon. 'n Groot hoeveelheid mosse en talle klein diertjies (insekte, ensovoorts) leef onder hierdie beskermende massas. Die riwwe en plato's op die eiland is so blootgestel dat die plantegroei daarop ondanks die hoë reënval deur die wind uitgedroog word. Hierdie gebiede kan dus as windwoestyne beskou word. Twee duidelike plantegroeitipes word in hierdie gebiede aangetref.