Dame Elizabeth Rosemond Taylor (27 Februarie 1932 – 23 Maart 2011), ook bekend as Liz Taylor, was ’n Engels-Amerikaanse aktrise, sakevrou en filantroop. Sy het haar loopbaan as aktrise in die vroeë 1940's begin en was een van die gewildste sterre van die klassieke Hollywood van die 1950's. Sy het tot in die 1960's ’n suksesvolle loopbaan gehad en vir die res van haar lewe ’n bekende openbare figuur gebly. In 1999 het die Amerikaanse Rolprentinstituut haar as die sewende grootste vroulike silwerdoeklegende van die klassieke Hollywood aangewys.
Taylor is in Londen gebore as die dogter van ryk, vooraanstaande Amerikaanse ouers. Die gesin het in 1939 teruggetrek na Los Angeles en sy het gou ’n kontrak by Universal Pictures gekry. Haar eerste fliekrol in 1942 was klein en haar kontrak is nie hernu nie. Sy het daarna by Metro-Goldwyn-Mayer aangesluit en haar deurbraak in National Velvet (1944) gemaak. Sy was een van die ateljee se gewildste tienersterre en het in die vroeë 1950's volwasse rolle begin vertolk. Die eerste was in die komedie Father of the Bride (1950), en sy het goeie resensies gekry vir haar spel in die drama A Place in the Sun (1951).
Sy het in dié tyd nie gehou van die rolle wat sy gekry het en van die ateljee se beheer oor haar lewe nie en het oorweeg om haar loopbaan te beëindig. Van die middel 1950's af het sy egter rolle begin kry wat sy meer geniet het, soos in die epiese drama Giant (1956). In die volgende jare was sy in verskeie prente te sien wat kommersieel suksesvol was en goeie resensies gekry het. Dit sluit in twee verwerkings van toneelstukke deur Tennessee Williams: Cat on a Hot Tin Roof (1958) en Suddenly, Last Summer (1959); vir laasgenoemde het sy ’n Golden Globe gewen. Hoewel sy nie gehou het van haar rol as ’n hoëklasprostituut in BUtterfield 8 (1960), haar laaste rol vir MGM, nie het sy ’n Oscar vir haar spel gewen.
Taylor is toe ’n rekordbedrag van $1 miljoen betaal vir haar rol in die epiese geskiedenisfliek Cleopatra (1963), in daardie stadium die duurste prent wat nog gemaak is. Tydens die verfilming het Taylor en haar medester Richard Burton ’n buite-egtelike verhouding aangeknoop wat ’n skandaal veroorsaak het. Ondanks openbare afkeur, het hulle hul verhouding voortgesit en is in 1964 getroud. Die media het hulle "Liz en Dick" gedoop, en hulle het in 11 prente saam verskyn, insluitende The V.I.P.s (1963), The Sandpiper (1965), The Taming of the Shrew (1967) en Who's Afraid of Virginia Woolf? (1966). Taylor het die beste resensies van haar loopbaan vir Woolf gekry, asook haar tweede Oscar en verskeie ander pryse. Sy en Burton is in 1974 geskei, maar het kort daarna versoen geraak en is in 1975 weer getroud. Die tweede huwelik is in 1976 beëindig.
Taylor se loopbaan het in die laat 1960's begin agteruitgaan, hoewel sy tot in die middel 1970's nog in rolprente te sien was. Daarna het sy gefokus op die loopbaan van haar sesde man, senator John Warner. In die 1980's het sy haar eerste beduidende verhoogrol vertolk en in verskeie TV-prente en verskyn en was sy die eerste beroemde wat haar eie parfuum bekend gestel het.
Nadat sy erg-emosioneel geraak is deur die afsterwe van haar vriend Rock Hudson, wat in 1985 aan vigs oorlede is,fembio.org – Frauen.Biographieforschung: Elizabeth Taylor. Besoek op 8 Maart 2019 was sy een van die eerste sterre wat aan MIV/vigs-aktivisme deelgeneem het. Sy was in 1985 ’n medestigter van die American Foundation for AIDS Research en het in 1991 die Elizabeth Taylor-vigsstigting op die been gebring. Van die vroeë 1990's tot met haar dood het sy haar tyd aan filantropiese werk bestee. Sy het verskeie pryse daarvoor ontvang, onder meer die Presidensiële Burgersmedalje van Amerika.
Deur Taylor se loopbaan was haar persoonlike lewe die onderwerp van konstante media-aandag. Sy het agt keer met sewe mans getrou, ernstige siektes oorleef en ’n stralerjakkerlewe gelei; sy het onder meer een van die duurste juweliersversamelings in die wêreld gehad.
Ná baie jare van swak gesondheid is sy in 2011 op 79-jarige ouderdom aan kongestiewe hartversaking dood.
Vroeë lewe duimnael|292px|Die 15-jarige Taylor saam met haar ouers in in Manhattan, 1947.
Taylor is op 27 Februarie 1932 in Londen gebore. Haar ouers, Francis Lenn Taylor, ’n kunshandelaar, en die afgetrede verhoogaktrise Sara Sothern (gebore Sara Viola Warmbrodt), was Amerikaanse burgers van Kansas, maar het in 1929 na Londen getrek en ’n kunsgalery geopen.
In die lente van 1939 het die Taylors besluit om na Amerika terug te keer weens die toenemende politieke spanning in Europa. Vroeg in 1940 het Francis ’n nuwe galery in Los Angeles geopen en die familie het hulle eindelik in Beverly Hills gevestig.
Loopbaan Vroeë rolle (1941–1949) Nadat verskeie mense opgemerk het Taylor moet oudisies vir rolprente aflê, het sy in April 1941 ’n klein rol in Universal Pictures se There's One Born Every Minute (1942) gekry, asook ’n jaarkontrak by hulle. Sy het geen ander rolle gekry nie en haar kontrak is ná ’n jaar beëindig.
duimnael|200px|links|Mickey Rooney en Taylor in National Velvet. Laat in 1942 het sy ’n tweede kans gekry toe ’n aktrise met ’n Engelse aksent gesoek is vir Lassie Come Home (1943). Sy het aan die begin van die volgende jaar ’n standaardkontrak vir sewe jaar geteken.
Taylor was 12 toe sy haar eerste groot rol kry in National Velvet. MGM was op soek na ’n aktrise met ’n Engelse aksent wat kon perdry en Taylor het aan albei kriteria voldoen. National Velvet was ’n groot sukses toe dit op Kersdag 1944 uitgereik word en resensente het Taylor se lof besing.
Taylor het later gesê haar kinderjare het geëindig toe sy ’n ster word, want MGM het elke aspek van haar lewe beheer. Sy het daarna ’n klein rol in die derde Lassie-rolprent, Courage of Lassie (1946), gekry.
Toe Taylor in 1947 15 word, het MGM ’n meer volwasse beeld van haar begin skep en fotosessies gereël waarin sy as ’n "normale" tiener uitgebeeld is. Sy is in die pers met ouer aktrises soos Ava Gardner en Lana Turner vergelyk. Ná nog twee rolle, in Cynthia (1947) en Life with Father (1947), het sy byrolle gekry as ’n "mansteler" in A Date with Judy (1948) en ’n bruid in die romantiese komedie Julia Misbehaves (1948). Laasgenoemde was ’n groot sukses. In 1949 het die tydskrif Time haar op sy voorblad geplaas en haar die leier onder Hollywood se volgende geslag sterre genoem, ’n "juweel met goeie waarde, ’n ware saffier".
Volwasse rolle (1950–1955) Toe sy in 1950 18 word, het Taylor meer volwasse rolle begin speel, soos in Conspirator (1949) en The Big Hangover (1950). Laasgenoemde is in Mei uitgereik en in dieselfde jaar is Taylor met die hotelerfgenaam Conrad Hilton jr. getroud in ’n seremonie wat baie publisiteit ontvang het.
duimnael|280px|Van Johnson en Taylor in die romantiese drama The Last Time I Saw Paris (1954). In 1951 was sy saam met Montgomery Clift en Shelley Winters te sien in A Place in the Sun. Volgens haar was dit die eerste keer dat sy gevra is om toneel te speel en nie net haarself te wees nie. Sy is geloof vir haar spel, vir die eerste keer sedert National Velvet. Die prent was ook ’n groot sukses.
In Januarie 1951 is sy van Hilton geskei, wat ’n openbare skande veroorsaak het. Sy het haar eerste kontrak by MGM afgesluit met ’n rol in The Girl Who Had Everything (1953). Sy het daarna nog ’n kontrak vir sewe jaar met hulle aangegaan. Hoewel sy interessanter rolle wou hê, het sy die geld nodig gehad, want sy is kort tevore met die Britse akteur Michael Wilding getroud en was swanger. Weens haar finansiële afhanklikheid het die ateljee nou nog meer beheer oor haar gehad.
Een van haar volgende rolle was in The Last Time I Saw Paris, wat geskoei was op ’n kortverhaal deur F. Scott Fitzgerald. Hoewel eers teensinnig, het sy die rol geniet. Hoewel dit nie so ’n groot sukses was nie, het dit positiewe resensies gekry. Taylor het tydens die vervaardiging daarvan weer swanger geraak en moes instem om haar dienstydperk met ’n jaar te verleng om te vergoed vir die tyd op swangerskapsverlof.
Groot lof vir Taylor (1956–1960) duimnael|200px|Taylor en Rock Hudson in Giant (1956).
Teen die middel 1950's het die Amerikaanse rolprentbedryf ernstige kompetisie van die televisiebedryf gehad, met die gevolg dat minder rolprente gemaak is en eerder op gehalte gefokus is. Die verandering was tot voordeel van Taylor, wat eindelik weer in interessante rolle begin speel het het ná ’n paar jaar van teleurstellings. Nadat sy die regisseur George Stevens genader het, het sy die vroulike hoofrol in Giant (1956) gekry; dit was ’n epiese drama oor ’n boeredinastie met ook Rock Hudson en James Dean. Taylor het nie goed met Stevens klaargekom nie en was dikwels siek, wat tot oponthoude gelei het. Boonop is Dean in ’n motorongeluk dood dae nadat sy werk aan die rolprent voltooi is; ’n hartseer Taylor moes egter nog reaksieskote doen vir hul gesamentlike tonele. Toe Giant ’n jaar later uitgereik word, was dit ’n groot sukses, wat lof van resensente gekry het. Hoewel Taylor nie soos haar medesterre vir ’n Oscar benoem is nie, het sy ook lof gekry vir haar spel, wat deur Variety "verbasend slim" genoem is en deur The Manchester Guardian "’n verstommende openbaring van onverwagte gawes". Dié koerant het haar een van die prent se sterkste punte genoem.
MGM het Taylor weer saam met Montgomery Clift geplaas in Raintree County (1957), ’n burgeroorlogsdrama wat die ateljee gehoop het so gewild soos Gone with the Wind (1939) sou wees. Hoewel dit nie heeltemal so suksesvol was nie, is Taylor vir die eerste keer vir ’n Oscar benoem.
links|duimnael|200px|’n Plakkaat vir Cat on a Hot Tin Roof (1958). Taylor het haar volgende rol, as Maggie die kat in die rolprentweergawe van Tennessee Williams se toneelstuk Cat on a Hot Tin Roof (1958), as ’n hoogtepunt in haar loopbaan beskou, hoewel dit saamgeval het met een van die moeilikste tydperke in haar persoonlike lewe. Ná die voltooiing van Raintree Country is sy van Wilding geskei en met die vervaardiger Mike Todd getroud. Sy het net twee weke aan die prent gewerk toe Todd in Maart 1958 in ’n vliegongeluk sterf. Hoewel sy verpletter was, het druk van die ateljee en die wete dat Todd groot skuld gehad het, haar genoop om net drie weke later terug te keer werk toe. Sy het later gesê sy het "op ’n manier Maggie geword", en dat wanneer sy gewerk het die enigste tye was wat sy in die weke ná Todd se dood kon funksioneer.
duimnael|200px|’n Reklameplakkaat vir BUtterfield 8, waarvoor Taylor haar eerste Oscar gewen het. Tydens die verfilming het Taylor se persoonlike lewe nog meer aandag gekry toe sy ’n verhouding met die sanger Eddie Fisher aangeknoop het, wie se huwelik met die aktrise Debbie Reynolds in die media opgehemel is as ’n verbintenis van "Amerika se lieflinge". Die verhouding – en Fisher se daaropvolgende egskeiding – het Taylor se beeld verander van ’n rouende weduwee in ’n vrou wat huwelike opbreek. MGM het die skandaal tot hul voordeel ingespan deur ’n foto van Taylor wat in ’n négligé op ’n bed poseer, op die prent se reklameplakkate te gebruik. Sy het lof vir haar toneelspel gekry en is vir ’n Oscar en Bafta benoem.
Taylor se volgende prent, Joseph L. Mankiewicz se Suddenly, Last Summer (1959), was ook op ’n boek van Tennessee Williams geskoei. Haar mede-akteurs was Montgomery Clift en Katharine Hepburn. Hoewel dit oor geestesteurings, kindertydtraumas en homoseksualiteit handel, is dit weer met Taylor se seksuele aantrekkingskrag bemark; die lokprent en plakkaat toon haar albei in ’n wit baaikostuum. Die strategie het gewerk en die prent was ’n finansiële sukses. Taylor is vir die derde keer vir ’n Oscar en vir haar eerste Golden Globe benoem.