Professor Carel Willem Hendrik Boshoff (9 November 1927 - 16 Maart 2011) was die stigter van Orania en die skoonseun van die voormalige Eerste Minister van Suid-Afrika, Hendrik Verwoerd.

Biografie Carel Willem Hendrik Boshoff is op 9 November 1927 op die plaas Doornfontein naby Nylstroom gebore. Hy was die tweede kind van Willem Sterrenberg Boshoff en Anna Maria (Annie) Boshoff. Annie was Willem se tweede vrou en Carel was een van sewe kinders. Willem en sy eerste vrou het ses kinders gehad.

Boshoff het teologie aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en het sy B.A.-graad in 1948 verwerf. In 1951 het hy sy Baccalaureus Divinitatis-graad behaal en in 1961 'n meestersgraad in missiologie met die titel van sy proefskrif Streeksontwikkeling in die Sekokoro-, Mamathola- en Mametsa-gebied deur die Departement van Bantoe-Administrasie en -Ontwikkeling, sosiologies en volkekundig beoordeel.

In 1967 het hy die Departement Sending- en Godsdienswetenskap aan die Fakulteit Teologie van die UP tot stand gebring. Voor die tyd het hy in verskeie afgeleë plekke in die Transvaal sendingwerk gedoen en kon gevolglik vlot Noord-Sotho praat. Hy was ook die Sekretaris van Sendingwerk van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Transvaal.

Boshoff se vrou Anna, met wie hy in 1954 getroud is, is in 2007 oorlede. Sy was die dogter van dr. Hendrik en mev. Betsie Verwoerd. Van 1981 tot 1989 was Boshoff die leier van die Voortrekkerbeweging en was tot sy afsterwe 'n erelid van dié organisasie. Hy was verder ook die voorsitter van die Afrikaner Broederbond (van 1980 tot 1983) en van SABRA van 1970 tot 2007. Hy was ook leier van die Vryheidsfront Plus in die Noord-Kaap sedert 1994, totdat hy deur sy seun in die pos opgevolg is.

In 1988 was Boshoff een van die Afrikaner Vryheidstigting (AVSTIG), alhoewel hy hoofsaaklik bekend is as die stigter van Afrikanerdorp, Orania, in 1990. Dit is gestig met die doel om dit in 'n volkstaat uit te brei. Tot en met 2007 was Boshoff die president van die Orania Beweging, toe hy ook deur sy seun, Carel Boshoff IV, opgevolg is.

Boshoff is op 16 Maart 2011 op 83-jarige ouderdom aan kanker oorlede. Hy is aanvanklik met dermkanker gediagnoseer, maar dit het sowat twee weke voor sy dood na sy ander organe versprei.

Sy lewensverhaal is opgeteken in sy outobiografie, Dis nou ek.

Ampte Boshoff het die volgende ampte beklee:

Posisie Organisasie Aangestel Afgeloop Voorsitter Orania Verteenwoordigende Raad 2000 2006 Voorsitter Orania Bestuurdienste (Edms) Bpk. 1990 Uitvoerende hoof Afrikaner Vryheidstigting 1988 Voorsitter Afrikaanse Gereformeerde Bond 1987 Voorsitter Die Afrikanervolkswag (Kultuurorganisasie) 1984 1999 Voorsitter Die Afrikaner Broederbond 1979 1983 Stigter en voorsitter Instituut vir Missiologiese Navorsing, UP 1979 1988 Voorsitter SABRA 1972 1999 Lid Raad van die Randse Onderwyskollege 1963 1979 Voorsitter NG Kerkboekhandel 1988 1988 Lid Provinsiale Raad, Noord-Kaap 1994 2001 Afgevaardigde Statebondkonferensie, Australië 2000 2000 Nasionale leier Voortrekkerbeweging 1981 1989 Dekaan Fakulteit Teologie, UP 1978 1981 Sendeling NG Kerk 1953 1963

Verdere leeswerk

Boshoff, C.W.H. 2012. Dis nou ek. Lapa Uitgewers

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Suid-Afrikaanse politici Kategorie:Geboortes in 1927 Kategorie:Sterftes in 2011 Kategorie:Afrikaners Kategorie:Politici van die Vryheidsfront Plus Kategorie:Mense van Orania Kategorie:Alumni van die Universiteit Pretoria