Hoërskool Waterkloof is 'n Afrikaanse hoërskool (enkelmedium) wat in die oostelike voorstede van Pretoria, Suid-Afrika geleë is. Leerders staan as Klofies bekend.

Die skool se nuwe "e-leer" plaas Klofies in die globale wêreld omdat Hoërskool Waterkloof tegnologies met kennis verbind word deur middel van die beste beskikbare rekenaarnetwerke. Hierdie vernuwende denke is daarop gemik om leerders te inspireer, en die skool word as een van die voorstes in die land op akademiese, sport- en kultuurgebied beskou.

Die onderwyseres Helena Coetzee was in 2009 die eerste Suid-Afrikaner wat die internasionale Pre University Teachers Award in die VSA ontvang het vir haar buitengewone bydrae op wetenskaplike en tegnologiese gebied. Onderwysers lewer provinsiaal en nasionaal bydraes op akademiese gebied.

Ongeveer 8 500 leerders het reeds aan die skool gematrikuleer. Die skool het reeds 23 jaar agtereenvolgens ’n 100%-laagsyfer behaal en is vyf jaar agtereenvolgens dié top akademiese skool in Gauteng. Hoërskool Waterkloof het in 2010 die Anglo American Chairman’s Fund se prys ontvang as een van die Top 10 Wiskunde en Wetenskapskole in die land. Die 305 matrikulante van 2012 het byvoorbeeld 765 onderskeidings behaal. Dans, visuele kuns en ontwerp was die afgelope vyf jaar die toppresteerders in Gauteng tydens die matriekeindeksamen.

Sport Die Sportakademie doen baanbrekerswerk met die aanbieding van sportopvoedingsvakke. Die Sportburo bied afrigting aan en die skool neem mededingend aan ’n verskeidenheid sportbyeenkomste deel.

Klofies is bekend vir sy netbal wat die afgelope vyf jaar 'n Klofienetbalfees hou waaraan ongeveer 500 netbalspelers vanoor die hele land en Namibië deelneem. Waterkloof is tans een van die top drie netbalskole in die land volgens die webwerf www.schoolsportsnews.co.za.

Klofies het ’n sportspesifieke gimnasium en hoëprestasiesentrum wat gehalte-afrigting en ondersteuning aan leerders en sportmense in die omgewing bied. Leerders wat "Sport" as ’n vak neem, word geoefen met ’n smartspeed wat hulle wetenskaplik toets. Fiksheidstoetse word verder verfyn met die InBody-masjien. Die skool beskik oor die voltydse dienste van fisioterapeute. Biokinetici en sportwetenskaplikes doen die fiksheidstoetse op leerders en sodoende word Klofies se sport wetenskaplik bestuur.

Hoërskool Waterkloof bied ’n groot verskeidenheid sportsoorte aan. Daar is 18 rugbyspanne, 22 hokkiespanne, wat seunspanne insluit, 18 netbalspanne, 12 krieketspanne, 10 gholfspanne, swem, bergfiets, trompoppies, perdry, 20 tennisspanne, skaak en 2 atletiekspanne. Derbies word met ander skole gehou en bande is met skole in die Noord-Kaap gesmee. Volgens www.schoolsportsnews.co.za is Hoërskool Waterkloof een van die top krieketskole in die land. Die skool word ook as een van die top rugbyskole in die land beskou.

Kultuur Die skool se konsertorkes is tien jaar agtereenvolgens nasionale wenners. Dié sukses simboliseer Klofies se toewyding tot die kunste. Klofies presteer jaarliks by kultuurgeleenthede soos Applous, Van Huyssteens redenaarsfees, ATKV-koorkompetisie en die Afrikaans-Ekspo. Kultuur in Klofieland wek altyd groot belangstelling en prestasies op redenaarsgebied, by eisteddfods, kunswedstryde, tonele, kunstefeeste en revues is nie onbekend nie. Klofies se dansers en koor tree gereeld internasionaal op. Klofies het ’n groot verskeidenheid kultuuraktiwiteite: Koor, Konsertorkes, Revue, Toneel, Voortrekkers, Junior Stadsraad, Klofie Kunstefees, Afrikaanse redenaars / English Orators, Eisteddfods, Kunswedstryde, Kunstefeeste en kreatiewe skryfkompetisies. Dans en Musiek as vakke word op internasionale standaard aangebied.

Sosiaal Belangrike sosiale geleenthede is die Druppelkonsert waarmee die nuwe graad 8’s volledig deel van die skool word, die Valentynsbal, sokkies, Lentedag, skoolverjaarsdag, Graad 10-bal, Mnr. en Mej. Waterkloof, Matriekafskeid en Damesaand. Die skool bied jaarliks 'n dansproduksie aan en verskeie kultuuraande wat musiek en toneel insluit.

Gemeenskapsprojekte ’n Klofie toon deernis teenoor diegene wat minderbevoorreg is. Klofies is van mening dat ware diens is om na mense uit te reik wat regtig hulp nodig het. Liefdadigheid word as prioriteit beskou en die meeste van die projekte word deur die leerders self gekies en gedryf.

Klofies identifiseer twee soorte projekte: mini-projekte en makro-projekte. Mini-projekte word deur verskillende graadgroepe, vanaf gr 8 tot 12 gedryf. Die hele skool neem aan 'n makro-projek deel. Die reaksie van die leerders en die gemeenskap is gewoonlik oorweldigend ondersteunend. Tydens die C4C-projek is 18 ton klere bymekaargemaak wat aan liefdadigheidsorganisasies oorhandig is vir verspreiding.

Waterkloof is tans besig met die Moves for Life-projek waarvan president Jacob Zuma die beskermheer is. Skaak word hierdeur aan bykans elke leerder in die land van so jonk as agt jaar oud geleer en takke is regoor Suid-Afrika gevestig.

Koshuis By Hoërskool Waterkloof se nuwe koshuis gaan ’n studentesentrum gebou word waar leerders die geleentheid sal hê om hulle huiswerk te doen, 'n ete te nuttig en selfs kan oornag indien hulle ouers uitstedig is.

Die skoolkoshuis bied gratis internet, ’n gemeenskaplike eetsaal en kamers met studiefasiliteite.

Geskiedenis 1979 Die skool is op 9 Januarie 1979 geopen met 12 onderwysers, twee tiksters en 215 leerders. Die oorspronklike skoolgeboue is op 3 Augustus 1979 voltooi. Die skool se leuse, "Ons bou in geloof", is amptelik op 2 Julie 1979 aanvaar. Op 8 Januarie het die personeel begin en die eerste personeelvergadering is gehou. Die skool is op 9 Januarie 1979 in 'n half voltooide saal met 215 standerd 6- en standerd 7-leerlinge geopen.

In sy eerste koerantonderhoud het mnr. Davin gesê: ”Hoewel dit voorbarig sou wees om in hierdie stadium enige voorspellings te waag, is ek oortuig dat Hoërskool Waterkloof groot hoogtes kan bereik.” Slegs 12 klaskamers is vir die 12 onderwysers beskikbaar gestel. Twee administratiewe dames is aangestel.

Op 6 Maart 1979 het die skoolkomitee die naam Hoërskool Waterkloof aanvaar. Die skool is op die waterryke plaas Waterkloof gebou wat aan die Erasmusfamilie behoort het, te bou. Carel Erasmus het drie eikebome aan die suidekant van die saal geplant as simbool van die Erasmusfamilie se verbintenis met die skool. ’n Spreekkoor, dogterskoor en toneelgroep is gestig.

Interhuisatletiek is op 10 Februarie op die baan van Menlopark gehou. Rugby het met 32 spelers in standerd 6 en 7 begin. Al hierdie spelers is gebruik om ’n o/15A en B-span in die D-liga in te skryf. Oefeninge het op Laerskool Monumentpark se bane plaasgevind. Op 31 Maart is die eerste rugbywedstryde gespeel. Ses netbalspanne is in die B-liga ingeskryf. Die o/13-span eindig tweede in die liga. Die o/14A-span het net een van agt ligawedstryde verloor. In die finaal verloor hulle 4-6 teen Hoërskool Eldoraigne. In die semi-finaal van die B-liga van Noord-Transvaal, verloor die span teen Hoërskool Wonderboom. Die bane van Laerskool Monumentpark en Hoërskool Verwoerdburg is vir die oefeninge gebruik. Skaak het in die F-liga begin. 'n Swemspan en 'n tennisspan is saamgestel.

Die skoolgebou is voltooi en op 3 Augustus is die sleutels oorhandig. Die eerste opening is op 6 Augustus in die saal gehou. Die leerders het almal hulle nuwe skooldrag aangehad – die dogters in ligblou rokkies en die seuns in blou dashemde en grys broeke.

Die eerste opvoering is op 10 Augustus in die saal gehou – die SA Leërorkes het opgetree. Die eerste skoolkonsert is op 26 Oktober in die saal gehou. Die eerste prysuitdelingsfunksie het op 16 November plaasgevind en die eerste prefekte is aangekondig. Met die skoolsluiting op 6 Desember, was die leerlingtal 219.

1980 Mnr. P van der Merwe Martins het op 2 Januarie 1980 diens as die eerste permanente hoof aanvaar. Die eerste departementshoof was mnr D de Bruin wat as Departementshoof: Natuurwetenskappe aangestel is.

Die skool het met ’n leerlingtal van 393 geopen met 20 voltydse onderwysers en een wat deeltyds was. Die skool het aan die einde van die jaar met 402 leerlinge gesluit. Die eerste groentjiekonsert wat op 25 Januarie gehou is, het ’n wins van R190 getoon. Die ouers, personeel en leerders het op 9 Februarie gras en bome geplant. Binne ’n uur-en-’n-half is 200 bome geplant.

Die eerste skoolkermis het ’n wins van R8 404 getoon. Op 19 Junie is die eerste Beheerraad gekies. Die skoolwapen is op 4 Februarie deur die Skoolkomitee goedgekeur en na die Buro vir heraldiek vir registrasie verwys. Die woorde van die skoollied wat deur prof SJ Pretorius geskryf is, is op 13 Mei 1980 aanvaar. Op 12 Junie was die toonsetting deur prof BS van der Linde voltooi en die oorspronklike manuskrip is aan die hoof oorhandig.

Op 18 September 1980 is die skool amptelik deur die Direkteur van Onderwys geopen. Die skoolkoor het by dié geleentheid die skoollied vir die eerste keer in die openbaar gesing met prof. Van der Linde wat die begeleiding waargeneem het.

Tydens die eerste interhoëratletiekbyeenkoms het die atletiekspan vierde uit ses skole gekom. Vyf atlete het eerste plekke behaal.

Op rugbygebied het drie van die vyf rugbyspanne hul afdelings van die liga gewen. Een netbalspan het die streekskompetisie gewen en in die gemengde afdeling het twee van die tennisspanne skoonskip gemaak. Een van die meisiespanne was ook wenners. Ses meisies is in die Noord-Transvaalgimnastiekspan opgeneem. Op 13 Februarie het die skool se swemspan tydens hulle eerste swemgala sesde uit 8 skole geëindig. Die skaak het die D-liga gewen. Die standerd 6-redenaarspan het die junior afdeling van die Noord-Transvaalstreek gewen. Wynand Louw het die Noord-Transvaalafdeling van die ATKB-redenaars gewen en aan die nasionale finaal deelgeneem. Op 15 Oktober 1980 is 'n tak van die ACSV gestig.

1981 Met die opening van die skool op 7 Januarie 1981 was die leerlingtal 636 met 30 voltydse onderwysers en een deeltydse personeellid. Die jaar is begin met die plant van gras op die B- en C-rugbyveld. Met die ontwikkeling van die sportterrein, moes die gebied waar die B-en C-rugbyveld is, eers drooggelê word. Dit was ’n natuurlike pan waar vele watervoëls aangetref is. Tydens die atletiekinterhoër het die junior dogters hulle afdeling gewen. Die skool se eerste koerant, toe nog naamloos, het verskyn. Die eerste dankie-sê-aand wat later die Damesaand geword het, is gehou.

1982 1982 open die skool met 895 leerlinge en 42 onderwysers. Die skool het dié jaar sy eerste matriekklas.

Die atletiekbaan is voltooi; die interhuisspanne kry name en die skool wen die E-bond interhoëratletiekbyeenkoms. Die skool lewer 'n eerste Springbok in trampolien, Deirdre Scheeepers, op. Die eerste vier tennisbane word in gebruik geneem.

Die eerste matriekafskeid met 101 matrieks word in die skoolsaal aangebied. Hulle het ’n 100% slaagsyfer behaal met 70 vakonderskeidings.

1983 1983 heropen die skool met 57 personeellede en 1060 leerlinge. Die skool wen die D-bond tydens interhoëratletiek, asook 9 van die 11 trofeë. Lydia Venter word Springbokgimnas. Die eerste personeelkonsert word aangebied.

Die eerste skaakspan verower die Administrateursbeker.

1984 In 1984 is Everhard Carstens (Beheerliggaamvoorsitter vanaf 2012) die hoofseun en Ulinda Gresse, tans Human en reeds vir jare onderwyseres by die skool, die hoofleiers.

Die skool open met 1 266 leerlinge en 62 personeellede. Die skool wen die C-bond interhoëratletiekbyeenkoms. Die bouwerk aan die pawiljoen begin. Die eerste operette word aangebied.

1985 1985 begin met 1 404 leerlinge en 71 personeellede. Die skoolvlag word die eerste keer gehys tydens die interhuisatletiekbyeenkoms. Die skool wen die B-bond interhoëratletiek.

1986 In 1986 is die leerlingtal 1 551 met 78 personeellede. Die “Druppels” het hulle eerste atletiekbyeenkoms. In die A-Bond interhoëratletiek kom die skool derde. Die wintersportsoorte het puik gevaar en is na die A-afdeling opgeskuif.