regs|duimnael|300px|Kommunikasie = Inligting → kodeer → stuur → ontvang → dekodeer → inligting.
Kommunikasie is die produksie, uitwisseling en betekenisgewing van boodskappe tussen mense. Dit vind plaas binne 'n konteks van informasionele, relasionele en situasionele faktore wat ten doel het om mekaar te beïnvloed.Reijnders, 2002 Kommunikasie kan plaasvind met behulp van tekens en andere uitdrukkingsvorme. As daar met behulp van beelde gekommunikeer word, noem ons dit visualisasie; dink aan diagramme en kaarte.
Geskiedenis Die ontwikkeling van kommunikasiemiddele is van groot belang vir die geskiedenis van die mensdom. Aanvanklik het die mens naas gebare en gesigsuitdrukkings net oor die gesproke taal beskik. Oor die ontstaan van taal is daar maar min bekend, en die gebrek aan gegewens het tot ongegronde gevolgtrekkings gelei. Voor die koms van skrif het mense deur middel van die gesproke woord en gebare met mekaar gekommunikeer.
Inligting is deur middel van die verteltradisie van geslag tot geslag oorgedra. In groot dele van die wêreld was daar lank rondreisende vertellers wat egter geleidelik deur nuwe kommunikasiemiddele verdring is. Die ontstaan van skrif het dit moontlik gemaak om inligting vas te lê. Eers van daardie stadium af is dit moontlik om met 'n mate van sekerheid iets oor die geskiedenis van kommunikasie te sê, omdat die mondelinge oordrag van inligting baie onbetroubaar was en nie deur latere geslagte gekontroleer kon word nie.
Die geskrewe taal het 'n lang ontwikkelingsproses deurgemaak, soos duidelik blyk uit die ontwikkeling van die Mesopotamiese spykerskrif (so genoem omdat die skryftekens soos spykerafdrukke gelyk het. Die oudste vorm van spykerskrif was 'n beeldskrif of rotstekening: 'n geboë figuurtjie het "man" beteken, 'n gehalveerde driehoek "vrou" en 'n sirkel "son". Later het die spykerskrif tot 'n ideografiese skrif ontwikkel: die sirkel het nou nie meer net die son voorgestel nie maar ook byvoorbeeld warmte.
Soos by alle beeld- en ideografiese skrifte het skrif onafhanklik van die klanke van die gesproke woord ontstaan. Die voordeel hiervan was dat die geskrewe taal verstaan kon word deur mense wat nie mekaar se dialekte verstaan het nie, soos wat vandag nog die geval is met Chinees. Die nadeel van die stelsel is die groot aantal tekens wat geleer moet word. Die derde stadium van spykerskrif was 'n ontwikkeling in die rigting van fonetiese skrif: 'n skrif waarin die tekens of simbole die klanke van die gesproke taal voorstel.
In sy uiteindelike vorm was spykerskrif gedeeltelik foneties: sommige tekens het nie net 'n voorwerp of 'n eienskap van 'n voorwerp aangedui nie, maar ook die klank wat met die voorwerp geassosieer is. Die Grieke het 'n suiwer fonetiese skrif gebruik, waardeur hulle met 'n taamlik eenvoudige alfabet kon volstaan omdat die aantal spraakklanke van 'n taal baie minder is as die aantal begrippe. Die gevolg was dat dit baie makliker was om te skryf en dat die geskrewe taal dieselfde juistheid as die spreektaal gehad het. Uit Griekeland het die alfabet in omstreeks die 10de eeu verder na Wes-Europa versprei en die grondslag gevorm vir alle moderne skrifte.
Papier en boekdrukkuns Min mense kon aanvanklik lees en skryf. Deur die ontwikkeling van die alfabet is die skryftaal vereenvoudig, maar die grootskaalse verspreiding van die geskrewe woord was sonder die boekdrukkuns en die invoer van papier nog onmoontlik. Die Egiptenare het van omstreeks 2500 v.C. papirus gebruik om op te skryf. Die stingels van die papirusplant is in die lengte deurgesny en in twee lae opmekaar gepers. Later is perkament gebruik.
Aanvanklik was perkament behandelde leer wat in die 2de eeu v.C. in die stad Pergamum vervolmaak is en aan die stad sy naam besorg het. Dit het 'n langer lewensduur as papirus gehad en so die Egiptiese uitvinding langsamerhand verdring. In 105 n.C. het die Chinese daarin geslaag om 'n pap of pulp van plantvesels te maak waarvan papier gemaak kon word. Die papier wat 'n mens vandag ken, word volgens diė beginsel vervaardig. Die proses het egter eers diep in die Middeleeue deur middel van Chinese krygsgevangenes in Wes-Europa bekend geword.
Tot omstreeks die helfte van die 15de eeu is boeke met die hand geskryf, meestal deur monnike. Omdat dit baie tydrowend was, was daar maar min boeke in omloop. Diė wat wel bestaan het, was hoofsaaklik in die besit van die kloosters, universiteite en so meer. Teen die helfte van die 15de eeu het Johannes Gutenberg (ca. 1397- 1468) in Duitsland boeke met los letters begin druk. Die tegniek het dit moontlik gemaak om boeke vinniger te reproduseer en die boeke was terselfdertyd makliker leesbaar as diė wat met die hand geskryf was.
Die uitvinding van die boekdrukkuns het dit moontlik gemaak om geskrewe tekste werklik op groot skaal te versprei en het ook die opkoms van die koerant moontlik gemaak. Naas kommunikasie deur middel van die geskrewe woord is daar ook ander middele om die afstand tussen die sender en die ontvanger van boodskappe te oorbrug, soos byvoorbeeld die rookseine van die Rooihuide en seine met tromme en ligbakens. Die Fransman Claude Chappe (1763-1805) het teen die einde van die 18de eeu 'n seinstelsel ontwikkel wat in die hele Europa, die Sowjetunie en selfs in Egipte ingevoer is. Vir die seinstelsel, die optiese telegraafstelsel, is daar oral hoë stellasies gebou waarvandaan die volgende stellasie duidelik sigbaar was. Deur met drie beweegbare stokke sekere tekens te maak, waarvan die betekenis vooraf vasgestel is, kon 'n berig oorgedra word.
Elektrisiteit Ná die ontdekking van elektrisiteit het Samuel Morse hom toegelê op die ontwikkeling van die elektriese telegraaf. Met behulp van 'n elektromagneet en die Morsealfabet, waarin die letters van die gewone alfabet in kort en lang seine omgesit is, kon berigte deur middel van 'n elektriese kabel oor groot afstande oorgedra word. Ná die uitvinding van die telegraaf het talle mense probeer om die gesproke woord direk deur middel van kabels oor te dra. Die doel is bereik toe Alexander Graham Bell in 1876 op 'n tentoonstelling in Philadelphia die elektriese telefoon gedemonstreer het.
Hierna het die moderne massamedia gevolg: aan die einde van die 19de eeu die rolprent, in die 1920's die radio en in die dertigerjare televisie. Onlangse ontwikkelings op die gebied van kommunikasie is onder meer die gebruik van kommunikasiesatelliete, die beeldtelefoon en die sogenaamde kabelvisie, 'n vorm van geslotebaantelevisie waarvolgens 'n mens deur middel van 'n telefoon op 'n private televisieuitsending kan inskakel.
Kommunikasiewetenskap Die kommunikasiewetenskap hou hom besig met die kommunikasieproses, naamlik die oordra van inligting. In die ruimste sin kan kommunikasiewetenskap onder meer die oordra van inligting in kunsmatige sisteme soos die rekenaar en ook die oordra van inligting van die brein na die spiere, insluit. In engere sin, waaroor dit hier gaan, hou die kommunikasiewetenskap hom besig met die kommunikasie tussen mense, dus met die ondersoek na wat gebeur as iemand inligting aan iemand anders probeer oordra.
Die kommunikasiewetenskap het hom aanvanklik toegelê op die studie van die regstreekse kommunikasie tussen individue of die kommunikasie tussen groepe. Veral na die Tweede Wêreldoorlog het die studie van die massakommunikasie in die VSA ontwikkel. Dit is 'n benadering wat aansluiting gevind het by die Europese perswetenskap. By die bestudering van kommunikasie word daar dikwels gebruik gemaak van 'n skematiese voorstelling of model van die kommunikasieproses waarin die grondbegrippe weergegee word. In die volgende grafiese model stel A en B die twee mense wat kommunikeer voor, terwyl X dit voorstel waaroor hulle praat. x X
A -----------> B
Die pyl dui aan dat A iets aan B meedeel. A is die sender (die mededeler, kommunikator) en B die ontvanger van die boodskap. Die vierkant is die boodskap wat A aan B stuur. Die term boodskap het betrekking op die vorm waarin die mededeling oorgedra word; wanneer iemand skryf, is die geskrewe stuk die boodskap en wanneer iemand frons, is sy gesigsuitdrukking die boodskap. Die mededeling word deur x aangedui, wat daarop dui dat die medeling betrekking het op die onderwerp X.
B se reaksie op die kommunikasieproses is ook ʼn belangrike aspek wat in die kommunikasiewetenskap bestudeer word. 'n Model wat dikwels gebruik word, is die woordelikse model van Lasswell. Volgens die model bestudeer die kommunikasiewetenskap "wie se wat – langs watter kanaal- vir wie - met watter gevolg". Die spesifieke gebiede van ondersoek in die kommunikasiewetenskap is maklik in die modelle terug te vind of daarvan af te lei.
Aspekte wat ondersoek word By die ondersoek van die sender en die ontvanger word die klem op die sosiale, liggaamlike en psigiese eienskappe van die sender en ontvanger gelê in soverre dit 'n invloed op die verloop van die kommunikasiegebeure kan hê. Aspekte wat in aanmerking geneem word, is onder meer byvoorbeeld ouderdom, geslag, opleiding, beroep en so meer. 'n Ondersoek na die struktuur, geskiedenis of strategie van ʼn reklameburo is 'n voorbeeld van die bestudering van die sender.
ʼn Ondersoek na die luister- en kykgewoontes van radioluisteraars en televisiekykers is 'n voorbeeld van die ondersoek van die ontvanger. Dit is belangrik om te weet watter inligting 'n ontvanger uit die inligtingsbron (boodskap) selekteer. Afhangende van sy persoonlike stemming of sosiale en kulturele faktore, kan elke ontvanger sy eie keuse uit die beskikbare inligting maak. 'n Sender kan allerlei bedoelings hê as hy 'n boodskap oordra. ʼn Voor-die-hand-liggende bedoeling van die kommunikasieproses is dat die ontvanger die inligting wat aan hom oorgedra word, reg ontvang.
Die sender kan ook die bedoeling hê om nie net die ontvanger se kennis te beïnvloed nie, maar ook om sy houding teenoor 'n bepaalde saak te verander. Dit is die geval by politieke propaganda en reklame. In 'n ondersoek na die doeltreffendheid van 'n kommunikasieproses word daar beoog om vas te stel in hoeverre die sender sy bedoeling by die ontvanger bewaarheid het. Elke kommunikasiegebeurtenis vind binne 'n bepaalde situasie plaas en kan deur die situasie beïnvloed word.
Om die invloed te bepaal, kan 'n groot aantal faktore ondersoek word: die verhouding van die ontvanger tot die res van sy groep, die grootte van die kamer waarin kommunikasie plaasvind, die beligting, die temperatuur en die grootte van die groep. Die manier waarop die boodskap aangebied word, kan ook 'n groot verskil maak. As 'n mededeling aan die begin van 'n vergadering gemaak word, kan meer reaksies daarmee uitgelok word as aan die einde van die vergadering wanneer die mense by die byeenkoms al heelwat moeër is.
Die ondersoek van die kommunikasiemiddele wat die sender gebruik om sy boodskap oor te dra en te versprei, kan vergelykend van aard wees. Daar kan byvoorbeeld vasgestel word wat die verskil tussen 'n mondelinge en 'n skriftelike boodskap sal wees. Die ondersoek kan ook aandui watter kommunikasiemiddel die sender moet gebruik as hy bepaalde ontvangers wil bereik. 'n Maatskappy wat 'n groep kettingwinkels besit sal byvoorbeeld sy winkels op televisie adverteer, terwyl dit vir 'n winkeleienaar met net een winkel in byvoorbeeld Bloemfontein beter sal wees om in die plaaslike koerant te adverteer.