Hierdie artikel handel oor die taal. Vir die etniese groep, sien Swede (volk).

Sweeds (svenska [ˈsvɛnːˈska] ) is 'n Noord-Germaanse taal wat deur meer as nege-miljoen mense gepraat word, hoofsaaklik in Swede en dele van Finland, veral langs die kus en op die Ålandeilande. Dit word as onderling verstaanbaar met Noors en tot 'n mindere mate met Deens beskou. Tesame met ander Noord-Germaanse tale is Sweeds afkomstig uit Oudnoors, die gemene taal van die Germaanse volke wat in Skandinawië gewoon het in die Wiking-tydperk.

Standaardsweeds is die nasionale taal wat uit die Sentraal-Sweedse dialekte ontwikkel het in die 19de eeu en was teen die begin van die 20ste eeu reeds goed gevestig. Hoewel onderskeibare streeksvariëteite wat van die ouer landelike dialekte afstam steeds bestaan, is die gesproke en skryftaal uniform en gestandaardiseer. Sommige dialekte verskil heelwat van die standaardtaal in grammatika en woordeskat en dit is nie altyd onderling verstaanbaar met Standaard Sweeds nie. Hierdie dialekte is beperk tot landelike gebiede en word hoofsaaklik deur klein groepe met lae sosiale mobiliteit gepraat. Alhoewel die dialekte nie onmiddellike uitsterwing in die gesig staar nie het sulke dialekte in die vorige eeu agteruitgegaan ten spyte daarvan dat hulle deeglik nagevors is en die gebruik daarvan deur plaaslike owerhede aangemoedig word.

Die standaardwoordorde is Onderwerp-Werkwoord-Voorwerp. Dit kan egter baie keer aangepas word om klem te plaas op sekere woorde of sinsnedes. Sweedse morfologie is soortgelyk aan die van Afrikaans in die sin dat woorde betreklik min verbuigings het; daar is egter twee geslagte, geen naamvalle nie (hoewel ouer analises twee naamvalle postuleer, Nominatief en Genitief), en 'n onderskeid tussen meervoud en enkelvoud. Byvoeglike naamwoorde het trappe van vergelyking soos in Afrikaans maar word ook geïnflekteer volgens geslag, getal en bepaaldheid. Die bepaaldheid van selfstandige naamwoorde word hoofsaaklik deur agtervoegsels aangedui aangevul deur aparte bepaalde en onbepaalde lidwoorde. Die prosodie vertoon beide klem en in meeste dialekte tonale eienskappe. Die taal het 'n betreklik groot vokaalinventaris. Sweeds word ook gekenmerk deur die stemlose palataal-velêre frikatief, 'n hoogsveranderlike konsonant foneem.

Klassifikasie Sweeds is 'n Indo-Europese taal wat aan die Noord-Germaanse tak van die Germaanse tale behoort. In die gevestigde klassifikasie behoort dit aan die Oos-Skandinawiese tale saam met Deens, wat dit onderskei van die Wes-Skandinawiese tale wat uit Faroëes, Yslands en Noors bestaan. Meer onlangse analise skei die Noord-Germaanse tale egter in twee ander groepe: Eiland-Skandinawies, Faroëes en Yslands, en Vasteland Skandinawies, Deens, Noors en Sweeds, gegrond op onderlinge verstaanbaarheid as gevolg van die invloed van Oos-Skandinawies (veral Deens) op Noors gedurende die afgelope millennium en divergensie van beide Faroëes en Yslands.

Volgens algemene kriteria van onderlinge verstaanbaarheid kan die Vasteland-Skandinawiese tale net so wel as dialekte van 'n gemene Skandinawiese taal beskou word. Maar as gevolg van verskeie honderde jare se soms redelik fel wedywering tussen Denemarke en Swede, insluitend 'n lang reeks oorloë in die 16de en 17de eeue, en die nasionalistiese idees wat gedurende die laat 19de en vroeë 20ste eeue te voorskyn gekom het, het die tale afsonderlike ortografie, woordeboeke, grammatika, en regulatoriese liggame. Deens, Noors, en Sweeds kan dus uit 'n taalkundige oogpunt eerder as 'n dialek kontinuum van Skandinawies (Noord-Germaans) gesien word, en sommige dialekte, soos die op die grens tussen Noorweë en Swede—veral dele van Bohuslän, Dalsland, westelike Värmland, westelike Dalarna, Härjedalen en Jämtland—verteenwoordig die tussengrond tussen die nasionale standaardtale.Hierdie afdeling is grootliks gegrond op

Geskiedenis In die 9de eeu het Oudnoors begin divergeer in Oudwesnoors (in Noorweë en Ysland) en Oudoosnoors (in Swede en Denemarke). In die 12de eeu het die dialekte van Denemarke en Swede begin divergeer om in die 13de eeu tot Ouddeens en Oudsweeds ontwikkel. Beide is in die Middeleeuse tydperk swaar deur Middelnederduits beïnvloed. Hoewel stadiums van taalontwikkeling nooit so streng afgebaken is soos hier geïmpliseer word nie, en nie te letterlik opgeneem moet word nie, is die stelsel van onderafdelings wat hier gebruik word die mees algemene wat deur Sweedse taalkundiges gebruik word en word dit hier vir praktiese oorwegings gebruik.

Oudnoors duimnael|Geskatte verspreiding van Oud-Noors en verwante tale in die vroeë 10de eeu: In die 8ste eeu het die gemene Germaanse taal van Skandinawië, Proto-Noors, veranderinge ondergaan en in Oudnoors ontwikkel. Hierdie taal het nuwe veranderinge begin ondergaan wat nie na die hele Skandinawië versprei het nie, wat gelei het tot twee soortgelyke dialekte, Oudwesnoors (Noorweë en Ysland) en Oudoosnoors (Denemarke en Swede).

Die subdialek van Oudoosnoors wat in Swede gepraat is word Runiese Sweeds en die een in Denemarke Runiese Deens (daar was ook 'n subdialek, Oudgutnies, wat in Gotland gepraat is) maar tot die 12de eeu was die dialek dieselfde in beide lande met die hoofuitsondering van 'n Runiese Deens monoftongifisering. Die dialekte word runies genoem as gevolg van die feit dat die hoofbron vir teks in die runiese alfabet voorkom. Anders as Proto-Noors, wat met die Ouer Futhark alfabet geskryf is, is Oudnoors met die Jonger Futhark alfabet wat slegs 16 letters gehad het geskryf. As gevolg van die beperkte aantal runes is sommige runes vir 'n verskeidenheid foneme gebruik soos die rune vir die vokaal u wat ook gebruik is vir die vokale o, ø en y, en die rune vir i wat ook gebruik is vir e.

Van 1100 af het die dialek van Denemarke verder begin divergeer van dié van Swede. Die innovasies het oneweredig van Denemarke versprei wat 'n aantal mindere dialektiese grense, isoglosse, geksep het van Seeland (Deens: Sjælland) in die suide tot Norrland, Österbotten en suidoostelike Finland in die noorde.

'n Vroeë verandering wat Runiese Deens van ander dialekte van Oudoosnoors geskei het was die verandering van die diftong æi na die monoftong é, soos in stæinn na sténn "steen". Dit word gereflekteer in runiese inskripsies waar die oueres stain gelees het en die nuweres stin. Daar was ook 'n verandering van au soos in dauðr na die lang oop ø soos in døðr "dood". Hierdie verandering word vertoon in runiese inskripsies as 'n verandering van tauþr na tuþr. Verder het die øy diftong verander na die lang geslote ø, soos in die Oudnoorse woord vir "eiland". Hierdie innovasies het teen die einde van die periode meeste van die Runiese Sweeds-sprekende gebied ook beïnvloed, met die uitsondering van die dialekte wat noord en oos van Mälardalen gepraat is waar die diftonge steeds in afgeleë gebiede bestaan.

Oudsweeds duimnael|regs|'n Kopie van Äldre Västgötalagen—'n Wetboek van Västergötland uit die 1280's, een van die vroegste tekste in Sweeds wat in die Latynse alfabet geskryf is. Oudsweeds is die term wat gebruik word vir die middeleeuse Sweedse taal vanaf 1225. Onder die belangrikste dokumente van die tydperk wat in die Latynse alfabet geskryf is, is die oudste provinsiale wetboek, Västgötalagen, waarvan fragmente wat tot 1250 gedateer is gevind is. Die hoofinvloed in hierdie tydperk het saam met die vestiging van die Rooms-Katolieke Kerk en verskeie monastieke ordes gekom, wat talle Griekse en Latynse leenwoorde ingevoer het. Met die opkoms van Hanseatiese mag in die laat 13de en vroeë 14de eeu, het die invloed van Nederduits al hoe meer alomteenwoordig geword. Die Hanseverbond het Sweedse handel en administrasie van groot getalle Duitssprekende immigrante voorsien. Baie het taamlik invloedryke lede van die Sweedse middeleeuse samelewing geword en het terme uit hulle moedertaal tot die Sweedse woordeskat bygedra. Benewens die groot aantal leenwoorde in velde soos oorlogvoering, handel en administrasie, is algemene grammatikale agtervoegsels en selfs voegwoorde ingevoer. Byna al die vlootterminologie is uit Nederlands geleen.

Vroeë middeleeuse Sweeds was merkbaar verskillend van die moderne taal in die sin dat dit 'n meer ingewikkelde naamvalstruktuur gehad het en nog nie die vermindering van die geslagstelsel ondergaan het nie. Selfstandige naamwoorde, byvoeglike naamwoorde, voornaamwoorde en sekere getalle is geïnflekteer in vier naamvalle; benewens die moderne nominatief, was daar ook die genitief, datief en akkusatief. Die geslagstelsel was soortgelyk aan dié van moderne Duits, met geslagte vir manlik, vroulik en onsydig. Meeste manlike en vroulike selfstandige naamwoorde is later saam in 'n gemene geslag gegroepeer. Die werkwoordstelsel was ook meer ingewikkeld: dit het subjunktiewe en imperatiewe wyses gehad en werkwoorde is vervoeg volgens persoon en getal. Teen die 16de eeu is die naamval en geslagstelsels van die gesproke omgangstaal en profane literatuur grootliks gereduseer tot die twee naamvalle en twee geslagte van moderne Sweeds. Die ou infleksies het algemeen gebly in hoë prosageskrifte tot teen die 18de eeu, en in sommige dialekte tot vroeg in die 20ste eeu.

'n Oorgangsverandering van die Latynse skrifstelsel in die Nordiese lande was om die letterkombinasie "ae" as æ—en soms as a'— te spel. Dit het egter tussen streke en individue gewissel. Die kombinasie "ao" is op soortgelyke wyse geskryf as ao, en "oe" het oe geword. Hierdie gebruike sou later ontwikkel tot die afsonderlike letters ä, å en ö.

Moderne Sweeds duimnael|regs|175px|Voorblad van die Gustav Vasa Bybel van 1541. Die titel vertaal in Afrikaans lees: "Die Bybel / Dit wil sê / Die Heilige Woord / in Sweeds. Gedruk in Uppsala. 1541". Moderne Sweeds (Sweeds: nysvenska) het begin met die koms van die drukpers en die Europese Reformasie. Nadat die nuwe monarg Gustav Vasa die troon bestyg het, het hy 'n Sweedse vertaling van die Bybel beveel. Die Nuwe Testament is in 1526 gepubliseer, gevolg deur 'n volle Bybelverstaling in 1541, wat gewoonlik die Gustav Vasa Bybel genoem word, 'n vertaling wat as so suksesvol en invloedryk beskou is dat, met hersienings wat in opeenvolgende uitgawes ingesluit is, dit die mees algemen Bybelvertaling gebly het tot 1917. Die hoofvertalers was Laurentius Andreæ en die broers Laurentius en Olaus Petri.

Die Vasa Bybel is baie keer as 'n billike kompromis tussen die oue en die nuwe beskou; terwyl dit nie gehou het by die omgangstaal van die dag nie was dit ook nie oordrewe behoudend in sy gebruik van argaïese vorms nie. Dit was 'n belangrike stap na 'n meer konsekwente Sweedse ortografie. Dit het die gebruik van die vokale "å", "ä", en "ö" gevestig asook die spelwyse "ck" in die plek van "kk", wat dit duidelik van die Deense Bybel onderskei het, moontlik doelbewus as gevolg van die voortslepende wedywering tussen die lande. Al drie vertalers was uit Sentraal-Swede afkomstig wat volgens algemene beskouings bygedra het tot spesifieke Sentraal-Sweedse eienskappe in die nuwe Bybel.

Alhoewel 'n mens sou verwag dat die Bybelvertaling 'n uiters kragtige presedent vir ortografiese standaarde sou stel, het spelwyses in werklikheid meer onkonsekwent geword in die res van die eeu. Dit was eers in die 17de eeu dat spelwyse onder bespreking gekom het, omtrent op dieselfde stadium toe die eerste grammatikas geskryf is. Die spelwyse-debat het voortgewoed tot die vroeë 19de eeu en eers in die tweede helfte van die 19de eeu het die ortografie algemeen aanvaarde standaarde bereik.