Swede (Sweeds: Sverige, [ˈsvæ̌rjɛ], ), amptelik die Koninkryk Swede (Sweeds: Konungariket Sverige, [ˈkôːnɵŋaˌriːkɛt ˈsvæ̌rjɛ], ), is met 'n oppervlakte van 450 295 vierkante kilometer en 'n bevolking van sowat 10,6 miljoen die grootste van die Skandinawiese lande. Die hoofstad en grootste stad is Stockholm. Swede is 'n grondwetlike, erflike monargie met koning Carl XVI Gustaf as seremoniële staatshoof en 'n parlementêre demokratiese regeringstelsel met 'n eenkamerparlement, die Riksdag.

duimnael|links|Nasa-Satellietbeeld van Skandinawië en Swede Swede beslaan die oostelike helfte van die Skandinawiese Skiereiland en grens in die weste aan Noorweë en in die ooste aan Finland. Die land strek in die suide tot by die 55ste noordelike breedtegraad, maar het 'n kleiner aandeel aan die Arktiese gebiede van Noord-Skandinawië as Noorweë of Finland. Die oostelike kuslyn met 'n totale lengte van sowat 1 600 kilometer strek vanuit Ystad in die suide langs die Oossee tot by die Tornerivier in die noorde, wat ook die grenslyn met Finland vorm. 'n Kleiner deel van die kuslyn lê aan die Atlantiese Kattegat-seestraat wat Swede van Denemarke skei. Die langste landroete van die mees suidelike tot die mees noordelike punt loop oor 'n afstand van 1 572 kilometer, die langste oos-westelike roete oor 'n afstand van sowat 500 kilometer.

Terwyl die land gedurende die 17de eeu tot 'n Europese groot moondheid ontwikkel het, was dit in die 19de eeu een van die armste lande in Europa en baie van sy inwoners was gedwing om 'n nuwe heenkome in Noord-Amerika en ander oorsese gebiede te vind. Eers in die 20ste eeu het Swede se uitgestrekte bosgebiede, sy ysterertsvoorrade en waterkrag die grondslag vir 'n vinnige ekonomiese ontwikkeling gelê. Binne enkele dekades het Swede een van die welvarendste en mees gevorderde lande ter wêreld geword.

Swede se ekonomie is sterk uitvoergerig en word ondanks die relatief klein bevolking deur 'n groot aantal multinasionale maatskappye gekenmerk wat suksesvol op die wêreldmark meeding. Swede het in historiese en politieke opsig nou bande met sy Skandinawiese buurlande, maar ook met die Baltiese lande. Sy huidige buitelandse beleid word dan ook deur sy lidmaatskap in die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), die Europese Unie, die OESO en die OVSE oorheers.

Etimologie Die naam Swede kom uit die Nederlandse woord Zweden. Dit is 'n truvorming uit die Oudnoorse Svíþjóð ('mense van die Swede') (Latyn Suetidi). Hierdie woord is weer gevorm uit Sweon/Sweonas (Oudnoors Sviar; Latyn Suiones). Die Sweedse naam Sverige ('n samestelling van die woorde Svea en rike, wat in die kognate Swēorice in Beowulf opgeneem is) beteken letterlik "ryk van die Swede", uitgesonderd die Geats in Gotland.

Variasies van die naam Swede word in die meeste tale gebruik, met uitsondering van die Deense en Noorse naam Sverige, Faroëse Svøríki en Yslandse Svíþjóð, asook uitsonderings in sommige Oosseefinse tale, soos Ruotsi (Fins) en Rootsi (Esties), verwysende na die mense van die kusgebiede Roslagen, Uppland, wat bekend staan as die Rus''' en daardeur etimologies verwant is aan die naam Rusland.

Daar word oor die algemeen nie oor die etimologie van Swede saamgestem nie, maar een van die leidende teorieë is dat dié naam afgelei is van die Protogermaanse *Swihoniz wat "'n mens se eie" beteken en na 'n mense se eie Germaanse stam verwys.

Geografie duimnael|'n Kaart van Swede Die Sweedse helfte van die Skandinawiese Skiereiland is minder bergagtig as die Noorse gedeelte in die weste. Noord-Swede maak deel uit van die Fenno-Skandiese Skild, 'n stabiele geologiese gebied van ou graniet- en gneisgesteentes wat onder meer deur sy rykdom aan mineraalertse (yster, lood, sink en koper) gekenmerk word. Die skild word deur laagliggende plato's oorheers wat in westelike rigting geleidelik rys.

duimnael|links|Kebnekaise in Noord-Swede is met 2 111 meter die hoogste bergspits in die land In die aangrensende gordel van laagvlaktes lê die grootste stede van die land, Stockholm en Gotenburg, asook uitgestrekte mere soos die Mälaren naby Stockholm en die Vänern- en Vätternmeer van die suidelike Sentraal-Swede. Hulle is die laaste oorblyfsels van 'n seestraat wat in die glasiale verlede vanuit die Kattegat tot by die Oossee gestrek het. Eers in later stadia van die vorige ystydperk is hierdie seeverbinding onderbreek nadat die see- en landvlakke verander het – die landmassa het in die afgelope 12 000 jare sowat 800 meter verrys en die opwaartse beweging beloop tans nog steeds tussen 6 en 11 millimeter per jaar. Danksy 'n aantal kanale maak die groot mere vandag deel uit van 'n waterwegstelsel wat dwarsdeur die land loop.

Swede se topografie is sterk deur die ystydperk geraak en die smal en lang-gestrekte mere in die riviervalleie van Noord-Swede is deur ysmassas geskep. Hulle is oorblyfsels van 'n groter stelsel mere wat deur smeltwater van gletsers gevorm is nadat temperature in die gebied sowat 8 000 jaar gelede duidelik gestyg het. Vandag is die riviervalleie uiters geskik vir die oprigting van waterkragsentrales.

Ook sommige van Swede se vrugbaarste landbougebiede het hulle bestaan aan glasiale prosesse, onder meer die afsettings wat in gletsermere opeengehoop is, te danke.

Die lae plato suid van die mere bereik sy hoogste punt met 380 meter naby die Vätternmeer en gaan geleidelik oor na die klein vlakte van die skiereiland Skone in Suid-Swede. Hier lê – behalwe vir die groot mere – die laagste punt van Swede met 2,4 meter benede seevlak. Naas die Skandinawiese vasteland sluit die Sweedse staatsgebied ook twee groot eilande in die Oossee, Gotland en Öland, in.

Klimaat duimnael|links|Klimaatsones in Swede volgens die Köppen-klimaatklassifikasie duimnael|Die Rapadalen-rivierdelta in Lapland, Swede se mees ongerepte natuurlandskap in die noorde van die land duimnael|Wintertoneel langs die rivier Österdalälven in Dalarnas län Aangesien die hoë bergreekse van Wes-Skandinawië die noorde van Swede afskerm van die matigende invloede van Atlantiese weerstelsels en die warm Golfstroom, word hierdie gebied in klimatiese opsig deur kouer en droër winters, maar ook warmer somers met minder sterk reënvalle as in die kusgebiede van Noorweë gekenmerk. Die kontinentale klimaat dra by tot relatief stabiele weerstoestande in die somer.

Die jaarlikse reënval op die Norrland-plato in Noord-Swede is sowat 500 millimeter, met gemiddelde temperature van 15 °C in die somer. Die lang dae van die noordelike breedtegrade maak van die somertyd 'n baie aangename seisoen, alhoewel die winters lank, koud en donker is. Die Botniese Golf in die noordelike Oossee is tussen November en April aan verysing blootgestel sodat die skeepvaart tydens die wintermaande dikwels groot moeilikhede ondervind. Vanweë die lae lugvogtigheid word die winterkoue as minder bytend ervaar.

In teenstelling met die noorde word die weerspatrone in Suid-Swede duidelik deur die Atlantiese Oseaan beïnvloed. Tussen die Kattegat in die weste en die Oossee is die winters gewoonlik matiger, terwyl die somers koeler en natter word. Gotenburg en Stockholm se gemiddelde wintertemperature raak aan vriespunt en daal tot -12 °C in Haparanda, 'n Noord-Sweedse hawestad digby die Finse grens. Die gemiddelde somertemperature van Noord- en Suid-Swede verskil daarenteen min van mekaar en bereik tussen 15 en 20 °C.

Nogtans is daar 'n aantal mikroklimaatsones soos die omgewing van Piteå aan die noordooskus, wat ook as die "Riviera van die Noorde" bekend staan en waar tydens die somer gereeld temperature van meer as 25 °C aangeteken word, en die Oossee-eilande Gotland en Öland met warm en droë weerstoestande in die somer.

Malmö Stockholm Kiruna Gemiddelde temperatuur (°C) in Januarie - 0,2 - 2,8 - 16,0 Gemiddelde temperatuur (°C) in Julie 16,8 17,2 12,8 Dagligure op 1 Januarie760 Dagligure op 1 Julie171824

Volkslied en nasionale simbole duimnael|Die koninklike vlag van Swede Die teks van die Sweedse volkslied Du gamla, Du fria is deur die volkskunstenaar en balladeskrywer Richard Dybeck (1811–1877) geskryf, terwyl 'n volkwysie uit die provinsie Västmanland in die middel van die 19de eeu die melodie voorsien het. Teen die einde van daardie eeu was die lied uiters gewild sodat dit uiteindelik as die amptelike volkslied van Swede gekies is.

Naas sy volkslied het Swede ook 'n koninklike lied of kungssången (Ur svenska hjärtans djup en gång) waarmee die Sweedse koning of koningin as simbool van die Sweedse nasie vereer word. Die lied is omstreeks 1844 geskryf, waarby C.V.A. Strandberg die teks en Otto Lindblad die melodie voorsien het.

Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|'n Sweedse helm uit die Vendeltydperk (550–800 n.C.) Nog sowat 14 000 jaar gelede was Swede as gevolg van 'n koue periode en vergletsering volledig met ys bedek en eers nadat die yslaag geleidelik begin afsmelt het, het die eerste mense hulle in die gebied begin vestig. Die oudste menslike nedersetting wat in Suid-Swede opgegrawe is, het sowat 12 000 jaar gelede ontstaan.

Die stamme wat die land in die tydperk tussen 8 000 en 6 000 v.C. bewoon het, was jagters en vissers wat eenvoudige steengereedskap vervaardig het. Gedurende die Steentydperk het hierdie gereedskap steeds meer gesofistikeerd geword en 'n groter aantal nedersettings en begraafplase wat bewaar gebly het, getuig van die kulturele vooruitgang in hierdie periode.

Die Bronstydperk het in Skandinawië omstreeks 1 800 v.C. begin en tot sowat 500 v.C. geduur. Alhoewel steengereedskap nog steeds in gebruik was, is nou 'n groter aantal wapens en kulturele voorwerpe uit brons vervaardig. Argeologiese vondste uit grafte dui op 'n hoogs ontwikkelde beskawing in die gebied van die huidige Denemarke en Swede.

Vanaf 500 v.C. is brons geleidelik deur yster vervang. Die bevolking van Swede het in die Vroeë Ystertydperk (500 v.C. tot 400 n.C.), gedurende die Volksverhuising (400 tot 550) en in die daaropvolgende Vendeltydperk (wat na die indrukwekkende vondste in die bootgrafte van Vendel in Uppland vernoem is, 550 tot 800) hul nomadiese leefwyse vir 'n gevestigde lewe as plaasboere versaak en akkerbou het tot die basis van die plaaslike ekonomie en samelewing ontwikkel.

Wiking-tydperk en kerstening Gedurende die Wiking-tydperk tussen omtrent 800 en 1050 het Swede begin om sy invloedsfeer en handelsbetrekkinge veral in Oos-Europa uit te brei. Sweedse Wikings het tydens hulle rooftogte en handelsekspedisies langs die kuslyn van die Oossee en die riviere in die ooste tot by die Russiese binneland geseil om hier handelsposte en kortstondige ryke te stig en verder suidwaarts na die Swart en Kaspiese See waar hulle handelsbande met die Bisantyne en die Arabiere gevestig het.

duimnael|Gerekonstrueerde Wiking-huise in Birka. Birka, wat in 790 op die eiland Björkö in die Mälarmeer gestig is, was die eerste stad in Swede. Die Frankiese monnik Ansgar het hier in 830 sy Christelike sendingwerk begin Met hul uitgebreide handelsnetwerk het die Wikings Joodse en Friese handelaars verdring wat nog in die 8ste en 9de eeu die handel in die Mediterreense wêreld, die Oosterse gebiede en die weste en noorde van Europa oorheers het. Handelsgoedere is op see en binnelandse waterweë soos riviere vervoer. Danksy die oorheersing van die Russiese handelsroetes tussen die Dnjepr-rivier en die Bisantynse Ryk en tussen die Wolga en die Arabiese wêreld het Swede met nedersettings soos Birka tot 'n sentrum van die wêreldhandel ontwikkel wat eers omtrent 900 deur die seehawe Haithabu (tans Hedeby in die huidige Duitse deelstaat Sleeswyk-Holstein) vervang is.