duimnael|260px|Die hoofsjamaan van die Oos-Siberiese eiland Olchon, Walentin Hagdajef. duimnael|250px|'n Sjamaan in La Paz, Bolivië.

Sjamanisme is ’n praktyk waarin die beoefenaar ’n ander werklikheid binnegaan om met die geesteryk kontak te maak en hierdie bosintuiglike energieë na sy eie wêreld te herlei.Hoppál 1994. bl. 76.

’n Sjamaan word beskou as iemand wat toegang tot en ’n invloed in die wêreld van goeie en bose geeste het. Hy raak gewoonlik in ’n beswyming tydens ’n ritueel en het ’n vermoë tot waarsêery en heling. Die woord "sjamaan" kom waarskynlik uit die Toengoesiese taal Evenki van Noord-Asië. Volgens die Finse etniese taalkundige Juha Janhunen kom die woord in al die Toengoesiese tale voor en niks weerspreek die aanname dat dit ook in Proto-Toengoesies aangetref is en wortels het wat oor twee millenniums strek nie.Juha Janhunen, Siberian shamanistic terminology, Suomalais-ugrilaisen Seuran toimituksia/ Memoires de la Société finno-ougrienne, 1986, 194: 97–98 Die term het in die Weste bekend geword nadat Russiese magte die sjamaanse Kazanse Khanaat in 1552 verower het.

duimnael|180px|links|Die sjamaan van die Oroqen-volk in Noord-China.

Die term "sjamanisme" is die eerste keer deur Westerse antropoloë gebruik as eksterne waarnemers van die antieke godsdiens van die Turke en Mongole, sowel as dié van die naburige Toengoesies- en Samojeeds-sprekende volke. Nadat Kaukasiese antropoloë die godsdienstradisies oor die wêreld heen waargeneem het, het hulle die term ook in ’n baie breë sin begin gebruik om onverwante magies-godsdienstige praktyke in ander dele van Asië en in Afrika, Australasië en selfs die Amerikas te beskryf omdat hulle geglo het hierdie praktyke stem ooreen.

Die Roemeense godsdienshistorikus en filosoof Mircea Eliade het geskryf die eerste en miskien mins gewaagde definisie van hierdie ingewikkelde verskynsel sal wees: "sjamanisme = ’n tegniek van godsdienstige vervoering".Mircea Eliade, Shamanism, Archaic Techniques of Ecstasy, Bollingen Series LXXVI, Princeton University Press 1972, pp. 3–7. Sjamanisme gaan uit van die veronderstelling dat sjamane tussengangers of boodskappers tussen die mense- en die geestewêreld is. Sjamane behandel siektes na bewering deur die siel te heel. Deur traumas wat die siel/gees aantas te verlig, word die belans en heelheid van die individu se fisieke liggaam herstel. Die sjamaan besoek glo ook bonatuurlike ryke en dimensies om oplossings te kry vir probleme wat die gemeenskap teister. Hy werk hoofsaaklik in die geesteryk, wat op sy beurt die mensewêreld beïnvloed.

Gelowe en praktyke wat as "sjamaans" gekategoriseer is, het die belangstelling van geleerdes op baie gebiede gewek, insluitende antropoloë, argeoloë, historici, godsdienskenners, filosowe en sielkundiges. Honderde boeke en tesisse is al oor die onderwerp geskryf en daar is ’n akademiese tydskrif wat aan die bestudering van sjamanisme gewy word. In die 20ste eeu het baie Westerlinge wat in die kultuuruitruilbeweging betrokke was, moderne magies-godsdienstige praktyke geskep wat beïnvloed is deur inheemse gelowe van oor die wêreld, soos neosjamanisme. Dit het die ontwikkeling van baie neoheidense praktyke beïnvloed en daar was ook al beskuldigings van kulturele toeëiening, uitbuiting en wanverteenwoordiging wanneer buitestanders probeer het om kulture te verteenwoordig waartoe hulle nie behoort nie.Wernitznig, Dagmar, Europe's Indians, Indians in Europe: European Perceptions and Appropriations of Native American Cultures from Pocahontas to the Present. University Press of America, 2007: bl. 132G. Hobson, "The Rise of the White Shaman as a New Version of Cultural Imperialism." in: Hobson, Gary, ed. The Remembered Earth. Albuquerque, NM: Red Earth Press; 1978: 100-108.

Terminologie

Etimologie duimnael|280px|Die vroegste bekende uitbeelding van ’n Siberiese sjamaan, deur die Nederlandse ontdekkingsreisier Nicolaes Witsen, wat in 1692 oor sy reise in die gebied geskryf het. Witsen het sy skets "Priester van die Duiwel" genoem en sy figuur klouvoete gegee om uit te druk wat hy as demoniese eienskappe beskou het.Hutton 2001. bl. 32.

Die woord "sjamaan" kom waarskynlik uit die Evenki woord šamán, heel moontlik uit die suidwestelike dialek van die Sym Evenki-volke.Juha Janhunan, Siberian shamanistic terminology, Mémoires de la Société finno-ougrienne 1986, 194:97. Die Toengoesiese term is deur Russe aangeneem wat met die inheemse volke van Siberië kontak gemaak het. Dit word al aangetref in die memoires van die verbanne Russiese kerkman Awwakoem wat voor 1676 geskryf en in 1861 die eerste keer gepubliseer is.Hutton 2001. bl. vii.

Die Nederlandse reisiger Nicolaes Witsen het die woord in die laat 17de eeu na Wes-Europa gebring toe hy sy reise tussen die Toengoesies- en Samojeeds-sprekende volke van Siberië beskryf het in sy boek Noord en Oost Tataryen (1692).Hutton 2001, bl. 32. Adam Brand, ’n handelaar van Lübeck, het in 1698 sy vertellings oor ’n Russiese ambassade in China gepubliseer; ’n Engelse vertaling van sy boek wat in dieselfde jaar gepubliseer is, het die woord shaman aan Engelssprekendes bekendgestel.Adam Brand, Driejaarige Reize naar China, Amsterdam 1698; vert. A Journal of an Ambassy, Londen 1698; sien Laufer B., "Origin of the Word Shaman," American Anthropologist, 19 (1917): 361–71 en Bremmer J., "Travelling souls? Greek shamanism reconsidered", in Bremmer J.N. (red.), The Rise and Fall of the Afterlife, Londen: Routledge, 2002, pp. 7–40. (PDF )

Daar is ook ander menings oor die herkoms van die woord. Eliade noem die Sanskrit-woord śramaṇa vir ’n rondswerwende monnik het saam met Boeddhisme na baie Sentraal-Asiatiese volke versprei, en dit kon die oorsprong van die Toengoesiese woord gewees het. Dié mening is al baie gekritiseer.Janhunen, 1986:98.

Die 21ste-eeuse antropoloog en argeoloog Silvia Tomaskova reken baie Europeërs het die Arabiese term sjaitan ("duiwel") teen die middel 1600's gebruik vir die nie-Christelike praktyke en gelowe van die inheemse volke anderkant die Oeralgebergte.Tomaskova, 2013, 76–78, 104–105. Volgens haar kon die woord "sjamaan" as ’n verdraaide vorm in die Toengoesiese tale opgeneem gewees het en dit kon gebruik gewees het wanneer dié volke met die wit, manlike en Christelike sendelinge, ontdekkers, soldate en kolonialiste gepraat het met wie hulle al hoe meer kontak gehad het.

Definisies duimnael|180px|’n Russiese poskaart met ’n foto uit 1908 van ’n vroulike sjamaan deur S.I. Borisof. Sy is moontlik van die Chakas-volk van Chakassië. pp. 77, 287; , bl. 128

Daar is geen enkele definisie vir die woord "sjamanisme" waarmee alle antropoloë saamstem nie. Die Engelse historikus Ronald Hutton skryf daar was aan die begin van die 21ste eeu vier aparte definisies. Die eerste verwys na enigiemand wat die geesteryk kontak terwyl hy of sy in ’n veranderde geestestoestand is. Die tweede een besperk die term as gebruik vir mense wat ’n geesteryk kontak terwyl hulle in opdrag van ander in ’n veranderde geestestoestand is. Die derde definisie probeer om sjamane te onderskei van ander magies-godsdienstige spesialiste wat vermoedelik geeste kontak, "soos mediums, toordokters, spirituele helers en profete", deur te beweer sjamane gebruik ’n spesifieke tegniek wat nie deur die ander toegepas word nie. Daar word egter nie verduidelik wat die "spesifieke tegniek" is nie. Die vierde definisie gebruik "sjamanisme" om te verwys na die inheemse godsdienste van Siberië en die aangrensende streke van Asië.Hutton 2001. ble. vii–viii.

Volgens die Golomt-sentrum vir Sjamaanse Studie, ’n Mongoolse organisasie van sjamane, is "priester" ’n akkurate vertaling van die Evenk-woord šamán.

Inisiasie en opleiding Sjamane word gewoonlik "geroep" deur hul drome of tekens wat lang opleiding verg. Sommige sjamaanse kragte kan egter "oorgeërf" word.

Turner en kollegasTurner et al., p. 440 noem ’n verskynsel bekend as die sjamaanse inisiasiekrisis – ’n fisieke siekte of geestelike krisis wat nodig is voor die inwyding van toekomstige sjamane. Die belangrike rol van so ’n siekte in die roeping van ’n sjamaan word aangetref in die gedetailleerde gevallestudie van Chuonnasuan, die laaste meestersjamaan onder die Toengoes-volke in Noordoos-China.Noll & Shi 2004 (sien online ) Die gewonde heler is ’n tipiese deel van ’n sjamaan se reis. Dit is belangrik vir die jong sjamaan om ’n siekte te hê wat hom tot op die rand van die dood dryf. Dit gebeur om twee redes: Die sjamaan reis na die onderwêreld, waarvan hy die dieptes verken sodat hy belangrike inligting vir die siekes en die res van die stam kan terugbring. Die sjamaan moet siek word sodat hy siektes kan verstaan. Wanneer hulle hul eie siekte oorkom, sal hulle die vermoë hê om alle ander siekes te heel.

Rolle Sjamane beweer hulle kry kennis en die mag van heling deur die geesteryk of binne te gaan. Die meeste sjamane het drome of visoene waardeur sekere boodskappe aan hulle oorgedra word. Dit kan vir hom nodig wees om baie geeste as gidse te kry wat hom kan lei in sy reise in die geesteryk. Van hierdie gidse is altyd in die sjamaan teenwoordig, terwyl hy ander net teenkom wanneer hy in ’n beswyming is. Die gidse gee die sjamaan energie sodat hy die geestelike dimensie kan binnegaan. Die sjamaan maak mense gesond terwyl hy in die geestelike dimensie is deur "verlore" dele van die menslike siel terug te bring van waar hulle ook al gegaan het. Hy raak ook ontslae van oortollige negatiewe energie wat die siel besoedel.

duimnael|’n Sjamaan van die Molukke in Indonesië dryf bose geeste uit kinders uit (1920).

Sjamane tree as bemiddelaars in hul gemeenskap op.Hoppál 2005: 45Boglár 2001: 24 Hulle kommunukeer met die geeste namens die gemeeskap, ook die geeste van die afgestorwenes. Hulle kommunikeer met beide die lewendes en dooies om onrus te beëindig, onopgeloste sake af te handel en geskenke vir die geeste te neem.

Onder die Selkoep-volk van Siberië is die see-eend ’n spirituele dier. Eende vlieg in die lug en duik onder die water in. Die Selkoep glo dus hulle behoort tot beide die boonste en die onderste wêreld.Hoppál 2005: 94 (Ander Siberiese volke dig dié eienskappe aan watervoëls in die algemeen toe.Vitebsky 1996: 46) Die boonste wêreld is die hiernamaals van mense en daar word geglo die siel reis daarheen deur ’n poort in die lug. Die onderste wêreld is dié van diere, en die siel reis daarheen deur ’n poort in die grond. In sjamaanse kulture word baie diere as spirituele diere beskou.

Sjamane vervul ’n verskeidenheid funksies na gelang van hul kultuur.Hoppál 2005: 25Hoppál 2005: 27–28 Hulle kan ’n offerande lei,Hoppál 2005: 28–33 tradisies bewaar deur die vertel van stories en sing van liedere,Hoppál 2005: 37 mense se toekoms voorspelHoppál 2005: 34–35 en as gids dien vir ander se siel.Hoppál 2005: 36 ’n Enkele sjamaan kan verskeie van dié funksies vervul.

Die sjamaan se funksies kan ook insluit om die afgestorwenes se siel na sy regte plek te lei (óf een-een óf in ’n groep, na gelang van die kultuur) en om die siekes gesond te maak. Dit kan fisieke kwale wees – wat genees kan word met geskenke, vleitaal, dreigemente of stoei met die siektegees (of soms die een ná die ander). Die proses is voltooi wanneer ’n bewys vertoon kan word wat uit die siektegees verkry is. Selfs al is dit nie eg nie, sal dit die siektegees beïndruk en oortuig hy is verslaan, en hy sal dan uit die pasiënt se liggaam bly. Dit kan ook geestesprobleme wees, soos blywende vrees (byvoorbeeld ná ’n skrikwekkende ervaring), en dit kan op dieselfde maniere genees word.