Dr. Hendrik Petrus van der Merwe (1 November 1867 – 24 Desember 1926) was predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, leraar in die gemeentes Kenhardt, Britstown, Robertson en Cradock, en moderator van 1924 se Kaapse Sinode, die sogenaamde Eeufeessinode. Die NG gemeente op die dorp Bonnievale, wat op 30 Augustus 1922 hoofsaaklik deur die toedoen van ds. Van der Merwe en Robertson se kerkraad afgestig is van die moedergemeente, is na hom Vandermerwe genoem. Olivier, ds. P.L. (samesteller). 1052. Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers.
Herkoms en opleiding Dr. Van der Merwe is in die distrik Murraysburg gebore en gaan op die dorp skool. Destyds was daar 'n eersteklas-skool op dié Karoodorp wat vroeg in die 1860's opgerig is deur ds. J.H. Hofmeyr, met T. Kyd as skoolhoof, onder wie se leiding etlike kandidate vir die admissie tot die Kweekskool hul voorbereidende studie deurgemaak het. 'n Hollander, J. B. Wouda, het les gegee in Nederlands terwyl ds. Hofmeyr, wat 'n aantal godvresende en talentvolle jongelinge geïnspireer het om predikant te word, aan hulle onderrig in Hebreeus en Bybelgeskiedenis gegee het. Dié leerlinge was onder andere die latere ds. J.G. Olivier, prof. C.F.J. Muller en ds. B.B. Keet, vader van prof. dr. Barend Bartholomeus Keet van die Stellenbosse Kweekskool. Die inrigting was bekend onder die naam Opvoedings Instituut van Murraysburg, maar ds, Hofemyr het reeds in Hendrik van der Merwe se geboortejaar na die NG gemeente Somerset-Oos vertrek.
Later studeer die latere ds. Van der Merwe aan die Victoria Kollege op Stellenbosch, waar hy in 1889 die B.A.-eksamen aflê. Daarna studeer hy aan die Kweekskool en ná sy legitimasie reis hy ’n tyd lank deur Europa tot hy in 1895 ’n beroep na die NG gemeente Kenhardt aanneem. In 1897 aanvaar hy die herderstaf op Britstown en in 1903 op Robertson as opvolger van ds. Andrew McGregor. Hy het hom veral op die onderwys en armoedeverligting toegespits. Die administrateur van Kaapland versoek hom om in Europa ondersoek in te stel na die metodes wat daar gevolg word om armes te help. Dié kennis kom handig te pas toe hy later voorsitter word van die Sinodale Kommissie vir Algemene Armesorg. Hy was ook lid van die Sinodale Kommissie vir Opvoeding en talle ander kommissies.
Kenhardt Kort nadat Kenhardt se kerkraad op 10 Desember 1894 aan ds. H.T. Kriel demissie verleen het, is daartoe oorgegaan om 'n nuwe leraar te beroep. Met die eerste stemming is prop. H.P. van der Merwe beroep. Sy traktement is vasgestel op £350 per jaar. Hy is op 23 Maart 1895 as leraar van die gemeente bevestig. Dit wil voorkom asof die kerkraad onder sy leiding sy noulettende opsig oor die gemeente gehandhaaf het Kleynhans, prof. E.P.J. Volhard en oorwin. Kenhardt, 1889–1989. Kenhardt: Kerkraad van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente. Tughandelinge was aan die orde van die dag, byvoorbeeld toe die kerkraad in September 1895 met skok kennis neem van 'n "basterkind" wat uit 'n verhouding tussen 'n "Hottentot" en 'n wit meisie gebore is. In Mei die volgende jaar is 'n man en vrou weens onsedelikheid tot verantwoording geroep. En in Desember daardie jaar is ongunstige berigte met betrekking tot 'n lidmaat onder die kerkraad se aandag gebring en 'n ondersoekkommissie met die oog daarop aangewys. Reeds hier op Kenhardt het ds. Van der Merwe sy stryd aangeknoop teen drankmisbruik, wat 'n hoogtepunt tydens sy bediening op Robertson sou bereik, toe plaaslike winkeliers op versoek van die kerkraad besluit om die kantiene met Nagmaalsgeleenthede te sluit.
Die kerkraad het op 23 September 1895 'n brief van Brandvlei behandel waarin gevra is dat 'n deel van Kenhardt by die te stigte gemeente ingeskakel word. Nadat 'n tweemankommissie die versoek ondersoek het, is dit goedgekeur. Met sy stigting as Kenhardt se eerste dogtergemeente in 1897 is Brandvlei toe saamgestel uit dele wat aan Kenhardt, Calvinia en Williston behoort het.
Ds. Van der Merwe se bediening op Kenhardt is gekenmerk deur groot nood op tydelike gebied.
'n Langdurige droogte en runderpes het armoede tot gevolg gehad. Talle lidmate moes uit die kerkkas hulp ontvang. Op 29 Junie 1897 is alimentasie aan 'n vrou op Zoutdraai verleen terwyl aan ene C.J. Smit £100 geleen is. Hierdie omstandighede was moontlik die rede waarom die gemeente skaars twee jaar ná sy koms van ds. Van der Merwe moes afskeid neem. Die konsulent, ds. R.J. van Niekerk van Prieska, het op 19 Desember 1896 aan hom demissie verleen, maar die gemeente het nie sy weg oopgesien om dadelik 'n opvolger te beroep nie. Eers op 28 Junie 1897 is ds. S.P. Helm beroep, maar dit was die beroep op ds. I.P. van Heerden wat geslaag het. Hy het begin 1898 hierheen verhuis.
Op Britstown duimnael|links|170px|Dr. Van der Merwe was van 1896 tot 1903 die vierde leraar van die NG gemeente Britstown.
Britstown se vierde predikant, van 1897 tot 1902, was die "onvergeetlike" (volgens ds. A.P. Smit) ds. Hendrik Petrus van der Merwe. Geen godsdiensverslae uit sy dienstyd het behoue gebly nie, en tog is dit duidelik dat sy sesjarige bediening hier nie sonder vrug was nie. 'n Latere predikant van Britstown, ds. K.W. le Roux, het dr. Van der Merwe beskryf as "uiterst werkzaam, doordrijvend en succesvol". Hy was ’n knap man wat die gemeente met groot bekwaamheid en diepe erns bearbei het, onder meer in die moeilike jare tydens die Tweede Vryheidsoorlog, toe hy onder meer in etlike konsentrasiekampe geestelike werk verrig het.
Kort ná die Driejarige Oorlog het die Kaapse Sinode hom afgevaardig om lidmate in Duits-Suidwes-Afrika (Namibië) te gaan opsoek. As lid van die Sinodale Onderwyskommissie het dr. Van der Merwe hom op Britstown sterk vir die onderwys beywer en ’n nuwe skoolgebou is in sy tyd op 1 Januarie 1900 voltooi.
Dr. Van der Merwe het vroeg in 1903 ’n beroep na die NG gemeente Robertson in die Boland aanvaar. Britstown het op Sondag 22 Februarie 1903 van hom afskeid geneem. Die Kerkbode het berig "de gansche gemeente was ontroerd".
Op Robertson duimnael|regs|320px|Die NG kerk op Robertson, afgeneem in 1917 tydens ds. Van der Merwe se dienstyd.
duimnael|regs|210px|Ds. Van der Merwe toe hy leraar op Robertson was. Op 20 Maart 1903 kon die NG gemeente Robertson die opvolger van ds. McGregor verwelkom in die persoon van ds. Hendrik Petrus van der Merwe, B.A., B.D. Reeds in sy tyd op Britstown het sy kragtige prediking en onverskrokke optrede die aandag van die kerklike publiek op hom gevestig. Toe hy dus in Januarie beroep word as opvolger van ds. McGregor, was niemand verwonderd nie. Sy 22-jarige bediening was vir die gemeente in baie opsigte betekenisvol, en hy het dan ook sy spore diep in Robertson afgedruk. Dit was in alle opsigte 'n tydperk van groei. Die getal lidmate het, ten spyte van die afstigting van die Sendinggemeente en die gemeentes McGregor en Vandermerwe, toegeneem van 900 lidmate in 1903 tot 2 000 in 1925, toe daar binne die grense van die gemeente soos dit in die tyd van sy voorganger afgebaken is, altesame 3 000 lidmate was. In die tyd is 1 364 mense in die huwelik bevestig, 1 938 lidmate aangeneem en 2 733 gedoop. In sy afskeidspreek gelewer op 29 Maart 1925, nadat hy die beroep na die Cradock aangeneem het, het hy verklaar dat, "ofschoon daar winter en zomer, bloei en achteruitgang in het geestelik leven der gemeente geweest is, was de groei der gemeente onmiskenbaar, en heeft die zich uitgedrukt in de totstandbrenging van gebouwen en inrichtingen. Met uitzondering van 'n deel der oude kerkzaal is hier geen steen de een op de ander geplaatst, die niet in mijn tijd geplaatst is."
Daaronder was daar die drie pastorieë in Van Reenenstraat, die een op die hoek van Reitz- en Whitestraat, en die Sendingpastorie in Reitzstraat, twee sale, een in Le Rouxstraat "welke Hammanzaal dient te heten" en dan ook in die dertigerjare so genoem is, en die Anna Susannasaal in die onderdorp. Reeds in Ds. McGregor se tyd is planne bespreek om die ou kerk groter te maak, maar eers in ds. Van der Merwe se tyd is besluit om liewer die ou gebou te sloop en 'n nuwe op dieselfde plek op te rig. Die plan wat uiteindelik aanvaar is, was die leraar se eie idee hy het dit in die Brooklyn Tabernacle in New York gesien. Op 19 Oktober 1904 is afskeid geneem van die ou gebou, toe ds. Van der Merwe gepreek het na aanleiding van Habakuk 2:2a: "Want de steen uit den muur roept.” By dié geleentheid was daar drie-en-twintig persone aanwesig wat in 1856 die inwyding bygewoon het. Daarna is dit gesloop en die nuwe sierlike gebou waarin die gemeente vandag nog aanbid, onder toesig van 'n boukommissie opgerig. Die lede van hierdie Kommissie was: Ds. H.P. van der Merwe en mnre. H.C. van Zijl, L.W.R., C.P. Klopper, B.J. Kloppers, J.P. Marais, D.N. During, W.J. de Wet, F.J. van Zijl, J.P. Kennedy en M. Nicol. Die argitek was John Gaisford. Die kerkgebou met die traliewerk daarom het £17 000 gekos. Die hoeksteen is op 11 Januarie 1905 gelê deur ds. Van der Merwe, bygestaan deur di. J.G. Weber van Lady Grey (McGregor), D.J. le Roux Marchand van Kaapstad en J.A. Malherbe van Goudini (Rawsonville).
Op Donderdag 19 Oktober 1905, toe geweldige stormwind op Robertson en ander plekke groot verwoesting aangerig het, kon die gemeente eindelik die heuglike oomblik beleef dat sy nuwe kerk ingewy word. Die wydingsrede by dié geleentheid is deur ds. Andrew McGregor gelewer. Ander geboue wat in ds. van der Merwe se tyd opgerig is, en waarby die kerkraad direk of indirek betrokke was, is die skoolgebou en onderwyserswoning van Dassieshoek, dié van Keurkloof, Merwehof, die kerklike gebou in Kerkstraat ("No Man's Land"), die nuwe gebou by Rob Roy, De Waal-Hostel en die Herberg wat deur die Ring van Tulbagh opgerig is. Voorts is die volgende skoolgeboue in die dorp opgerig: die Hoër Meisieskool (1912) — later die Primêre Meisieskool, die Hoër Seunskool (1921) — later die Primêre Seunskool, en die Opleidingskool — later die Hoërskool, terwyl die ou gebou van die hoërskool tussen Truter- en Whitestraat wat in 1893 gebou is, vergroot is. Aan kerklike en skoolgeboue is in die 22 jaar van 1903 tot 1925 tussen £110 000 en £120 000 bestee.
Aan die onderwys het hy waardevolle dienste bewys. Ook was hy lid van dit Sinodale Onderwyskommissie. Deur al die jare het hy student gebly en aangesien hy met 'n stale geheue geseënd was, het hy 'n groot hoeveelheid kennis opgedoen wat vir hom veral goed te stade gekom het, wanneer hy met studente in aanraking gekom het. Hy kon ook taktvol met jong mense en ander wat deur twyfel gekwel was, omgaan. Hiervan het die Sinodale Kommissie van die Kaapse Kerk gebruik gemaak toe hulle hom in 1921 afvaardig om die Afrikaanse studente aan buitelandse universiteite te besoek en bearbei, 'n taak wat hy met skitterende sukses uitgevoer het. As blyk van erkenning van sy bekwaamheid en van sy werk het die Universiteit van Edinburg hom daarna die eregraad doktor in die God-geleerdheid toegeken.
Hy het baie belanggestel in die armesorg en was dan ook die siel van die groot kongres oor dié saak wat in 1916 op Cradock gehou is. Hierdie kongres het die oë van die Afrikaanse volk die eerste keer oopgemaak vir die erns van die Armblankevraagstuk. As voorsitter van die Sinodale Armesorgkommissie het hy die saak steeds voor die aandag van die Volk en die Regering gehou. Toe die Sinodale Kommissie hom in verband met die bearbeiding van die studente na Europa stuur, is hy ook deur die Kaaplandse Administrateur, sir Frederik de Waal, die taak opgedra om 'n studie van armesorg in Europa te maak. Hy kon dan ook by sy terugkeer waardevolle wenke in hierdie opsig aan die hand gee, en hy en sy eggenote het op Robertson baie in hierdie opsig gedoen, 'n taak waarby hulle kon reken op die steun van die Kerkraad en die ACVV-tak wat in hulle tyd daar gestig is.