duimnael|links|200px|'n Uitbeelding van Nike in Efese.
Efese (Antieke Grieks: Ἔφεσος; Turks: Efes) was ’n antieke Griekse hawestad aan die weskus van Anatolië, naby die huidige Selçuk in Turkye. In die Romeinse tyd is 'n nuwe hawe gevestig, aangesien die baai om die vorige reeds deur die Kaistrosrivier toegeslik was. Die nuwe hawe sou tot 'n belangrike handelsentrum ontwikkel wat baie jare lank die tweede grootste stad in die Romeinse Ryk sou wees.Oklahoma Christian University: Ephesus Dit het in die eerste eeu v.C. sowat 250 000 inwoners gehad, wat dit ook die tweede grootste stad ter wêreld gemaak het.
Die stad was onder meer bekend vir sy Tempel van Artemis, wat omstreeks 550 v.C. voltooi is, en een van die wonders van die antieke wêreld was. Die tempel is in 401 n.C. verwoes.John Freely, The Western Shores of Turkey: Discovering the Aegean and Mediterranean Coasts, 2004, bl. 148. Keiser Konstantyn die Grote het ’n groot deel van die stad laat herbou en nuwe openbare baddens opgerig. Die stad is weer in 614 gedeeltelik deur ’n aardbewing verwoes. Die baai waaraan dit eens geleë was het langsamerhand volkome toegeslik. Skeepstoegang is hierdeur belemmer en die stad het gekwyn.
Die ruïnes lê vandag 3 km suidwes van die dorp Selçuk in Turkye en is ’n gewilde toeriste-attraksie. Die Kaistrosrivier staan tans as die Küçük Menderes, oftewel "Klein Meander" bekend. Efese was een van die sewe gemeentes wat in Openbaring genoem word (Openbaring 1:11). Paulus het ook 'n brief aan die gemeente geskryf. In 1863 het die Britse Museum met opgrawings begin, wat deur die Oostenrykse Argeologiese Instituut opgevolg is. In 2015 is Efese deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.
Geskiedenis Neolitikum Die gebied om Efese was reeds in die Neolitikum (omstreeks 6000 v.C.) bewoon, soos blyk uit uitgrawings by die nabygeleë grafheuwels (bekend as tels) van Arvalya en Cukurici.[VIII. Muze Kurtrma Kazilari Semineri] Adil Evren – Cengiz Icten,pp 111-133 1997[Arkeoloji ve Sanat Dergisi – Cukurici Hoyuk sayi 92] Adil Evren 1998
Bronstydperk Onlangse uitgrawings het nedersettings by die Ayasuluk-heuwel uit die vroeë Bronstydperk ontbloot. In 1954 is ’n begraafplaas met keramiekpotte uit die Miceense tydperk (1500-1400 v.C.) naby die ruïnes van die Johannes-basilika ontdek. Dit was die tydperk van die Miceense uitbreidings toe die Achajers (of Achaioi soos Homeros hulle genoem het) hulle in Ahhiyawa gevestig het tydens die 14de en 13de eeu v.C. Geleerdes glo Efese is gebou op die nedersetting Apasa (of Abasa), ’n stad uit die Bronstydperk wat in Hetitiese bronne uit die 14de eeu v.C. genoem word.
Donker Eeue duimnael|Die terrein van die Tempel van Artemis op die dorp Selçuk, naby Efese Efese is in die 10de eeu v.C. op die Ayasuluk-heuwel gestig as ’n Atties-Ioniese kolonie – 3 km van die middel van antieke Efese af (soos blyk uit uitgrawings in die 1990's by die Seldjoekse kasteel). Die mitiese stigter van die stad was ’n prins van Athene met die naam Androklos, wat sy land moes verlaat ná die dood van sy pa, koning Kadros.
Volgens die legende het hy Efese gestig op die plek waar die orakel van Delphi dit voorspel het: "’n Vis en ’n varkbeer sal vir jou die pad wys." Androklos het die meeste van die inheemse Kariese en Lelegiese inwoners verdryf en sy volk met die res verenig. Hy was ’n suksesvolle kryger en as koning het hy die 12 stede van Ionië in die Ioniese Bond verenig.
Tydens sy bewind het die stad begin floreer. Hy is in ’n geveg teen die Kariërs dood toe hy Priëne, ’n ander stad van die Bond, te hulp snel. Androklos en sy hond word uitgebeeld op die fries van die Tempel van Hadrianus uit die 2de eeu. Later het Griekse historici soos Pausanias, Strabo en Herodotos vertel die stad se mitiese stigter is Ephos, koningin van die Amasones.
Die Griekse godin Artemis en die Anatoliese godin Kubele is saam geïdentifiseer as "Artemis van Efese". Die "Dame van Efese" met die baie borste wat met Artemis verbind word, is vereer in die Tempel van Artemis, een van die Sewe Wonders en volgens Pausanias (4.31.8) die grootste gebou van die Antieke Wêreld. Die geograaf noem dat die tempel deur Efese, seun van die riviergod Kaystros, gebou is voor die aankoms van die Ioniërs. Omtrent niks van dié struktuur is oor nie.
Argaïese tydperk Omstreeks 650 v.C. is Efese deur die Kimmeriërs aangeval en verwoes. Nadat die Kimmeriërs verdryf is, is die stad deur ’n reeks tiranne regeer. Ná ’n opstand deur die inwoners is die stad deur ’n raad, die Kuretes, regeer. Efese het weer floreer en ’n paar belangrike historiese figure opgelewer, soos die digter Callinus en die filosoof Herakleitos.
Omstreeks 560 v.C. is Efese deur die Lidiërs onder koning Croesus verower. Hy het die inwoners met respek behandel, ondanks sy streng heerskappy, en het selfs een van die hoofbydraers geword vir die herbou van die Tempel van Artemis. Sy handtekening is op die basis van een die pilare van die tempel gevind (wat nou in die Britse Museum uitgestal word). Croesus het die bevolkings om Efese in die omgewing van die tempel laat hergroepeer en so die stad vergroot.
Later in dié eeu het die Lidiërs onder Croesus Persië binnegeval. Die Ioniërs het ’n vredesaanbod van Kores die Grote geweier en hulle eerder by die Lidiërs geskaar. Nadat die Perse Croesus verslaan het, het die Ioniërs aangebied om vrede te maak, maar Kores het daarop aangedring dat hulle oorgee en deel van sy ryk word.Herodotus i. 141 Hulle is in 547 v.C. deur die Persiese leëraanvoerder Harpagos verslaan. Die Perse het toe die Griekse stede van Klein-Asië in die Achaemenidiese Ryk opgeneem.
Efese was eeue lank vir argeoloë ’n raaisel omdat geen vasgestelde ligging van die stad vir die argaïese tydperk bekend is nie. Verskeie terreine word voorgestel vir die beweging van ’n nedersetting tussen die Brons- en die Romeinse tydperk, maar die toeslyking van die natuurlike hawens en die beweging van die Kaistrosrivier het meegebring dat die ligging nooit dieselfde gebly het nie.
Klassieke tydperk Efese het aanhou vooruitgaan. Maar toe belasting bly verhoog is onder Kambuses II en Darius, het die Efesiërs deelgeneem aan die Ioniese Opstand teen die Persiese heerskappy in die Slag van Efese (498 v.C.), ’n voorval wat gelei het tot die Grieks-Persiese Oorloë. In 479 v.C. het Ionië, Athene en Sparta die Persiese heersers uit Anatolië verdryf. In 478 v.C. het die Ioniese stede die Deliese Bond met Athene en Sparta teen die Perse gesluit.
Tydens die Peloponnesiese oorlog het Efese hom eers by Athene geskaar, maar tydens ’n latere fase, die Ioniese Oorlog, by Sparta, wat ook die steun van die Perse gehad het. Die gevolg was dat die koninkryke van Anatolië weer onder Persiese bewind beland het.
Hierdie oorloë het nie die daaglikse lewe in Efese baie beïnvloed nie. Die Efesiërs was verbasend modern in hul sosiale verhoudings. Hulle het vreemdelinge toegelaat om te integreer. Opvoeding was hoog aangeskryf. Deur die aanbidding van Artemis het die stad ook ’n bastion vir vroueregte geword. Die stad het selfs vroulike kunstenaars gehad. In later tye het Plinius die ouere genoem dat hy in Efese ’n voorstelling van die godin Diana gesien het deur Timarata, die dogter van ’n skilder.
In 356 v.C. is die Tempel van Artemis afgebrand, volgens legendes deur ’n waansinnige met die naam Herostratus. Die inwoners het dadelik die tempel begin restoureer en ’n selfs groter en mooier een as die oorspronklike beplan.
Hellenistiese tydperk Toe Alexander die Grote die Persiese magte in 334 v.C. verslaan, is die Griekse stede van Klein-Asië bevry. Die pro-Persiese tiran Syrpax en sy gesin is met klippe doodgegooi en Alexander is gul in Efese verwelkom. Toe hy sien dat die Tempel van Artemis nog nie voltooi is nie, het hy voorgestel dat hy dit finansier en sy naam aan die voorkant aangebring word. Die inwoners het dit egter van die hand gewys omdat hulle gemeen het dit is nie geskik dat een god ’n tempel vir ’n ander een bou nie. Ná Alexander se dood in 323 v.C. het Efese onder die heerskappy van een van sy generaals, Lusimachos, gekom.
Omdat die Kaistrosrivier die hawe toegeslik het, het die gevolglike moerasse gelei tot baie sterfgevalle weens malaria en ander oorsake. Die inwoners was verplig om 2 km verder te skuif toe die koning die ou stad oorvloei deur die rioolpype te blokkeer. Die nuwe nedersetting is na die koning se tweede vrou, Arsinoe II van Egipte, genoem. Nadat Lusimachos die nabygeleë stede Lebedos and Kolophon in 292 v.C. verwoes het, het hy hul inwoners na die nuwe stad verskuif.
Efese het in opstand gekom ná die verraderlike dood van Lusimachos se seun Agathokles en het die Siriese koning Seleukos I die geleentheid gegee om Lusimachos, sy laaste teenstander, in 281 v.C. dood te maak. Daarna is die stad weer Efese genoem.
So het Efese deel van die Seleukidiese Ryk geword. Ná die moord op koning Antiochos II en sy Egiptiese vrou het farao Ptolemeus III die Seleukidiese Ryk ingeval en die kus van Klein-Asië verower. Efese het tussen 263 en 197 v.C. onder Egiptiese bewind gekom.
Toe die Seleukidiese koning Antiochos III probeer om die Griekse stede van Klein-Asië te herower, het hy met Rome gebots. Ná ’n reeks gevegte is hy in 190 v.C. verslaan. Efese het toe onder die heerskappy van die Attalidiese koning van Pergamon, Eumenes II, gekom. Toe sy kleinseun Attalos III sonder manlike erfgename sterf, het hy die koninkryk aan die Romeinse Republiek nagelaat.
Romeinse tydperk duimnael|Efese se amfiteater duimnael|Die Tempel van Hadrianus As deel van die Romeinse Republiek het Efese dadelik die Romeinse invloed ervaar. Belasting is aansienlik verhoog en die stad se skatte is stelselmatig geplunder. In 88 v.C. het Efese Archelaos, ’n generaal van Mitradates VI, koning van Pontos, verwelkom toe hy Wes-Anatolië verower. Dit het gelei tot die Asiatiese Vespers, die slagting van 80 000 Romeinse burgers van Klein-Asië, of enigiemand wat met ’n Latynse aksent gepraat het. Baie van hulle het in Efese gewoon. Maar toe die Efesiërs sien hoe sleg Zenobios, ’n generaal van Mitridates, die mense van Chios behandel, het hulle geweier dat sy leër die stad binnekom. Zenobios is wel ingenooi om Philopoimen (die vader van Monima, die gunstelingvrou van Mitridates) te besoek. Omdat die inwoners niks goeds van hom verwag het nie, het hulle hom in die tronk gegooi en vermoor. Mitridates het wraak geneem en swaar strawwe uitgedeel. Die Griekse stede het egter hul vryheid en aansienlike regte gekry.
Efese het vir ’n kort rukkie selfregerend geword. Toe Mitridates deur die Romeinse konsul Lucius Cornelius Sulla verslaan word, het Efese in 86 v.C. weer onder Romeinse heerskappy gekom. Sulla het ’n groot skadeloosstelling geëis, asook belasting terugwerkend vir vyf jaar, en Asiatiese stede was dus ’n lang tyd daarna kwaai in die skuld.
Toe Augustus in 27 v.C. keiser word, het hy Efese in plaas van Pergamon die hoofstad gemaak van die provinsie Asia, wat die westelike Klein-Asië beslaan het. Efese het weer floreer. Dit het die setel van die goewerneur en ’n groot metropolis en handelsentrum geword. Dit was naas Rome die belangrikste en grootste stad.Strabo. Geography (volume 1-7) 14.1.24. Cambridge: Loeb Classical Library, Harvard University Press In die jaar 100 n.C. het Efese na skatting tussen 400 000 en 500 000 inwoners gehad; dit was die grootste stad in Romeinse Asië. Die stad het in die 1ste en 2de eeu n.C. ’n hoogtepunt bereik.