Snotkop (gebore 22 Desember 1974) is die verhoognaam van Francois Henning, 'n bekende Afrikaanse en Sotho sanger. Hy begin sy musiekloopbaan onder die verhoognaam 'Lekgoa' waartydens hy kwaito-liedere sing. Lekgoa is die Sothowoord vir witmens.
In 2005 het hy die naam Snotkop aangeneem – aanvanklik as deel van 'n seunsgroep van vier lede, maar kort daarna as solo-kunstenaar wat by die platemaatskappy Next Music geteken het. Hy het sy eerste Afrikaanse gelyknamige debuutalbum, Snotkop, in 2005 vrygestel, gevolg deur So Damn Sexy in 2008 en Francois Henning was hier in 2009. Met die vrystelling van Ek laaik van jol in 2012 het hy een van die topverkoper-Afrikaanse kunstenaars in Afrika geword. Bekende enkelsnitte en musiekvideo's sluit in Song vir my dad, "Dis 'n land", "Hou my stywer vas", "Oppas", "Katrien", "Parapapa" ('n heropname van Cidinho & Doca se treffer "Rap das Armas"), "Hoe lykit", "Raak vir my rustig", "Cool soos Koos Kombuis" en "Agter op my fiets". Hy is ook te sien in Shine4 se "Ramaja" ('n heropname van Glenys Lynne se treffer met dieselfde naam), Kurt Darren se treffer "Stoomtrein" en MoniQue se treffer "Ek val vir jou" ('n Afrikaanse weergawe van Waldo's People se "Lose Control" – een van verskeie internasionale treffers wat hy in Afrikaans opgeneem het). Ander heropnames sluit in The Offspring se "Why Don't You Get A Job?" (opgeneem as "Kry jouself by die werk") en Junior e Leonardo se "Rap das Armas" (opgeneem as "Parapapa", maar met ander lirieke).
Snotkop is ook 'n televisiepersoonlikheid. Hy het die program Petrolkop op MK – 'n musiekkanaal in Suid-Afrika wat hoofsaaklik in Afrikaans uitsaai – aangebied; in dié program het hy verskeie bekendes laat meeding deur in renmotors teen mekaar tydtoetse te ry.
Diskografie Snotkop se albums sluit in: 2005: Die Snotkop CD 2007: Spring Lewendig DVD 2008: So Damn Sexy 2009: Francois Henning Was Hier 2011: Ek laaik van jol! 2012: Oppas 2014: Soos 'n boss 2016: HKGK 2018: Sous
Lekgoa se albums sluit in: 1999: Basetsana 2002: Ngamla Yoba
Verwysings
Sien ook Lys van Suid-Afrikaanse musikale kunstenaars MK, kykNET TV-kanaal waar Snotkop die Petrolkop-program aangebied het.
Eksterne skakels Snotkop se amptelike webwerf
Kategorie:Afrikaanse sangers Kategorie:Afrikaners Kategorie:Geboortes in 1974 Kategorie:Suid-Afrikaanse musici Kategorie:Lewende mense