Christiaan IX (8 April 1818 – 29 Januarie 1906) was van 16 November 1863 tot met sy dood op 29 Januarie 1906 koning van Denemarke. Van 1863 tot 1864 was hy terselfdertyd die Hertog van Sleeswyk, Holstein en Lauenburg.
Hy was 'n jonger seun van Friedrich Wilhelm, die Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg, en het grootgeword in die hertogdom Sleeswyk as 'n prins van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg, 'n junior tak van die Huis van Oldenburg, wat sedert 1448 oor Denemarke regeer het. Hoewel hy nabye familiebande met die Deense koningshuis gehad het, was hy oorspronklik nie in die onmiddellike opvolgingslinie van die Deense troon nie.
Ná die vroeë dood van sy vader in 1831 het Christiaan in Denemarke grootgeword en is hy opgevoed aan die Militêre Akademie Kopenhagen. Nadat hy nie daarin kon slaag om die jawoord van koningin Victoria van die Verenigde Koninkryk te kry nie, is hy in 1842 getroud met sy dubbele kleinniggie, prinses Louise van Hesse-Kassel.
In 1852 is Christiaan gekies as vermoedelike erfgenaam van die Deense troon in die lig van die verwagte uitsterwing van die senior linie van die Huis van Oldenburg. Ná die dood van koning Frederik VII van Denemarke in 1863 het Christiaan die troon bestyg as die eerste Deense monarg van die Huis van Glücksburg; hy was Frederik se kleinneef en die man van Frederik se niggie, Louise van Hesse-Kassel.
Die begin van sy bewind is gekenmerk deur die Deense nederlaag in die Tweede Sleeswykse Oorlog en die daaropvolgende verlies van die hertogdomme Sleeswyk, Holstein en Lauenburg. Dit het die koning geweldig ongewild gemaak. Die volgende jare van sy bewind is oorheers deur politieke dispute, want Denemarke het pas in 1849 'n konstitusionele monargie geword en die magsbalans tussen die koning en parlement was nog nie gevestig nie. Ten spyte van sy aanvanklike ongewildheid en die baie jare van politieke onmin, waarin die koning in konflik met groot dele van die bevolking was, het sy gewildheid aan die einde van sy bewind toegeneem en het hy 'n nasionale ikoon geword danksy die lengte van sy bewind en die hoë standaarde van persoonlike moraliteit waarmee hy geïdentifiseer is.
Christiaan se ses kinders by Louise het in ander Europese koninklike families ingetrou en hy het bekend geword as die "skoonvader van Europa". Onder sy afstammelinge tel koning Frederik X, koning Filip van België, koning Harald V van Noorweë, groothertog Henri van Luxemburg, koning Charles III van die Verenigde Koninkryk en koning Felipe VI van Spanje.
Vroeë lewe Geboorte en familie
thumb|220px|links|Prins Christiaan se geboorteplek, Gottorf-kasteel in Sleeswyk-Holstein, die setel van die koninklike goewerneurs van die hertogdomme Sleeswyk en Holstein (2007).
Christiaan IX is op 8 April 1818 naby die dorp Sleeswyk, destyds in Denemarke, gebore. Hy was 'n prins van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck en die vierde oudste seun van Friedrich Wilhelm, die hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck, en prinses Louise Caroline van Hesse-Kassel.
thumb|180px|Prins Christiaan se vader, Friedrich Wilhelm, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck, van 1825 af die Hertog van Glücksburg. Hy is genoem na sy ma se neef prins Christiaan Frederik van Denemarke, die latere koning Christiaan VIII.
Prins Christiaan se vader was die hoof van die Huis van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck, 'n junior manlike tak van die Huis van Oldenburg. Die familie het afgestam van koning Christiaan III van Denemarke se jongste seun, Johannes die Jongere, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg, wie se kleinseun hertog Augustus Filip sy bande met Denemarke verbreek en na Duitsland geëmigreer het waar hy Huis Beck in Wesfale gekoop het. Dié linie is daarna Schleswig-Holstein-Sonderburg-Beck genoem. Sy seuns was in die diens van Pruise, Pole en Rusland totdat sy agter-agter-kleinseun, prins Christiaan se vader, weer in Deense militêre diens getree het. Hy was in Holstein gstasioneer.
Deur sy vader was prins Christiaan dus 'n direkte manlike afstammeling van koning Christiaan III van Denemarke. Hy was 'n aanspraakmaker op die troon van die dubbele hertogdom Sleeswyk-Holstein, maar nie die eerste een nie. Hy het nie 'n aanspraak op enige Europese troon gehad nie.
Kinderlewe thumb|Die huis van prins Christiaan se kinderdae, Glücksburg-kasteel in Sleeswyk-Holstein (2005).
Die prins het aanvanklik saam met sy ouers en baie broers en susters in sy grootouers aan moederskant se woning, Gottorf-kasteel, gewoon wat die gebruiklike setel van die goewerneurs van die hertogdomme Sleeswyk en Holstein was. Op 6 Junie 1825 het koning Frederik VI hertog Friedrich Wilhelm aangestel as die Hertog van Glücksburg. Hertog Friedrich Wilhelm het sy titel na die Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg verander en dus die jonger Glücksburg-linie gestig.
Die gesin het toe na Glücksburg-kasteel verhuis. Op 17 Februarie 1831 is hertog Friedrich Wilhelm egter op 46-jarige ouderdom dood. Hy het sy vrou agtergelaat met 10 kinders en geen geld nie. Prins Christiaan was 12 jaar oud.
Opvoeding thumb|200px|links|Prins Christiaan se surrogaatvader, Frederik VI van Denemarke, wie se koningin, Marie van Hesse-Kassel, Christiaan se tante was. Die twee prinsesse was sy niggies.
Ná die dood van sy vader het koning Frederik VI en William van Hesse-Philippsthal-Barchfeld, 'n goeie vriend van die hertog, die wettige voogde van prins Christiaan en sy nege sibbes geword. Prins Christiaan wou 'n vlootopleiding kry, maar die koning en Christiaan se ma het saamgestem dat hy na Kopenhagen gestuur word om as leëroffisier opgelei te word. In 1832, die jaar ná sy vader se dood, het die 14-jarige Christiaan na Kopenhagen verhuis waar hy aan die Landkadetakademie opgevoed is. Hy het privaat lesse gekry en was selde saam met die ander kadette. Die koninklike egpaar, wat nie 'n seun gehad het nie, het die seun egter goed versorg, want koningin Marie was sy ma se suster en koning Frederik sy ma se niggie. In 1838 is prins Christiaan se oudste broer, hertog Karl van Glücksborg, getroud met die koning en koningin se jongste dogter, prinses Vilhelmine Marie, en dit het die bande tussen hulle verder versterk.
thumb|240px|Prins Christiaan se tuiste van 'n lang tyd, die Geel Paleis in Kopenhagen (2006). In 1836 het prins Christiaan sy opleiding voltooi en hy het in die koninklike perdewagkasernes ingetrek. Daar het hy 'n eenvoudige lewe gelei totdat koning Frederik VI hom in 1839 in die Geel Paleis, 'n 18de-eeuse stadshuis, laat woon het. Hy het tot in 1865 daar gewoon.
Van 1839 tot 1841 het prins Christiaan grondwetlike reg en geskiedenis saam met sy halfneef prins Frederik Willem van Hesse-Kassel aan die Universiteit van Bonn in Duitsland studeer. Daar het hy in Desember 1839 die nuus ontvang dat sy weldoener koning Frederik VI oorlede is en sy ma se neef koning Christiaan VIII geword het.
Die vermoedelike erfgenaam Huwelik thumb|200px|Prins Christiaan se eerste huweliksaansoek was aan koningin Victoria van die Verenigde Koninkryk.
As jong man het prins Christiaan die koning verteenwoordig op die kroning van koningin Victoria van die Verenigde Koninkryk in Westminster-abdy. Gedurende sy verblyf in Londen het hy onsuksesvol probeer om Victoria die jawoord te vra. Hoewel sy by haar familie se wense gehou het om met haar neef prins Albert van Sakse-Koburg en Gotha te trou, het die jong Christiaan 'n goeie indruk op Victoria gemaak. Hy het 25 jaar later die skoonpa van haar oudste seun, die Prins van Wallis, geword.
links|thumb|240px|Prins Christiaan en prinses Louise in die 1840's. In plaas daarvan het Christiaan in 'n huwelik getree wat groot gevolge vir sy toekoms sou inhou. In 1841 was hy verloof aan sy kleinniggie prinses Louise van Hesse-Kassel. Sy was die dogter van prins William van Hesse-Kassel, 'n Deense generaal en die goewerneur van Kopenhagen. Prins William was getroud met die suster van koning Christiaan VIII van Denemarke, prinses Charlotte. Louise was dus die nuwe koning se niggie. Nes prins Christiaan self was sy 'n agterkleindogter van beide Frederik V van Denemarke en landgraaf Frederik II van Hesse-Kassel, en dus sy dubbele kleinniggie. Hulle is op 26 Mei 1842 in haar ouerhuis in Amalienborg getroud.
Louise was 'n wyse en energieke vrou wat 'n groot invloed op haar man uitgeoefen het. Ná die huwelik het die egpaar in die Geel Paleis gaan woon en hulle eerste vyf kinders is tussen 1843 en 1853 hier gebore: prins Frederik in 1843, prinses Alexandra in 1844, prins Willem in 1845, prinses Dagmar in 1847 and prinses Thyra in 1853. Die gesin was steeds redelik onbekend en het 'n beskeie lewe gelei gemeet aan koninklike standaarde.
Deense opvolgingskrisis thumb|180px|links|Prinses Louise se oom, Christiaan VIII van Denemarke, het voor 'n moeilike opvolgingskrisis te staan gekom.
In die 1840's het dit al hoe duideliker geword dat die Deense monargie op 'n opvolgingskrisis afstuur. Die opvolging van die troon is bereël deur 'n wet wat koning Frederik III in 1665 afgekondig het vir sy afstammelinge.
Toe koning Christiaan VIII sy neef koning Frederik VI in 1839 opvolg, was die ouer manlike linie van die Huis van Oldenburg op die punt van uitsterwing, want die koning se enigste seun en regmatige erfgenaam, kroonprins Frederik, kon blykbaar nie kinders verwek nie en die koning se enigste broer, prins Ferdinand, se huwelik met koning Frederik VI se dogter was kinderloos.
Koning Frederik VII se kinderloosheid het 'n moeilike probleem vir die Deense kroon veroorsaak, want die opvolgingsreëls in die verskillende dele van die Deense monargie het verskil, en die skeuring van die monargie het 'n moontlikheid geword.
thumb|240px|Die hertogdomme Sleeswyk, Holstein en Lauenburg voor 1864. Die reeds ingewikkelde kwessie van die opvolging is verder bemoeilik deur ewe ingewikkelde politieke kwessies. Nasionalisme en liberalisme was aan die toeneem in Europa. Duitse nasionale liberales wou Sleeswyk en Holstein tot elke prys verenig hou en wou hê dit moet saam 'n outonome Duitse staat word, terwyl Deense nasionale liberaliste daarop aangedring het dat Sleeswyk deel van Denemarke bly en dit geskei word van Holstein, wat dan deel van Duitsland kon word. Dié uiteenlopende sienings het alle hoop op 'n vreedsame oplossing verhinder.
thumb|180px|Christiaan Augustus II, Hertog van Seeswyk-Holstein-Sonderburg-Augustenburg, wat aanspraak gemaak het op die trone van die hertogdomme gedurende die opvolgingskrisis. Terwyl die nasies van Europa toegekyk het, het die talle afstammelinge van Hedvig van Holstein begin wedywer om die Deense troon. Frederik VII het behoort tot die senior tak van Hedvig se afstammelinge. As die senior tak sou uitsterf, sou die Huis van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Augustenburg die mees senior tak van die Huis van Oldenburg word, maar die lede het nie van Frederik III afgestam nie. In die hertogdomme het Christiaan Augustus II, die hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Augustenburg, aanspraak gemaak op die posisie van erfgenaam van die trone van Sleeswyk en Holstein, omdat hy die hoof van die huis van Augustenburg was. Hy het dus die simbool van die nasionalistiese Duitse onafhanklikheidsbeweging in Sleeswyk-Holstein geword.
Die vroulike afstammeling wat volgens Frederik III se aanvanklike wette die grootste aanspraak op die trone gehad het, was die kinderlose Caroline, dogter van Frederik VI van Denemarke, en haar kinderlose suster, Vilhelmine Marie. Die volgende erfgenaam was Louise, die suster van Frederik VI, wat met die Hertog van Augustenburg getrou het. Die hooferfgenaam van dié linie was dieselfde Frederik van Augustenburg, maar hy was eers troonopvolger ná die twee kinderlose prinsesse.
'n Meer junior tak van die familie wat afstammelinge van Frederik III was, kon ook die troon van Sleeswyk-Holstein bestyg: Christiaan; sy oudste broer, Karl, wat kinderloos was; en nog twee broers wat seuns gehad het.