Margrethe II (Margrethe Alexandrine Þórhildur Ingrid, gebore 16 April 1940) was van 1972 tot 2024 koningin van Denemarke. Sy was die eerste vroulike heerser van die land ná Margrethe I, wat van 1388 tot 1412 oor die Skandinawiese lande geheers het tydens die Kalmarunie.

Koningin Margrethe II se amptelike slagspreuk was: Die Hulp van God, die Liefde van die Volk, die Krag van Denemarke.

Vroeë lewe Prinses Margrethe is in die Amalienborg-paleis in Kopenhagen gebore as die oudste kind van Frederik IX en sy vrou, kroonprinses Ingrid. Omdat koning Christiaan X in dié tyd ook koning van Ysland was, het die prinses die Yslandse naam Þórhildur gekry as eerbetoon aan die mense van dié land. Dit word gespel met die Yslandse letter thorn, wat ook as "th" geskryf word, en haar naam word dus soms "Thorhildur" gespel. "Those Apprentice Kings and Queens Who May – One Day – Ascend a Throne," New York Times. 14 November 1971.

Margrethe is nie as troonopvolger gebore nie. Weens die Saliese wet, wat ook in Denemarke van krag was, kon net mans die troon bestyg nadat die Glücksburg-tak aan die bewind gekom het. Sy het nie broers gehad nie en haar oom Knud was die waarskynlike troonopvolger.

Die proses om die grondwet te verander het in 1947 begin toe dit duidelik word koningin Ingrid sou nie nog kinders hê nie. Die gewildheid van Frederik en sy dogters en die meer prominente rol wat vroue in Denemarke begin speel het, het die verandering tot gevolg gehad. Twee agtereenvolgende parlemente en ’n referendum moes die stap goedkeur. Sedertdien word vroue toegelaat om die troon te bestyg as hulle nie ’n broer het nie. Prinses Margrethe het toe die waarskynlike opvolger geword.

Sy het aan verskeie universiteite studeer en op 10 Junie 1967 in Kopenhagen getrou met ’n Franse diplomaat, graaf Henri de Laborde de Monpezat. Hy het die koninklike titel "prins Henrik van Denemarke" gekry. Hy is oorlede op 13 Februarie 2018.

Bewind Koning Frederik IX is in 1972 oorlede en Margrethe het koningin geword kragtens die nuwe opvolgingswet. Haar hooftaak is om die koninkryk oorsee te verteenwoordig en ’n verenigende taak tuis te verrig. Sy open uitstallings, herdenkings, brûe, ens. Sy mag nie aan die politiek deelneem of ’n politieke opinie lug nie.

Die koningin is ’n erkende skilder en het al baie uitstallings van haar werk gehou. Haar illustrasies, onder die skuilnaam Ingahild Grathmer, is gebruik vir die Deense uitgawe van die roman Die heerser van die ringe wat in 1977 gepubliseer en in 2002 herdruk is. Sy is ook ’n hoogs aangeskrewe vertaler wat aan die boek help vertaal het. Verder ontwerp sy van haar eie klere.

In 2008 het die koningin aangekondig dat haar afstammelinge deur die manlike linie die bykomende titel Graaf of Gravin van Monpezat sou hê.

Op 31 Desember 2023 het Margrethe II haar aftrede van die Deense troon aangekondig en op 14 Januarie 2024, ná presies 52 jaar op die troon, is sy deur haar seun Frederik X opgevolg.

Kinders Die koningin en prins Henrik het twee seuns: Frederik André Henrik Christian, Kroonprins van Denemarke, Graaf van Monpezat, gebore op 26 Mei 1968. Hy het op 14 Mei 2004 getrou met Mary Elizabeth Donaldson. Hulle het vier kinders. Prins Joachim Holger Waldemar Christian van Denemarke, Graaf van Monpezat, gebore op 7 Junie 1969. Hy het op 18 November 1995 getrou met Alexandra Christina Manley. Hulle het twee seuns. Die egpaar het egter op 8 April 2005 geskei. Prins Joachim is tweedens getroud met Marie Agathe Odile Cavallier op 24 Mei 2008. 'n Verdere twee kinders is uit die huwelik gebore.

Afkoms in die manlike linie Margrethe se afkoms deur die manlike linie, dus van vader tot seun, kan eeue terug nagespeur word en beteken dat as sy ’n histories korrekte naam vir die koningshuis moes kies, dit Oldenburg sou wees.

Egilmar I van Lerigau, datums onbekend Egilmar II van Lerigau, d. 1142 Christiaan I van Oldenburg, d. 1167 Moritz van Oldenburg, d. 1209 Christiaan II van Oldenburg, d. 1233 Johan I, Hertog van Oldenburg, d. 1275 Christiaan III, Hertog van Oldenburg, d. 1285 Johan II, Hertog van Oldenburg, d. 1314 Konrad I, Hertog van Oldenburg, 1300–1347 Christian V, Hertog van Oldenburg, 1340–1423 Dietrich, Hertog van Oldenburg, 1398–1440 Christiaan I van Denemarke, 1426–1481 Frederik I van Denemarke, 1471–1533 Christiaan III van Denemarke, 1503–1559 Johan II, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg, 1545–1622 Alexander, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg, 1573–1627 August Philipp, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck, 1612–1675 Frederik Lodewyk, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck, 1653–1728 Pieter August, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck, 1696–1775 Prins Karl Anton August van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck, 1727–1759 Friedrich Karl Ludwig, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck, 1757–1816 Friedrich Wilhelm, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg, 1785–1831 Christiaan IX van Denemarke, 1818–1906 Frederik VIII van Denemarke, 1843–1912 Christiaan X van Denemarke, 1870–1947 Frederik IX van Denemarke, 1899–1972 Margrethe II van Denemarke, b. 1940

Verwysings Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel :en:Margrethe II of Denmark

Eksterne skakels

Koningshuis van Denemarke en van Ysland Die stamboom van Henri de Laborde de Monpezat Webtuiste van die koningin Webtuiste van die Deense monargie Illustrasies – Lord of the Rings

Kategorie:Deense monarge Kategorie:Geboortes in 1940 Kategorie:Lewende mense