Gqeberha (Xhosa: [ᶢǃʱɛ̀ɓéːxà]; tot 2021 Port Elizabeth; Xhosa: iBhayi; Zoeloe: Bhayi), wat in die volksmond in Afrikaans dikwels "Die Baai" of net "PE" genoem word, is 'n hawestad geleë aan Algoabaai, in die Oos-Kaapprovinsie, Suid-Afrika, 763 km oos van Kaapstad. Met 'n bevolking van 312 390 (2011) is Gqeberha die grootste stedelike nedersetting in die Oos-Kaapprovinsie. Met die Nelson Mandela-universiteit (voorheen Universiteit van Port Elizabeth) het die stad dekades lank oor die enigste tweetalige universiteit in die land beskik.
duimnael|links|Stadsaal en Markplein Gqeberha, wat van 'n klein militêre buitepos tot die vyfde grootste stad en die derde belangrikste seehawe in Suid-Afrika gegroei het, strek oor sestien kilometer langs die kus van die Indiese Oseaan. Die warm subtropiese klimaat, 'n polsende naglewe en lang wit strande soos King's Beach, Humewood, Hobie en Pollock, waarvan sommige in die binnestad lê, maak van die stad 'n gewilde toeristebestemming. Humewoodstrand is as 'n blouvlagstrand gesertifiseer.
In 2001 het Port Elizabeth saam met Uitenhage, Despatch en ander gebiede in die omgewing deel geword van die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Munisipaliteit met 'n geskatte bevolking van 1 152 915 in 2011. Sedert 31 Oktober 2024 dien Babalwa Lobishe (ANC) as uitvoerende burgemeester van Gqeberha en omstreke.
Etimologie In 1820 is die groeiende seehawe by Algoabaai "Port Elizabeth" genoem ter ere van die twee jaar vroeër oorlede Elizabeth Frances (née Markham), eggenote van Rufane Donkin, die destydse goewerneur van die Kaapkolonie. Koloniste het na die nedersetting ook as "The Bay" verwys. Xhosas noem die stad ook "iBhayi" of "eBhayi", 'n Xhosa-afleiding van die Afrikaanse naam "Die Baai".
Gqeberha, sedert 23 Februarie 2021 die amptelike stadsnaam, is 'n Xhosa-woord wat soms gebruik word om na die Baakensrivier te verwys wat deur die stad vloei.
Geografie en klimaat duimnael|links|Die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Munisipaliteit se ligging in die Oos-Kaap
Gqeberha is in die suide van Suid-Afrika en die provinsie Oos-Kaap, sowat 770 kilometer oos van Kaapstad op dieselfde breedtegraad as dié Moederstad geleë. Die stad strek oor 16 kilometer al langs die kus van Algoabaai aan die Indiese Oseaan. Van Port Elizabeth se bekende strande is in die stadsentrum geleë. Die stad staan in Suid-Afrika bekend as "die winderige stad" en "die vriendelike Stad". In die suide van Gqeberha lê Kaap Recife met die Kaap Recife-vuurtoring.
Gqeberha het 'n subtropiese klimaat met ligte reën dwarsdeur die jaar. Die gebied is tussen die winterreënval, Mediterreense klimaatstreke van die Wes-Kaap en die somerreënvalstreke van Oos-Suid-Afrika geleë. Die winters is koel maar matig en die somers is warm, maar aansienlik minder vogtig en warm as meer noordelike dele van Suid-Afrika se ooskus. Gqeberha se weer word deur die warm Agulhasstroom beïnvloed.
Die Suidoosterwind, wat veral in die somermaande sterk waai en deur strandgangers as onaangenaam ervaar word, word verbind met 'n reeks skeepsrampe en spookverhale in die streek. In Oktober 1864 is die Scindia sonder 'n enkele siel aan boord deur sterk winde kus toe gedryf. Daar is vir die ergste gevrees nadat geen oorlewendes gevind is nie. Eers later is die nuus ontvang dat die bemanning deur 'n ander skip, die Silver Eagle, wat op pad na St. Helena was, gered is. Vandaar is hulle na Londen geneem.
Die bemannings van 21 bote, wat tydens die Groot Suidoosterstorm van 31 Augustus 1902 vergaan of Noordeinde-strand toe gespoel is, was minder gelukkig. 41 bemanningslede en reddingspersoneel het verdrink. Die meeste van hulle het hul laaste rusplek op die Suideind-begraafplaas gevind. Pat Hopkins: Ghosts of South Africa. Cape Town: Zebra Press 2006, bl. 44–45
Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|Nederlandse kaart van Algoabaai, ca. 1680 Die eerste bewoners van die streek rondom Algoabaai was voorsate van die San wat sowat 100 000 jaar gelede hier gejag en veldkosse versamel het. Omstreeks 2 000 jaar gelede het swart akkerbouers, wat as voorsate van die Xhosavolk beskou word, vanuit die noorde na die gebied gemigreer en die inheemse bevolking uiteindelik verdryf of geassimileer.
Die eerste Europeërs, wat die gebied verken het, was Portugese seevaarders. Bartolomeus Dias het in 1488 op St. Croix-eiland in Algoabaai geland en 'n kruis opgerig, terwyl Vasco da Gama in 1497 die nabygeleë Voëleiland ontdek het. Die streek sou vervolgens eeue lank as 'n "landingsplek met varswater" op seekaarte verskyn.
Een van die Portugese hoofdoelwitte in die Indiese Oseaan was die oorname van die winsgewende seehandel tussen die kusgebiede van Oos-Afrika en Indië wat oorspronklik deur Arabiese en Afro-Arabiese handelaars oorheers is. Met die oorname van dié handel het die Portugese handelsbande met hul Indiese kolonie Goa aangeknoop. Die Portugese naam Algoa beteken "[op pad] na Goa", net soos die naam van die seehawe, wat verder noord in die huidige Mosambiek geleë was, Delagoa, as "vanaf Goa" vertaal kan word.
Winde was 'n belangrike weersfaktor vir seevaarders, en so het die Portugese gereeld op die seisoen met gunstige winde gewag voordat hulle vanaf Algoabaai ooswaarts geseil het, terwyl Portugese skepe uit Goa juis in dié seisoen Delagoa aangedoen het wanneer winde gunstig genoeg vir hul terugvaart was.
Seehawe van die Oos-Kaap duimnael|links|Die Victoriaanse Pearson-kweekhuis is oorspronklik in Paisley, Skotland gebou en in seksies uitmekaar gehaal vir seevervoer na Port Elizabeth duimnael|Die Britse setlaars van 1820 land in Algoabaai, deur John Thomas Baines, 1853 duimnael|Fort Frederick duimnael|'n Elektriese trem in Hoofstraat, omstreeks 1910 Gedurende die eerste Britse besetting van die Kaapkolonie tydens die Napoleontiese Oorloë is 'n steenfort in die gebied gebou wat ter ere van prins Frederick, hertog van York en Albany, Fort Frederick genoem is. Die fort is opgerig om die kusstreek teen 'n moontlike landing van Franse troepe te verdedig en het dus 'n goeie uitsig oor die plek gebied wat later as Port Elizabeth bekend sou staan. Die fort is later tot monument verklaar. Dit is die oudste klipgebou in die Oos-Kaap asook die oudste permanente struktuur wat nog bestaan. Van Lill, Dawid: Van Lill se Suid-Afrikaanse Trivia. Kaapstad: Zebra Press 2004, bl. 32
In 1804 is die nabygeleë nedersetting Uitenhage langs die Swartkopsrivier gestig. Die dorp was nie ver van die riviermonding in Algoabaai af geleë nie en het destyds deel uitgemaak van die Graaff-Reinet-distrik. In 2001 is Uitenhage saam met Gqeberha en Despatch by die nuwe Nelson Mandelabaai Munisipaliteit ingesluit.
Die plaas Strandfontein, waaruit later die voorstad Somerstrand sou ontwikkel, was tussen 1814 en 1821 in besit van die latere Voortrekkerleier Piet Retief wat in 1837 tydens onderhandelinge oor grond saam met 500 mans, vroue en kinders deur die Zoeloekoning Dingaan vermoor is. Later het Frederick Korsten, na wie die voorstad Korsten genoem is, op dié plaas geboer.
In 1820 het sowat 4 000 Britse setlaars hulle met steun van die regering van die Kaapkolonie in die gebied gevestig, Duitse immigrante het sowat drie dekades later gevolg. Die volksplanting was daarop gemik om die grensgebied tussen die kolonie en die stamland van die Xhosa te stabiliseer. Port Elizabeth is in hierdie tydperk deur Sir Rufane Shaw Donkin, die waanemende goewerneur van die Kaapkolonie, as 'n seehawe gestig en na sy vrou Elizabeth genoem wat in 1818 in Indië oorlede is. 'n Steenpiramide in die stedelike park Donkin Reserve herinner aan Elizabeth Donkin.
Van die begin af is Port Elizabeth as 'n "blanke" stad ontwikkel. So is die munisipaliteit reeds in 1847 deur die Kaapse koloniale regering aangemoedig om sogenaamde native locations (lokasies) in 'n bepaalde afstand van die middestad te vestig waar inheemse swartes gehuisves en tegelykertyd maklik beheer kon word. Na die eerste sodanige lokasie is as Native Stranger Location verwys – 'n benaming waarmee die koloniale regering net soos die munisipaliteit dit duidelik gestel het dat swartes slegs tydelik deel sou uitmaak van die stedelike bevolking. Vuyisile Msila: A Place to Live. Red Location and its history from 1903 to 2013. Stellenbosch: AFRICAN SUN MeDIA 2014, bl. 29
Die Apostoliese Vikariaat van die Kaap die Goeie Hoop is in 1847 hier gestig, en in 1861 het Port Elizabeth die status van selfregerende munisipaliteit gekry. Die nedersetting het vinnig gegroei en 'n kosmopolitiese bevolking van Europeërs, Kaapse Maleiers en ander immigrante gehuisves. Die bou van 'n spoorwegverbinding na Kimberley in 1873 het Port Elizabeth se groei verder aangewakker. Die Kaapse Regeringsspoorweë is in 1872 deur premier John Molteno gestig, en danksy die massiewe uitbreiding van die provinsiale spoorwegnetwerk in die volgende jare het Port Elizabeth se belangrikheid as seehawe vir die Kaapse binneland en handelsentrum verder toegeneem.
Teen die middel van die 19de eeu was Port Elizabeth se ekonomie op primêre nywerhede en die handelsbedryf gebaseer. So het hier onder meer wolwasserye en looierye ontstaan, terwyl in plaaslike fabrieke 'n verskeidenheid verbruiksgoedere soos kerse, vuurhoutjies, sigarette en leerware vervaardig is. Die groeiende nywerheidsektor en werksmoontlikhede het Europese immigrante net soos talle swartes na die stad gelok.
Tydens die Tweede Vryheidsoorlog was Port Elizabeth se hawe 'n belangrike vervoerpunt vir soldate, perde en materiale wat met treine na die frontlinie vervoer is. Terwyl die stad nie regstreeks deur die oorlogshandelinge geraak is nie, het baie oorlugsvlugtelinge na Port Elizabeth gestroom, waaronder Afrikanervroue en -kinders wat deur die Britse owerheid in 'n konsentrasiekamp geïnterneer is. Ná die oorlog is die Perdstandbeeld ter ere van die duisende perde en muile opgerig wat tydens die konflik gesterf het.
Tot in die 20ste eeu het Port Elizabeth 'n sterk Britse karakter gehad. So het die 4 900 Afrikaanssprekendes in die magistraatsdistrik Port Elizabeth in 1918 'n getalsminderheid teenoor tagtig persent Engelssprekende blankes gevorm. Die plaaslike bevolking was derhalwe merendeels lojaal aan die Britse Ryk. Bureau for Scientific Publications at the Foundation for Education, Science and Technology: Cultural History, jaargang 1, uitgawe 11, bl. 61
Port Elizabeth was al vroeg 'n sentrum van swart politieke bewegings en vakbonde. Die Industrial and Commercial Workers' Union of South Africa (I.C.U.), wat in 1919 deur Clements Kadalie, 'n boorling van Njassaland, met slegs 24 lede gestig is en waarvan in Februarie 1920 'n Port Elizabethse afdeling ontstaan het, het nog in dieselfde jaar 'n suksesvolle staking van ongeskoolde werkers georganiseer oor 'n loonverhoging van 6 pennies per dag. C.L.R. James: A History of Pan-African Revolt. Inleiding deur Robin D.G. Kelley. Oakland: PM Press 2012, bl. 82
Port Elizabeth in die apartheidjare duimnael|'n Historiese woonhuis in Castle Hill In die tyd van die Nasionale Party-bewind is Gqeberha ook deur die apartheidbeleid geraak. In 1962 is met die gedwonge verskuiwing van nieblanke inwoners volgens die Groepsgebiedewet en die oprigting van etniese woonbuurte begin. Die hele Suideinde-distrik, wat oorspronklik deur verskillende bevolkingsgroepe bewoon is, is in 1965 ontruim en gesloop om plek te maak vir eiendomsontwikkeling. Vir die Indiërgemeenskap is Malabar as etniese woonbuurt ontwikkel, terwyl bruin bewoners in New Brighton hervestig is. Verskuiwings het voortgeduur tot en met 1975.
Steve Biko, 'n plaaslike swart anti-apartheidaktivis, is deur veiligheidsmagte in Gqeberha ondervra en gemartel voordat hy na Pretoria geneem is waar hy gesterf het. Ander bekende slagoffers van dié tydperk sluit die sogenaamde Cradock-vier (Matthew Goniwe, Fort Calata, Sparrow Mkonto en Sicelo Mhlauli) wat in 1985 naby die stad vermoor is, en George Botha, 'n hoërskoolonderwyser, in.