duimnael|280px|’n Handgetekende geboortehoroskoop. Astrologie of sterrewiggelary is 'n reeks waarsêerypraktyke wat na bewering inligting oor menslike sake en aardse gebeure voorspel deur die bestudering van die oënskynlike posisies van hemelliggame. Dit word sedert die 18de eeu as 'n skynwetenskap beskou.* p. 811. . Verskillende kulture het reeds sedert minstens die 2de millennium v.C. vorme van astrologie beoefen; dié praktyke het hulle oorsprong in kalenderstelsels wat gebruik is om seisoenale veranderings aan te dui en om die hemelse siklusse te vertolk as tekens van goddelike kommunikasie.

Die meeste, indien nie alle nie, kulture het betekenis geheg aan wat hulle in die lug gesien het en sommige – soos die Hindoes, Chinese en Maja – het uitgebreide stelsels ontwikkel vir die voorspelling van aardse gebeure uit hemelse waarnemings. Westerse astrologie, een van die oudste astrologiese stelsels wat steeds in gebruik is, kan teruggespeur word na die Mesopotamië van die 19de-17de eeu v.C., van waar dit na antieke Griekeland versprei het en toe na Rome, die Islamitiese wêreld en uiteindelik Sentraal- en Wes-Europa. Kontemporêre Westerse astrologie word dikwels verbind met stelsels van sterrevoorspelling wat na bewering aspekte van iemand se persoonlikheid en belangrike gebeure in hulle lewe voorspel geskoei op die posisie van die hemelliggame. Die meeste professionele astroloë maak staat op sulke stelsels.

Deur die grootste deel van sy geskiedenis is astrologie beskou as 'n geleerde tradisie en was dit algemeen in akademiese kringe. Dit is soms nou verbind met astronomie, alchemie, meteorologie en medisyne. Dit was teenwoordig in politieke kringe en is genoem in verskeie letterkundige werke, van Dante Alighieri en Geoffrey Chaucer tot William Shakespeare, Lope de Vega en Calderón de la Barca.

Tydens die Verligting het astrologie egter sy status as 'n gebied van wettige geleerdheid verloor. Ná die einde van die 19de eeu en die algemene aanvaarding van die wetenskaplike metode, het navorsers begin om astrologie suksesvol te bevraagteken op beide teoretiese; en eksperimentele grondslag. Daar is bevind dit het geen wetenskaplike geldigheid of verduidelikbare mag nie. Astrologie het toe sy akademiese en teoretiese reputasie in die Westerse wêreld verloor en algemene geloof daarin het grootliks afgeneem, totdat dit sedert die 1960's weer geleidelik toegeneem het.

thumb|160px|'n Graveerwerk deur Marcantonio Raimondi, 15de eeu. Etimologie Die woord "astrologie" kom van die vroeë Latynse woord astrologia, wat weer kom van die Griekse ἀστρολογία, van ἄστρον astron ("ster") en -λογία -logia, ("studie van"). Die woord oorvleuel aansienlik met "astronomie" (wat van die Latynse astronomia af kom). Teen die 17de eeu het "astronomie", of "sterrekunde", gevestig geraak as die wetenskaplike term, met "astrologie" wat verwys na waarsêery en skemas om menslike sake te voorspel.

Geskiedenis thumb|160px|Die Sodiakman, 'n diagram van die menslike liggaam en astrologiese simbole met instruksies wat die belangrikheid van astrologie verduidelik vanuit 'n mediese perspektief. Uit 'n 15de-eeuse Walliese manuskrip.

Baie kulture het betekenis geheg aan astronomiese gebeure, en die Indiërs, Chinese en Maja het uitgebreide stelsels ontwerp om aardse gebeure te voorspel uit waarnemings van die ruimte. 'n Vorm van astrologie is beoefen in die Ou Babiloniese tydperk van Mesopotamië, omstreeks 1800 v.C. Vedāṅga Jyotiṣa is een van die eerste Hindoetekste oor astronomie en astrologie (jotisja), van so vroeg as 1400 v.C. Chinese astrologie is in die tyd van die Zhoudinastie (1046-256 v.C.) uitgebrei. Hellenistiese astrologie ná 332 v.C. het die Babiloniese en Egiptiese astrologie in Alexandrië gemeng en horoskopiese astrologie geskep. Aleksander die Grote se verowering van Asië het daartoe gelei dat astrologie na die antieke Griekeland en Rome versprei het. In Rome is astrologie verbind met "Galdese wysheid".

Ná die verowering van Alexandrië in die 7de eeu is astrologie beoefen deur Islamitiese geleerdes, en Hellenistiese geskrifte is in Arabies en Persies vertaal. In die 12de eeu is Arabiese geskrifte na Europa ingevoer en in Latyn vertaal. Belangrike astronome, insluitende Tycho Brahe, Johannes Kepler en Galileo, het as hofastroloë gedien. Astrologiese verwysings het verskyn in die werk van digters soos Dante Alighieri en Geoffrey Chaucer, en van dramaturge soos Christopher Marlowe en William Shakespeare.

Deur die grootste deel van sy geskiedenis is astrologie beskou as geleerde tradisie. Dit is aanvaar in politieke en akademiese verband en is verbind met ander studies, soos astronomie, alchemie, meteorologie en medisyne. Aan die einde van die 17de eeu het nuwe wetenskaplike begrippe in astronomie en fisika (soos heliosentrisme en Newtonse meganika) twyfel gewerp op astrologie. Astrologie het sy akademiese en teoretiese status verloor, en die geloof in astrologie het grootliks afgeneem.

Antieke wêreld Astrologie, in sy breedste sin, is die soeke na betekenis in die lug. Vroeë bewyse dat mense bewuste pogings aangewend het om seisoenale veranderings te meet, aan te teken en te voorspel met verwysings na astronomiese siklusse, verskyn as merke aan bene en grotmure, wat wys maansiklusse is al 25 000 jaar gelede aangeteken. Dit is die eerste stap na die aantekening van die maan se invloed op getye en riviere, en na die organisering van 'n gemeenskaplike kalender. Boere het landboubehoeftes opgelos met 'n groter kennis van die sterrebeelde wat in verskillende seisoene hulle verskyning gemaak het – en die opkoms van sekere stergroepe gebruik om jaarlikse vloede of seisoenale bedrywighede uit te werk.

Teen die 3de millennium v.C. het beskawings gesofistikeerde kennis gehad van hemelse siklusse, en kon hulle tempels laat oplyn het met die jaarlikse verskyning van sterre aan die horison.

Verspreide bewyse dui daarop dat die oudste bekende astrologiese verwysings afskrifte is van geskrifte wat in die antieke wêreld geskep is. Die Venustablet van Ammisaduqa is vermoedelik omstreeks 1700 v.C. in Babilon saamgestel.Russell Hobson, The Exact Transmission of Texts in the First Millennium B.C.E., Published PhD Thesis. Department of Hebrew, Biblical and Jewish Studies. University of Sydney. 2009 PDF File

Die oudste onbetwiste bewys van die gebruik van astrologie as 'n integrale kennisstelsel word toegeskryf aan die rekords van die eerste dinastie van Mesopotamië (1950-1651 v.C.). Dié astrologie toon 'n paar ooreenkomste met Hellenistiese Griekse (Westerse) astrologie, insluitende die diereriem, planetêre verheffings en die dodekatemoria (die 12 verdelings van 30 grade elk). Die Babiloniërs het hemelse gebeure beskou as moontlike tekens, eerder as oorsake van fisieke gebeure.

Die stelsel van Chinese astrologie is tydens die Zhoudinastie (1046-256 v.C.) uitgebrei en het in die tyd van die Handinastie (2de eeu v.C. tot die 2de eeu n.C.) floreer. In dié tyd is al die bekende elemente van die tradisionele Chinese kultuur – die Jin-Jang-filosofie, die teorie van die vyf elemente Hemel en Aarde, Confuciaanse sterflikheid – saamgevoeg om die filosofiese beginsels van die Chinese medisyne en waarsêery, astrologie en alchemie te formaliseer.

Die antieke Arabiere wat die Arabiese Skiereiland betrek het voor die opkoms van Islam, het algemeen in fatalisme (ḳadar) geglo en die hemel en sterre met ontsag bejeën: Hulle het geglo dit is uiteindelik verantwoordelik vir elke verskynsel op aarde en die lot van die mensheid. Hulle het hulle hele lewe georden volgens hulle vertolking van sterrekundige verskynsels.

Antieke besware thumb|180px|Die Romeinse redenaar Cicero het beswaar gemaak teen astrologie.

Die Hellenistiese skole van filosofiese skeptisisme het die rasionaliteit van astrologie gekritiseer. Onder die skeptici het Cicero, Carneades, Favorinus en Sextus Empiricus getel.

Carneades het geredeneer 'n geloof in die noodlot ontken vrye wil en sterflikheid; dat mense wat op verskillende tye gebore is, almal saam in 'n ongeluk of geveg kan omkom; en dat stamme en kulture almal verskil, ondanks die eenvormige invloed van die sterre.

Cicero het in De Divinatione kritiek op astrologie gelewer wat volgens sommige moderne filosowe die eerste werkende definisie van skynwetenskap en die antwoord op die vraag van grensafbakening was. Die Italiaans-Amerikaanse filosoof Massimo Pigliucci meen Cicero het die buitelyne verskaf van 'n "oortuigende verskil tussen astrologie en astronomie wat in die 21ste eeu steeds geldig is". Cicero het tweelinge as voorbeeld gebruik: dat hulle lot heel verskillend kan wees, al is hulle kort ná mekaar gebore. Dié idee is later deur Augustinus verder ontwikkel. Hy het gereken omdat die ander planete verder van die aarde af is as die maan, sal hulle net 'n geringe invloed hê in vergelyking met die maan. Hy het ook geredeneer dat as astrologie alles oor 'n mens se lot bepaal, dit verkeerdelik die sigbare invloed ignoreer van oorerflikheid en opvoeding, veranderings in gesondheid vanweë medisyne of die uitwerking van die weer op mense.

Favorinus het gesê dit is absurd om te dink die sterre en planete kan die menslike liggaam dieselfde beïnvloed as wat hulle die getye beïnvloed, en net so absurd dat klein bewegings in die lug groot veranderings in iemand se lot kan teweegbring.

Sextus Empiricus het geredeneer dit is belaglik om menslike eienskappe te verbind met mites oor die tekens van die diereriem. Hy het 'n hele boek (Πρὸς ἀστρολόγους Pros astrologous, "Teen die Astroloë") saamgestel met argumente teen astrologie. Dit was die vyfde deel van 'n groter werk teen filosofie en wetenskap in die algemeen (Πρὸς μαθηματικούς Pros mathematikous, "Teen die Professore").

Hellenistiese Egipte thumb|180px|links|'n Afskrif van 1484 van die eerste bladsy van Ptolemeus se Tetrabiblos, wat deur Plato van Tivoli in Latyn vertaal is. In 525 v.C. het die Perse Egipte verower. Die Egiptiese Dendera-diereriem van die 1ste eeu v.C. deel twee tekens – die Balans en die Skerpioen – met Mesopotamiese astrologie.

Toe Aleksander die Grote Egipte in 332 v.C. verower, het Egipte Hellenisties geword. Aleksander het ná die verowering die stad Alexandrië gestig, en hier is Babiloniese astrologie vermeng met die Egiptiese Dekadiese astrologie om die horoskopiese astrologie te vorm. Dit het die Babiloniese diereriem bevat met sy stelsel van planetêre verheffings, die drievoudigheid van die tekens en die belangrikheid van eklipse.

Dit het die Egiptiese begrip gebruik om die diereriem in 36 "dekades" van 10 grade elk te verdeel, met 'n klem op die opkomende dekade, en die Griekse stelsel van planetêre gode, die heerskappy van die tekens en die vier elemente. In die 2de eeu v.C. het Egiptiese geskrifte die posisies van die planete in diereriemtekens voorspel met die tyd van sekere opkomende dekades.

Die astroloog en sterrekundige Ptolemeus het in Alexandrië gewoon. Sy werk die Tetrabiblos het die basis van die Westerse astrologie gevorm en "...het duisend jaar of langer feitlik die gesag van 'n Bybel onder astrologiese skrywers geniet".

Griekeland en Rome Die verowering van Asië deur Aleksander die Grote het die Grieke blootgestel aan idees van Sirië, Babilon, Persië en Sentraal-Asië.Campion, 2008. p. 173. Omstreeks 280 v.C. het Berossus, 'n priester van Bel van Babilon na die Griekse eiland Kos verhuis, waar hy astrologie en Babiloniese kultuur onderrig het.Campion, 2008. p. 84. Teen die 1ste eeu v.C. was daar twee weergawes van astrologie: een wat die horoskoop gebruik het om die verlede, teenswoordige en toekoms te beskryf, en een wat klem gelê het op die opstyging van die siel na die sterre.Campion, 2008. pp. 173–174. Die Griekse invloed het 'n groot rol gespeel om astrologiese teorie aan Rome oor te dra.Barton, 1994. p. 32.