Pretoria (Suid-Ndebele: iPitori) is (as die administratiewe hoofstad) een van die drie hoofstede van die Republiek van Suid-Afrika en is geleë in die provinsie Gauteng, ongeveer 50 km noord van Johannesburg. Die stadsgebied word van wes na oos deur die Magaliesberg en Witwaterberge oorgesteek, wat in die ooste met die Bronberg ten einde loop. Verskillende forte op hierdie rante dateer van die aanloop tot die Tweede Vryheidsoorlog. Die Fonteinedal aan die boloop van die Apiesrivier was die ligging van die vroegste plaaslike pionierswoning.

duimnael|links|Pretoria se stadshorison Pretoria is op 16 November 1855 Allen, Vivien, Kruger's Pretoria, A.A. Balkema Publishers, Kaapstad, 1971, bl. 2. deur die Voortrekkers gestig en het in 1860 die hoofstad van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR, oftewel Transvaal) geword en in 1910 ook die nuutgestigte Unie van Suid-Afrika se uitvoerende hoofstad. Kaapstad is sedert 1910 die wetgewende hoofstad en Bloemfontein die geregtelike hoofstad.

In vergelyking met die naburige Johannesburg het Pretoria, wat eers in 1931 stadstatus verkry het, teen 'n stadiger tempo gegroei. Eers toe die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, het Pretoria gaandeweg in belangrikheid toegeneem. Die stad dien tans oorwegend as 'n administratiewe sentrum, en die plaaslike dienstesektor verskaf die meeste werkgeleenthede. Nogtans beskik Pretoria oor 'n nywerheidsbasis, wat veral op die yster- en staalbedryf, asook motorvervaardiging steun, en dien daarnaas as 'n spoorwegsentrum.

Pretoria se tersiêre opvoedingsinstellings sluit die Universiteit van Suid-Afrika (gestig in 1873 en tans een van die vernaamste instellings ter wêreld vir afstandsonderwys), die Universiteit van Pretoria (gestig in 1908) en die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie in.

Sedert 2000 vorm Pretoria deel van die Stad Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit. Op 7 Maart 2005 het die Stad Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit onder gesag van die ANC in 'n vergadering besluit om die Stad Tshwane formeel as 'n geografiese pleknaam te registreer op die databasis van die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad (SAGNR) in terme van die SAGNR Wet 118 van 1998. Sedertdien was die vorige Tshwane metroraad in 'n omstrede proses betrokke om Tshwane as die amptelike en enigste naam van die stad te vestig. Pretoria name change is approved Beeld, 21 Februarie 2012 In Augustus 2007 het die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad egter bevestig dat Pretoria se naam nie verander sal word nie. Tot in 2024 is die stad se amptelike naam nie verander nie en dit blyk nou al meer onwaarskynlik dat dit hoegenaamd nog sal gebeur.

Etimologie In 1855 is Pretoria gestig deur Marthinus Pretorius, 'n Voortrekkerleier, en hy het dit na sy vader, Andries Pretorius, genoem. Ander name was Pretoria Philadelphia, Pretorium en Pretoriusdorp.

Geografie duimnael|links|Pretoria word deur die Magaliesbergreeks deurkruis duimnael|links|Die sakekern van Pretoria soos van Fort Wonderboompoort af gesien duimnael|links|Uitsig vanaf Klapperkop na die SABS-kantore, die koshuise van Tuks se Groenkloofkampus, die Lukasrandtoring en die middestad van Pretoria Pretoria is in die noordooste van die provinsie Gauteng geleë, sowat 56 km noord van Johannesburg en 260 km wes van Nelspruit af. Pretoria lê 1 339 meter Elevation Finder – freemaptools.com, Hoogte bo seevlak aangedui: Stadsaal van Pretoria, 27 Junie 2014 bo seevlak in 'n warm, beskermde en vrugbare vallei wat deur die berge van die Magaliesbergreeks omring word. Pretoria is 'n baie aangename en kosmopolitiese stad, geleë in die oorgangsgebied tussen die Hoëveld- en die Bosveld-gebiede. As gevolg van sy ligging het Pretoria 'n besonder ryk voëllewe.

Klimaat Pretoria het 'n subtropiese klimaat met warm, vogtige somers en gematigde, droë winters. Daar word 'n gemiddelde 300 sonskyndae per jaar in Pretoria aangeteken.

Administratiewe stadsgebied Die Metropolitaanse Munisipaliteit Stad Tshwane, wat op 5 Desember 2000 gestig is, het 'n oppervlakte van 2 199 vierkante kilometer en sluit naas Pretoria ook talle dorpe in sy metropolitaanse gebied in, waaronder Centurion (vroeër Verwoerdburg), Akasia, Soshanguve, Mabopane, Atteridgeville, Ga-Rankuwa, Winterveld, Hammanskraal, Temba, Pienaarsrivier, Krokodilrivier en Mamelodi.

Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|links|Pretoria se Kerkstraat in 1881 duimnael|'n Standbeeld van Andries Pretorius voor die Stadsaal van Pretoria Die eerste setlaars in die gebied van die huidige Pretoria was lede van die Nguni-stam, wat later as Ndebele (letterlik "vlugtelinge") of Matabele bekend gestaan het. Enkele honderd jaar lank het hulle die vrugbare Apiesrivierstreek as veetelers bewoon voordat Zoeloe-krygers met hul aanvalle in die vroeë 19de eeu verwoesting in die gebied gesaai het. Baie Nguni is in dié aanvalle dood, terwyl die oorlewendes noordwaarts gevlug en hulle in die gebied van die huidige Zimbabwe gevestig het. Die streek was vervolgens tydelik onbewoon. James Bainbridge: South Africa, Lesotho & Swaziland. E-boek-uitgawe. Lonely Planet Publications 2009, bl. 425

Volgens historiese dokumente het Voortrekkergesinne soos die Van der Walts, Prinsloos en Bronkhorsts hulle in die periode tussen 1832 en 1842 in die Fonteinedal gevestig – gelyktydig het ook die eerste Tswana-setlaars na die Pretoriagebied gekom. Eastern Nuus/News, Desember 2005: Fonteinedal bears the first white settlers Besoek op 19 Junie 2008 Die broers Lucas en Gert Bronkhorst was die eerste boere in die gebied wat op die plase Groenkloof en Elandspoort geboer het. Die eerste huis in die gebied is deur J.G.S. Bronkhorst in 1840 in die Fonteinedal opgerig.

'n Aantal Afrikanergesinne het hulle rondom die nabygeleë dorp Elandspoort gevestig. Die plaaslike bewoners het hul dorp in 1854, twee jaar nadat die Sandrivierkonvensie die onafhanklikheid van die gebied noord van die Vaalrivier bevestig het, tot kerkplaas van Sentraal-Transvaal laat verklaar. Elandspoort het sodoende 'n belangrike plek vir nagmale, dope en huwelike geword. Die Voortrekkerleier kommandant-generaal Marthinus Wessel Pretorius het land in die Apiesriviervallei aangekoop wat daarna deur die regering van die ZAR oorgeneem is, met die voorneme om hier 'n permanente gebou vir die Boererepubliek se Volksraad te vestig; dit was immers reeds voorspelbaar dat hier 'n beduidende nedersetting sou ontstaan.

Pretoria is in 1855 deur M. W. Pretorius amptelik as Pretoria Philadelphia ("Die Broederskap van Pretoria") gestig en na sy vader Andries Pretorius genoem, wat ná sy oorwinning oor die Zoeloes in die Slag van Bloedrivier as 'n volksheld vereer is. Andries Pretorius het ook 'n belangrike rol by die onderhandelinge met Groot-Brittanje gespeel, wat in 1852 met die ooreenkoms van Sandrivier tot die onafhanklikheid van Transvaal onder die nuwe naam Zuid-Afrikaansche Republiek gelei het.

Die dorp het destyds uit sowat tagtig huise met 'n bevolking van 300 bestaan. In 1856 het 'n raadgewer van die president, Andries du Toit, een van sy Basotho-ponies teen die hele gebied van die huidige voorstad Arcadia geruil. Vir die volgende twee jaar was hy besig met die opmeting van sy besit. Die gebied is deur Stephanus Meintjies ontwikkel, en 'n nabygeleë koppie, Meintjieskop, is na hom vernoem. Die destydse dorpsgebied het van Potgieterstraat in die weste tot by Prinsloostraat in die ooste en van Boomstraat in die noorde tot by Scheidingstraat in die suide gestrek.

Hoofstad van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) duimnael|links|Pretoria se Kerkstraat, 1890's duimnael|Melrose-huis net oorkant Burgerspark duimnael|Die Stadsaal is in 1935 ingewy – vier jaar nadat Pretoria stadstatus verwerf het Pretoria het op 1 Mei 1860 die hoofstad van die ZAR geword en is tydens die Eerste Vryheidsoorlog tussen Desember 1880 en Maart 1881 deur Britse troepe beleër.

George Heys, 'n boorling van Durban en geesdriftige sakeman wat hom in 1879 in Pretoria gevestig het, het in 1882 sy koetsvoerdiens Express Saloon Coach Service gestig. Die koetse het van Kerkplein op drie hoofroetes na Kimberley, Barberton en Pietersburg vertrek. Die Abbot-Downing-koetse, wat Heys ingespan het, was handgemaak en is van New Hampshire in die Verenigde State ingevoer. Destyds is die koetse, waarvan elkeen agtien tot twintig passasiers en tot drie en 'n halwe ton posstukke kon vervoer, deur feitlik alle belangrike koetsmaatskappye gebruik. McDonald, Elsa: Victoriaanse ondernemerskap. In: Suid-Afrikaanse Panorama, volume 32, nommer 6 (Junie 1987), bl. 35

Die kaartjie vir 'n koetsreis was allesbehalwe goedkoop – die span van tien perde moes elke tien tot vyftien myl vervang word. Die reis tussen Pretoria en Johannesburg het destyds ongeveer vyf uur geduur – mits die koets nie in die Sesmylspruit of die Jukskeirivier vasgeval het nie. Mc Donald (1987), bl. 36 George Heys se vervoersaak het ook 'n kontrak met die posmeester-generaal van die ZAR, Nicolaas van Alphen, gehad, maar dit het met die aankoms van die eerste trein uit Kaapstad op Pretoria se stasie ten einde geloop. Heys was nogtans 'n welgestelde man en het in 1884 besluit om 'n statige herehuis, Melrose Villa (wat later Melrose-Huis genoem is), in Maréstraat (later Jacob Maréstraat) vir homself en sy gesin te laat bou. Planne vir die spoghuis is opgetrek deur die Londense argitek W.T. Vale. Die Heys-gesin het sy intrek in 1887 geneem en drie jaar later is die villa nog eens vergroot. George Heys is in 1939 tydens 'n besoek aan Engeland oorlede, Artefacts.co.za: House George Heys, Melrose House. Besoek op 20 Junie 2017 maar sy afstammelinge het nog tot in 1967 hier gewoon. Die herehuis is daarna aan die Pretoriase stadsraad verkoop wat dit gerestoureer en as museum vir die publiek oopgestel het.

Die Tweede Vryheidsoorlog, wat van 1899 tot 1902 tussen die Boererepublieke en die Verenigde Koninkryk gewoed het, het tot die ondergang van die ZAR gelei en 'n tydperk van Britse oorheersing in Suid-Afrika ingelui. Pretoria het op 5 Junie 1900 gekapituleer en is vervolgens deur troepe onder die bevel van lord Frederick Sleigh Roberts ingeneem. Lord Roberts het van die Sikhs, wat hom op sy veldtogte in Indië bygestaan het, saamgebring na Pretoria en in Melrose-huis ingetrek. Die huis het ook die hoofkwartier van die Britse leër in die stad geword, terwyl die half voltooide Paleis van Justisie in 'n militêre hospitaal vir gewonde soldate omgeskep is. Met die ondertekening van die Vredesooreenkoms van Vereeniging in die eetkamer van Melrose-huis is die oorlog kort voor middernag op 31 Mei 1902 in Pretoria amptelik beëindig.

George Heys het saam met sy vriende, waaronder die sakelui Edmund en George Bourke, 'n baie belangrike rol in die ekonomiese, professionele, politieke en sosiale lewe van Pretoria gespeel. McDonald (1987), bl. 37 Almal het goeie betrekkinge met president Paul Kruger gehandhaaf en talle liefdadige geskenke aan die stad gemaak, waaronder 'n verpleeginrigting vir gewonde soldate in 'n klein gebou langs die Staats Model School in Van der Walt Straat (1899), die kerksaal van die Metodiste-kerk in Sunnyside en die klokkespel in die stadhuis in Paul Krugerstraat.

Hoofstad van Suid-Afrika duimnael|Wesvleuel van die Uniegebou duimnael|Setels in die stadsraad ná die 2016-verkiesing Die Afrikanerrepublieke ZAR en Oranje-Vrystaat is met die Kaapkolonie en Natal in 1910 verenig in die Unie van Suid-Afrika, met Pretoria as sy administratiewe hoofstad (terwyl Kaapstad die parlementêre en wetgewende hoofstad geword het). In die tydperk tussen 1860 en 1994 het Pretoria ook as die setel van die provinsiale regering van Transvaal gedien.