Die Namibiese nasionale rugbyspan is die nasionale rugbyspan wat Namibië in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Namibië geadministreer deur die Namibiese Rugbyunie (NRU) wat in 1990 gestig is. Hulle dra die bynaam Welwitschias, genoem na die Welwitschia. Namibië word deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Die Namibiese rugbyspan is tans (November 2025) 27ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Die span word as die naasbeste Afrikarugbyspan ná die Suid-Afrikaanse Springbokke beskou.
Rugby in Namibië dateer uit die Suid-Afrikaanse besetting van die destydse Suidwes-Afrika en word sedertdien sterk deur dié suidelike buurland beïnvloed. Van 1954 af het die Suidwes-Afrikaanse keurspan deelgeneem aan die Suid-Afrikaanse Curriebeker en sedert 1955 het hulle in die hoofstad Windhoek ook nasionale spanne verwelkom, wat Suid-Afrika besoek het. In 1990 het hulle kort ná die Republiek van Namibië se onafhanklikwording in 1990 in hul eerste toetswedstryd gespeel. Namibië het tot dusver vir sewe van die elf rugbywêreldbekertoernooie gekwalifiseer, maar hulle is elke keer in die eerste rondte uitgeskakel. Hulle het tydens die Afrikabeker nege titels ingepalm, drie keer as naaswenner en een keer in die derde plek geëindig. Die Namibiese span speel tradisioneel in donkerblou truie met wit broeke en helderblou sokkies.
Beheerliggaam
Die beheerliggaam vir rugby in Namibië is die Namibiese Rugbyunie (NRU). Die Namibiese Rugbyunie is in 1990 as opvolger van die plaaslike beheerliggaam Suidwes-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie gestig en het in dieselfde jaar ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens het die Namibiese Rugbyunie ook in 1990 by die vier jaar vroeër gestigte Konfederasie van Afrikarugby (Engels: Confederation of African Rugby; Frans: Confédération africaine de rugby; nou Rugby Afrika, RA) aangesluit. Sedert Augustus 2018 word rugby as een van Namibië se nasionale sportsoorte erken. Cabinet approves categorisation of sports codes. Namibia Press Agency, 2 Augustus 2018.
Die hoogste rugbyliga in Namibië is die Rugbypremierliga (RPL) met agt spanne. Die meeste spelers van die Namibiese nasionale span speel in dié liga. Van die ander spelers is veral in Suid-Afrika of Frankryk op professionele vlak aktief.
Naas die amptelike nasionale span roep die Namibiese Rugbyunie ook ander keurspanne byeen. Net soos ander rugbylande beskik Namibië oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.
Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby In die kolonie Duits-Suidwes-Afrika was rugby heeltemal onbekend. Ná die Duitse beskermingsmag se oorgawe in Julie 1915 het die Unie van Suid-Afrika beheer oorgeneem, van 1919 af as ’n Volkebondmandaat. Nog tydens die Suidwes-Afrika-veldtog het in 1916 in die hoofstad Windhoek nege Suid-Afrikaners byeengekom om ’n plaaslike beheerliggaam te stig, die “Damaraland Rugbyvoetbalunie”. In dieselfde jaar is die eerste klub gestig en die eerste bekende wedstryd gereël, wat vanweë die tekort aan rugbyballe met ’n sokkerbal gespeel moes word. Die eerste bekende rugbyveld was geleë tussen die treinstasie en die Kaiserstraße (nou die Independence Avenue). Die plaaslike beheerliggaam was ondergeskik aan die Suid-Afrikaanse Rugbyraad, die huidige Suid-Afrikaanse Rugbyunie se voorloper.
In 1925, 1929 en 1951 het ’n deur die Damaraland Rugbyvoetbalunie saamgestelde span deur die eintlike Suid-Afrika getoer. In 1938 het die Universiteit van Kaapstad se Ikeys die eerste Suid-Afrikaanse span geword wat na Windhoek gereis het. In 1952 is die plaaslike beheerliggaam in Suidwes-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie (SWARVU) hernoem en het in dieselfde jaar nog ’n toer na Suid-Afrika gereël. Destyds was daar in die hele Suidwes-Afrika geen egte rugbyveld met ’n grasperk nie. Dit het in 1954 verander, toe Windhoek se stadsraad ’n ooreenstemmende area beskikbaar gestel het. Ook in 1954 het SWARVU se keurspan aan die Suid-Afrikaanse Curriebekertoernooi begin deelneem. Hierdie integrasie in die nasionale speelprogram het daartoe gelei dat Suidwes-Afrika nou ook vir buitelandse spanne as ’n teenstander interessant geword het. Die eerste “toetswedstryd” is op 5 Julie 1955 gespeel, toe die Britse Leeus tydens hul 1955-toer na Suid-Afrika vir 24 wedstryde ook Windhoek besoek het. Die vier Britse Tuislande se keurspan het voor ’n gehoor van sowat 5 000 met 9–0 geseëvier. Daarna het gereelde toere nie net deur die Leeus plaasgevind nie, maar ook deur Australië, Frankryk, Nieu-Seeland en Rhodesië. Die noemenswaardigste uitslae was twee gelykopwedstryde: ’n 14–14 teen die Australiërs op 27 Julie 1961 en ’n 13–13 teen die Franse op 7 Junie 1975.
Apartheidstydperk Ná Suid-Afrika se Republiekwording in 1961 het dit die destydse Suidwes-Afrika as ’n integrale deel van sy staatsgebied begin beskou. Vervolgens het die Verenigde Nasies Suid-Afrika van sy mandaat ontneem, wat die regering egter geïgnoreer het. Met die de facto-anneksasie is die rassistiese apartheidswette, waarvolgens die Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe in “blanke” en “nieblanke” (onder die wetgewing gedefinieer as “swart”, “bruin” of “Indiërs”) geskei is, ook in Suidwes-Afrika geïmplementeer. Daardeur is “nieblankes” van amper al die sport uitgesluit. ’n Jaar vroeër het die Volksbevrydingsleër van Namibië, ’n gewapende tak van die SWAPO, die Namibiese Onafhanklikheidsoorlog begin. Suidwes-Afrikaanse rebelle het die boikot van die apartheidsregime verwelkom en protesbewegings in ander lande ondersteun. Die ondertekening van die Gleneagles-ooreenkoms deur 33 lidlande van die Britse Statebond op 15 Junie 1977 het Suid-Afrika se sportiewe isolasie verder verskerp. As gevolg van die ooreenkoms is die land ten einde van stappe teen die apartheidspolitiek stelselmatig van die Britse Statebond se sportwêreld geïsoleer. In die ooreenkoms is ook voorsiening gemaak vir sanksies teen lidlande wat die ooreenkoms sou oortree, en instellings wat bewysbaar die Suid-Afrikaanse rasseskeiding ondersteun het, is uit al die internasionale sport uitgesluit. SAIRV: A Survey of Race Relations in South Africa 1977. Johannesburg 1978, bl. 563–564.
Aangesien Namibië destyds as ’t ware as vyfde Suid-Afrikaanse provinsie bestuur is, is die plaaslike rugby ook geraak. Van 1977 af het Suidwes-Afrika geen internasionale span meer gehuisves nie. Die SWARVU kon slegs twee keurspanne na Suid-Amerikaanse lande stuur. Die eerste het in 1983 na Chili en Uruguay gegaan (’n nederlaag en oorwinning elk), die tweede in 1988 na Chili en Paraguay (twee oorwinnings). Destyds het Suidwes-Afrika in die Curriebeker oorwegend aan die tweede of derde afdeling deelgeneem. In 1987 het hulle met ’n 24–12-oorwinning oor Wes-Transvaal in die eindstryd die eerste afdeling gehaal. Aan die einde van die daaropvolgende 1988-seisoen het Suidwes-Afrika na Noord-Transvaal en die Westelike Provinsie in die derde plek geëindig, hul beste prestasie in dié tyd. Ná die einde van die 1989-seisoen, wat Suidwes-Afrika in die sesde plek afgesluit het, het die SWARVU sy span uit die toernooi onttrek. Hulle het die onsekerheid omtrent die komende Namibiese onafhanklikheid aangevoer.
Ná onafhanklikheidwording Met die inwerkingtreding van die grondwet het die Republiek van Namibië op 21 Maart 1990 ’n onafhanklike land geword. Op dieselfde dag het die nuwe nasionale beheerliggaam Namibiese Rugbyunie (NRU) die SWARVU opgevolg en dadelik by beide die vastelandse beheerliggaam Konfederasie van Afrikarugby (Engels: Confederation of African Rugby; Frans: Confédération africaine de rugby; nou Rugby Afrika, RA) en die wêreldbeheerliggaam Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) aangesluit. Ook op die onafhanklikheidsdag is in Windhoek die eerste toetswedstryd aangebied, wat die Namibiërs teen Zimbabwe met 33–18 gewen het. Dit was egter te laat om aan die kwalifisering vir die Rugbywêreldbeker 1991 deel te neem. Die beheerliggaam het egter daarin geslaag om ’n aantal noemenswaardige teenstanders na Namibië te nooi, aangesien die span, wat in die seisoen tevore aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem het, nog grootliks bestaan het. In Junie 1990 het Wallis Namibië besoek en twee naelskraapse oorwinnings aangeteken. Die Namibiërs se eerste wegwedstryd in Mei 1991 teen Portugal het in ’n 34–12-oorwinning geëindig. In Junie 1991 het Italië in voorbereiding op die Rugbywêreldbeker 1991 ook Namibië besoek, waarby die gasheer albei toetswedstryde kon wen. Aangesien die Italianers as baie sterker geag is, was dit ’n verrassende uitslag. Die Namibiërs het ’n maand later ’n groter verrassing behaal, toe hulle Ierland in twee toetswedstryde verslaan het.
In Junie 1993 het Namibië weer Wallis verwelkom, maar ná die uittrede van ’n aantal sleutelspelers uit die Curriebekertydperk of hul oproep deur finansieel sterk Engelse Rugby League-spanne was die Namibiese nasionale span vir Europese spanne nie meer interessant genoeg nie of moes teen minder belangrike teenstanders speel. Van Julie 1993 af het die Namibiërs vir die eerste keer aan die rugbywêreldbekerkwalifisering deelgeneem. Met maklike oorwinnings oor Arabië, Kenia en Zimbabwe het hulle die eerste rondte in Nairobi in die eerste plek afgesluit. Tydens die tweede rondte, wat in Julie 1994 in Casablanca aangebied is, het hulle Zimbabwe weer verslaan, maar hulle het teen die Ivoorkus naelskraap met 12–13 verloor en teen die gasheer Marokko met 16–16 gelykop gespeel. Hulle het in die tweede plek geëindig en sodoende die Rugbywêreldbeker 1995 misgeloop. In 1996 het hulle nie in ’n enkele toetswedstryd gespeel nie, in 1997 slegs in twee (waaronder ’n tuiswedstryd teen die deur Afrika toerende Tongaanse span).
In April 1998 het Namibië in die derde rondte van die rugbywêreldbekerkwalifisering begin. Op ’n 17–20-wegnederlaag teen Tunisië het ’n 32–26-tuisoorwinning oor Zimbabwe gevolg. Al die drie betrokke spanne het aan die einde ’n nederlaag en ’n oorwinning elk aangeteken, met Zimbabwe in die eerste plek en Namibië in die tweede plek wat weens hul beter punteverskil die vierde rondte gehaal het, terwyl Tunisië uitgeskakel is. In September 1998 het Namibië met oorwinnings oor Ivoorkus, Marokko en Zimbabwe in die Marokkaanse hoofstad Rabat vir die Rugbywêreldbeker 1999 gekwalifiseer. Dit het egter aanvanklik gelyk of hul deelname aan die rugbywêreldbekertoernooi in gedrang was, aangesien die Namibiese regering se sportkommissie die nasionale span se deelname aan die opwarmingstoernooi in Suid-Afrika verbied en gedreig het om sy geskiktheid vir die rugbywêreldbekertoernooi te herroep. Dit het gevolg op kritiek deur “nieblanke” rugbyklubs, waarvolgens die NRU rassistiese neigings getoon het. Ná ’n versekering deur die beheerliggaam kon die nasionale span eindelik deelneem aan die Rugbywêreldbeker 1999, wat deur die destydse Vyfnasies aangebied is. Hulle het egter teen Fidji (met 18–67), Frankryk (met 13–47) en Kanada (met 11–72) swak verloor. Die enigste troosprys tydens die toernooi was ’n vroeë drie teen Frankryk, waardeur die wedstryd tot in die 27ste minuut gelykop was.
In die nuwe millennium