Die Ivoriaanse nasionale rugbyspan (Frans: Équipe de Côte d'Ivoire de rugby à XV) is die nasionale rugbyspan wat Ivoorkus (Côte d’Ivoire) in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Hulle dra die bynaam Les Éléphants (“die olifante”), genoem na die Afrika-olifant (Loxodonta africana), Ivoorkus se wapendier. Rugby word in Ivoorkus geadministreer deur die Ivoriaanse Rugbyfederasie (Fédération ivoirienne de rugby, FIR) wat in 1961 gestig is. Ivoorkus word deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Ivoriaanse rugbyspan is tans (Junie 2026) 69ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Saam met Kenia en Zimbabwe is Ivoorkus tradisioneel een van die sterker nasionale Afrikarugbyspanne na die Suid-Afrikaanse Springbokke en die Namibiese Welwitschias.
Rugby in Ivoorkus dateer uit die Franse koloniale tydperk en word sedertdien sterk deur die voormalige koloniale mag beïnvloed. Ivoorkus het in 1990 sy eerste toetswedstryd teen Zimbabwe gespeel. Die span het tydens die Afrikabeker nog geen titel ingepalm nie en een keer in die vierde plek geëindig. Hulle kon vir een rugbywêreldbekertoernooi kwalifiseer, maar hulle het tydens die 1995-toernooi al hul groepwedstryde verloor. Die Ivoriaanse span speel tradisioneel in oranje truie met wit broeke en groen sokkies – wat aan die kleure van die vlag van Ivoorkus ontleen is.
Beheerliggaam
Die beheerliggaam vir rugby in Ivoorkus is die Ivoriaanse Rugbyfederasie (Frans: Fédération ivoirienne de rugby, FIR). Die FIR is in 1961 gestig en het in 1988 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die Ivoriaanse Rugbyfederasie ’n stigterslid van die Konfederasie van Afrikarugby (Engels: Confederation of African Rugby; Frans: Confédération africaine de rugby; nou Rugby Afrika, RA) wat in 1986 in Tunis deur agt beheerliggame gestig is.
Die Nasionale Rugbykampioenskap in Ivoorkus (Championnat National de Rugby a XV) word in twee afdelings tussen altesaam 20 spanne met promosie en relegasie beslis. Die eerste afdeling Ivoorse Rugbyliga (Ligue ivoire rugby, LIR) word tussen agt spanne beslis en die tweede afdeling Rugbyskool (École de rugby) tussen twaalf spanne. Die meeste spelers van die Ivoriaanse nasionale span speel in dié liga. Van die ander spelers is veral in Frankryk op professionele vlak aktief.
Naas die amptelike nasionale span roep die Ivoriaanse Rugbyfederasie ook ander keurspanne byeen. Net soos ander rugbylande beskik Ivoorkus oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.
Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby Aan die begin van die 20ste eeu het Franse setlaars rugby na die destydse kolonie Frans-Wes-Afrika saamgebring. Die eerste gedokumenteerde wedstryd is net ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog beslis en in 1946 deur Mme André Benois tussen setlaars gereël. Vir die wedstryd is ’n geïmproviseerde bal, gemaak uit die buis van ’n motorband, gebruik. Franse skoolmeesters, wat in die land gewerk het, het die sport verder ontwikkel. As ’n voormalige Franse kolonie is die ontwikkeling van die spel veral deur Frankryk beïnvloed en talle spelers soos Max Brito het daar gespeel. Hoewel die Ivooriaanse rugby se oorspronge dateer uit die 1960’s en vroeër, het dié sport eers in die 1980’s ’n aansienlike ontwikkeling ondergaan, nadat die Franse amptenaar Jean-François Turon die sport by die Universiteit van Abidjan gevestig het. Hierby is hy ondersteun deur François Dali, wat as “vader van Ivooriaanse rugby” beskou word; sy seun Athanase Dali was in die 1990’s kaptein van die nasionale span.
Die Ivoriaanse Rugbyfederasie (Fédération Ivoirienne de Rugby, FIR) is in 1961 gestig. In 1978 het hulle by die Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE) aangesluit en was tot in 1999 ’n lid, toe dié vastelandse beheerliggaam hom op Europa toegespits het. In Januarie 1986 was die Ivoriaanse beheerliggaam in Tunis een van die stigterslede van die vastelandse beheerliggaam Konfederasie van Afrikarugby (Engels: Confederation of African Rugby; Frans: Confédération africaine de rugby; nou Rugby Afrika, RA). Die ander stigterslede was Kenia, Madagaskar, Marokko, Senegal, Seychelle, Tanzanië en Tunisië. In dieselfde jaar het Ivoriaanse verteenwoordigers aan die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) se eeufees deelgeneem. In 1985 het die IRVR, wat destyds baie eksklusief was en slegs agt lede gehad het, op die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi besluit. Vir die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die IRVR nege spanne vir deelname genooi, maar Ivoorkus het geen uitnodiging ontvang nie. In 1988 het die Ivoriaanse Rugbyfederasie by die IRVR aangesluit. Tydens die Rugbywêreldbeker 1991-kwalifisering het Ivoorkus sy eerste toetswedstryd gespeel teen Zimbabwe, maar hulle is met 9–22 verslaan. Nadat hulle ook in die ander twee wedstryde deur Tunisië en Marokko geklop is, het hulle die hooftoernooi misgeloop.
Eerste rugbywêreldbekerdeelname Tydens die Rugbywêreldbeker 1995-Afrikakwalifisering se eerste rondte kon die Ivoriane beide Tunisië (met 19–16) en Marokko (met 15–3) klop, waarmee hulle die tweede rondte gehaal het. Daar het die span met ’n nederlaag teen Marokko (met 9–17) asook oorwinnings oor Namibië (met 13–12) en Zimbabwe (met 17–10) weggestap. Die gunsteling Namibië het vir die wedstryd teen Ivoorkus sleutelspelers laat rus en die prys daarvoor betaal. Ná twee oorwinnings het Ivoorkus vir die eerste keer die hooftoernooi gehaal. Daarmee was hulle die eerste Franstalige Afrikaland en ook die eerste buite die Suid-Afrikaanse invloedsfeer wat vir dié toernooi kon kwalifiseer. Aangesien die span in teenstelling met dié van Suider-Afrika geheel en al uit “swart” spelers bestaan het, is dit as ’n positiewe teken vir Afrikarugby geag. Die hoofafrigter Claude Ezoua het aangevoer, dat hulle aan die wêreld wou wys dat rugby in Afrika uit meer bestaan as slegs Suid-Afrika. Alhoewel die helfte van die Ivoriaanse span by Franse klubs gespeel het, was 25 van die 26 spelers Ivoriane, waarvan die meeste uit Abidjan se hawedistrik. Net so was agt van die tien Ivoriaanse rugbyklubs in die hawe en voormalige hoofstad gesetel.
Tydens die Rugbywêreldbeker 1995 is die Ivoriane in Groep D saam met Skotland, Frankryk en Tonga geloot. In hul eerste wedstryd het hulle te staan gekom teen die Skotte onder hul kaptein Gavin Hastings, wat vier drieë kon druk, twee strafskoppe aangeteken en nege van die 13 Skotse drieë verdoel het. Daarmee het hy ook die meeste punte in dié tyd deur ’n enkele speler in ’n wêreldbekerwedstryd aangeteken. Die 0–89-nederlaag is ook die ergste in die Ivoriaanse beheerliggaam se geskiedenis. Dié nederlaag het die groeiende gap tussen die vorste rugbylande met hul meer en meer intensief opgeleide spelers en die spanne wat fisies of weens ’n gebrek aan hulpbronne terugval gewys.
In die tweede wedstryd het hulle te staan gekom teen Frankryk, dié land, waar die meeste spelers van die Ivoriaanse nasionale span gespeel het, waaronder hul kaptein Djakaria Sanoko vir die tweede span van Biarritz Olympique. Les Éléphants het verrassend goed treed gehou en kon ondanks die nederlaag twee drieë druk teen die latere semifinalis, eers Abubacar Camara in die eerste helfte met die eerste drie in die beheerliggaam se geskiedenis tydens ’n wêreldbekerwedstryd en later die vleuel Aboubacar Soulama in die tweede helfte. Ivoorkus is uiteindelik met 54–18 geklop.
In hulle laaste groepwedstryd het die Ivoriane Tonga ontmoet. Die Tongaanse het met 29–11 geseëvier en daarmee Ivoorkus ná drie nederlae in drie wedstryde uit die toernooi geskakel. ’n Tragiese ongeluk van die Ivoriaanse speler Max Brito het die wedstryd oorskadu: In die derde speelminuut het hy ná ’n duikslag op die grond geval, ’n aantal spelers het op hom beland en hy het bewusteloos bly lê. Hy is dadelik na ’n hospitaal geneem waar sy lewe gered is. Hy het egter van die nek af verlam gebly en was sedertdien aan ’n rolstoel gekluister. Brito is in Desember 2022 dood sonder dat hy van die ongeluk kon herstel.
Misgelope toernooie duimnael|Die Ivoriaanse nasionale span op Stade Felix Houphouet-Boigny voor hul Rugbywêreldbeker 2011-kwalifisering teen Zambië op 21 Julie 2008 Ná Max Brito se ernstige ongeluk het byna ’n hele generasie ophou rugby speel, waarna die Ivoriaanse rugby aan die einde van die 1990’s in ’n krisis was. Die nasionale span het homself vir drie jaar aan alle internasionale toernooie onttrek en eers weer in September 1998 vir die Rugbywêreldbeker 1999-kwalifisering teruggekeer. Ivoorkus se prestasie was swak, toe hulle al hul drie wedstryde teen Namibië (met 10–22), Zimbabwe (met 0–32) en Marokko (met 3–6) tydens ’n toernooi in Casablanca, Marokko, verloor het. Ná Ivoorkus se terugkeer op internasionale vlak het naas Kenia, Namibië en Zimbabwe ook Marokko en Tunisië hulle as ernstige mededingers in beide die Afrikabeker en die rugbywêreldbekerkwalifisering gevestig. Albei Noord-Afrikaanse spanne het ná die Europese Rugbykampioenskap se herstrukturering die vastelandse kampioenskap toegetree. Net soos in die geval van die Ivoriane het die rugby van die Marokkane en Tunisiërs georiënteer aan dié van die voormalige koloniale mag Frankryk. Ivoorkus het egter agtergebly in die vastelandse kampioenskap, nie net weens die herstrukturering van die internasionale spel nie, maar ook weens die professionalisering van rugby, aangesien die land nie oor ’n professionele liga beskik nie.
In 2000 is die eerste Afrikabeker beslis, maar Ivoorkus het nie aan dié toernooi deelgeneem nie. Een jaar later het die Olifante aan die Afrikabeker 2001 deelgeneem, maar albei wedstryde teen Marokko verloor: met 11–18 tuis en met 18–20 weg. Hulle het teen Tunisië in ’n 11–11 gelykop weg gespeel en ’n 46–0-oorwinning tuis aangeteken. Met hul tweede plek in die groep het hulle die eindstryd misgeloop. Tydens die Afrikabeker 2002, wat ook as Rugbywêreldbeker 2003-kwalifisering gedien het, is Ivoorkus ná twee nederlae teen Tunisië (met 8–13) en Marokko (met 21–23) uitgeskakel.
Tydens die Afrikabeker 2003 het hulle ’n naelskraapse nederlaag teen Marokko (met 16–18) gely, terwyl die span die wedstryd teen Tunisië weens dié teenstander se onttrekking gewen het. Een jaar later het hulle ná oorwinnings oor Tunisië (met 8–3) en Kameroen (met 17–10), asook ’n nederlaag teen Marokko tweede in hulle groep geëindig. Tydens die Afrikabeker 2005 is die wedstryd teen Namibië weens die onttrekking van Ivoorkus as ’n nederlaag geag, terwyl hulle deur Madagaskar (met 30–10) verneder is. In 2005 het hulle die Rugbywêreldbeker 2007-kwalifisering met twee oorwinnings oor Senegal (met 20–6) en Zimbabwe (met 33–3) belowend afgeskop. Die Afrikabeker 2006 was ook deel van die 2007-kwalifisering, maar hulle het gemengde resultate opgelewer teen Marokko – ’n 9–9-gelykop tuis en ’n 7–23-nederlaag weg – en Uganda – met ’n 7–32-nederlaag weg en ’n 18–7-oorwinning tuis – waarmee hulle uitgeskakel is.
Die Afrikabeker 2007 het Ivoorkus ná naelskraapse oorwinnings oor Senegal (met 12–10) en Tunisië (met 22–19) en ’n naelskraapse nederlaag in die halfeinstryd teen Madagaskar (met 25–32) met nog ’n naelskraapse nederlaag in die uitspeelwedstryd teen Kenia (met 17–20) in die vierde plek afgesluit, hul beste toernooiprestasie in dié tyd. Die Afrikabeker 2008/09 het as die Rugbywêreldbeker 2011-Afrikakwalifisering gedien en die span het ná oorwinnings oor Zambië (met 32–9) en Marokko (met 21–9) die halfeindstryd gehaal. Hulle het toe teen Namibië te staan gekom en in ’n 13–13-gelykop in Abidjan gespeel, maar in Windhoek met 14–54 vasgeval, en daarmee die toernooi weereens misgeloop.