Hierdie artikel handel oor die Ierse nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Ierse nasionale vrouerugbyspan.
Die Ierse nasionale rugbyspan (Engels: Ireland national rugby union team; Iers-Gaelies: Foireann rugbaí náisiúnta na hÉireann) is die nasionale rugbyspan wat die hele Ierland (beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland) in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Ierland deur die Ierse Rugbyvoetbalunie (Irish Rugby Football Union, IRFU) geadministreer. Ierland neem aan die jaarlikse Sesnasies-toernooi deel, saam met Engeland, Frankryk, Italië, Skotland en Wallis. Ierland is ook een van die lande wat deel uitmaak van die Britse en Ierse Leeus – spelers wat vir Ierland mag speel mag dus ook gekies word vir die Leeus.
Ierland se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 beslis word. Sedert die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die span aan al tien toernooie deelgeneem en agt keer, behalwe vir 1999 en 2007, die kwarteindrondte gehaal. Ierse rugby dateer terug na 1875 toe Ierland deur Engeland in hulle eerste internasionale rugbywedstryd geklop is. Sedert die voorganger van die Vyf- en Sesnasiestoernooi, die Tuisnasies in 1883 begin is, het die span 16 keer die toernooi gewen en het nog agt ander kere die titel gedeel. Sedert Italië in 2000 by die kompetisie aangesluit het om die Sesnasies te vorm het Ierland ses titels verower, mees onlangs in 2024.
Ierse spelers dra tradisioneel groen truie, wit broeke en groen sokkies. Die span se tuisstadion is Aviva in Dublin waar hulle vir die eerste keer in 2010 gespeel het. Die beheerliggaam Wêreldrugby beskou Ierland as ’n vlak-een rugbyland. Die Ierse rugbyspan is tans (Maart 2026) derde op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys en in 2018 is die Ierse rugbyspan deur Wêreldrugby as die “span van die jaar” aangewys. Twaalf voormalige Ierse rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.
Die Ierse nasionale rugbyspan is in die rugbywêreld uniek, aangesien dit die hele Ierland verteenwoordig en nie net een onafhanklike staat nie. Spelers uit beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland, een van die vier lande van die Verenigde Koninkryk, mag vir die Ierse rugbyspan uitdraf. Gevolglik gebruik die Ierse rugbyspan nóg een van die lande se volksliedere, nóg een van hul vlae as ’n verteenwoordigende simbool; pleks daarvan gebruik die Ierse nasionale rugbyspan sy eie vlag – dié van die Ierse Rugbyvoetbalunie – en himne. Alternatiewelik betree die span die veld met beide die vlae van Ierland en Ulster, waartoe die ses Ierse graafskappe in Noord-Ierland behoort. As gevolg van die gemeensame span vir beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland word die Ierse nasionale rugbyspan, net soos die soortgelyke Ierse nasionale hokkiespan en die Ierse nasionale krieketspan, as ’n belangrike simbool vir vrede en samewerking op die polities verdeelde eiland Ierland beskou.
Beheerliggaam
duimnael|Die vier provinsiale beheerliggame van die Ierse Rugbyvoetbalunie Die beheerliggaam vir rugby in Ierland is die Ierse Rugbyvoetbalunie (Irish Rugby Football Union, IRFU). Die IRFU het in 1879 met die samesluiting van twee beheerliggame ontstaan. In 1886 het die IRFU saam met die Skotse Rugbyunie (SRU) en die Walliese Rugbyunie (WRU) die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig. Daarbenewens het die IRFU in 1999 by die vastelandse beheerliggaam FIRA-AER (nou Rugby Europa, RE) aangesluit. Die IRFU bestaan uit die vier provinsiale beheerliggame Connacht Rugby, Leinster Rugby, Munster Rugby en Ulster Rugby, wat elkeen met sy eie span deelneem aan die internasionale liga Verenigde Rugbykampioenskap, saam met spanne uit Italië, Skotland, Suid-Afrika en Wallis. Benede word die All-Ireland League tussen 50 spanne uit die hele Ierland beslis. Bo die Verenigde Rugbykampioenskap word jaarliks saam met klubs uit Engeland, Frankryk, Ierland, Italië en Wallis die Europese Rugbykampioenskapbeker en die Europese Rugbyuitdagingsbeker beslis.
Naas die amptelike nasionale span roep die IRFU ook ander keurspanne byeen. Ireland Wolfhounds is die tweede nasionale span van Ierland, gevolg deur Emerging Ireland (“Opkomende Ierland”). Net soos ander rugbylande beskik Ierland oor ’n o/20-nasionale span wat aan die o/20-Sesnasies-toernooi en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Ierland beskik oor ’n nasionale span vir studente, die Schoolboys, wat as ’n voorbereiding op die Ierse nasionale rugbyspan dien.
Dit word as ’n groot prestasie beskou om saam met die Britse en Ierse Leeus na die Suidelike Halfrond te toer, waar hulle sowat al om die vier jaar teen die Nieu-Seelandse All Blacks, die Suid-Afrikaanse Springbokke of die Australiese Wallabies speel.
Geskiedenis Invoering van rugby in Ierland Ierland beskik oor ’n eeue oue tradisie aan balsporte wat aan moderne sportsoorte soos rugby, sokker en Gaeliese voetbal herinner. Die stel reëls was inkonsekwent en het na gelang van die streek soms heeltemal verskil. Die enigste gemeenskaplike beginsel was om ’n meestal ronde, uit diervelle of -blase vervaardigde bal van die een veldkant na die ander te beweeg. Van die oudste bekende verslae oor sulke spele in die graafskappe Meath, Louth en Dublin dateer uit die 17de eeu. Verskeie Dublinse koerante doen in die jare van 1758 tot 1766 verslag oor wedstryde in die omliggende nedersettings. ’n Weergawe, wat veral in die graafskap Kerry gewild was, was Caid, wat op ’n afgebakende gebied en met ’n bepaalde aantal spelers gespeel is. Caid het ook die een of ander ooreenkoms met die latere rugby getoon en veral die grondslag vir Gaeliese voetbal gevorm.
In 1854 het voormalige studente van die Rugby-skool en ander openbare skole by die Dublinse Trinity College die Dublinse Universiteitsvoetbalklub (Dublin University Football Club, DUFC) gestig, om die speel, wat hulle tydens hul skooldae in Engeland leer ken het, ook in Ierland te kon beoefen. Die presiese stigtingsdatum is onbekend, maar volgens ’n advertensie in die Daily Express op 1 Desember 1855 het die span reeds sedert meer as ’n jaar bestaan. Gevolglik word die DUFC as die oudste bestaande rugbyklub wêreldwyd beskou. Geen Dublinse span is toegelaat om teen die eerste span van die DUFC te speel solank hy nie die tweede span verslaan het nie. Wedstryde teen ander Kollegespanne is gereeld gespeel; van hulle was die Koninklike Skools in Armagh, Dungannon en Enniskillen. Daarna is verskeie ander klubs, waarvan die meeste steeds bestaan, gestig, waaronder NIFC (1868), Wanderers (1869), Queen’s University (1869), Lansdowne (1873), Dungannon (1873), Co. Carlow (1873), UCC (1874) en Ballinasloe (1875); laasgenoemde het met Athlone saamgesmelt om Buccaneers te vorm.
In Januarie 1868 het Charles Burton Barrington van die DUFC ’n stel reëls gepubliseer. Dit het net min van die Engelse stel reëls verskil, maar dit het die verspreiding van die rugbysport oor die hele eiland vergemaklik en tot die stigting van talle klubs gelei. In Desember 1874 is die beheerliggaam Ierse Voetbalunie (Irish Football Union) gestig, wat toesig gehou het oor Leinster, Munster en dele van Ulster; ’n Maand later is die Noordelike Voetbalunie van Ierland (Northern Football Union of Ireland) gestig, wat in Belfast werksaam was. In 1879 het albei beheerliggame as die Ierse Rugbyvoetbalunie (Irish Rugby Football Union, IRFU) saamgesmelt. In 1884 het Michael Cusack in reaksie op die as ’n bedreiging geagte verspreiding van Engelse sportsoorte die Gaeliese Atletiekvereniging (Gaelic Athletic Association, GAA) gestig, ten einde van ’n identifikasie met die Ierse kultuur deur middel van sport. Vir meer as ’n eeu is volgens reël 42 van die GAA-statuut die deelname aan “vreemde spele” (foreign games) op die plekke van dié beheerliggaam verbied; “vreemd” het uitdruklik na rugby, sokker, veldhokkie en krieket verwys. Tot in 1971 is GAA-lede volgens reël 27 self verbied om aan hierdie sportsoorte deel te neem of om sulke sportsoorte in stadions by te woon.
Die nasionale span se eerste jare duimnael|Die eerste Ierse nasionale rugbyspan op 15 Februarie 1875 by die Londense Kennington Oval duimnael|Gesamentlike groepfoto van die Ierse en Suid-Afrikaanse spanne op 30 November 1912 Albei rugbybeheerliggame het aan die begin van 1875 ’n gesamentlike Ierse keurspan saamgestel om teen die Engelse span te speel. Die eerste toetswedstryd is op 15 Februarie 1875 op die Londense Kennington Oval aangebied en Ierland het met nul teenoor twee doele verloor. Soos dit in die vroeë jare van rugby gebruiklik was, het vir albei spanne 20 spelers uitgedraf; die aantal spelers wat tydens een wedstryd vir een span mag uitdraf is eers in 1877 van 20 tot 15 verminder. Ierland het sy eerste tuiswedstryd ook teen Engeland in dieselfde jaar op Leinster Krieketklub se Observatory Lanegrond in Rathmines beslis, aangesien Lansdowne Road – die tuisstadion van die Lansdowne Voetbalklub en later van die IRFU – nie as geskik geag is nie. Die eerste wedstryd op Lansdowne Road is op 11 Maart 1878 gehou, waarin Engeland Ierland met twee doele en ’n drie teenoor nul geklop het. Een jaar vroeër, op 19 Februarie 1877, het die Iere in Belfast vir die eerste keer teen Skotland te staan gekom.
Ierland het sy eerste toets (ná agt agtereenvolgende nederlae) op 19 Februarie 1881 gewen, toe die Iere Skotland op Ormeau in Belfast geklop het. Ierland het sy eerste wedstryd teen Wallis in Cardiff op 28 Januarie 1882 gespeel, maar ’n nederlaag gely. In dieselfde jaar het die beheerliggame van Engeland, Ierland Skotland en Wallis die Tuisnasies-toernooi gestig, die voorloper van die huidige Sesnasies-toernooi. In 1884 het Ierland vir die wedstryd teen Wallis in Cardiff met twee mans te min vir ’n volledige span opgedaag, waarvolgens twee Walliese plaasvervangers ingestem het om die Ierse span te voltooi. In 1886 het die Ierse beheerliggaam saam met sy Skotse en Walliese eweknieë die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig. Ná ’n aantal nederlae tydens die eerste vier toernooie het die Iere op 5 Februarie 1887 in Dublin vir die eerste keer teen Engeland geseëvier, met twee doele teenoor nul. In die derde wedstryd in Maart 1888 het Ierland sy eerste oorwinning oor Wallis met ’n doel, ’n drie en ’n skepdoel teenoor nul aangeteken.