Mbandzeni (ook bekend as Dlamini IV, Umbandine, Umbandeen) (ca. 1855–1889) was die koning van Swaziland (nou Eswatini) van 1872 tot 1889. Ingwenyama Mbandzeni was die seun van Mswati II en Nandzi Nkambule. Sy moeder, die vrou van koning Mswati, is oorlede toe hy nog baie jonk was.

Mbandzeni het die troon bestyg nadat sy halfbroer, Ludvonga II, gesterf het voordat hy koning kon word. As gevolg van Ludvonga se dood het sy moeder, Inkhosikati LaMgangeni Khumalo, vir Mbandzeni – wat sonder 'n moeder agtergebly het – as haar eie seun aangeneem; sodoende het hy koning en sy die koninginmoeder van Swaziland geword. Sy koninklike hoofstad was by Mbekelweni. Tydens sy bewind het Mbandzeni talle konsessies vir mynbou, boerdery, handel en administrasie aan wit setlaars van Brittanje en Transvaal toegestaan. Die Boere het die koning mislei om permanente grondkonsessies te onderteken. Die koning kon nie lees of skryf nie, en daarom het die Boere hom die konsessies met 'n kruis laat teken. Daar is vir die koning gesê dat dit nie permanente grondkonsessies was nie, maar die dokumente self het die teendeel beweer. Hierdie konsessies, wat met die hulp van Offy Shepstone toegestaan is, het uiteindelik gelei tot die konvensies van 1884 en 1894, wat Swaziland se grense verklein en die land later 'n protektoraat van die Zuid-Afrikaansche Republiek gemaak het.

Tydens die tydperk van konsessies – wat voorafgegaan is deur 'n hongersnood omstreeks 1877 – het koning Mbandzeni aan sekere tindvunas (goewerneurs) binne Swaziland, soos Mshiza Maseko en Ntengu kaGama Mbokane, toestemming gegee om na plase in die rigting van die Komatirivier en die Lubombo-streek te verskuif. Mshiza Maseko het hom later gevestig op 'n plek genaamd eLuvalweni, naby die Komatirivier, waar hy later ook begrawe is. Mbandzeni, wat steeds aan die hoof van 'n groot Swazi-leër van meer as 15 000 man gestaan het, het die Britte bygestaan om Sekhukhune in 1879 te verslaan en 'n inval deur die Zoeloes in Transvaal in dieselfde jaar te verhoed. Gevolglik het hy sy land se onafhanklikheid en internasionale erkenning verseker, ten spyte van die wedloop om Afrika wat destyds aan die gang was. Mbandzeni is in 1889 na 'n siekte oorlede; daar word gesê dat hy op sy sterfbed verklaar het: "Die Swazi-koningskap sterf saam met my". Hy is by die koninklike begraafplaas te Mbilaneni begrawe, langs sy vader en sy grootvader, Sobhuza I. Mbandzeni is opgevolg deur sy jong seun, Mahlokohla, en sy vrou, koningin Labotsibeni Mdluli, ná 'n tydperk van vyf jaar waarin koningin Tibati Nkambule as regent opgetree het. Vandag is verskeie geboue en paaie in Swaziland na Mbandzeni vernoem. Onder meer is die Mbandzeni-huis in Mbabane en die Mbandzeni-hoofweg na Siteki na hom vernoem.

Verwysings

Kategorie:Geboortes in 1855 Kategorie:Sterftes in 1889 Kategorie:Swazikonings