duimnael|Silwer Valke tydens Aviation Africa-lugskou op 7 Oktober 1977 Formasievertoonspanne is al jare lank ’n kenmerk van die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM). Die Silwer Valke is ’n kunsvliegspan van die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) en het oor die jare verskillende vliegtuie gebruik en uit verskillende spanne personeel bestaan. Die kleurskemas van die span se vliegtuie het ook oor die jare verander. Die span het in die verlede deel van ander eenhede van die SALM uitgemaak. Tans is die Silwer Valke deel van die Sentrale Vliegskool en gebruik die Pilatus PC-7 Mk II.

Geskiedenis Die oorsprong van die Silwer Valke kan na die Bumbling Bees-vertoonspan teruggevoer word, wat oorspronklik in 1953 gevorm is en met De Havilland Vampires gevlieg het. Die Bumbling Bees is in 1959 ontbind. ’n Nuwe Bumbling Bees-span is in 1966 gevorm en het met die Impala Mk I begin vlieg. Die span is op 22 November 1967 die Silwer Valke herdoop. Op 24 November 1967 het die Silwer Valke hulle eerste vertoning tydens die opening van die Atlas-vliegtuigkorporasie gelewer.

Die span was deel van Vliegopleidingskool (VOS) Langebaanweg. Nadat 83 Straalvliegskool die opleiding van SALM-leerlingvlieëniers op 4 Februarie 1984 oorgeneem het, het die Silwer Valke deel van laasgenoemde eenheid geword. Rondom hierdie tyd is die kleure van die destydse nasionale vlag, naamlik oranje, wit en blou, vir die eerste keer op die vliegtuie aangebring. Die kleure van die ou nasionale vlag is vanaf 1985 op die Silwer Valke aangebring. Op 30 Januarie 1990 het die silwer/oranje/wit/blou kleurskema op die volgende Impala Mk I-vliegtuie gepryk, naamlik reeksnommers 484, 486, 491 en 494.

In die middel van die 1990’s is nuwe kleure, naamlik donker en ligte blou en wit op die silwer van die vliegtuie aangewend. 83 Straalvliegskool het in November 1992 gesluit, en 85 Gevegvliegskool het die Impala-bedrywighede oorgeneem. Nommer 83 Straalvliegskool is met ingang van 1 Februarie 1993 deur 85 Gevegvliegskool geabsorbeer. Die Silwer Valke het gevolglik Hoedspruit toe vertrek. Die laaste Impala-vertoning van die Silwer Valke het op 20 September 1997 by Swartkop plaasgevind.

Verhuising van die Sentrale Vliegskool Die laaste vleuelsparade van die Sentrale Vliegskool (SVS) het op 10 Desember 1992 by Dunnottar plaasgevind, en die SVS het daarna na Langebaanweg verskuif.

Die Pilatus PC-7 in SALM diens Die Suid-Afrikaans Lugmag het die Pilatus PC-7 Merk II Astra vanaf 1994 bedryf. Die eerste Pilatus PC-7 Mk II Astra, nommer 2001, is op 17 Oktober 1994 aan die SVS afgelewer.

’n Pilatus PC-7 Mk II Astra-vertoonspan het op 13 Mei 1999 begin oefen. Daar is besluit om die Silwer Valke by die Sentralle Vliegskool by Langebaanweg met Astras te hervorm, en die Astra-vertoonspan is amptelik op 30 Oktober 1999 die Silwer Valke herdoop.

Die Atlas Impala Mk I deur die Silwer Valke gebruik

Die silwer skema Die vlieëniers van die Impalas met die reeksnommers 492 en 494 wat hieronder uitgebeeld word, was onderskeidelik kaptein Pottie Potgieter en kaptein Mike Weingartz. Beide kaptein JJ Potgieter en kaptein ME Weingartz was van Januarie 1980 tot September 1980 lede van Silwer Valke span 18.

Silwer plus oranje, wit en blou Die kleurskema wat uit silwer plus oranje, wit en blou bestaan het, het drie weergawes gehad, met verskille tussen die weergawes. Die verskille was op die neus en stertvin, die keuse van die eenheidwapen en of individuele nommers (nommer van die vliegtuig in die span) gebruik is. Die finale weergawe het die “sonbars”-effek (sunburst in Engels) op die onderkante van die hoofvlerk en die agterste vlerke gehad. Die Silwer Valke het aan verskillende lugskoue deelgeneem. Hulle het byvoorbeeld op 22 Julie 1989 deelgeneem aan ’n lugskou wat by Lugmagbasis Bloemspruit naby Bloemfontein gehou is. Van 8 tot 12 Mei 1991 was hulle teenwoordig gedurende die Konvensie van die Eksperimentele Vliegtuig-vereniging wat by Margate aan die suidkus van Natal plaasgevind het. Die span was op 28 November 1992 by Mmabatho Internasionale Lughawe. Die Silwer Valke het op daardie dag vertonings gelewer tydens ’n lugskou wat deel van die amptelike opening van Lugmagbasis Mmabatho van die Bophuthatswana-lugmag uitgemaak het.

Silwer plus donkerblou, ligblou en wit Die Silwer Valke-kunsvliegspan is ’n tyd lank bedryf in ’n skema wat uit silwer plus donkerblou, ligblou en wit bestaan het.

Nelson Mandela is op 10 Mei 1994 as die President van Suid-Afrika ingehuldig, en massaverbyvlugte het as deel van die verrigtinge oor Pretoria plaasgevind. Vliegtuie wat aan die verbyvlugte deelgeneem het, is by Lugmagbasis Waterkloof waargeneem. Individuele vliegtuie van die Silwer Valke het die reeksnommers 484 (Valk 2), 530, 531 (Valk 1) en 592 (Valk 4) gehad.

Die Pilatus PC-7 Merk II Astra-vliegtuie deur die Silwer Valke gebruik

Wit-en-rooi skema (standaard opleidingskleurskema) duimnael|Douglas C-47TP-ondersteuningsvliegtuig in Oktober 2007 Vier Pilatus PC-7-opleidingsvliegtuie van die Suid-Afrikaanse Lugmag  se Silwer Valke-vertoonspan het op 5, 8 en 9 September 2000 formasieverbyvlugte en formasielugtoertjies uitgevoer tydens die SALM 80 Internasionale Lugskou wat by Lugmagbasis Waterkloof gehou is. Een van die vliegtuie was met ’n rooi 2 op die wit onder die regtervlerk gemerk.

Verder het vier Pilatus PC-7 Mk II Astra-opleidingsvliegtuie van die SALM se Sentrale Vliegskool by Langebaanweg op 18 September 2002 aan die openingseremonie van die Africa Aerospace and Defence-tentoonstelling deelgeneem. Hulle het uit Silwer Valke 1, 2, 3 en 4 bestaan. Die nommers het in wit op die rooi onder die onderste oppervlakke van die vliegtuie verskyn.

Pilatus PC-7-opleidingsvliegtuie van die Sentrale Vliegskool by Langebaanweg aan die Kaapse Weskus het ook van 18 tot 21 September 2002 tydens die Africa Aerospace and Defence-tentoonstelling by Lugmagbasis Waterkloof in Pretoria aan die vliegvertonings deelgeneem en het uit Silwer Valke 1, 2, 3 en 4 bestaan.

Die Silwer Valke-formasiekunsvliegspan het in September 2006 tydens die Africa Aerospace and Defence-tentoonstelling en in Oktober 2007 by Springbok-vliegveld formasielugtoertjies uitgevoer.

Silwer Valke span nommer 56 (September 2001 tot Desember 2001) Op 15 September 2001 het Silwer Valke span nommer 56 uit die volgende lede bestaan: Silwer Valk 1 was luitenant-kolonel Dave Knoesen (die leier van die span). Die ander lede in die formasie was Silwer Valk 2 (luitenant Charl du Toit), Silwer Valk 3 (majoor Jaco Steynberg) en Silwer Valk 4 (kaptein Colin Coombes, die grondskakeloffisier).

Die grondskakeloffisier koördineer gedurende lugskoue die logistiek rondom die span se aktiwiteite en dien as die kommunikasieskakel tussen die vliegspan en grondbeheer. Die funksie van die grondskakeloffisier word dikwels vervul deur ’n gekwalifiseerde vlieënier wat opgelei word of voorberei om in die toekoms ’n aktiewe lid van die span te word.

Die grondbemanning (tegniese bemanning) vervul ’n ondersteunende rol en sluit die volgende in: ’n tegniese offisier, die bemanninghoof, tegnici wat die avionika- en meganiese sy van sake hanteer, oorlewingspesialiste en ’n uitskietstoeltegnikus.

Vir die verskillende rolle sien byvoorbeeld die volgende bron:

Silwer Valke span nommer 63 (Februarie 2005 tot Maart 2006) Op 2 en 3 September 2005 het die vliegtuie van die span uit Pilatus PC-7 Mk II Astras reeksnommers 2018 (Valk 1), 2028 (Valk 2), 2020 (Valk 3) en 2025 (Valk 4) bestaan. Die lede van die span was luitenant-kolonel Rodney King (Valk 1, die leier), luitenant Vaughn Gryffenberg (Valk 2), majoor Alex van Oostveen (Valk 3) en kaptein Ryan Cokayne (Valk 4).

Nuwe kleure en merke vir die Silwer Valke Nadat die vliegtuie van die Silwer Valke jare lank in die standaard opleidingskleurskema bedryf is, is hulle in die kleure van die 1994- nasionale vlag oorgeverf en het nuwe merke ontvang. Die Silwer Valke se deelname aan lugskoue was soos volg:

Die Silwer Valke het op 14 Augustus 2010 aan die Suid-Afrikaanse Lugmag se 90 Jaar van Goue Vleuels-lugskou deelgeneem. Hulle het ook op 13 Augustus 2010 geoefen. Silwer Valke 1 tot 5 het op 29 September 2013 tydens ’n lugskou formasieverbyvlugte by die Randse Lughawe gedoen. Vyf vliegtuie van die Silwer Valke is op 7 Mei 2016 gesien tydens ’n lugskou wat by Swartkop gehou is. Vier vliegtuie het in formasie saam met Boeing 737-800 registrasienommer ZS-SJO van die lugredery Mango gevlieg.

Aantekening Die kleurskakerings van die Impalas wat as donkerblou en ligblou beskryf word se gestandaardiseerde terme is onderskeidelik Aircraft Blue en Arctic Blue, maar in hierdie artikel word die algemene kleurbenamings “donkerblou” en “ligblou” gebruik.   

Verwysings