thumb|240px|Die blaue Stunde (1890), 'n skildery deur Max Klinger.

thumb|240px|Sonsondergang (1897), deur António Cândido da Cunha.

Die blou uur (uit die Franse l'heure bleue) is die tydperk van skemer (met dagbreek of aandskemer, ongeveer in die stadium wanneer die Son betreklik diep onder die horison is). In dié tyd kry die oorblywende sonlig hoofsaaklik ’n blou skakering. Dié blou skakering verskil van die kleur van die lug op ’n helder dag, wat deur Rayleigh-verstrooiing veroorsaak word.

Die blou uur kom voor wanneer die Son ver genoeg onder die horison is dat die blou golflengtes van die sonlig oorheersend is vanweë Chappuis-absorpsie in die osoonlaag. Omdat die term omgangstaal is, het dit nie ’n amptelike definisie soos dagbreek of aandskemer nie. Die blou uur verwys eerder na die toestand van natuurlike beligting wat gewoonlik tydens skemer voorkom. Die blou uur duur korter in streke naby die ewenaar, omdat die Son daar teen steiler hoeke opkom en ondergaan. Op plekke nader aan die pole duur die beligtings- en skemerperiodes langer, omdat die Son teen vlakker hoeke opkom en ondergaan.

Die blou uur is al lank gewild onder fotograwe en skilders, want die afwesigheid van skaduwees en die voorkoms van voorwerpe as 'n silhoeët teen die verligte lug is 'n kenmerkende eienskap van dié tyd van die dag.

Tye wanneer dit voorkom Volgens ’n verduideliking wat steeds algemeen is, maar nie korrek nie, versprei die Aarde se atmosfeer ná sononder en voor sonsopkoms die sonlig se korter, blou golflengtes, terwyl die langer, rooier golflengtes verstrooi word. In werklikheid kom die blou uur voor wanneer die Son ver genoeg onder die horison is dat die blou golflengtes van die sonlig oorheers weens Chappuis-absorpsie, wat deur die osoon veroorsaak word.

Wanneer die lug helder is, kan die blou uur ’n kleurryke skouspel wees waarin die indirekte sonlig die lug geel, oranje, rooi en blou tint. Hierdie verskynsel word veroorsaak deur die verskil in die verspreiding tussen die korter golflengtes (blouer strale) van sigbare lig en die langer golflengtes (rooier strale). In die blou "uur" beweeg rooi lig deur die ruimte, terwyl blou lig in die atmosfeer verstrooi word en sodoende die Aarde se oppervlak bereik.

Die blou uur duur gewoonlik ongeveer 20-96 minute onmiddellik ná sononder en onmiddellik vóór sonsopkoms. Die tyd van die jaar, ligging en luggehalte beïnvloed die presiese lengte en tydstip daarvan. In Egipte duur die blou uur byvoorbeeld elke 21 Junie, wanneer sonsondergang om 19:59 plaasvind, van 19:59 tot 21:35. Wanneer sonsopkoms om 05:54 plaasvind, duur die blou uur van 04:17 tot 05:54.

Fotografie Baie kunstenaars waardeer hierdie tydperk vanweë die gehalte van die sagte lig. Hoewel die blou uur nie ’n amptelike definisie het nie, is die blou kleurspektrum die prominentste wanneer die Son tussen 4° en 8° onder die horison is.

Fotograwe benut die blou uur vir die rustige stemming wat dit skep. Wanneer daar gedurende die blou uur gefotografeer word, kan dit voordelig wees om onderwerpe met kunsmatige ligbronne vas te lê, soos geboue, monumente, stadslandskappe of brûe.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Tyd Kategorie:Optika