Renaldo Gouws (gebore 2 Mei 1983) is 'n Suid-Afrikaanse YouTuber, bedryfsielkundige en politikus.

In 2024 het hy as lid van die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika gedien, maar nadat hy van rassisme beskuldig is weens opmerkings in video's wat hy opgeneem en later verwyder het, is sy lidmaatskap van die Demokratiese Alliansie (DA) beëindig en het hy sy setel as parlementslid verloor.

Vroeë lewe en opleiding Gouws is in die klein dorp Uitenhage gebore en aan Hoërskool Brandwag gematrikuleer. Hy het aan die Nelson Mandela-universiteit gestudeer, waar hy in 2010 'n meestersgraad in bedryfsielkunde verwerf het. Hy doen konsultasiewerk as bedryfsielkundige.

Politieke loopbaan Gouws het in 2012 by die DA aangesluit. Sy politieke loopbaan het begin toe hy in 2012 takvoorsitter van Wyk 2 in Nelson Mandelabaai geword het. Hy het in 2012 die Provinsiale Jong Leiers-program en in 2013 die Nasionale Jong Leierskapsprogram voltooi. In 2016 was hy hoog genoeg op die DA se PR-lys om 'n setel in die raad van die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Munisipaliteit te verower. In 2019 is hy in 'n tussenverkiesing as DA-raadslid vir Wyk 2 verkies, waarin die DA 94% van die stemme gekry het. Van 2019 af was Gouws die DA se woordvoerder vir Ekonomiese Ontwikkeling, Toerisme en Landbou in Nelson Mandelabaai.

Gedurende die Covid-19-pandemie het Gouws saam met sy koukusleierskap 'n plan opgestel wat sou help om die metro om te keer.

Ná die Suid-Afrikaanse algemene verkiesing van 2024 is Gouws as parlementslid vir die DA ingesweer, maar sy lidmaatskap is 'n paar maande later beëindig nadat 'n beweerde rassistiese video opgeduik het. In die uittreksel, wat deur Independent Online gepubliseer is, het Gouws rassistiese skeldname gebruik en opgeroep tot die "doodmaak van alle swart mense". Die uittreksel kom uit 'n langer video wat Gouws in 2010 opgeneem het en wat voorheen van sy YouTube-kanaal verwyder is, maar steeds in 'n argief uit 2012 beskikbaar was. In die video sê Gouws dat hy nie werklik bedoel het wat hy gesê het nie en dat dit bedoel was om konteks te skep vir die woede oor die destydse ANC-jeugliga-leier Julius Malema wat die lied "Skiet die Boer" gesing het.

Gouws het Independent Media na die Persombudsman geneem omdat slegs 4% (15 sekondes) van die video gebruik en 96% van die video se oorspronklike konteks weggelaat is. Die Persombudsman het ten gunste van Gouws beslis en Independent Media aan vier oortredings van die perskode skuldig bevind. Independent Media is sedertdien uit die Persraad gesit. In September 2025 het Gouws aangekondig dat hy by die Vryheidsfront Plus aangesluit het.

Andile Lungisa-glaskanvoorval (2016) Tydens 'n raadsvergadering in Nelson Mandelabaai in 2016 het 'n bakleiery uitgebreek waartydens waterbekers van glas rondgegooi is en mense beseer is. Andile Lungisa het 'n glasbeker op 'n mederaadslid se kop stukkend geslaan en is vir ernstige liggaamsleed in hegtenis geneem. Gouws het beeldmateriaal van die voorval geneem, wat gebruik is om Lungisa van aanranding skuldig te bevind.

Sosialemediabedrywighede en aantygings Gouws het in 2009 'n YouTube-kanaal begin wat op Suid-Afrikaanse aktuele sake en politiek fokus. Hy het 'n debatsprogram, die Sunday Service, aangebied waarin hy met senior politici en bekendes oor Suid-Afrika gesels het. Hy is van rassisme, haatspraak en aanhitsing tot geweld beskuldig en formeel daarvan aangekla. Hy is ook van homofobie beskuldig nadat video's versprei het waarin hy homofobiese taal gebruik.

Verwysings

Kategorie:Geboortes in 1983 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Suid-Afrikaanse politici Kategorie:Politici van die Demokratiese Alliansie Kategorie:Politici van die Vryheidsfront Plus Kategorie:Lede van die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika Kategorie:Suid-Afrikaanse YouTubers Kategorie:Suid-Afrikaanse sielkundiges