Die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid (SAKO) is 'n statutêre liggaam wat ingevolge die Wet op die Nasionale Kwalifikasieraamwerk, Nr. 67 van 2008, gereguleer word. Dit bestaan uit 29 lede wat deur die minister van onderwys in oorleg met die minister van arbeid aangestel word. SAKO het 'n wetlike mandaat om toesig te hou oor die ontwikkeling en implementering van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR). Die owerheid se hoofkantoor is in Pretoria, Suid-Afrika.

Die Nasionale Kwalifikasieraamwerk Die NKR is 'n raamwerk, dit wil sê dit stel die grense, beginsels en riglyne wat 'n visie, 'n filosofiese grondslag en 'n organisatoriese struktuur vir die opbou van 'n kwalifikasiestelsel verskaf. Gedetailleerde ontwikkeling en implementering vind binne hierdie grense plaas. Alle onderwys en opleiding in Suid-Afrika pas binne hierdie raamwerk.

Dit is nasionaal omdat dit 'n nasionale hulpbron is wat 'n nasionale poging verteenwoordig om onderwys en opleiding in 'n verenigde struktuur van erkende kwalifikasies te integreer. Dit is 'n raamwerk van kwalifikasies, dit wil sê van rekords van leerderprestasies.

Die NKR is 'n stel beginsels en riglyne waarvolgens rekords van leerderprestasie geregistreer word om nasionale erkenning van verworwe vaardighede en kennis moontlik te maak, en sodoende 'n geïntegreerde stelsel te verseker wat lewenslange leer aanmoedig.

Die NKR bestaan uit 10 vlakke wat in drie bande verdeel is: vlakke 1 tot 4 stem ooreen met hoërskoolgrade 9 tot 12 of beroepsopleiding, 5 tot 7 is kollegediplomas en tegniese kwalifikasies, en 7 tot 10 is universiteitsgrade.

Vlak Benaming 1 Graad 9 2 Graad 10 en nasionale (beroeps)sertifikate vlak 2 3 Graad 11 en nasionale (beroeps)sertifikate vlak 3 4 Graad 12 (Nasionale Senior Sertifikaat) en nasionale (beroeps)sertifikate vlak 4 5 Hoër sertifikate en gevorderde nasionale (beroeps)sertifikate 6 Nasionale diploma en gevorderde sertifikate 7 Baccalaureusgraad, gevorderde diplomas, nagraadse sertifikaat en B-Tech 8 Honneursgraad, nagraadse diploma en professionele kwalifikasies 9 Meestersgraad 10 Doktorsgraad

duimnael|gesentreer|900px|'n Grafiek van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR) en hoe dit met die verskillende onderwysopsies binne die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel in 2017 verband hou

Geskiedenis In Oktober 1995 is die Wet op die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid (Nr. 58 van 1995) afgekondig om die owerheid tot stand te bring. Die owerheid se hooftaak was om die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR) daar te stel. Die owerheid het in Mei 1996 met sy bedrywighede begin.

Teen 2001 was die NKR onder hersiening, waarna die SAKO-wet van 1995 deur die Wet op die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (Nr. 67 van 2008) vervang is. Die owerheid het behoue gebly, en so ook die bygewerkte NKR.

Funksies SAKO se funksies is in wese tweeledig: om toesig te hou oor die ontwikkeling van die NKR deur beleide en kriteria te formuleer en te publiseer vir die registrasie van liggame wat verantwoordelik is vir die daarstelling van onderwys- en opleidingstandaarde of -kwalifikasies, en vir die akkreditering van liggame wat verantwoordelik is vir die monitering en oudit van prestasies ingevolge sulke standaarde en kwalifikasies om toesig te hou oor die implementering van die NKR deur te sorg vir die registrasie en akkreditering van, en die toewysing van funksies aan, bogenoemde liggame, sowel as vir die registrasie van nasionale standaarde en kwalifikasies op die raamwerk. Dit moet ook stappe doen om te verseker dat aan die bepalings vir akkreditering voldoen word en, waar toepaslik, dat geregistreerde standaarde en kwalifikasies internasionaal vergelykbaar is.

Aktiwiteite Om hierdie doelwit te verwesenlik, het SAKO die volgende tot stand gebring en onderhou dit: 'n stelsel vir die vasstelling van nasionaal erkende en internasionaal vergelykbare onderwys- en opleidingstandaarde en -kwalifikasies van NKR-vlak 1 (graad 9 of Volwasse Basiese Onderwys en Opleiding vlak 4 – die uittreepunt van Algemene Onderwys en Opleiding) tot NKR-vlak 8 (nagraadse kwalifikasies) 'n nasionale gehalteversekeringstelsel om te verseker dat onderwys en opleiding volgens die vasgestelde standaarde gelewer word 'n elektroniese bestuursinligtingstelsel wat alle tersaaklike inligting oor die prestasies van Suid-Afrikaanse leerders aanteken (die Nasionale Leerderrekorddatabasis).

SAKO het ook die taak om buitelandse onderwyskwalifikasies te evalueer om hul Suid-Afrikaanse ekwivalent te bepaal. Mense met buitelandse kwalifikasies wat by Suid-Afrikaanse onderwysinstellings wil studeer of tot die Suid-Afrikaanse arbeidsmark wil toetree, doen by SAKO aansoek om hul kwalifikasies te laat evalueer.

Verwysings

Eksterne skakels Tuisblad: Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid Tuisblad: Nasionale Kwalifikasieraamwerk

Kategorie:Onderwys in Suid-Afrika Kategorie:Suid-Afrikaanse organisasies