‘n Matjieshuis is die tradisionele hut van die Khoikhoi. Dus is dit deel van die volksboukunde van Suid-Afrika.

‘n Twintig tot selfs sestig onbewerkte lekker buigsame jong takke of spaansriet word vertikaal in gate in die grond geplant sodat ‘n sirkel met ‘n deursnee van 3 tot 16 m verkry word. Die punte van die takke word na mekaar gebuig en vasgeknoop tot ‘n koepelvormige raamwerk. Hier en daar word dit nog met ekstra lote versterk. Hierdie raamwerk word dan bedek met 20 tot 40 matte deur die vrouens uit matjiesgoed (biesies, papkuil en riete) gevleg en vasgeheg aan die raamwerk met vesels verkry uit bas of met riempies van leer om die tipiese voorkoms van ‘n byekorf te verkry. Die matte word so geplaas dat hulle mekaar almal gedeeltelik oorvleuel. Die deuropening is meesal ‘n meter hoog en ‘n spesiale mate word daarvoor gevleg om saans te laat sak. Indien dit beskikbaar was, is soms huide en velle as bedekking vir die hutte aangewend. In later jare word ook goiing, seildoek en selfs plastiek gebruik.

In die somer vloei lug deur die matte en is dit koel en lugtig. As dit reën, swel die biesies op en loop die water meesal aan die buitekant af. In die middel van die skuiling is die vuurmaakplek. Snags word op huide daar rondom geslaap. Soms is die vloere gesmeer met mis of bloed. Van meubels was daar byna geen sprake nie.

Vir die nomadiese Khoikhoi was die soort woning baie geskik. Die struktuur is maklik om uitmekaar te haal, op ‘n os te laai en op ‘n ander plek op te rig.

Lees ook Kapstylhuise Pioniershuis

Bibliografie https://artefacts.co.za/main/Buildings/style_det.php?styleid=182 https://artefacts.co.za/main/Buildings/style_det_mob.php?styleid=271 https://kaggakamma.co.za/category/san-and-or-khoikhoi/

Kategorie: Argitektuur Kategorie: Geboue en strukture in Suid-Afrika Kategorie: Kultuur