Haroen el-Rasjied Bei (gebore Johannes Robert Wilhelm Hintersatz; 26 Mei 1886 in Senftenberg – 29 Maart 1963 in Lübeck) was 'n Duitse offisier en Standartenführer van die Waffen-SS wat die Islam aangehang het. Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het hy bevel gevoer oor die Osttürkischer Waffenverband ("Oos-Turkse wapenverband"), 'n regiment van die Waffen-SS.

Biografie

Familie, Eerste Wêreldoorlog en die tussenoorlogse jare Wilhelm Hintersatz se vader, Wilhelm Hintersatz senior (1855-1937), was van 1888 af hoofpredikant in Senftenberg. Hy en sy vrou Louise (1857-1940), gebore Oertel, het nog 'n seun gehad, Robert (gebore 1888), wat op vyfjarige ouderdom gesterf het, en 'n dogter, Louise Johanna (gebore 1898). Wilhelm junior het op 23 Februarie 1905 aan die Landesschule Pforta gematrikuleer. Vyf dae later, op 28 Februarie, het hy as vaandeljonker by die Infanterieregiment "von Stülpnagel" (5de Brandenburgse) nr. 48 van die Pruisiese leër in Cüstrin aangesluit, en in Augustus 1906 is hy tot luitenant bevorder. In 1909 is hy na die 2de Pommerse Voetartillerieregiment nr. 15 in Thorn gekommandeerMilitär-Wochenblatt, 1 November 1908. en met die Pruisiese reddingsmedalje aan die lint bekroon. Dit was die eerste van die altesaam 34 toekennings en ordes van sy lewe.

Op 2 Mei 1912 is hy getroud met Hildegard Cäcilie Schmidt, 'n dogter van die mynbestuurder Paul Schmidt; die bruidegom se vader het die paar in die huwelik bevestig. Die huwelik is in die 1920's ontbind. Van 1 Oktober 1913 af het hy die Militêr-Tegniese Akademie in Berlyn bygewoon, waar hy op 17 Februarie 1914 tot eerste luitenant bevorder en op 10 Julie 1914 met die Sint-Stanislausorde bekroon is.

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het Hintersatz as ordonnans- en tolkoffisier vir Frans by die staf van die 9de Infanteriebrigade opgetree. Ná 'n verwonding in September 1914 – die eerste van drie in dié oorlog – is hy as vlieënier opgelei en in 1915 tot kaptein bevorder, nadat hy albei klasse van die Ysterkruis ontvang het. Weens ernstige vriesbrand aan sy gesig tydens 'n vlug in stormweer in April 1916 moes hy die vlieëry laat vaar en het hy hoof van die vliegskool Altenburg (III. Armeekorps) geword. Daarna het hy meegewerk aan die organisasie van die Finse vrywilligers wat vir die bevryding van hul land van Rusland geveg het. Hiervoor is hy op 22 April 1920 met die kommandeurskruis tweede klas van die Finse Orde van die Wit Roos met swaarde vereer.

In September 1917 is Wilhelm Hintersatz tot majoor bevorder en na Turkye gekommandeer, waar hy Turks en Arabies geleer het. Daar het hy gedien onder die Pruisiese generaal en Ottomaanse maarskalk Otto Liman von Sanders, die sogenaamde "held van Gallipoli", vir wie hy bewondering ontwikkel het en oor wie hy later 'n verheerlikende biografie geskryf het wat in 1932 in Berlyn verskyn het. Hintersatz is aangestel as generaal-inspekteur van die hele masjiengeweerwese van die Turkse leër en terselfdertyd as afdelingshoof (19de afdeling) in die Groot Hoofkwartier.

Waarskynlik in 1918 het Hintersatz, wat van jongs af in Turkye en die Ooste belanggestel het, hom tot die Islam bekeer en hom voortaan Harun-el-Raschid-Hintersatz of korter Harun-el-Raschid Bey genoem. Onder dié naam is hy later ook in die diensouderdomslyste van die SS opgeneem.

Ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog het Haroen el-Rasjied hom vir voormalige Moslem-krygsgevangenes in die sogenaamde Halfmaankamp in Wünsdorf beywer. In 1919 het hy 'n pos by die militêre polisie van die Ryksskatministerie (Reichsschatzministerium) gekry. In September van daardie jaar is oor 'n moordaanslag op hom berig omdat hy te kragdadig teen swartmarkhandelaars opgetree het. Aan die begin van 1920 het hy daar bedank en daarna tot 1925 vir die Deutsche Industriewerke gewerk. Ná sy vertrek daar het hy hom volgens eie sê as "ondersoeker" vir die nywerheid bedrywig gehou en aansienlike eiendom bekom. In 1924 het hy 'n tweede huwelik aangegaan, met Martha Frieda Kuwert, gebore Staats.

Die islamitiese mobilisasie van die oorlogsjare het 'n blywende invloed op hom gehad. Hy het geglo dat hy die "vertroue van die inheemse Mohammedane" geniet, wat in hom "'n geloofsgenoot gesien het wat sonder skroom in hul moskee gebid het". Hy wou die "Achilleshiel" van Duitsland se vyand Engeland tref met wat volgens hom die gevaarlikste bedreiging vir Engeland was, naamlik die Islam. Volgens die geskiedkundige David Motadel het hy in die 1930's ook vir die Italiaanse geheime diens in Abessinië gewerk.

In 1935 is Haroen el-Rasjied 'n derde keer getroud, met die 26 jaar jonger Martha Luise Käthe Milly Lindener. Die paar het 'n uitgebreide wittebrood per motor en skip deur Suid-Europa tot in Afrika onderneem en in Julie van daardie jaar in Addis Abeba, die hoofstad van Abessinië, beland. Volgens sy eie weergawe het hy hom daar as geheimediensmedewerker in diens van die Ethiopiese keiser gestel. In Desember 1935 het die egpaar die terugreis aangepak, op 17 Januarie 1936 die hawe van Genua bereik en op 20 Februarie weer in Berlyn aangekom. 'n Paar weke later is hul seun Ildar Wilfried gebore; in 1940 het 'n tweede seun, Teja Torgut, gevolg.

Tweede Wêreldoorlog Met die begin van die Tweede Wêreldoorlog het Haroen el-Rasjied hom vrywillig as soldaat aangemeld, maar is hy aanvanklik afgewys. In 1940 het sy roman Schwarz oder Weiss? verskyn, wat aan Benito Mussolini en aan die Duits-Italiaanse vriendskap opgedra is. Die fiksiewerk het voorgegee om op sy eie ervarings in die oorlog in Afrika, in Ethiopië, gegrond te wees. Volgens sy eie sê het hy as verbindingsoffisier tussen die Ryksveiligheidshoofkantoor en die grootmoefti van Jerusalem, Mohammed Amin al-Husseini, opgetree, wat sedert 1941 in ballingskap in Berlyn gewoon het.

Van 1943 af het die SS stelselmatig Moslem-mans gewerf en Moslem-divisies opgestel waarvan die lede van die Balkan en uit die Sowjetunie afkomstig was. Dié soldate het uiteenlopende redes gehad om vir die Duitsers te veg: sommige uit eie nasionalistiese oorwegings, ander, soos dié uit die Sowjetunie, omdat hulle van die Russiese oorheersing ontslae wou raak. Uiteindelik is die "1ste Oos-Moesliemse SS-regiment" gestig, wat eers teen partisane in die omgewing van Minsk geveg het totdat dit na Pole verplaas is. Daar was die regiment saam met die berugte SS-Sondereinheit Dirlewanger in Augustus 1944 by die onderdrukking van die Warskou-opstand betrokke. Kort daarna is die regiment herdoop tot "Osttürkischer Waffenverband der SS".

Haroen el-Rasjied het hom as 'n vasberade voorstander van die islamitiese mobilisasie geprofileer. In Junie 1944 het hy saam met die grootmoefti voorgestel dat suiwer Moslem-eenhede opgestel en in Bosnië en Herzegowina gestasioneer word om met ander Moslem-SS-korpse soos die "Handschar"-divisie saamgevoeg te word; die samewerking met daardie divisie sou die opleiding bevoordeel, en Bosnië was boonop 'n Moslem-gebied waar godsdienstige geboue en leiers die manskappe se geloof kon versterk. Hy het ook voorgestel dat die Moslem-formasies van die Wehrmacht aan die Waffen-SS oorgedra word, wat egter op weerstand by die Wehrmacht gestuit het. Hy het steun gekry van prins Mansur Daud, 'n ver familielid van koning Faroek van Egipte, wie se "doeltreffende propaganda" by die werwing van soldate hom beïndruk het.

Haroen el-Rasjied het probeer om Duitse offisiere vir sy verband te werf, onder wie SS-Hauptsturmführer Quintus de Veer, SS-Untersturmführer Körber, Gerd Schulte en SS-Sturmbannführer Franz Liebermann. Op voorstel van SS-Hauptsturmführer Reiner Olzscha het hy weens sy "noue betrekkinge met die islamitiese wêreld" op 24 Augustus 1944 as Sturmbannführer by die Waffen-SS aangesluit (SS-nommer 496 147). Reeds op 1 Oktober 1944 het hy die rang van Standartenführer bereikBundesarchiv R 9361-III/529267. en op 20 Oktober 1944 is hy tot bevelvoerder van die "Osttürkischer Waffenverband" aangestel, wat hoofsaaklik uit Turkestaners, Azerbeidjaners en Tatare bestaan het. Hy het self beweer dat die Mohammedane in hom 'n geloofsbroer sien wat "sonder skroom saam met hulle in dieselfde moskee bid". Aan Olzscha het hy "'n ewe getroue as strydvaardige en militêr waardevolle Mohammedaanse wapenmag gewaarborg". Aan die begin van 1945 het die Moslem-verband, wat toe "Osttürkisches SS-Korps" genoem is, uit 8 500 man bestaan.

Die verband is langs etniese lyne in wapengroepe verdeel – Idel-Oeral (Wolga-Tatare), Krim en Turkestan – waarby later 'n Azerbeidjaanse groep van 2 851 soldate gevoeg is. Die grootste groep was die voormalige 1ste Oos-Moesliemse SS-regiment, wat by die wapengroep Turkestan ingelyf is. Die opleiding is deur voorraadtekorte gestrem: voertuie was onklaar en die enigste beskikbare wapens was dié van die Oos-Moesliemse regiment. Die manskappe was hoofsaaklik afkomstig uit die Moslem-gemeenskappe van die suidelike Sowjetunie, veral Turkmene sowel as Tatare van die Kaspiese See en die Swartsee, wat geen lojaliteit teenoor die Sowjetunie gevoel het nie. Die eenheid het aan swak dissipline en moraal gely en is eers ten volle benut toe die Duitsers mannekragtekorte begin ondervind het.

Haroen el-Rasjied was egter nie vir die nuwe taak opgewasse nie. Op Kersaand 1944 het 'n paar honderd man van die Turkestaanse regiment aan die Hongaars-Slowaakse grens gedros, omdat hulle in die Duitsers teleurgesteld was, omdat hulle na die Russiese Bevrydingsleër van Andrei Vlasov oorgeplaas sou word – wat as 'n verraad van hul anti-Russiese oortuigings beskou is – en weens die vermeende onbekwaamheid van Haroen el-Rasjied. Daarby was daar interne struwelinge tussen die verskillende volksgroepe. SS-Standartenführer Paul Minke van die SS-hoofamp se "Oosafdeling" het "dringend" gevra dat hy uit sy pos onthef word. Volgens Trigg het Heinrich Himmler hom onmiddellik ontslaan en die regiment onder 'n ander naam ontbind en herorganiseer, terwyl Matthias Gleisner, Haroen el-Rasjied se biograaf, meen dat dié ontslag nie plaasgevind het nie en dat hy bevelvoerder van die verband gebly het.

In Maart 1945 het Haroen el-Rasjied – volgens Trigg toe nog net aanvoerder van die Tataarse wapengroep Idel-Oeral – hom in Merate in Noord-Italië aan plaaslike partisane oorgegee, op voorwaarde dat sy manne menslik behandel sou word. Op 26 April het die manne hul wapens neergelê; 150 van hulle is onmiddellik deur die partisane by Col di Nesse doodgeskiet. Vier dae later is Haroen el-Rasjied en sy manne aan die 1ste Pantserdivisie van die Verenigde State oorhandig, en die Tatare is terug na die Sowjetunie gestuur, waar hulle as landverraaiers tereggestel of na goelags gedeporteer is.

Ná 1945 duimnael|Die Phylax-ontstralingstoestel Ná die oorlog was Wilhelm Haroen el-Rasjied in Amerikaanse krygsgevangenskap en van Junie 1946 tot April 1947 in die Langwasser-kamp in Neurenberg. Daarna het hy na sy gesin teruggekeer. Tydens die bomaanval op Berlyn in die nag van 23 op 24 Augustus 1943 is Lankwitz, wat in 1920 by Berlyn ingelyf is, vir 85 persent vernietig, waaronder ook die gesin se huis. El-Rasjied se vrou en die twee seuns is in Husby in Sleeswyk-Holstein gehuisves, waar hulle intussen in arm en beknopte omstandighede geleef het.

Daar het Haroen el-Rasjied hom eers sonder sukses as handelsverteenwoordiger probeer. In 1949 het hy 'n nuwe passie ontdek wat hy sy beroep gemaak het en hom as wiggelroedeloper en "aardstralingsnavorser" beywer. Dit het ook die verkoop van 'n "ontstralingstoestel" met die naam Phylax ingesluit, wat met "vakkundige opstelling" na bewering die melkproduksie van koeie en die algemene welstand van mense sou verhoog. Die verkope was so suksesvol dat hy in 1950 saam met sy gesin na 'n groot woonwa kon trek. Hy het ook die brosjure Achtung! Erdstrahlen gepubliseer en in 1954 sy boek Aus Orient und Occident: Ein Mosaik aus buntem Erleben, 'n uitvoerige werk oor sy ervarings en reise. In die middel van die 1950's het hy sy werk as roedeloper gestaak.