Die Logan-korrupsieskandeel (ook bekend as die Matjiesfontein-spoorwegskandaal) was die gevolg van die onreëlmatige toekenning in 1892 van ‘n tender op die spoorweë van die Kaapkolonie. Dit het tot ‘n politieke krisis gelei en die val van C.J. Rhodes se eerste kabinet.
Agtergrond In die begin van spoorweë in Suid-Afrika was daar aan die passasierstreine geen eetwaens gekoppel nie. Treine het by die groter stasies lank genoeg stilgehou sodat reisigers in die hotel of restaurant op of naby die perron kon gaan eet. James Sivewright, die minister belas met die spoorweë, was sterk ten gunste van een konsessiehouer vir alle eetgeleenthede langs die spoorlyn. In hierdie plan is hy sterk ondersteun deur sy vriende Rhodes en James Logan, die herbergier op Matjiesfontein en boonop mede-Skot. Rhodes, Sivewright en Logan was daarvoor bekend dat hulle nie ‘n duidelike grens tussen hulle persoonlike sakebelange en politieke bedrywighede gehandhaaf het nie.
Politieke krisis Op 4 Oktober 1892 teken Sivewright die dokument wat die spysenieringskontrak op die spoorlyn as ‘n monopolie vir 15 jaar aan Logan toeken. Hy doen dit sonder om tenders in te win, sonder om sy kollegas in die kabinet te raadpleeg en sonder om die konsep van die kontrak soos die gebruik was aan die prokureur-generaal se kantoor voor te lê. Die publiek se mening was dat die kontrak nie in die openbare belang was nie en is die reeds bestaande spanning in die regering hiermee op die spits gedryf. Die liberale politici Jacobus Wilhelmus Sauer, John X. Merriman en James Rose-Innes weier om verder saam met Sivewright in die kabinet te dien. Eintlik was dit maar ‘n ekskuus om die kabinet op te breek, want die verhoudinge was reeds nie goed nie. Dus val Rhodes se eerste kabinet. Toe Rhodes sy nuwe kabinet saamstel, was dit sonder Merriman, Rose-Innes en Sivewright. Ten spyte van die gebeure was Rhodes, Sivewright en Logan vir jare daarna nog in die politiek betrokke.
Skadevergoeding Rhodes was verplig om die spysenieringskontrak terug te trek. Logan wend hom daarna tot die hof omdat hy weens die hele affêre aansienlike finansiële skade gely het. Die hof ken hom toe ‘n vir daardie tyd die besonder hoë bedrag van £5000 (uit die staatskas!) vir kontrakbreuk toe.
Persone James Douglas Logan (*Leston, Skotland, 26 November 1857 - †Matjiesfontein, 30 Julie 1920), hoteleienaar, omstrede en kleurryke karakter, politikus James Sivewright (*Fochabers, Elginshire, Skotland, 10 Desember 1848 - †Shropshire, 10 September 1916), ingenieur, sakeman en politikus
Lees ook Matjiesfontein
Bronnelys Allen, Dean: Empire, War & Cricket in South Africa – Logan of Matjiesfontein. Kaapstad: Zebra Press, 2015. ISBN 978-1-77022-847-4 James Sivewright Olive Schreiner Letters Online
Verwysings
Kategorie:Spoorvervoer in Suid-Afrika Kategorie:Misdaad Kategorie:Korrupsie