Die Mapoch-oorlog was ‘n stryd tussen die magte van die Mapoch-stam en die ZAR in 1882-3 in die omgewing van Middelburg, Mpumalanga.
Oorsake en verloop Sekoekoeni, die stamhoof van die Bapedi, was bevriend met die boere in sy omgewing en die regering van die ZAR goedgesind. Op 13 Augustus 1882 word sy kraal onverwags aangeval deur sy halfbroer Mampoer en word Sekoekoeni, sy seun en 13 ander vermoor. Die ZAR-owerheid waarsku die stamme in die omgewing om nie Mampoer weg te steek nie. Die moordenaar vlug egter na die naburige stamhoof Njiabele van die opstandige Mapoch. Njiabele erken nie die gesag van die ZAR nie. Hy weier om aan die sensus deel te neem en om belasting te betaal. Na ‘n ultimatum van 4 November weier hy om Mampoer uit te lewer. Piet Joubert met kommando’s van 3000 man en gesteun deur volgelinge van Sekoekoeni het in die moeilik begaanbare bergterrein op die grens van Limpopo en Mpumalanga teen die Mapoch-stam opgetree. Die Mapochers se statte was goed beskerm. Daarom buit die kommando’s die vyand se vee, vernietig hul graanoeste. Hul dorpies is met forte omring. Alles maatreëls om hulle uit te honger. Baie Mapochers skuil by Senekalskop in grotte in die berge. In Januarie 1883 het die ZAR ‘n 4000 man met kanonne in die veld. Hulle gebruik buskruit en handgranate om die vyand uit die grotte te verdryf. Die Mapochers is ook goed gewapen met gewere. Aan beide kante sneuwel verskeie mense, o.a. Stephanus Johannes Roos en Frederick Senekal. Die beleg en uithongering is suksesvol. In April 1883 gee die Mapochers oor. Eers verlaat Njiabele sy skuiling en kort daarna verlaat Mampoer sy grot. In die daaropvolgnede hofsaak word beide te dood veroordeel. Op versoek van die Engelse regering stel Paul Kruger die vonnis van Njiabele tersyde en vestig hy hom in 1896 met enkele van sy volgelinge in Derdepoort.
Persone Mampuru (Mampoer) (*Phiring, Middelburg, ongeveer 1831 - †teregggestel, 22 November 1883), aanspraakmaker op die Pedi-opperhoofskap
Njiabele (Nyabèla, Niabel, Njabel), familienaam Mahlungu (*Nomtshagêlo, by Roossenekal, 1825/1830 - †Wamlalaganye, Hartbeesfontein, Pretoria, 19 Desember 1902), regent van die amaNdzundza-stam, Mapoch, Mabhôgô, van die amaNdebele
Sekhukhune I (Sekoekoeni) (*Mogokgomeng, Steelpoortrivier, 1814 - †Manoge, 13 Augustus 1882), Pedi-operhoof
Frederick Senekal, veldkornet en kommandant van die Rustenburg-kommando. Na hom en Stephanus Johannes Roos is die dorp Roossenekal genoem.
Gevolge Die sukses vandie Mapoch-oorlog het die aansien van die ZAR-regering aansienlik verhoog. Dit het baie beteken vir die latere aandhawing van wet en orde in die land. Piet Joubert se status as krygsman en leier het baie toegeneem.
Gedenktekens Op 17 Desember 1970 is ‘n standbeeld van Njiabele by Mapoch se Grotte onthul. By die gevegsterrein is ‘n gedenkplaat.
Bibliografie Muller, C.F.J. (red.); Vyfhonderd Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis. Pretoria: Academica, 1973. ISBN 0-949964-09-3 Nienaber, P.J.: Suid-Afrikaanse Pleknaamwoordeboek, deel 1. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers vir die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Instituut vir Taal, Lettere en Kuns, 1972. ISBN 0-624-00097-4
Kategorie: Mpumalanga Kategorie: Limpopo