The Little Things is ’n Amerikaanse neo-noir-misdaadrillerrolprent van 2021 geskryf, geregisseer en medevervaardig deur John Lee Hancock. Die prent speel in die vroeë 1990's in Los Angeles af en gaan oor twee speurders (Denzel Washington en Rami Malek) wat ’n reeks moorde ondersoek wat hulle lei na ’n vreemde alleenloper wat moontlik die skuldige is (Jared Leto).
Die fliek se ontwikkeling het aanvanklik in 1993 begin, toe Hancock die oorspronklike konsep van die draaiboek geskryf het, maar dit het tydens die ontwikkeling gesneuwel. Die projek het in 2019 herleef, met aankondigings dat Hancock die film sou regisseer en dat Malek, Leto en Washington die hoofkarakters sou vertolk. Die hooffotografie het op 2 September 2019 in Los Angeles begin en is in Desember 2019 voltooi.
The Little Things is op 29 Januarie 2021 in die VSA deur Warner Bros. Pictures uitgereik. Die prent het gemengde resensies ontvang met lof vir die rolverdeling, maar kritiek op die draaiboek. Vir sy vertolking het Leto benoemings vir 'n Golden Globe en Screen Actors Guild Award ontvang as beste manlike byspeler.
Rolverdeling
Denzel Washington as Joe "Deke" Deacon van die distrik Kern Rami Malek as James "Jimmy" Baxter van LA Jared Leto as Albert Sparma Chris Bauer as speuder Sal Rizoli Michael Hyatt as Flo Dunigan Terry Kinney as kaptein Carl Farris van LA Natalie Morales as speurder Jamie Estrada Isabel Arraiza as Ana Baxter Joris Jarsky as speursersant Rogers Glenn Morshower as kaptein Henry Davis van die distrik Kern
Die huidige slagoffers word deur Sofia Vassilieva as Tina Salvatore en Maya Kazan as Ronda Rathbun uitgebeeld, terwyl die vroeëre slagoffers, wat Deacon ry wanneer hy wakker lê, Anna McKitrick as Mary Roberts (wat hy per ongeluk geskiet het), Sheila Houlahan as Paige Callahan en Ebony N. Mayo as Tamara Ewing is.
Storielyn Een nag in 1990 ry ’n tienermeisie op ’n verlate snelweg terwyl sy deur ’n motoris agtervolg word. Nadat sy by ’n vulstasie ingedraai het, vind sy uit dit is gesluit. ’n Skrikwekkende voetjaagtog begin. Sy slaag daarin om die aandag van ’n verbygaande vragmotorbestuurder te trek en ontsnap van haar agtervolger.
’n Ruk later word ondersheriff Joe "Deke" Deacon van die distrik Kern na die kantoor van die sherff in Los Angeles gestuur om bewyse te gaan haal wat met ’n onlangse moord verband hou. Deacon, ’n voormalige apeurder van LA, vergesel die pas aangestelde hoofspeurder Jimmy Baxter na die toneel van ’n nuwe moord in LA. Deacon merk ooreenkomste op tussen die modus operandi van die moord en dié van ’n ou reeksmoordsaak wat hy nie kon oplos nie.
Daardie nag word ’n vrou genaamd Ronda Rathbun deur ’n motor gevolg terwyl sy draf, en die volgende oggend word sy as vermis aangemeld. Baxter verneem by kaptein Farris Deacon is geskei en het ’n hartaanval gekry weens sy obsessie met sy onopgeloste saak. Hy word dus aangeraai om Deacon nie verder daarby te betrek nie, maar Deacon neem verlof by sy kantoor om te help om Baxter se saak op te los.
Die volgende nag ontdek die polisie die liggaam van nog ’n slagoffer wat onder ’n brug uitgespoel het. Baxter ontdek die modus operandi stem ooreen met dié van die vorige moord en ander moorde: Al die slagoffers was prostitute wat doodgesteek is. Deacon begin ondersoek instel na Albert Sparma, ’n verdagte wat by ’n herstelwinkel naby die moorde werk. Hy volg hom, maar word verydel, waarna hy hom vir ondervraging inneem. Tydens die ondervraging tart Sparma die speurders en hy word vrygelaat nadat hy Deacon tot ’n woede-uitbarsting uitgelok het. Die jong vrou wat in die woestyn agtervolg is, word ondervra, maar sy het Sparma reeds met handboeie aan by die polisiekantoor gesien, wat haar geskiktheid as ’n objektiewe getuie in die gedrang bring.
Die FBI sal binne die week beheer oor die ondersoek oorneem, wat Deacon en Baxter minder tyd gee om dit op te los. Farris lig Baxter in dat Sparma agt jaar tevore ’n moord beken het wat hy onmoontlik kon gepleeg het en dus ’n onwaarskynlike verdagte is. Baxter en Deacon gaan nietemin voort met hulle ondersoek. Sparma se vingerafdruk stem ooreen met dié van die moordenaar, maar is nie ’n definitiewe passing nie. Hulle volgende stap is ’n onwettige deursoek van Sparma se woonstel. Terwyl Baxter buite waghou, deursoek Deacon die woonstel vergeefs na inkriminerende bewyse; hy vind slegs koerantuitknipsels wat met die sake verband hou. Skielik gaan Sparma se polisie-ontvanger af en Deacon hoor ’n waarskuwing van ’n "beampte neergevel" by juis dié adres. Terwyl die polisie op die gebou toesak, ontsnap Deacon ternouernood oor die dak, terwyl Sparma sy beproewing dophou en terloops vir Baxter waai.
Terwyl hulle Sparma dophou, konfronteer Baxter die verdagte toe hy alleen is en eis om te weet waar Rathbun is. Sparma bied aan om hom in sy motor te neem na die plek waar hy na bewering Rathbun se liggaam versteek het. Baxter stem versigtig in, terwyl Deacon hulle in die geheim volg. Sparma neem Baxter na ’n afgeleë gebied in die woestyn en laat hom verskeie gate grawe voordat hy hom vertel hy het nooit iemand vermoor nie. Baxter is skepties en hou aan grawe. Sparma begin hom tart totdat Baxter sy humeur verloor en hom met die graaf in die gesig doodslaan.
Toe Deacon daar aankom, onthul ’n terugflits dat hy per ongeluk die enigste oorlewende van sy vorige moordsaak geskiet het en dat Farris en Dunigan, die lykskouer, gehelp het om dit te verdoesel. Deacon gee Baxter opdrag om Sparma in die woestyn te begrawe, terwyl hy die nag deurbring deur alles wat hy in Sparma se woonstel versamel het, weg te ruim en sy voertuig te vernietig.
Die volgende oggend keer hy na die woestyn terug en vind uit Baxter het Sparma nie begrawe nie, maar soek steeds na die slagoffer, desperaat om te glo dat Sparma die moordenaar is. Deacon (wie se wakkerlêdrome deur die vroeëre slagoffers geteister word) raai Baxter aan om van die saak te vergeet, anders sal dit hom sy hele lewe lank bly agtervolg.
Later, by sy huis, ontvang Baxter ’n koevert wat deur Deacon gestuur is en wat ’n rooi haarknippie bevat soortgelyk aan die een wat Ronda Rathbun gedra het toe sy ontvoer is. Terug in Kern verbrand Deacon alles wat hy in die woonstel versamel het, saam met ’n splinternuwe pakkie haarknippies wat soortgelyk is aan die vermiste rooi een. Daarna loop hy weg.
Ontvangs Op Rotten Tomatoes is 44% van 266 resensies positief, met ’n gemiddelde punt van 5,4/10. Die webtuiste se konsensus lui: "The Little Things is ’n terugblikriller met 'n buitengewoon goeie rolverdeling en sal uiters bekend voel aan aanhangers van die genre – ten goede sowel as ten kwade." Op Metacritic het dit ’n telling van 54 uit 100 op grond van 48 resensies, wat op 'n "gemengde of gemiddelde" ontvangs dui.
David Ehrlich van IndieWire het die prent ’n B gegee, dit met Seven van 1995 vergelyk en geskryf: "The Little Things is pulpagtig en belaglik en vereis ’n aansienlike bereidwilligheid om ongeloof opsy te skuif, maar – as jy nie van beter geweet het nie – sou jy selfs kon sê dit is pragtig." David Rooney van The Hollywood Reporter het geskryf: "As die regisseur se strak oorspronklike draaiboek op ’n einde uitloop wat te kripties is om ten volle bevredigend te wees, bied die vertolkings van Denzel Washington en Rami Malek as polisiemanne van die ou en die nuwe skool, wat uiteindelik meer in gemeen het as wat hulle verwag het, genoeg samehang om alles bymekaar te hou. Voeg Jared Leto by as die tartende vreemdeling wat hulle hoofverdagte in ’n reeks wrede moorde word, en jy het ’n spanningsvolle misdaadriller met ’n donker aantrekkingskrag."
Barry Hertz het die prent in The Globe and Mail twee en ’n half uit vier sterre gegee en geskryf: "Hancock hou die aksie flink aan die gang, met min tonale wat verwarring skep, en beklemtoon presies wat ’n gepoleerde professionele persoon wat deur ’n ateljee bevoordeel word, kan doen wanneer hy hope geld en geen verpligtinge teenoor intellektuele eiendom het nie. En al drie sy hoofakteurs kry genoeg ruimte om hulle sterk punte te benut."
Benjamin Lee van The Guardian het die prent twee uit vyf sterre gegee en gesê: "In ’n tyd waarin baie reekse op die klein skerm speurders het wat voortdurend frons en meer tyd daaraan bestee om deur hulle verlede geteister te word as om misdade in die hede op te los, voel dit alles ’n bietjie te bekend en ’n bietjie te onbeduidend."
Brian Tallerico vir RogerEbert.com het die prent twee uit vier sterre gegee en gesê: "Dit voel asof Hancock ’n ware speurverhaal probeer vertel – een oor hoe ’n saak die mense wat dit ondersoek van binne af uitmekaar kan trek op ’n manier wat hulle vir altyd breek – maar nie kan uitwerk hoe om dit terselfdertyd in ’n intrigerende raaisel te omskep nie."
Pryse en benoemings Leto is vir 'n Golden Globe en Screen Actors Guild Award benoem vir beste manlike byspeler. The Little Things het die prys vir beste dramaplakkaat gewen op die toekenning van die Golden Trailer Awards.
Verwysings
Skakels
Draaiboek,
Kategorie:Amerikaanse rolprente