thumb|240px|Kloksgewys van links: Die Parlementsgehou brand nadat dit gebombardeer is (1992); Ratko Mladic saam met Serwiese soldate; en 'n Noorse soldaat van die VN op die Sarajevo-lughawe.

Die Bosniese Oorlog (Serwo-Kroaties: Рат у Босни и Херцеговини, "Rat oe Bosni i Hertsegowini") was ’n gewapende konflik wat van 1992 tot 1995 in Bosnië en Herzegowina plaasgevind het. Ná verskeie vroeëre gewelddadige voorvalle word die begin van die oorlog algemeen beskou as 6 April 1992, toe die pas onafhanklike Republiek Bosnië en Herzegowina internasionaal erken is. Dit het op 21 November 1995 geëindig toe die Dayton-ooreenkomste onderteken is.

Die vernaamste strydende partye was die magte van die regering van die Republiek Bosnië en Herzegowina, en dié van die afskeurende pro-state die Republiek Herceg-Bosnië en en die Republika Srpska, wat onderskeidelik deur Kroasië en Serwië gelei en van voorrade voorsien is.

Oorsig Die oorlog was deel van die ontbinding van Joego-Slawië. Ná die Sloweense en Kroatiese afskeidings van die Sosialistiese Federale Republiek Joego-Slawië in 1991, het die multi-etniese Sosialistiese Republiek Bosnië en Herzegowina – wat hoofsaaklik deur Moslemse Bosniërs (44%), Ortodokse Serwiërs (32,5%) en Katolieke Kroate (17%) bewoon is – op 29 Februarie 1992 ’n referendum oor onafhanklikheid gehou. Politieke verteenwoordigers van die Bosnies-Serwiese bevolking het die referendum geboikot en die uitslag daarvan verwerp. In afwagting van die uitslag van die referendum het die Bosnies-Serwiese leierskap op 9 Januarie 1992 die "Republiek van die Serwiese Volk van Bosnië en Herzegowina" (Republika srpskoga naroda Bosne i Hercegovine) uitgeroep, wat effektief die grondslag vir die hedendaagse Republika Srpska gelê het.

Ná die onafhanklikverklaring van die Republiek Bosnië en Herzegowina op 1 Maart 1992 het die Bosniese Serwiërs, onder leiding van Radovan Karadzic, met die steun van die regering van die president van Serwië, Slobodan Milosevic, en voorsien van wapens en toerusting deur die Joego-Slawiese Volksleër (JNA), hulle magte binne Bosnië en Herzegowina gemobiliseer en in die daaropvolgende maande beheer oor ongeveer 70% van die land se grondgebied verkry in ’n veldtog wat deur wydverspreide etniese suiwering van Bosniese Kroate en Bosniërs (ook bekend as Bosniese Moslems) gekenmerk is.

Die konflik was aanvanklik tussen eenhede van die Joego-Slawiese Leër in Bosnië, wat later in die Leër van die Republika Srpska (VRS) omskep is, aan die een kant en die Leër van die Republiek Bosnië en Herzegowina (ARBiH), wat hoofsaaklik uit Bosniërs bestaan het, en die Kroatiese magte in die Kroatiese Verdedigingsraad (HVO) aan die ander kant. Spanning tussen Kroate en Bosniërs het aan die einde van 1992 toegeneem, wat vroeg in 1993 tot die eskalering van die Kroaties-Bosniese Oorlog gelei het. Die Bosniese Oorlog is gekenmerk deur hewige gevegte, 'n onoordeelkundige skietery op stede en dorpe, etniese suiwering en stelselmatige massaverkragting, wat hoofsaaklik deur Serwiese, en in ’n mindere mate KroatieseForsythe 2009, p. 145 en Bosniese, magte gepleeg is. Gebeure soos die Beleg van Sarajevo en die Srebrenica-volksmoord van Julie 1995 het later ikonies van die konflik geword. Die slagting van meer as 8 000 Bosniese mans en seuns deur Serwiese magte in Srebrenica is die enigste voorval in Europa wat sedert die Tweede Wêreldoorlog as ’n volksmoord erken word.

Die Serwiërs, hoewel hulle aanvanklik militêr oorwegend sterker was vanweë die wapens en hulpbronne wat deur die JNA voorsien is, het uiteindelik momentum verloor toe die Bosniërs en Kroate hulle in 1994 teen die Republika Srpska verenig het met die stigting van die Federasie van Bosnië en Herzegowin ná die Washington-ooreenkoms. Pakistan het die Verenigde Nasies se verbod op die verskaffing van wapens geïgnoreer en antitenk-missiele per lugbrug aan die Bosniese Moslems gelewer, terwyl Navo ná die Srebrenica- en Markale-slagting in 1995 ingegryp het met Operasie Deliberate Force, wat die stellings van die Leër van die Republika Srpska geteiken het en deurslaggewend was vir die beëindiging van die oorlog.

Nadat wapenstilstandsooreenkomste voorheen op 14 September en 5 Oktober 1995 bereik is, is vredesonderhandelinge in Dayton, Ohio gehou, en die oorlog het geëindig toe die Dayton-ooreenkomste op 21 November 1995 onderteken is.

Nasleep Teen vroeg 2008 het die Internasionale Straftribunaal vir die voormalige Joego-Slawië 45 Serwiërs, 12 Kroate en 4 Bosniërs skuldig bevind aan oorlogsmisdade in verband met die oorlog in Bosnië.

Ramings dui daarop dat meer as 100 000 mense tydens die oorlog gedood is. Meer as 2,2 miljoen mense is ontheem, wat dit destyds die gewelddadigste konflik in Europa sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog gemaak het. Daarbenewens is na raming 12 000 tot 50 000 vroue verkrag, hoofsaaklik deur Serwiese magte, met die meeste van die slagoffers Bosniese vroue.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Geskiedenis van Bosnië en Herzegowina Kategorie:Oorloë