Die Blouswael-natuurreservaat by Kaapsehoop se doel was om die voortbestaan van die ernstig bedreigde blouswael te verseker.

Hierdie habitat van ongeveer 500 ha is in 2013 geproklameer en is by nagenoeg 25° 37′ suid, 30° 45′ 30″ oos, op die Blouswaelvlakte aan die suidekant van die dorp. Dit lê in die misgordel waar grasveld, vleie en inheemse woud voorkom en die Noordkaaprivier ontspring. Vroeg in die jare 2010 is die laaste broeipaar van die voëls hier opgemerk en daar word nou aanvaar dat hulle waarskynlik hier uitgesterf het.

Ander bekende voëls in die reservaat is die ruigtesanger, witkoljanfrederik, sekretarisvoël en die bloukraanvoël. Plante wat teengekom word, is verskeie spesies van die aalwynfamilie, die Kaapsehoop Afrika-hiasint, rooistinkhout en die Kaapsehoop-salie.

Staptogte word in die gebied toegelaat. Die vertrek van die blouswael kan moontlik toegeskryf word aan die baie mense wat op die terrein met onwettige mynboubedrywighede besig is. Dit lei ook tot die besoedeling van die wateropvanggebied.

Bibliografie Die Papier, 11 September 2026

Jansen, Esté M.: Blouswael op die randjie van uitwissing. https://maroelamedia.co.za/nuus/blouswael-op-die-randjie-van-uitwissing/ https://www.southafrica.net/gl/en/travel/article/blue-swallows-of-kaapsehoop https://www.thebirdinglife.com/post/kaapschehoop-marc-cronje

Verwysings

Kategorie:Natuurreservate in Mpumalanga