Cornelis Frederik Bezuidenhout (24 Augustus 1760 – 16 Oktober 1815) was 'n grensboer in die oostelike Kaapkolonie. Hy is dood in 'n skermutseling met Khoikhoi-soldate wat gestuur is om hom in hegtenis te neem, en sy dood was die aanleiding tot die Slagtersnek-rebellie, wat op 9 Maart 1816 sy dramatiese slot onder die galg by Van Aardspos, ongeveer 19 km suid van Slagtersnek, bereik het.

Lewe en dood Cornelis Frederik Bezuidenhout, bekend onder die bynaam Freek, was die vyfde van sewe kinders van Gerrit Bezuidenhout, 'n burger van Graaff-Reinet, en sy vrou, Sophia Maria Scheepers. Freek was 'n afstammeling van Wynand Leendertsz Bezuidenhout van Nederland, meestertuinier aan die Kaap, en sy vrou, Jannetje Gerrits van Amsterdam.

Bezuidenhout is in 1760 in die distrik Graaff-Reinet gebore. As grensboer het hy afgesonderd in die vallei van die Baviaansrivier, oos van Cradock, gewoon. Daar is van hom gesê dat hy geen vrees geken het nie, vol selfvertroue was en beslis aanmatigend en kort van draad was. Sy sienings oor openbare sake het hom met die owerheid laat bots. Onrus aan die oosgrens, veroorsaak deur konflikte met die Xhosa, het die spanning laat toeneem, veral ná die Swarte Ommegang van 1812.

Bezuidenhout was algemeen bekend as 'n moeilike man; sy bediende, Booi, het hom daarvan beskuldig dat hy hom mishandel en sy loon teruggehou het weens 'n aanklag van diefstal teen Booi. Hy is gedagvaar om voor die hof op Graaff-Reinet te verskyn. Aanvanklik het hy swak verskonings vir sy afwesigheid aangebied, maar uiteindelik het hy die hof se bevele getrotseer. Gevolglik is hy in sy afwesigheid deur 'n omgangshof weens minagting van die hof tot 'n maand tronkstraf gevonnis. 'n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik en landdros Andries Stockenström van Graaff-Reinet het die adjunk-geregsbode opdrag gegee om dit uit te voer.

Toe die adjunk-geregsbode geen hulp van die veldkornet van die wyk kry nie, is hy met 'n brief waarin militêre bystand gevra word na die naaste militêre pos, onder bevel van kaptein Andrews. Terwyl Bezuidenhout hom daarop voorberei het om sy inhegtenisneming met geweld te weerstaan, het luitenant F. Rousseau die adjunk-geregsbode met 'n patrollie van twaalf Khoikhoi-soldate vergesel.

Hy is op 16 Oktober 1815 by die Baviaansrivier (die huidige Glen Lynden) gekonfronteer. Bezuidenhout het geweier om oor te gee en op die soldate geskiet. Saam met sy seun en 'n toevallige besoeker, Jacob Erasmus, het hy skuiling tussen die rotse van die nabygeleë vallei gaan soek. Hy wou nie na rede luister nie en het weer begin skiet totdat hy dodelik gewond is deur die soldate wat die vuur beantwoord het. Sy seun en Erasmus, wat nie aan die skietery deelgeneem het nie, het oorgegee.

Bezuidenhout is die volgende dag deur sy familie op die plaas begrawe.

Daar is geen sekerheid oor Bezuidenhout se vrou of kinders nie, behalwe oor een seun, Gerrit Coenraad Bezuidenhout (1790-1838).

Gedenktekens Die grot waarin Bezuidenhout gesterf het, sowel as sy graf, is op die plaas Silverbrook, die huidige Glen Lynden in die Oos-Kaap. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die plaaslike Reddingsdaadbond het 'n obelisk van rooi doleriet by die grot en 'n granietrots by die graf opgerig. Dié twee gedenktekens staan sowat 180 m van mekaar af langs die pad tussen Bedford en Tarkastad in die provinsie Oos-Kaap.

Nasleep By Bezuidenhout se begrafnis het sy broer, Johannes Jurgen (Hans Jan) Bezuidenhout, gesweer om wraak te neem op die amptenare wat hy vir sy broer se dood verantwoordelik gehou het.

Hy het die hele gemeenskap aangehits om teen die Britse koloniale regering in opstand te kom. Hy wou die Britte en die Khoikhoi in die see in verdryf en 'n onafhanklike staat aan die oosgrens stig. Ongeveer sestig burgers het 'n eed van wraak en trou afgelê en deelgeneem aan wat as die Slagtersnek-rebellie bekend geword het. Die meeste boere het die opstand egter nie gesteun nie. Uiteindelik het hoogstens 200 boere die opstand gesteun, het net 60 by Slagtersnek opgedaag, en is daar nie 'n enkele skoot geskiet toe hulle deur Britse troepe en lojalistiese boere gekonfronteer is nie. Hans Bezuidenhout het geweier om oor te gee en is op sy plaas doodgeskiet, en vyf van die oorlewende aanvoerders is later tereggestel. Die opstand het betekenis verkry as 'n episode in die Afrikanerdom se stryd teen Britse oorheersing.

Sien ook Slagtersnek-monumente

Verwysings

Verdere leesstof H.C.V. Leibbrandt (red.), The rebellion of 1815. Generally known as Slachtersnek. Kaapstad, 1902 G.E. Cory, The rise of South Africa, deel 1. Londen, 1921 C.J. Uys, "Slagtersnek: verdraaide beelde van 'n grusame gebeurtenis", Die Landstem, 28 November 1964 J.A. Heese, "Die Bezuidenhouts van Slagtersnek", Familia, 1965/6, nr. 4

Eksterne skakels

This Day in History (in Engels)

Kategorie:Geboortes in 1760 Kategorie:Sterftes in 1815 Kategorie:Afrikaners Kategorie:Suid-Afrikaners