Die Kommetjiesvlakte in die Oos-Kaap is bekend om die aanwesigheid van opvallende grondhopies en pannetjies.

Panne Die gebied waar die holtes voorkom is noordoos van Grahamstad, noordwes van Peddie, suidoos van Debenek en veral tussen Breakfastvlei (33° 4′ suid, 26° 56′ oos) en Committees Drift (33° 9′ suid, 26° 49′ oos) in die Groot-Visrivier. Die vlakte is maksimaal 8 by 5 km groot, het ‘n ruwe gegroefde voorkoms en is vol klein panne van 2 tot 3 m lank en 1 tot 2 m breed. Omdat hulle so na aan mekaar is, is dit moeilik vir ‘n wa om daar tussendeur te ry.

Oorsaak Deur die jare heen is verskeie teorieë vir die oorsprong van die besondere aardrykskundige verskynsel genoem. Dit was glo oorblyfsels van vroeëre bewoners se primitiewe landboumetodes. Ander het beweer dat dit reste was van oerbosse. Nog ander was van mening dat die panne gevorm is deur buffels wat daar ‘n modderbad geneem het. In werklikheid is die holtes en grondhope die werk van die reuse-erdwurm.

Naam Hierdie holtes, wat aan kommetjies laat dink, het aanleiding gegee tot die naam Kommetjiesvlakte. Vir die later Engelssprekende inwoners van die kontrei was dit ‘n moeilik uitspreekbare naam en het dit in die volksmond Committees Flats geword. In Xhosa staan dit bekend as Ngqumtesh. Dit is weer ‘n moeilik uitspreekbare naam vir ‘n nie-Xhosa-moedertaalspreker. Ook dit kon gelei het tot die Afrikaanse en Engelse naam vir die streek. Dit was lastig om te voet deur en verby die panne te gaan. Daarom is in Xhosa ook daarna verwys as “Amalinde”, met die betekenis van “vertraging” of “om te wag”.

Lees ook Volksetimologie

Bibliografie Logie, Bartle: Water in the Wilderness. A journey down the Great Fish River. Port Elizabeth: Bluecliff. 2006. ISBN 0-620-36163-8 Raper, P.E.: Streekname in Suid-Afrika en Suidwes. Naamkundereeks, nr. 1. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers vir die Suid-Afrikaanse Naamkundesentrum van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Instituut vir Taal, Lettere en Kuns, 1972. ISBN 0-624-00182-2 https://sahistory.org.za/place/committees-drift-eastern-cape

Kategorie:Oos-Kaap Kategorie:Streke van die Oos-Kaap