Die Khomashoogland (Khomashochland) is ‘n hoogvlakte in die sentrale deel van Namibië.
Ligging Die gebied van rofweg 120 km by 50 km lê van noordoos (verby Windhoek) tot suidwes (in die omgewing van die Gamsberg en die platorand). In hoogte bo seespieël wissel dit tussen 1700 tot 2000 m met die Moltkeblick by 22° 39′ 4″ suid en 17° 10′ 48″ oos op 2479 m in die Auasberge as die hoogste punt. Die Kuisebrivier en die Swakoprivier loop deur die streek.
Flora, fauna en toerisme Die ruwe bergterrein met sy baie klowe en heuwels is van vulkaniese oorsprong. Vanaf vakansieplase, voetslaanpaaie en uitsigpunte kan ‘n panoramiese blik daarvan, en veral van die bekende Kuisebvallei en die Gamsbergpas, verkry word. Aan die westekant teen die Namibwoestyn is die reënval slegs ‘n 50 mm per jaar en styg tot 350 mm p.j. in die ooste. Gras, struike en lae bome bedek die bodem. In meer bergagtige dele groei die withaak (Acacia erubescens). Koedoes, kameelperde, sebras en kleiner wildsbokke leef in die afgeleë valleie. Ook is in daardie klowe Boesmanrotskuns te sien. Naby die Gamsberg op die plaas Göllschau, ‘n 100 km van Windhoek op die C26-pad, is ‘n sterrewag met die H.E.S.S.-teleskoop. Navorsing oor gammastraling vind hier plaas.
Geskiedenis Hierdie landstreek is oorspronklik bewoon deur die Afrikaner-stam van die Nama-volk. Die Deutsche Kolonialgesellschaft für Südwestafrika het in 1885 ‘n konsessie van Jan Jonker Afrikaner ontvang en daar met ‘n reusagtige beesplaas begin. In 1907 het die Deutsche Farmsgesellschaft die boerdery oorgeneem. Na die Tweede Wêreldoorlog koop die staat die plaas en sny dit op in 37 plase en verkoop dit op sy beurt aan teruggekeerde soldate. Die omgewing word beskou as die beste bees- en skaapwêreld in die land. In die 1880’s het die Walwich Bay Mining Co. die Matchless-kopermyn in die gebied bedryf.
Naam Die oorsprong van die naam vir die gebied is in onsekerheid gehul. Die Nama-woord komaxa beteken “’n land waar klippe deurmekaar lê”. ‘n Ander Nama-woord L Omas beteken “bergagtig”.
Lees ook Vlug in die Namib
Bibliografie Ensiklopedie van die Wêreld, deel 6 Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 6 https://astroparticle-physics.desy.de/research/gamma_astronomy/hess/index_eng.html https://hess-experiment.eu/ https://www.mpi-hd.mpg.de/HESS/pages/about/telescopes/
Kategorie:Namibië Kategorie:Sterrewagte